Waarom moet ons vir Jehovah gee?
DIE son het op die Sidoniese dorpie Sarfat neergeskroei, en ’n weduwee het gebuk om brandhout op te tel. Sy moes ’n vuur maak sodat sy ’n karige ete kon voorberei—waarskynlik die laaste maaltyd wat sy en haar jong seun sou eet. Sy het gedurende ’n lang droogte en hongersnood gesukkel om haar en haar seun aan die lewe te hou, en dit het nou op hierdie tragiese situasie uitgeloop. Hulle was amper dood van die honger.
’n Man het daar aangekom. Sy naam was Elia, en die weduwee het gou gesien dat hy ’n profeet van Jehovah was. Dit wil voorkom asof sy al van hierdie God gehoor het. Jehovah was anders as Baäl, wie se wrede, perverse aanbidding iets algemeens in haar land Sidon was. Daarom was sy gretig om te help toe Elia haar vra om vir hom ’n bietjie water te gee. Dalk het sy gedink dat sy daardeur Jehovah se guns kon kry (Matteus 10:41, 42). Maar toe vra Elia meer—’n stukkie kos. Sy het verduidelik dat sy net genoeg kos het vir een laaste maaltyd. Maar Elia het aangehou en haar verseker dat Jehovah wonderdadig vir haar voedsel sal voorsien tot die droogte verby was. Wat het sy gedoen? Die Bybel sê: “En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elia” (1 Konings 17:10-15). Hierdie eenvoudige woorde beskryf ’n daad van groot geloof—ja, so groot dat Jesus Christus daardie weduwee amper duisend jaar later geprys het!—Lukas 4:25, 26.
Maar dit lyk dalk vreemd dat Jehovah soveel van ’n vrou sou vra wat so min gehad het. Dit lyk veral so wanneer ons na ’n gebed kyk wat eenkeer deur ’n baie belangrike man gedoen is. Koning Dawid se insameling van bydraes wat sy seun Salomo in die bou van die tempel kon gebruik, het tot groot vrygewigheid aanleiding gegee. In hedendaagse terme was die geskenke duisendmiljoene rande werd! Dawid het egter in gebed tot Jehovah gesê: “Wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee” (1 Kronieke 29:14). Soos Dawid gesê het, behoort alles aan Jehovah. Wanneer ons ook al gee om ware aanbidding te bevorder, gee ons bloot aan Jehovah wat reeds aan hom behoort (Psalm 50:10). Gevolglik ontstaan die vraag: Waarom wil Jehovah in die eerste plek hê dat ons moet gee?
’n Belangrike deel van ware aanbidding
Die eenvoudigste antwoord is dat Jehovah van die vroegste tye af bepaal het dat dit ’n belangrike deel van ware aanbidding is om te gee. Die getroue man Abel het van sy kosbare vee vir Jehovah geoffer. Die aartsvaders Noag, Abraham, Isak, Jakob en Job het soortgelyke offerandes gebring.—Genesis 4:4; 8:20; 12:7; 26:25; 31:54; Job 1:5.
Die Mosaïese Wet het dit verpligtend gemaak dat bydraes aan Jehovah gegee moet word en het selfs bepaal hoe dit gedoen moes word. Alle Israeliete was byvoorbeeld verplig om ’n tiende van die land se opbrengs en van die toename in hulle vee by te dra (Numeri 18:25-28). Ander bydraes is nie so streng gereguleer nie. Elke Israeliet moes byvoorbeeld die eerstelinge van sy kudde en opbrengs aan Jehovah gee (Exodus 22:29, 30; 23:19). Maar die Wet het dit aan elke persoon oorgelaat om te besluit hoeveel van sy eerstelinge hy sou gee, solank hy van die beste gegee het. Die Wet het ook voorsiening gemaak vir dank- en gelofteoffers, wat heeltemal vrywillig was (Levitikus 7:15, 16). Jehovah het sy volk aangespoor om te gee ooreenkomstig die mate waarin hy hulle geseën het (Deuteronomium 16:17). Soos dit was met die bou van die tabernakel en later die tempel het elkeen gegee soos sy hart hom aangedryf het (Exodus 35:21; 1 Kronieke 29:9). Sulke vrywillige bydraes het Jehovah beslis behaag!
Onder “die wet van die Christus” moes alle gawes vrywillig gegee word (Galasiërs 6:2; 2 Korintiërs 9:7). Dit het nie beteken dat volgelinge van Christus opgehou het om te gee of dat hulle minder gegee het nie. Inteendeel! Terwyl Jesus en sy apostels in Israel gepreek het, het ’n groep vroue hulle gevolg en hulle met hulle eie besittings bedien (Lukas 8:1-3). Die apostel Paulus het eweneens geskenke ontvang wat hom in sy sendingwerk ondersteun het, en hy het party gemeentes weer aangespoor om fondse aan ander te stuur wanneer hulle dit nodig gehad het (2 Korintiërs 8:14; Filippense 1:3-5). Die bestuursliggaam in Jerusalem het verantwoordelike manne aangestel om te sorg dat bydraes wat ontvang is aan die behoeftiges uitgedeel word (Handelinge 6:2-4). Die vroeë Christene het dit klaarblyklik as ’n voorreg beskou om rein aanbidding op sulke maniere te ondersteun.
Nogtans wonder ons dalk waarom Jehovah dit deel van sy aanbidding maak dat ons gee. Kom ons kyk na vier redes.
Waarom ons gee
Jehovah maak dit deel van ware aanbidding dat ons gee omdat dit in die eerste plek vir ons goed is om te gee. Dit onderstreep ons waardering vir God se goedheid. Waarom straal ’n ouer byvoorbeeld van vreugde as ’n kind vir hom ’n geskenk koop of maak? Is die geskenk iets wat die ouer bitter nodig het en op geen ander manier kon kry nie? Waarskynlik nie. Die ouer is eerder bly om te sien dat die kind ’n gees van waardering en mededeelsaamheid aankweek. Om soortgelyke redes spoor Jehovah ons aan om te gee, en dit behaag hom as ons dit wel doen. So toon ons aan hom dat ons werklik sy eindelose goedhartigheid en vrygewigheid teenoor ons waardeer. Hy is die gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” en daarom sal ons nooit sonder ’n rede wees om hom te dank nie (Jakobus 1:17). Bowenal het Jehovah sy eie geliefde Seun gegee en toegelaat dat hy sterf sodat ons vir ewig kan lewe (Johannes 3:16). Kan ons hom ooit genoeg bedank?
As ons in die tweede plek ’n gewoonte daarvan maak om te gee, kan ons daardeur in ’n baie belangrike opsig leer om Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, na te volg. Jehovah gee voortdurend en is altyd vrygewig. Soos die Bybel sê, gee hy ons “lewe en asem en alles” (Handelinge 17:25). Ons kan hom tereg bedank vir elke asemteug wat ons intrek, elke stukkie kos wat ons geniet, elke gelukkige en bevredigende oomblik in die lewe (Handelinge 14:17). Jesus het, soos sy Vader, ’n vrygewige gees aan die dag gelê. Hy het van homself gegee sonder om terug te hou. Het jy geweet dat dit iets van Jesus geverg het wanneer hy wonderwerke gedoen het? Meer as een keer vertel die Skrif ons dat krag ‘van hom uitgegaan het’ wanneer hy siekes gesond gemaak het (Lukas 6:19; 8:45, 46). Jesus was so vrygewig dat hy selfs sy eie siel, sy lewe, in die dood uitgestort het.—Jesaja 53:12.
Wanneer ons dus gee, hetsy van ons tyd, ons energie of ons besittings, volg ons Jehovah na en verbly ons sy hart (Spreuke 27:11; Efesiërs 5:1). Ons volg ook die volmaakte voorbeeld vir mensegedrag wat Jesus Christus vir ons gelaat het.—1 Petrus 2:21.
In die derde plek vervul dit werklike en belangrike behoeftes wanneer ons gee. Jehovah kon weliswaar die behoeftes van die Koninkryksbelange maklik sonder ons hulp vervul het, net soos hy kon reël dat die klippe uitroep pleks van ons te gebruik om die woord te verkondig (Lukas 19:40). Maar hy het verkies om waardigheid aan ons te verleen deur hierdie voorregte aan ons te gee. Wanneer ons dus van ons middele gebruik om Koninkryksbelange te bevorder, het ons die groot bevrediging om te weet dat ons werklik ’n deel het in die allerbelangrikste werk wat in hierdie wêreld plaasvind.—Matteus 24:14.
Daar is natuurlik geld nodig om die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies te finansier. Gedurende die 1995-diensjaar het die Genootskap byna R260 miljoen daaraan bestee om in die behoeftes van spesiale pioniers, sendelinge en reisende opsieners in hulle velddienstoewysings te voorsien. Maar dit is ’n redelike klein uitgawe vergeleke met die bou- en bedryfskoste van takkantore en drukkerye oor die hele wêreld. En tog word dit alles deur vrywillige bydraes moontlik gemaak!
Jehovah se volk neem oor die algemeen nie net aan dat hulle ander die vrag kan laat dra as hulle self nie welaf is nie. So ’n gesindheid kan daartoe lei dat ons hierdie aspek van ons aanbidding by ons laat verbygaan. Volgens die apostel Paulus het die Christene in Masedonië in “diep armoede” verkeer. Hulle het nogtans gesmeek om die voorreg om te gee. En wat hulle gegee het, het Paulus getuig, was “bo hulle ware vermoë”!—2 Korintiërs 8:1-4.
In die vierde plek het Jehovah dit ’n deel van ware aanbidding gemaak om te gee omdat dit ons sal help om gelukkig te wees as ons gee. Jesus self het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Dit is hoe Jehovah ons gemaak het. Dit is nog ’n rede waarom ons dalk voel dat ons, ongeag hoeveel ons hom gee, nooit die waardering wat ons in ons hart vir hom voel, kan ewenaar nie. Maar Jehovah verwag gelukkig nie meer van ons as wat ons kan gee nie. Ons kan vol vertroue wees dat dit hom behaag wanneer ons vreugdevol gee wat ons kan!—2 Korintiërs 8:12; 9:7.
Seëninge spruit uit ’n vrygewige gees voort
Om na ons voorbeeld terug te keer wat vroeër gemeld is; stel jou voor dat die weduwee van Sarfat geredeneer het dat iemand anders vir Elia ’n maaltyd kon voorsien. Wat ’n seëning sou sy tog laat verbygaan het!
Dit ly geen twyfel dat Jehovah diegene seën wat ’n vrygewige gees toon nie (Spreuke 11:25). Die weduwee van Sarfat het nie gely omdat sy opgeoffer het wat sy gedink het haar laaste maaltyd was nie. Jehovah het haar deur ’n wonderwerk beloon. Soos Elia beloof het, het haar houers met meel en olie nie leeg geword tot die droogte verbygegaan het nie. Maar sy het ’n selfs groter beloning ontvang. Toe haar seun siek geword en gesterf het, het Elia, die man van die ware God, hom vir haar teruggegee. Hoe moes dit haar tog geestelik opgebou het!—1 Konings 17:16-24.
Vandag verwag ons nie om deur wonderwerke beloon te word nie (1 Korintiërs 13:8). Maar Jehovah verseker ons dat hy diegene wat hom heelhartig dien, sal ondersteun (Matteus 6:33). Ons kan dus in daardie opsig soos die weduwee van Sarfat wees en vryelik gee met die vertroue dat Jehovah vir ons sal sorg. Ons kan eweneens groot geestelike belonings geniet. As ons as deel van ’n gereelde roetine gee, eerder as sporadies, op die ingewing van die oomblik, sal dit ons help om ons oog eenvoudig en op Koninkryksbelange gevestig te hou, soos Jesus gesê het. (Lukas 11:34; vergelyk 1 Korintiërs 16:1, 2.) Dit sal ons ook nader aan Jehovah en Jesus laat voel as hulle medewerkers (1 Korintiërs 3:9). En dit sal tot die vrygewige, mededeelsame gees bydra wat reeds wêreldwyd ’n kenmerk van aanbidders van Jehovah is.
[Venster op bladsy 31]
MANIERE WAAROP SOMMIGE GEE
BYDRAES VIR DIE WÊRELDWYE WERK
Baie sit ’n bedrag opsy wat hulle in die bydraebussie by die Koninkryksaal plaas. Gemeentes stuur hierdie geld elke maand aan die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, of aan die plaaslike takkantoor.
Vrywillige geldelike bydraes kan ook regstreeks na die Tesourierskantoor, Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, 25 Columbia Heights, Brooklyn, New York 11201-2483 of na die Genootskap se plaaslike takkantoor gestuur word. Juwele of ander kosbare artikels kan ook geskenk word. ’n Kort briefie wat meld dat dit ’n regstreekse skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.
REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS
Geld kan aan die Wagtoringgenootskap gegee word om in trust gehou te word tot die skenker te sterwe kom, op voorwaarde dat dit aan die skenker terugbetaal sal word indien hy dit self nodig sou kry.
BEPLANDE SKENKINGS
Buiten regstreekse en voorwaardelike skenkings van geld is daar ander maniere om tot voordeel van Koninkryksdiens in alle wêrelddele te gee. Dit sluit in:
Versekering: Die Wagtoringgenootskap kan as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema benoem word. Die Genootskap moet van sulke reëlings in kennis gestel word.
Aandele en obligasies: Aandele en obligasies kan aan die Wagtoringgenootskap geskenk word, hetsy as ’n regstreekse skenking of ooreenkomstig ’n reëling waarvolgens die inkomste steeds aan die skenker betaal word.
Vaste eiendom: Verkoopbare vaste eiendom kan regstreeks aan die Wagtoringgenootskap geskenk word of dit kan geskenk word terwyl die skenker gedurende sy of haar leeftyd daar kan bly woon. Voordat enige vaste eiendom aan die Genootskap oorgedra word, moet daar eers met die Genootskap in aanraking gekom word.
Testamente: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Wagtoringgenootskap bemaak word. ’n Kopie van die testament moet aan die Genootskap gestuur word.
Enigiemand wat in enige van hierdie reëlings vir beplande skenking belangstel, moet met die Tesourierskantoor by die adres hieronder of met die Genootskap se kantoor in sy land in verbinding tree. Die Tesourierskantoor moet ’n afskrif ontvang van die toepaslike dokumente wat met enige van hierdie reëlings verband hou.
TESOURIERSKANTOOR
Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740
Telefoon: (011) 761-1000