Geleer om Jehovah se wil te doen
“Leer my om u wil te doen, want u is my God.”—PSALM 143:10, NW.
1, 2. (a) Wanneer moet ons geleer word, en met watter realistiese beskouing? (b) Waarom is dit so noodsaaklik om deur Jehovah geleer te word?
ELKE dag van ’n mens se lewe dat jy bedrywig is, kan jy iets nuttigs geleer word. Dit geld vir jou sowel as ander. Maar wat gebeur by die dood? Dit is onmoontlik om in daardie toestand enigiets geleer te word of te leer. Die Bybel sê duidelik dat die dooies ‘glad niks weet nie’. Daar is geen kennis in Sjeool, die gemeenskaplike graf van die mensdom, nie (Prediker 9:5, 10). Beteken dit dat dit tevergeefs is om geleer te word en kennis te vermeerder? Dit hang af van wat ons geleer word en hoe ons daardie kennis aanwend.
2 As ons slegs wêreldse dinge geleer word, het ons geen blywende toekoms nie. Maar gelukkig word miljoene mense in alle nasies die Goddelike wil geleer met die oog op ewige lewe. Die grondslag van hierdie hoop is onderrigting deur Jehovah, die Bron van lewegewende kennis.—Psalm 94:9-12.
3. (a) Waarom kan daar gesê word dat Jesus God se eerste leerling was? (b) Watter versekering het ons dat mense deur Jehovah geleer sal word, en met watter gevolg?
3 God se eersgebore Seun is as Sy eerste leerling geleer om sy Vader se wil te doen (Spreuke 8:22-30; Johannes 8:28). Jesus het op sy beurt getoon dat tallose mense deur sy Vader geleer sou word. Wat is die vooruitsigte vir diegene van ons wat by God leer? Jesus het gesê: “Daar staan in die Profete geskrywe: ‘En hulle sal almal deur Jehovah geleer word.’ Elkeen wat by die Vader gehoor het en geleer het, kom na my toe. . . . Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Hy wat glo, het die ewige lewe.”—Johannes 6:45-47.
4. Hoe word miljoene mense deur Goddelike onderrigting geraak, en watter vooruitsigte het hulle?
4 Jesus het uit Jesaja 54:13 aangehaal, wat aan God se simboliese vrou, hemelse Sion, gerig is. Daardie profesie is veral van toepassing op haar seuns, die 144 000 geesverwekte dissipels van Jesus Christus. ’n Oorblyfsel van daardie geestelike seuns is vandag bedrywig en neem die voortou met ’n wêreldomvattende onderrigtingsprogram. Die gevolg is dat miljoene ander wat “’n groot skare” vorm ook daarby baat vind om deur Jehovah geleer te word. Hulle het die unieke vooruitsig om te leer sonder dat die dood die proses onderbreek. Hoe so? Wel, hulle het die geleentheid om die vinnig naderende “groot verdrukking” te oorleef en die ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet.—Openbaring 7:9, 10, 13-17.
Groter klem op die doen van God se wil
5. (a) Wat is die jaarteks vir 1997? (b) Hoe behoort ons oor die bywoning van Christelike vergaderinge te voel?
5 Gedurende 1997 sal Jehovah se Getuies in meer as 80 000 gemeentes regoor die wêreld die inleidende woorde van Psalm 143:10 (NW) goed in gedagte hou: “Leer my om u wil te doen.” Dit sal die jaarteks vir 1997 wees. Daardie woorde, wat duidelik in Koninkryksale vertoon sal word, sal ons daaraan herinner dat gemeentelike vergaderinge ’n uitstekende plek is waar ons Goddelike opvoeding kan ontvang en aan ’n voortdurende onderrigtingsprogram kan deelneem. Wanneer ons saam met ons broers by vergaderinge byeenkom om deur ons Grootse Onderrigter geleer te word, voel ons dalk soos die psalmis, wat geskryf het: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!”—Psalm 122:1; Jesaja 30:20, NW.
6. Wat erken ons, net soos Dawid?
6 Ja, ons wil baie graag geleer word om eerder God se wil te doen as die wil van ons teenstander die Duiwel of die wil van onvolmaakte mense. Soos Dawid erken ons dus die God wat ons aanbid en dien: “Want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ’n gelyk land” (Psalm 143:10). Dawid wou nie met mense van onwaarheid omgaan nie, maar het verkies om eerder te wees waar Jehovah se aanbidding beoefen is (Psalm 26:4-6, vgl. NW). Met God se gees om sy voetstappe te rig, kon Dawid in die spore van geregtigheid loop.—Psalm 17:5; 23:3.
7. Hoe werk God se gees op die Christengemeente in?
7 Die Grotere Dawid, Jesus Christus, het die apostels verseker dat die heilige gees hulle alle dinge sou leer en hulle weer gedagtig sou maak aan alles wat hy hulle vertel het (Johannes 14:26). Sedert Pinkster het Jehovah progressief “die diep dinge van God” geopenbaar wat in sy geskrewe Woord vervat is (1 Korintiërs 2:10-13). Hy het dit deur ’n sigbare kanaal gedoen wat Jesus “die getroue en verstandige slaaf” genoem het. Dit voorsien geestelike voedsel wat in die onderrigtingsprogram vir gemeentes van God se volk oor die hele wêreld behandel word.—Matteus 24:45-47.
By ons vergaderinge word ons Jehovah se wil geleer
8. Waarom is dit so nuttig om aan die Wagtoring-studie deel te neem?
8 Materiaal in die weeklikse gemeentelike Wagtoring-studie handel dikwels oor die toepassing van Bybelbeginsels. Dit help ons beslis om die sorge van die lewe die hoof te bied. In ander studies word diep geestelike waarhede of Bybelprofesieë bespreek. Hoeveel word ons tog nie gedurende sulke studies geleer nie! In baie lande is Koninkryksale stampvol vir hierdie vergaderinge. Maar in ’n aantal lande het die vergaderingbywoning afgeneem. Wat dink jy is die rede hiervoor? Laat sommige dalk toe dat sekulêre werk hulle verhinder om gereeld te vergader “om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor”? Of bestee hulle miskien baie ure aan sosiale bedrywighede of televisiekykery wat hulle program te vol laat lyk om al die vergaderinge by te woon? Dink aan die geïnspireerde opdrag in Hebreërs 10:23-25. Is dit nie nou selfs belangriker om vir Goddelike onderrigting byeen te kom namate ons “die dag sien nader kom” nie?
9. (a) Hoe kan die Diensvergadering ons vir die bediening toerus? (b) Wat moet ons gesindheid teenoor die getuieniswerk wees?
9 Een van ons vernaamste verantwoordelikhede is om as God se bedienaars te dien. Die Diensvergadering is bedoel om ons te leer hoe ons dit op doeltreffende wyse kan doen. Ons leer hoe om gesprekke met mense aan te knoop, wat om te sê, hoe om te reageer wanneer daar ’n gunstige reaksie is en selfs wat om te doen wanneer mense ons boodskap verwerp (Lukas 10:1-11). Namate doeltreffende metodes tydens hierdie weeklikse vergadering bespreek en gedemonstreer word, is ons beter voorbereid om mense te bereik, nie net wanneer ons van huis tot huis gaan nie, maar ook wanneer ons op straat, in parkeerterreine, op openbare vervoer, by lughawens, sakeondernemings of by die skool getuig. In ooreenstemming met ons versoek, “Leer my om u wil te doen”, wil ons elke geleentheid benut om te doen wat ons Heer ons aangespoor het: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle . . . heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.”—Matteus 5:16.
10. Hoe kan ons ‘verdienstelikes’ werklik help?
10 By hierdie gemeentelike vergaderinge word ons ook geleer om dissipels van ander te maak. As ons belangstelling gevind of lektuur by iemand gelaat het, is ons doelwit wanneer ons herbesoeke doen om tuisbybelstudies te begin. Dit kom in sekere sin ooreen met die dissipels wat by ‘verdienstelikes gebly het’ om hulle die dinge te leer wat Jesus beveel het (Matteus 10:11; 28:19, 20). Met die uitstekende hulpmiddels wat ons het, soos die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, is ons werklik goed toegerus om ons bediening deeglik uit te voer (2 Timoteus 4:5). Elke week wanneer jy die Diensvergadering en Teokratiese Bedieningskool bywoon, moet jy daarna streef om nuttige gedagtes in te neem en dan te gebruik, wat jou sal aanbeveel as een van God se bedienaars wat voldoende bekwaam is en wat sy wil uitvoer.—2 Korintiërs 3:3, 5; 4:1, 2.
11. Hoe het party geloof in die woorde in Matteus 6:33 geopenbaar?
11 Dit is God se wil dat ons “[aanhou] om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). Vra jou af: ‘Hoe sal ek hierdie beginsel toepas as eise wat by my [of my huweliksmaat se] werk gestel word inbreuk op my vergaderingbywoning maak?’ Talle geestelik ryp persone sal stappe doen om met hulle werkgewers oor die saak te praat. ’n Voltydse bedienaar het haar werkgewer meegedeel dat sy elke week tyd af nodig het om gemeentelike vergaderinge by te woon. Hy het die versoek toegestaan. Maar aangesien hy nuuskierig was oor wat by die vergaderinge gebeur, het hy gevra om dit by te woon. Daar het hy ’n aankondiging in verband met ’n komende streekbyeenkoms gehoor. Gevolglik het die werkgewer gereël om ’n hele dag by die streekbyeenkoms te wees. Watter les leer jy uit hierdie voorbeeld?
Godvrugtige ouers leer hulle kinders Jehovah se wil
12. Wat moet Christenouers met geduld en fermheid doen sodat hulle kinders Jehovah se wil geleer kan word?
12 Maar gemeentelike vergaderinge en byeenkomste is nie die enigste voorsiening waardeur ons geleer word om die Goddelike wil te doen nie. Godvrugtige ouers word beveel om hulle kinders op te lei, te dissiplineer en groot te maak om Jehovah te loof en sy wil te doen (Psalm 148:12, 13; Spreuke 22:6, 15). Om dit te doen, vereis dat ons ons “kinders” vergaderinge toe neem waar hulle kan ‘luister en leer’. Maar wat daarvan om hulle tuis uit die heilige geskrifte te leer? (Deuteronomium 31:12, vgl. NW; 2 Timoteus 3:15). Baie gesinne het pligsgetrou met ’n program van gereelde gesinsbybelstudie begin, maar het toegelaat dat dit ná ’n ruk doodloop of verwaarloos word. Het jy dit al ondervind? Sal jy tot die gevolgtrekking kom dat die voorstel om so ’n gereelde studie te hê, onvanpas is of dat jou gesin so anders is dat dit in jou geval net nie sal werk nie? Wat die situasie ook al mag wees, julle ouers moet asseblief die uitstekende artikels “Ons ryk geestelike erfenis” en “Die belonings vir volharding” in Die Wagtoring van 1 Augustus 1995 hersien.
13. Hoe kan gesinne baat vind by ’n bespreking van die dagteks?
13 Gesinne word aangemoedig om ’n gewoonte daarvan te maak om die dagteks uit Ondersoek die Skrif elke dag te bespreek. Om net die teks en kommentaar te lees, is goed, maar om die teks te bespreek en dit toe te pas, is voordeliger. As Efesiërs 5:15-17 bespreek word, kan gesinslede byvoorbeeld redeneer oor hoe ‘geleë tyd uitgekoop’ kan word vir persoonlike studie, deelname aan die een of ander vorm van die voltydse bediening en om na ander teokratiese toewysings om te sien. Ja, ’n gesinsbespreking van die dagteks kan meebring dat een of baie ‘voortgaan om in groter mate te begryp wat die wil van Jehovah is’.
14. Watter soort onderrigters moet ouers volgens Deuteronomium 6:6, 7 wees, en wat vereis dit?
14 Ouers moet toegewyde onderrigters van hulle kinders wees (Deuteronomium 6:6, 7). Maar dit beteken nie net dat hulle hulle kinders moet bestraf of hiet en gebied nie. Die vader en moeder moet ook luister; sodoende sal dit vir hulle makliker wees om te weet wat verduidelik, opgeklaar, toegelig of herhaal moet word. In een Christengesin stimuleer die ouers openhartige kommunikasie deur hulle kinders aan te moedig om vrae te stel oor dinge wat hulle nie verstaan nie of wat kommer wek. Hulle het op dié manier uitgevind dat hulle tienderjarige seun dit moeilik gevind het om te verstaan dat Jehovah nie ’n begin het nie. Die ouers kon inligting uit die Wagtoringgenootskap se publikasies gebruik wat toon dat tyd en ruimte as eindeloos aanvaar word. Dít het die punt toegelig en hulle seun bevredig. Neem dus tyd om julle kinders se vrae duidelik en uit die Skrif te beantwoord, en help hulle om te besef dat dit baie bevredigend kan wees om te leer om God se wil te doen. Wat anders word God se volk—oud en jonk—vandag geleer?
Geleer om lief te hê en ’n stryd te voer
15. Wanneer word die egtheid van ons broederliefde miskien op die proef gestel?
15 Ons word in ooreenstemming met Jesus se nuwe gebod “deur God geleer om mekaar lief te hê” (1 Tessalonisense 4:9). Wanneer dinge rustig is en goed gaan, dink ons dalk dat ons wel al ons broers liefhet. Maar wat gebeur wanneer persoonlike verskille ontstaan of ons aanstoot neem aan wat ’n ander Christen sê of doen? Nou word die egtheid van ons liefde miskien op die proef gestel. (Vergelyk 2 Korintiërs 8:8.) Wat leer die Bybel ons om in sulke situasies te doen? Een ding is om liefde in die grootste mate te probeer betoon (1 Petrus 4:8). Ons moet ons inspan om toe te laat dat die liefde ’n menigte sondes bedek, en nie ons eie belange soek, vertoorn word oor geringe tekortkominge of boekhou van kwaad nie (1 Korintiërs 13:5). Ons weet dat dit God se wil is, want dit is wat sy Woord leer.
16. (a) Aan watter soort oorlogvoering word Christene geleer om deel te neem? (b) Hoe is ons toegerus?
16 Hoewel baie nie liefde met oorlogvoering sal verbind nie, is laasgenoemde iets anders wat ons geleer word, maar dit is ’n bepaalde soort oorlogvoering. Dawid het erken dat hy van Jehovah afhanklik was om hom te leer hoe om oorlog te voer, hoewel dit in sy tyd letterlike gevegte teen Israel se vyande ingesluit het (1 Samuel 17:45-51; 19:8; 1 Konings 5:3; Psalm 144:1). Wat van ons hedendaagse stryd? Ons wapens is nie vleeslik nie (2 Korintiërs 10:4). Ons het ’n geestelike stryd, waarvoor ons met geestelike wapenrusting toegerus moet wees (Efesiërs 6:10-13). Jehovah leer ons deur sy Woord en sy vergaderde volk hoe om ’n suksesvolle geestelike stryd te voer.
17. (a) Watter metodes gebruik die Duiwel om ons aandag af te trek? (b) Wat sal ons verstandig wees om te vermy?
17 Die Duiwel gebruik dikwels elemente van die wêreld, afvalliges en ander teenstanders van die waarheid op bedrieglike, subtiele maniere om ons aandag na onbelangrike sake te probeer wegkeer (1 Timoteus 6:3-5, 11; Titus 3:9-11). Dit is asof hy besef dat sy kanse skraal is om ons deur ’n direkte frontaanval te oormeester; daarom probeer hy om ons te laat struikel deur ons sover te kry om te kla oor dinge wat ons besonder grief en dwase twisvrae te vra, wat sonder enige geestelike waarde is. As waaksame stryders moet ons net so op ons hoede wees vir sulke gevare as vir frontaanvalle.—1 Timoteus 1:3, 4.
18. Wat behels dit werklik om nie langer vir onsself te lewe nie?
18 Ons bevorder nie mense se begeertes of die wil van die nasies nie. Jehovah het ons deur middel van Jesus se voorbeeld geleer dat ons nie langer vir onsself moet lewe nie; ons moet eerder bewapen wees met dieselfde geesteshouding wat Christus Jesus gehad het en vir God se wil lewe (2 Korintiërs 5:14, 15). In die verlede het ons miskien ’n baie ongematigde, losbandige lewe gelei en kosbare tyd verkwis. Swelgerye, drinkpartye en onsedelikheid kenmerk hierdie goddelose wêreld. Is ons nie, noudat ons geleer word om God se wil te doen, dankbaar om afgeskeie van hierdie verdorwe wêreld te wees nie? Laat ons dus ’n harde geestelike stryd voer om te voorkom dat ons by verontreinigende wêreldse gebruike betrokke raak.—1 Petrus 4:1-3.
Geleer om onsself te bevoordeel
19. Watter voordele bring dit mee as ons Jehovah se wil geleer word en dit dan doen?
19 Dit is noodsaaklik dat ons besef dat dit ons grootliks bevoordeel om geleer te word om Jehovah se wil te doen. Begryplikerwyse moet ons ons deel bydra deur noukeurig aandag te skenk sodat ons kan leer en dan die instruksies volg wat ons deur sy Seun sowel as deur sy Woord en vergaderde volk ontvang (Jesaja 48:17, 18, NW; Hebreërs 2:1). As ons dít doen, sal ons versterk word om standvastig te bly in hierdie rampspoedige tyd en om die storms wat voorlê te trotseer (Matteus 7:24-27). Ons sal God selfs nou behaag deur sy wil te doen en sal verseker dat ons gebede verhoor word (Johannes 9:31; 1 Johannes 3:22). En ons sal ware geluk ondervind.—Johannes 13:17.
20. Waaroor sal dit goed wees om te peins wanneer jy die jaarteks gedurende 1997 sien?
20 In die loop van 1997 sal ons dikwels geleentheid hê om die jaarteks, Psalm 143:10 (NW): “Leer my om u wil te doen”, te lees en daaroor na te dink. Terwyl ons dit doen, laat ons van die geleenthede gebruik om te peins oor die voorsienings wat God vir ons gemaak het om geleer te word, soos hierbo uiteengesit is. En laat ons sulke bepeinsing oor hierdie woorde as ’n aansporing gebruik om altyd in ooreenstemming met daardie versoek op te tree, in die wete dat ‘hy wat die wil van God doen, vir ewig bly’.—1 Johannes 2:17.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wie word vandag geleer om Jehovah se wil te doen?
◻ Watter invloed behoort Psalm 143:10 (NW) gedurende 1997 op ons te hê?
◻ Hoe word ons geleer om Jehovah se wil te doen?
◻ Wat word van Christenouers vereis wanneer hulle hulle kinders leer?