Laat ons verafsku wat goddeloos is
JEHOVAH is ’n heilige God. In die ou tyd was hy “die Heilige van Israel”, en as sodanig het hy vereis dat Israel rein, onbevlek, moes wees (Psalm 89:19). Hy het vir sy uitverkore volk gesê: “Julle [moet] dan heilig wees, omdat Ek heilig is” (Levitikus 11:45). Enigiemand wat ‘op die berg van Jehovah wou klim’, moes “rein van hande en suiwer van hart” wees (Psalm 24:3, 4). Dít het meer beteken as om bloot sondige dade te vermy. Dit het beteken om te “haat wat sleg is”.—Spreuke 8:13.
Liefde het Jehovah beweeg om breedvoerige wette te gee sodat die nasie Israel sondes kon identifiseer en vermy (Romeine 7:7, 12). Hierdie wette het streng riglyne met betrekking tot sedelikheid ingesluit. Egbreuk, homoseksuele dade, bloedskending en bestialiteit is alles as onheilige dade geïdentifiseer wat hulle geestelik onrein gemaak het (Levitikus 18:23; 20:10-17). Diegene wat hulle aan sulke verdorwe dade skuldig gemaak het, is uit die nasie Israel uitgeroei.
Toe die gemeente van gesalfde Christene “die Israel van God” geword het, is soortgelyke sedelike standaarde vir hulle gestel (Galasiërs 6:16). Ook Christene moes “verafsku wat goddeloos is” (Romeine 12:9). Jehovah se woorde aan Israel was ook op hulle van toepassing: “Julle moet heilig wees, want ek is heilig” (1 Petrus 1:15, 16). Onheilige gebruike soos hoerery, egbreuk, homoseksualiteit, bestialiteit en bloedskande moes nie die Christengemeente besoedel nie. Diegene wat nie sulke dinge gestaak het nie, sou uit God se Koninkryk uitgesluit word (Romeine 1:26, 27; 2:22; 1 Korintiërs 6:9, 10; Hebreërs 13:4). In hierdie “laaste dae” geld dieselfde standaarde vir die “ander skape” (2 Timoteus 3:1; Johannes 10:16). Gevolglik is gesalfde Christene en die ander skape ’n rein en onbesmette volk wat die naam van hulle God as Jehovah se Getuies kan dra.—Jesaja 43:10, NW.
Hou die gemeente rein
In teenstelling hiermee sien die wêreld alle vorme van onsedelikheid deur die vingers. Alhoewel ware Christene anders is, moet hulle nie vergeet dat baie wat Jehovah nou dien voorheen in die wêreld was nie. Daar is baie wat, voordat hulle ons heilige God geken het, nie geskroom het om toe te gee aan die begeertes en fantasieë van hulle gevalle vlees en om hulle oor te gee aan ’n “lae poel van losbandigheid” nie (1 Petrus 4:4). Nadat die apostel Paulus die verfoeilike gebruike van die verdorwe mense van die nasies beskryf het, het hy gesê: “Dit [is] wat party van julle was.” Tog het hy voorts gesê: “Maar julle is skoon gewas, maar julle is geheilig, maar julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God.”—1 Korintiërs 6:11.
Watter vertroostende woorde is dit tog! Wat ’n persoon ook al vroeër in die lewe gedoen het, hy verander wanneer die glorieryke goeie nuus aangaande die Christus ’n uitwerking op sy hart het. Hy beoefen geloof en wy hom aan Jehovah God toe. Daarna lei hy ’n sedelike rein lewe, rein gewas in God se oë (Hebreërs 9:14). Die sondes wat hy in die verlede gepleeg het, word hom vergewe, en hy kan ‘uitstrek na die dinge wat voor is’.a—Filippense 3:13, 14; Romeine 4:7, 8.
Jehovah het die berouvolle Dawid vergewe wat moord en egbreuk gepleeg het, en Hy het die berouvolle Manasse vergewe wat onsedelike afgodediens bedryf en baie bloed vergiet het (2 Samuel 12:9, 13; 2 Kronieke 33:2-6, 10-13). Ons kan waarlik dankbaar wees dat hy bereid is om ons ook te vergewe as ons berou toon en hom in opregtheid en nederigheid nader. Maar al het Jehovah Dawid en Manasse vergewe, moes hierdie twee manne—en Israel saam met hulle—die gevolge van hulle sondige dade dra (2 Samuel 12:11, 12; Jeremia 15:3-5). Hoewel Jehovah berouvolle sondaars vergewe, is daar dalk insgelyks gevolge van hulle dade wat nie vermy kan word nie.
Onvermydelike gevolge
’n Man wat byvoorbeeld ’n losbandige lewe lei en vigs kry, neem dalk die waarheid aan en verander sy lewe dermate dat hy hom toewy en gedoop word. Nou is hy ’n geestelike rein Christen wat ’n verhouding met God en ’n wonderlike hoop vir die toekoms het; maar hy het nog steeds vigs. Hy sterf dalk uiteindelik aan die siekte, ’n droewige maar onvermydelike gevolg van sy vroeëre gedrag. Vir party Christene bestaan die gevolge van hulle vorige growwe onsedelikheid dalk op ander maniere voort. Jare ná hulle doop, moontlik vir die res van hulle lewe in hierdie stelsel van dinge, moet hulle dalk stry teen die drange in hulle vlees om na hulle vorige onsedelike lewenswyse terug te keer. Met behulp van Jehovah se gees slaag baie daarin om dit te weerstaan. Maar hulle moet voortdurend ’n stryd daarteen voer.—Galasiërs 5:16, 17.
Sulke persone sondig nie mits hulle hulle drange beheers. Maar as hulle mans is, besluit hulle dalk wyslik om nie na verantwoordelikheid in die gemeente te “streef” terwyl hulle steeds met sterk vleeslike begeertes worstel nie (1 Timoteus 3:1). Waarom? Omdat hulle weet watter vertroue die gemeente in die ouer manne stel (Jesaja 32:1, 2; Hebreërs 13:17). Hulle besef dat die ouer manne oor talle intieme sake geraadpleeg word en sensitiewe situasies moet hanteer. Dit sal nie liefdevol, verstandig of redelik wees van iemand wat voortdurend ’n stryd voer teen onrein vleeslike begeertes om na so ’n verantwoordelike posisie te streef nie.—Spreuke 14:16; Johannes 15:12, 13; Romeine 12:1.
Vir ’n man wat ’n kindermolesteerder was voordat hy gedoop is, is daar dalk ’n ander implikasie. Wanneer hy die waarheid leer, toon hy berou en draai hy om sodat hy nie daardie wrede sonde in die gemeente inbring nie. Daarna maak hy dalk goeie vordering, kom hy dalk sy verkeerde drange heeltemal te bowe en is hy dalk selfs geneig om te ‘streef na’ ’n verantwoordelike posisie in die gemeente. Maar sê nou hy moet nog steeds sy berugtheid as ’n voormalige kindermolesteerder in die gemeenskap te bowe kom? Sal hy “onberispelik wees, . . . ’n voortreflike getuienis hê van mense wat buite is, . . . vry van beskuldiging” wees? (1 Timoteus 3:1-7, 10; Titus 1:7). Nee, hy sal nie. Gevolglik sal hy nie aan die vereistes vir gemeentelike voorregte voldoen nie.
Wanneer ’n toegewyde Christen sondig
Jehovah verstaan dat ons swak is en dat ons selfs ná ons doop in sonde kan verval. Die apostel Johannes het aan Christene in sy dag geskryf: “Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie ’n sonde pleeg nie. En tog, as iemand wel ’n sonde pleeg, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige. En hy is ’n soenofferande vir ons sondes, en tog nie net vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:1, 2). Ja, op grond van Jesus se offerande sal Jehovah gedoopte Christene vergewe wat in sonde verval—mits hulle werklik berou toon en hulle verkeerde weg laat staan.
Ons sien ’n voorbeeld hiervan in die eerste-eeuse gemeente in Korinte. Die apostel Paulus het gehoor van ’n geval van bloedskendige hoerery in daardie jong gemeente, en hy het opdrag gegee dat die betrokke man uitgesit word. Later het die sondaar berou getoon, en Paulus het die gemeente aangespoor om hom terug te neem (1 Korintiërs 5:1, 13; 2 Korintiërs 2:5-9). Die man is dus van sy sonde gereinig deur die genesende krag van Jehovah se liefderyke goedhartigheid en die groot waarde van Jesus se losprysofferande. Soortgelyke dinge gebeur moontlik vandag. Maar weer eens, selfs as ’n gedoopte persoon wat ’n ernstige sonde pleeg berou toon en in Jehovah se oë vergewe word, ondervind hy dalk steeds die gevolge van sy sonde.—Spreuke 10:16, 17, NW; Galasiërs 6:7.
As ’n toegewyde meisie byvoorbeeld hoerery pleeg, is sy miskien bitter spyt oor haar daad en word sy dalk uiteindelik met die hulp van die gemeente tot geestelike gesondheid herstel. Maar sê nou sy raak swanger weens haar onsedelikheid? Dan is haar hele lewe onvermydelik verander deur wat sy gedoen het. ’n Man wat egbreuk pleeg, toon dalk berou en word miskien nie uitgesit nie. Maar sy onskuldige huweliksmaat het skriftuurlike grond om van hom te skei, en sy besluit dalk om dit te doen (Matteus 19:9). As sy dit wel doen, sal die man, hoewel Jehovah hom vergewe het, die res van sy lewe met hierdie droewige gevolg van sy sonde moet saamlewe.—1 Johannes 1:9.
Sê nou ’n man tree liefdeloos op deur van sy vrou te skei om met ’n ander vrou te trou. Hy sal miskien uiteindelik berou toon en in die gemeente herstel word. Met die jare maak hy dalk vordering en ‘beur hy voort tot volwassenheid’ (Hebreërs 6:1). Maar solank as wat sy eerste vrou sonder ’n huweliksmaat lewe, sal hy nie kwalifiseer om in ’n verantwoordelike posisie in die gemeente te dien nie. Hy is nie “die man van een vrou” nie, want hy het geen skriftuurlike reg gehad om van sy eerste vrou te skei nie.—1 Timoteus 3:2, 12.
Is dit nie kragtige redes waarom ’n Christen moet leer om te verafsku wat goddeloos is nie?
Wat van ’n kindermolesteerder?
Sê nou ’n gedoopte volwasse Christen molesteer ’n kind seksueel? Is die sondaar só goddeloos dat Jehovah hom nooit sal vergewe nie? Nie noodwendig nie. Jesus het gesê dat ‘laster teen die heilige gees’ nie vergewe word nie. En volgens Paulus is daar geen offerande vir sondes oor as iemand sonde moedswillig beoefen ondanks die feit dat hy die waarheid ken nie (Lukas 12:10; Hebreërs 10:26, 27). Maar die Bybel sê nêrens dat ’n volwasse Christen wat ’n kind seksueel molesteer—hetsy dit bloedskendig of andersins is—nie vergewe kan word nie. Hy kan wel van sy sondes gereinig word as hy opreg uit die hart berou toon en sy gedrag verander. Maar moontlik moet hy steeds stry teen die verkeerde vleeslike drange wat hy aangekweek het (Efesiërs 1:7). En daar sal dalk onvermydelike gevolge wees.
Na gelang van die wet van die land waar hy woon, sal die molesteerder moontlik ’n straftyd moet uitdien of voor ander strafmaatreëls van die staat te staan kom. Die gemeente sal hom nie hierteen beskerm nie. Daarbenewens het die man ’n ernstige swakheid geopenbaar wat voortaan in ag geneem sal moet word. As dit lyk of hy berouvol is, sal hy aangespoor word om geestelike vordering te maak, aan die veldbediening deel te neem, om selfs aan die Teokratiese Bedieningskool deel te neem en dele op die Diensvergadering te hê waarin hy nie onderrig nie. Dit beteken egter nie dat hy sal kwalifiseer om in ’n posisie van verantwoordelikheid in die gemeente te dien nie. Wat is die skriftuurlike redes hiervoor?
In die eerste plek moet ’n ouer man “selfbeheers” wees (Titus 1:8). Geeneen van ons het weliswaar volmaakte selfbeheersing nie (Romeine 7:21-25). Maar ’n toegewyde volwasse Christen wat in die sonde verval om kinders seksueel te molesteer, openbaar ’n onnatuurlike vleeslike swakheid. Ondervinding het getoon dat so ’n volwassene ander kinders moontlik ook sal molesteer. Nie alle kindermolesteerders herhaal weliswaar die sonde nie, maar baie doen dit wel. En die gemeente kan nie harte lees om te sê wie en wie nie kinders weer gaan molesteer nie (Jeremia 17:9). Paulus se raad aan Timoteus is gevolglik veral van toepassing in die geval van gedoopte volwassenes wat kinders gemolesteer het: “Moet nooit iemand haastig die hande oplê nie; moet ook nie ’n deelgenoot in die sondes van ander wees nie” (1 Timoteus 5:22). Ter beskerming van ons kinders sal ’n man wat daarvoor bekend is dat hy ’n kindermolesteerder was nie aan die vereistes voldoen om in ’n verantwoordelike posisie in die gemeente te dien nie. Daarbenewens kan hy nie ’n pionier wees nie of in enige ander spesiale, voltydse diens wees nie.—Vergelyk die beginsel in Exodus 21:28, 29.
Sommige vra dalk: ‘Het party nie ander sondes gepleeg en blykbaar berou getoon om maar net weer later dieselfde sonde te pleeg nie?’ Ja, dit het al gebeur, maar daar is ander faktore om in ag te neem. As ’n persoon ’n ander volwassene byvoorbeeld met onsedelike versoeke nader, behoort die volwassene sy of haar toenadering te kan weerstaan. Kinders word baie makliker bedrieg, verwar of banggemaak. Die Bybel praat van ’n kind se gebrek aan wysheid (Spreuke 22:15, NW; 1 Korintiërs 13:11). Jesus het kinders gebruik as ’n voorbeeld van nederige onskuld (Matteus 18:4; Lukas 18:16, 17). Die onskuld van ’n kind sluit ’n algehele gebrek aan ondervinding in. Die meeste kinders is openhartig, gretig om ander te behaag en derhalwe kwesbaar vir misbruik deur ’n slinkse volwassene wat hulle ken en vertrou. Daarom het die gemeente ’n verantwoordelikheid voor Jehovah om kinders in die gemeente te beskerm.
Goed opgevoede kinders leer om hulle ouers, die ouer manne en ander volwassenes te gehoorsaam en te eer (Efesiërs 6:1, 2; 1 Timoteus 5:1, 2; Hebreërs 13:7). Dit sal ’n skokkende geval van verdorwenheid wees as een van hierdie gesagsfigure daardie kind se onskuldige vertroue sou misbruik om hom of haar te verlei of te dwing om aan seksuele dade toe te gee. Diegene wat op hierdie manier seksueel gemolesteer is, sukkel dikwels jare lank om die gevolglike emosionele trauma te bowe te kom. ’n Kindermolesteerder moet gevolglik streng gemeentelike dissipline ontvang en beperkings opgelê word. Dit is nie sy status as ’n gesagsfiguur wat van belang behoort te wees nie, maar eerder die vlekkelose reinheid van die gemeente.—1 Korintiërs 5:6; 2 Petrus 3:14.
As ’n kindermolesteerder opregte berou toon, sal hy besef dat dit raadsaam is om Bybelbeginsels toe te pas. As hy werklik leer om te verafsku wat goddeloos is, sal hy ’n weersin hê in wat hy gedoen het en daarteen stry om nie die sonde te herhaal nie (Spreuke 8:13; Romeine 12:9). Verder sal hy Jehovah beslis bedank vir die grootheid van Sy liefde, want dit is as gevolg daarvan dat ’n berouvolle sondaar, soos hy, steeds ons heilige God kan aanbid en die hoop kan hê om onder die “opregtes” te wees wat vir ewig op die aarde gaan woon.—Spreuke 2:21.
[Voetnote]
a Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Mei 1996.
[Lokteks op bladsy 28]
Hoewel Jehovah berouvolle sondaars vergewe, is daar dalk gevolge van hulle dade wat nie vermy kan word nie