Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 8/1 bl. 14-19
  • Deur Jehovah geleer tot vandag toe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deur Jehovah geleer tot vandag toe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ideale Onderrigter-leerling-verhouding
  • ’n Uitgebreide onderrigtingsprogram
  • Geleer by gemeentelike vergaderinge
  • Geleer by groter samekomste
  • Deur God geleer om te onderrig
  • Geleer om Jehovah se wil te doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Jehovah—’n God wat onderrig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ‘Julle behoort leraars te wees’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkomste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 8/1 bl. 14-19

Deur Jehovah geleer tot vandag toe

“Jehovah self het my die tong gegee van dié wat geleer is.”—JESAJA 50:4, NW.

1, 2. (a) Waarvoor het Jehovah sy geliefkoosde leerling voorberei, en wat was die resultaat? (b) Hoe het Jesus die Bron van sy leringe erken?

JEHOVAH GOD was sedert hy ’n Vader geword het nog altyd ’n Onderrigter. ’n Ruk nadat sekere van sy kinders in opstand gekom het, het hy sy geliefkoosde leerling, sy Eersgeborene, vir ’n bediening op aarde voorberei (Spreuke 8:30, NW). Jesaja hoofstuk 50 beeld profeties uit dat hierdie leerling sê: “Die Soewereine Heer Jehovah self het my die tong gegee van dié wat geleer is, sodat ek kan weet hoe om die vermoeide met ’n woord te antwoord” (Jesaja 50:4, NW). Omdat Jesus sy Vader se onderrigting toegepas het terwyl hy op aarde was, was hy ’n bron van verkwikking vir almal wat ‘vermoeid en swaar belaai’ was.—Matteus 11:28-30.

2 Jesus het gedurende die eerste eeu talle kragtige werke gedoen. Hy het blindes laat sien en selfs dooies opgewek, en nogtans het sy tydgenote hom hoofsaaklik as ’n onderrigter geken. Sy volgelinge sowel as sy teenstanders het hom ’n leermeester genoem (Matteus 8:19; 9:11; 12:38; 19:16; Johannes 3:2). Jesus het hom nooit die eer toegeëien vir wat hy die mense geleer het nie, maar het nederig erken: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het.” “Net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge.”—Johannes 7:16; 8:28; 12:49.

Ideale Onderrigter-leerling-verhouding

3. Hoe toon Jesaja se profesie Jehovah se belangstelling in diegene wat hy onderrig?

3 ’n Uitmuntende onderrigter toon persoonlike, nougesette en liefdevolle belangstelling in sy leerlinge. Jesaja hoofstuk 50 openbaar dat Jehovah God daardie soort belangstelling toon in diegene wat hy onderrig. “Hy wek elke môre”, sê die profesie, “Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge” (Jesaja 50:4). Die taal hier dui op ’n onderrigter wat sy leerlinge vroeg in die môre wakker maak om hulle te onderrig. Een Bybelkenner het oor die toepassing van die profesie kommentaar gelewer en gesê: “Die idee is dat die Verlosser iemand sou wees . . . wat, om dit so uit te druk, in die skool van God was; en wat bekwaam sou wees om ander te onderrig. . . . Die Messias sou, deur Goddelike onderrigting, by uitstek bekwaam wees om die onderrigter van die mensdom te wees.”

4. Hoe het Jesus op sy Vader se onderrigting gereageer?

4 Ideaal gesien, reageer leerlinge op die onderrigting van hulle onderrigter. Hoe het Jesus op sy Vader se onderrigting gereageer? Sy reaksie was in ooreenstemming met wat ons in Jesaja 50:5 lees: “Die Here HERE het my oor geopen, en Ek was nie wederstrewig nie; Ek het nie agteruitgewyk nie.” Ja, Jesus was gretig om te leer. Hy was, soos die spreekwoord sê, een en al ore. Daarbenewens was hy bereid om enigiets te doen wat sy Vader hom gevra het. Hy was nie wederstrewig nie; inteendeel, hy het gesê: “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied.”—Lukas 22:42.

5. (a) Wat dui aan dat Jesus vooraf geweet het watter beproewinge hy op aarde sou verduur? (b) Hoe is die profesie in Jesaja 50:6 vervul?

5 Die profesie dui aan dat die Seun geweet het wat die moontlike gevolge sou wees as hy God se wil doen. Dit word getoon deur wat die leerling sê: “Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie” (Jesaja 50:6). Soos die profesie toon, is Jesus wreed behandel op aarde. “Hulle [het] in sy gesig gespoeg”, het die apostel Matteus geskryf. “Ander het hom deur die gesig geklap” (Matteus 26:67). Dit het tydens die Pasganag van 33 G.J. deur die toedoen van godsdiensleiers plaasgevind. Die volgende dag het Jesus sy rug gegee vir die wat slaan, toe die Romeinse soldate hom genadeloos geslaan het voordat hulle hom aan ’n paal gehang het om te sterf.—Johannes 19:1-3, 16-23.

6. Wat toon dat Jesus nooit vertroue in sy Onderrigter verloor het nie, en hoe is sy vertroue beloon?

6 Die Seun, wat vooraf goed geleer is, het nooit vertroue in sy Onderrigter verloor nie. Dit word getoon deur wat hy volgens die profesie vervolgens sê: “Die Here HERE help My; daarom kom Ek nie in die skande nie” (Jesaja 50:7). Jesus se vertroue op sy Onderrigter se hulp is ryklik beloon. Sy Vader het hom verhef en hom met ’n hoër posisie as al God se ander knegte geseën (Filippense 2:5-11). Daar wag ook op ons wonderlike seëninge as ons gehoorsaam by Jehovah se onderrigting bly en nie ‘agteruitwyk’ nie. Kom ons kyk hoe daardie onderrigting tot in ons tyd beskikbaar gestel is.

’n Uitgebreide onderrigtingsprogram

7. Hoe het Jehovah sy onderrigting op aarde voortgesit?

7 Soos ons vroeër gesien het, het Jehovah gedurende die eerste eeu sy aardse Verteenwoordiger, Jesus Christus, gebruik om Goddelike onderrigting oor te dra (Johannes 16:27, 28). Jesus het voortdurend op God se Woord as die gesag vir sy onderrigting gewys en vir diegene wat hy onderrig het die voorbeeld gestel (Matteus 4:4, 7, 10; 21:13; 26:24, 31). Daarna is Jehovah se onderrigting op aarde voortgesit deur die bediening van mense wat só geleer is. Onthou dat Jesus hulle beveel het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Wanneer dissipels gemaak is, het hulle lede van “God se huisgesin . . . , die gemeente van die lewende God”, geword (1 Timoteus 3:15). Hulle is ook tot afsonderlike gemeentes gevorm waarin hulle deur Jehovah onderrig is (Handelinge 14:23; 15:41; 16:5; 1 Korintiërs 11:16). Het hierdie soort Goddelike onderrigting tot in ons tyd voortgeduur?

8. Hoe het Jesus getoon dat die predikingswerk op aarde gerig sou word voor die einde sou kom?

8 Dit het inderdaad! Drie dae voor sy dood het Jesus voorspel dat daar voor die einde van hierdie stelsel van dinge ’n groot predikingswerk gedoen sou word. “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies”, het hy gesê, “en dan sal die einde kom.” Jesus het vervolgens die instrument beskryf waardeur hierdie wêreldwye predikings- en onderrigtingsprogram gerig sou word. Hy het van “die getroue en verstandige slaaf” gepraat wat ’n kanaal, of instrument, sou wees om geestelike voedsel aan Sy knegte te voorsien (Matteus 24:14, 45-47). Jehovah God gebruik hierdie “slaaf” om oor Koninkryksbelange oor die hele aarde toesig te hou.

9. Uit wie bestaan die getroue en verstandige slaaf?

9 Vandag bestaan die getroue en verstandige slaaf uit die oorblyfsel van die Koninkrykserfgename. Hulle is gesalfde Christene, die oorblywendes op aarde van die 144 000, wat “aan Christus behoort” en deel uitmaak van “Abraham se saad” (Galasiërs 3:16, 29; Openbaring 14:1-3). Hoe kan jy die getroue en verstandige slaaf identifiseer? Vernaamlik deur die werk wat hulle doen en deur die feit dat hulle nougeset by God se Woord, die Bybel, bly.

10. Watter middele gebruik die slaafklas om Jehovah se leringe te bevorder?

10 Jehovah gebruik hierdie “slaaf” as sy instrument om mense vandag te onderrig. Die lede van die slaafklas het in 1931 die naam Jehovah se Getuies aangeneem. Sedertdien het miljoene met hulle geassosieer, daardie naam aangeneem en God se Koninkryk begin verkondig. Hierdie tydskrif, Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan, is die vernaamste middel wat die “slaaf” in die onderrigtingswerk gebruik. Ander publikasies word egter ook gebruik, wat boeke, boekies, brosjures, traktate en die Ontwaak! insluit.

11. Watter skole word deur die “slaaf” georganiseer, en wat is die doel van elkeen van hierdie skole?

11 Daarbenewens organiseer die “slaaf” etlike skole. Dit sluit die Wagtoring-Bybelskool Gilead in, wat ’n kursus van vyf maande is wat jong bedienaars vir buitelandse sendingdiens voorberei, en die twee maande lange Bedieningsopleidingskoolkursus wat ongetroude ouer manne en bedieningsknegte vir spesiale teokratiese toewysings oplei. Daar is ook die Koninkryksbedieningskool, waarin Christen- ouer manne en bedieningsknegte van tyd tot tyd in hulle gemeentelike verantwoordelikhede onderrig word, en die Pionierdiensskool, wat voltydse evangeliedienaars toerus om bekwamer in hulle predikingsbedrywigheid te word.

12. Wat is ’n weeklikse kenmerk van die onderrigtingsprogram?

12 Nog ’n kenmerk van die onderrigtingsprogram is die vyf weeklikse vergaderinge wat in die meer as 75 500 gemeentes van Jehovah se volk oor die hele wêreld gehou word. Vind jy ten volle baat by hierdie vergaderinge? Toon jy, deur aandagtig te luister na die onderrigting wat gegee word, dat jy werklik glo dat jy as ’t ware in die skool van God is? Kan ander aan jou geestelike vordering sien dat jy “die tong . . . van dié wat geleer is”, het?—Jesaja 50:4, NW; 1 Timoteus 4:15, 16.

Geleer by gemeentelike vergaderinge

13. (a) Wat is ’n belangrike manier waarop Jehovah sy volk vandag onderrig? (b) Hoe kan ons ons waardering vir Die Wagtoring toon?

13 Jehovah onderrig sy volk vernaamlik deur ’n weeklikse studie van die Bybel met Die Wagtoring as ’n leermiddel. Beskou jy hierdie vergadering as ’n plek waar jy deur Jehovah onderrig kan word? Hoewel Jesaja 50:4 hoofsaaklik op Jesus van toepassing is, kan dit ook van toepassing wees op almal wat gebruik maak van God se voorsienings om “die tong . . . van dié wat geleer is” te verkry. Een manier waarop jy kan toon dat jy Die Wagtoring op prys stel, is deur elke nommer te lees so gou moontlik nadat jy dit ontvang het. Wanneer Die Wagtoring dan in die gemeente bestudeer word, kan jy jou waardering teenoor Jehovah toon deur teenwoordig te wees en ook deur voorbereid te wees om ’n openbare bekendmaking van jou hoop te doen.—Hebreërs 10:23.

14. (a) Waarom is dit so ’n belangrike voorreg om by vergaderinge kommentaar te lewer? (b) Watter soort kommentare deur kinders is baie aanmoedigend?

14 Besef jy dat jy deur jou kommentare by vergaderinge aan Jehovah se grootse onderrigtingsprogram deel kan hê? ’n Belangrike manier om mekaar “tot liefde en voortreflike werke aan te spoor”, is ongetwyfeld om by vergaderinge kommentaar te lewer (Hebreërs 10:24, 25). Kan kinders ook aan hierdie onderrigtingsprogram deel hê? Ja, hulle kan. Opregte kommentare deur jonges is dikwels vir ouer mense aanmoedigend. Dit het al gebeur dat nuwelinge by ons vergaderinge deur die kommentare van kinders beweeg is om met meer erns aan Bybelwaarheid aandag te gee. Party kinders maak ’n gewoonte daarvan om hulle kommentare regstreeks uit die paragraaf te lees of om te herhaal wat ’n volwassene in hulle oor fluister. Dit is egter baie aanmoedigend wanneer hulle kommentare goed voorberei is. Sulke kommentare strek ons Grootse Onderrigter en sy verhewe onderrigtingsprogram werklik tot eer.—Jesaja 30:20, 21.

15. Wat kan ouers doen om hulle kinders te help om op ’n doeltreffender wyse kommentaar te lewer?

15 Dit is ’n vreugde om kinders te sien wat ’n aandeel daaraan wil hê om ons God te loof. Jesus het lofuitinge van jonges waardeer (Matteus 21:15, 16). ’n Christen- ouer man sê: “Toe ek ’n kind was, wou ek by die Wagtoring-studie kommentaar lewer. Nadat my pa my gehelp het om ’n kommentaar voor te berei, het hy verwag dat ek dit ten minste sewe keer oefen.” Gedurende julle gesinsbybelstudie kan julle as ouers moontlik julle kinders help om op gekose paragrawe in Die Wagtoring kommentare in hulle eie woorde voor te berei. Help hulle om die groot voorreg te waardeer om ’n aandeel aan Jehovah se onderrigtingsprogram te hê.

16. Wat is die nut van die Teokratiese Bedieningskool, en wie mag vir die skool inskryf?

16 Die onderrigting by ander Christelike vergaderinge moet ook ernstig opgeneem word, deur diegene wat bevoorreg is om die inligting oor te dra sowel as deur diegene wat luister na die onderrigting wat aangebied word. Jehovah gebruik al meer as 50 jaar lank die weeklikse Teokratiese Bedieningskool om miljoene manne en vroue op te lei om die Koninkryksboodskap op ’n doeltreffender wyse aan te bied. Diegene wat daadwerklik met die gemeente assosieer, kan inskryf, met inbegrip van mense wat onlangs die vergaderinge begin bywoon het, mits hulle ’n lewe lei wat in ooreenstemming met Christelike beginsels is.

17. (a) Wat is hoofsaaklik die doel van die Openbare Vergadering? (b) Wat moet openbare sprekers in gedagte hou?

17 Nog iets wat lank reeds ’n kenmerk van die onderrigtingsprogram is, is die Openbare Vergadering. Soos sy naam aandui, is die doel van hierdie vergadering hoofsaaklik om nie-Getuies met basiese Bybelleringe vertroud te maak. Daarom moet die een wat die toespraak hou die inligting so aanbied dat diegene wat die boodskap vir die eerste keer hoor dit kan verstaan. Dit beteken dat uitdrukkings soos “ander skape”, “broers” en “oorblyfsel”, wat nie-Getuies moontlik nie sal verstaan nie, vir nuwelinge verduidelik moet word. Aangesien mense wat die Openbare Vergadering bywoon moontlik opvattings of lewenstyle het wat heeltemal in stryd met die Skrif is—hoewel dit in vandag se gemeenskap aanvaarbaar is—moet die spreker altyd taktvol wees en nooit met sulke opvattings of lewenstyle spot nie.—Vergelyk 1 Korintiërs 9:19-23.

18. Watter ander weeklikse gemeentelike vergaderinge is daar, en van watter nut is hulle?

18 Die Gemeentelike Boekstudie is ’n vergadering waar publikasies wat onder die toesig van die getroue en verstandige slaaf voorberei word elke week saam met die Bybel bestudeer word. Die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! word tans in baie lande bestudeer. Die Diensvergadering is bedoel om Jehovah se volk toe te rus om ’n volle aandeel aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk te hê en dissipels te maak.—Matteus 28:19, 20; Markus 13:10.

Geleer by groter samekomste

19. Watter groter samekomste reël die “slaaf” elke jaar?

19 Die ‘getroue slaaf’ reël al meer as honderd jaar lank streek- en kringbyeenkomste vir die onderrigting en spesiale bemoediging van ware Christene. Drie sulke groter samekomste word nou elke jaar gehou. Daar is die eendagbyeenkoms wat bygewoon word deur ’n groep gemeentes wat ’n kring uitmaak. Gedurende die jaar het elke kring ook ’n tweedaagse samekoms wat ’n kringbyeenkoms genoem word. Daarbenewens is daar ’n samekoms wat deur ’n aantal kringe bygewoon word en ’n streekbyeenkoms genoem word. Van tyd tot tyd word daar internasionale byeenkomste gehou. Hierdie groot samekomste, met Getuies uit baie lande as gaste, is werklik geloofversterkend vir Jehovah se volk!—Vergelyk Deuteronomium 16:16.

20. Wat is nog altyd by groter samekomste van Jehovah se Getuies beklemtoon?

20 In 1922, toe sowat 10 000 in Cedar Point, Ohio, VSA, byeengekom het, is die byeenkomsgangers aangevuur deur die spreker se aansporing: “Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Sulke groot byeenkomste het nog altyd die predikingswerk beklemtoon. By die internasionale byeenkoms in die stad New York in 1953 is daar byvoorbeeld ’n aankondiging gedoen oor die instelling van ’n huis-tot-huis-opleidingsprogram in al die gemeentes. Die implementering daarvan het ’n baie positiewe uitwerking op die Koninkrykspredikingswerk in baie lande gehad.

Deur God geleer om te onderrig

21. Watter voorreg wil ons aanneem en dan nie die doel daarvan mis nie?

21 Jehovah het beslis vandag ’n wonderlike onderrigtingsprogram op die aarde! Almal wat daarvan gebruik maak, kan deur God geleer word, ja, kan onder diegene wees wat “die tong gegee [is] van dié wat geleer is”. Wat ’n voorreg is dit tog om as ’t ware in die skool van God te wees! Maar wanneer ons hierdie voorreg aanneem, moet ons nie die doel daarvan mis nie. Jehovah het Jesus geleer sodat hy ander kon onderrig, en Jesus het sy dissipels geleer sodat hulle dieselfde werk kon doen as wat hy gedoen het, maar op ’n selfs groter skaal. Ons word eweneens in Jehovah se grootse onderrigtingsprogram geleer met die doel om ander te onderrig.—Johannes 6:45; 14:12; 2 Korintiërs 5:20, 21; 6:1; 2 Timoteus 2:2.

22. (a) Watter probleem het Moses en Jeremia gehad, maar hoe is dit opgelos? (b) Watter versekering kan ons hê dat God sal toesien dat die verkondiging van die Koninkryk volbring word?

22 Sê jy soos Moses: “Ek is nie ’n man van woorde nie”, of soos Jeremia: “Voorwaar, ek kan nie praat nie”? Jehovah sal jou help soos hy hulle gehelp het. “Ek sal met jou mond wees”, het hy vir Moses gesê. En vir Jeremia het hy gesê: “Wees . . . nie bevrees nie, want Ek is met jou” (Exodus 4:10-12; Jeremia 1:6-8). Toe godsdiensleiers Jesus se dissipels wou stilmaak, het hy gesê: “As hulle stilbly, sal die klippe uitroep” (Lukas 19:40). Maar die klippe het destyds nie nodig gehad om uit te roep nie, en hulle hoef nie nou nie, want Jehovah gebruik die tong van dié wat deur hom geleer is om sy Koninkryksboodskap oor te dra.

Kan jy antwoord?

◻ Watter ideale Onderrigter-leerling-verhouding word in Jesaja hoofstuk 50 beklemtoon?

◻ Hoe het Jehovah ’n uitgebreide onderrigtingsprogram voortgesit?

◻ Wat is ’n paar kenmerke van Jehovah se onderrigtingsprogram?

◻ Waarom is dit ’n wonderlike voorreg om ’n aandeel aan Jehovah se onderrigtingsprogram te hê?

[Prent op bladsy 16]

Opregte kommentare deur kinders is dikwels vir ouer mense aanmoedigend

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel