Aquila en Priscilla—’n Voorbeeldige egpaar
“DRA my groete oor aan Prisca en Aquila, my medewerkers in Christus Jesus, wat hulle eie nek vir my siel gewaag het, aan wie nie net ek nie maar ook al die gemeentes van die nasies dank betuig.”—Romeine 16:3, 4.
Hierdie woorde van die apostel Paulus aan die Christengemeente in Rome getuig van die hoë agting en geneentheid wat hy vir hierdie egpaar gehad het. Hy het seker gemaak dat hy hulle meld in sy brief aan hulle gemeente. Maar wie was hierdie twee “medewerkers” van Paulus, en waarom was hulle vir hom en vir die gemeentes so dierbaar?—2 Timoteus 4:19.
Aquila was ’n Jood van die diaspora (die Jode in die verstrooiing) en ’n boorling van Pontus, ’n streek in die noorde van Klein-Asië. Hy en sy vrou Priscilla (Prisca) het hulle in Rome gevestig. Daar was ’n redelike groot Joodse gemeenskap in daardie stad, ten minste sedert 63 v.G.J. toe Pompeji Jerusalem ingeneem het en ’n groot getal gevangenes as slawe na Rome weggevoer is. Trouens, Romeinse inskripsies bring aan die lig dat daar ’n stuk of twaalf sinagoges in die antieke stad bestaan het. ’n Aantal Jode uit Rome was op Pinkster 33 G.J. in Jerusalem teenwoordig toe hulle die goeie nuus gehoor het. Dalk was dit deur hulle dat die Christelike boodskap die hoofstad van die Romeinse Ryk die eerste keer bereik het.—Handelinge 2:10.
Die Jode is egter in 49 of vroeg in 50 G.J. op bevel van keiser Claudius uit Rome verban. Dit was gevolglik in die Griekse stad Korinte dat die apostel Paulus Aquila en Priscilla ontmoet het. Toe Paulus in Korinte aangekom het, het Aquila en Priscilla hom vriendelik gasvryheid betoon sowel as werk aangebied, want hulle het dieselfde werk as hy gedoen—hulle het tente gemaak.—Handelinge 18:2, 3.
Tentmakers
Dit was nie maklike werk nie. Om tente te maak, het behels dat stukke stywe, growwe materiaal of leer gesny en aanmekaar gewerk moes word. Volgens die geskiedskrywer Fernando Bea was dit “’n werk wat vernuf en sorg vereis het” van tentmakers wat moes werk met “growwe, harde materiale wat gebruik is vir kampdoeleindes wanneer [mense] op reis was, wat skuiling teen die son en die reën gebied het of om goedere in die ruim van skepe te verpak”.
Dit laat ’n vraag ontstaan. Het Paulus dan nie gesê dat hy ‘aan die voete van Gamaliël opgevoed’ is, wat gevolglik vir hom die weg voorberei het om in latere jare ’n suksesvolle loopbaan te volg nie? (Handelinge 22:3). Hoewel dit die geval was, het Jode van die eerste eeu dit as eerbaar beskou om ’n seun ’n ambag te leer selfs al sou hy verdere geleerdheid ontvang. Daarom het Aquila sowel as Paulus waarskynlik geleer hoe om tente te maak toe hulle jonk was. Daardie ondervinding het later baie nuttig te pas gekom. Maar as Christene het hulle nie sulke sekulêre werk as ’n doel op sigself beskou nie. Paulus het verduidelik dat die werk wat hy in Korinte saam met Aquila en Priscilla gedoen het bloot ’n middel was om sy vernaamste bedrywigheid te ondersteun, naamlik om die goeie nuus te verkondig sonder om ‘enigeen ’n duur las op te lê’.—2 Tessalonisense 3:8; 1 Korintiërs 9:18; 2 Korintiërs 11:7.
Aquila en Priscilla was klaarblyklik bly om alles in hulle vermoë te doen om Paulus in sy sendingdiens te help. Wie weet hoeveel keer die drie vriende hulle werk onderbreek het om informeel vir klante of verbygangers te getuig! En hoewel dit nederige en vermoeiende werk was om tente te maak, was hulle bly om dit te doen en het hulle selfs “nag en dag” gewerk sodat hulle die belange van God kon bevorder—net soos talle hedendaagse Christene hulleself met deeltydse of seisoenwerk onderhou sodat hulle die meeste van die tyd wat oorbly daaraan kan wy om mense te help om die goeie nuus te hoor.—1 Tessalonisense 2:9; Matteus 24:14; 1 Timoteus 6:6.
Voorbeelde van gasvryheid
Paulus het waarskynlik gedurende die 18 maande wat hy in Korinte gebly het Aquila se huis as ’n basis vir sy sendingbedrywighede gebruik (Handelinge 18:3, 11). Dit is dan waarskynlik dat Aquila en Priscilla die voorreg gehad het om ook Silas (Silvanus) en Timoteus as gaste te hê toe dié van Masedonië af gekom het (Handelinge 18:5). Paulus se twee briewe aan die Tessalonisense, wat later deel van die Bybelkanon geword het, is moontlik geskryf toe die apostel by Aquila en Priscilla gebly het.
Dit is nie moeilik om jou voor te stel dat Priscilla en Aquila se huis op daardie stadium ’n miernes van teokratiese bedrywigheid was nie. Talle goeie vriende het waarskynlik dikwels daar besoek afgelê—Stefanas en sy gesin, die eerste Christene in die provinsie Agaje, wat deur Paulus self gedoop is; Titius Justus, wat sy huis aan Paulus beskikbaar gestel het om toesprake in te hou en Krispus, die presiderende beampte van die sinagoge, wat saam met al sy huisgenote die waarheid aangeneem het (Handelinge 18:7, 8; 1 Korintiërs 1:16). Dan was daar Fortunatus en Agaïkus; Gajus, in wie se huis die gemeentelike vergaderinge moontlik gehou is; Erastus, die stadsbestuurder; Tertius, die sekretaris aan wie Paulus sy brief aan die Romeine gedikteer het en Febe, ’n getroue suster van die nabygeleë gemeente in Kenchreë, wat waarskynlik die brief van Korinte na Rome geneem het.—Romeine 16:1, 22, 23; 1 Korintiërs 16:17.
Hedendaagse knegte van Jehovah wat al die geleentheid gehad het om gasvryheid aan ’n reisende bedienaar te betoon, weet hoe bemoedigend en onvergeetlik dit kan wees. Die opbouende ondervindinge wat by sulke geleenthede vertel word, kan vir almal ’n ware bron van geestelike verkwikking wees (Romeine 1:11, 12). En diegene wat soos Aquila en Priscilla hulle huis beskikbaar stel vir vergaderinge, dalk vir ’n Gemeentelike Boekstudie, het die vreugde en bevrediging om op hierdie manier tot die bevordering van ware aanbidding by te dra.
Aquila en Priscilla het so ’n hegte vriendskap met Paulus gehad dat hulle, toe hy in die lente van 52 G.J. Korinte verlaat het, saam met hom vertrek en hom tot by Efese vergesel het (Handelinge 18:18-21). Hulle het in daardie stad gebly en die grondslag vir die apostel se volgende besoek gelê. Dit was hier waar hierdie begaafde onderrigters van die goeie nuus die welsprekende Apollos “in hulle geselskap” opgeneem het en die vreugde gehad het om hom te help om “die weg van God met groter juistheid” te verstaan (Handelinge 18:24-26). Toe Paulus gedurende sy derde sendingreis, een of ander tyd gedurende die winter van 52/53 G.J., Efese wel weer besoek het, was die gebied waarin hierdie dinamiese egpaar gewerk het, reeds ryp vir die oes. Daar het Paulus ongeveer drie jaar lank oor “Die Weg” gepreek en onderrig terwyl die Efesiese gemeente in Aquila se huis vergaderinge gehou het.—Handelinge 19:1-20, 26; 20:31; 1 Korintiërs 16:8, 19.
Later, toe hulle na Rome teruggekeer het, het hierdie twee vriende van Paulus voortgegaan om “die weg van gasvryheid” te volg deur hulle huis vir Christelike vergaderinge beskikbaar te stel.—Romeine 12:13; 16:3-5.
Hulle het ‘hulle nek gewaag’ vir Paulus
Dalk het Paulus ook by Aquila en Priscilla tuisgegaan terwyl hy in Efese was. Het hy by hulle gewoon toe die silwersmede ’n opskudding veroorsaak het? Toe die vakmanne wat tempeltjies gemaak het, volgens die verslag in Handelinge 19:23-31, teen die prediking van die goeie nuus in opstand gekom het, moes die broers Paulus keer om nie homself in gevaar te stel deur voor die gepeupel te verskyn nie. Sommige Bybelkommentators het al gespekuleer dat dit in juis so ’n lewensgevaarlike situasie was dat Paulus dalk gevoel het hy is ‘selfs sy eie lewe nie seker nie’ en dat Aquila en Priscilla op die een of ander manier tussenbeide getree het en ‘hulle eie nek vir hom gewaag het’.—2 Korintiërs 1:8; Romeine 16:3, 4.
Toe die “opskudding bedaar het”, het Paulus wyslik die stad verlaat (Handelinge 20:1). Aquila en Priscilla het ongetwyfeld ook voor teenstand en bespotting te staan gekom. Het dit hulle mismoedig laat voel? Inteendeel, Aquila en Priscilla het moedig met hulle Christelike werk voortgegaan.
’n Hegte egpaar
Nadat Claudius se bewind tot ’n einde gekom het, het Aquila en Priscilla na Rome teruggekeer (Romeine 16:3-15). Maar die laaste keer dat hulle in die Bybel gemeld word, vind ons hulle terug in Efese (2 Timoteus 4:19). Weer eens, soos in alle ander verwysings in die Skrif, word daar saam van hierdie man en vrou melding gemaak. Wat ’n hegte en eensgesinde egpaar! Paulus kon nie aan daardie dierbare broer, Aquila, dink sonder om die getroue samewerking van sy vrou te onthou nie. En wat ’n goeie voorbeeld vir Christenegpare van vandag, want die lojale ondersteuning van ’n toegewyde huweliksmaat laat ’n persoon toe om baie “in die werk van die Here” te doen en, soms, selfs meer as wat moontlik sou gewees het om as ’n ongetroude persoon te doen.—1 Korintiërs 15:58.
Aquila en Priscilla het in verskeie gemeentes gedien. Soos hulle, het talle ywerige hedendaagse Christene hulle beskikbaar gestel om te verhuis na waar daar hulp nodig is. Hulle ervaar ook die vreugde en bevrediging wat daaruit spruit om Koninkryksbelange te sien groei en om innige en kosbare Christenvriendskappe te kan opbou.
Vanweë Aquila en Priscilla se skitterende voorbeeld van Christelike liefde het Paulus en ander hulle hoog op prys gestel. Maar selfs nog belangriker, hulle het ’n puik reputasie by Jehovah self opgebou. Die Skrif verseker ons: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie.”—Hebreërs 6:10.
Ons het dalk nie die geleentheid om ons op soortgelyke maniere as Aquila en Priscilla in te span nie, tog kan ons hulle uitstekende voorbeeld navolg. Ons sal diepe bevrediging smaak namate ons ons energie en lewe aan heilige diens wy en nooit vergeet “om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik”.—Hebreërs 13:15, 16.