Ek gee baie prys vir iets groters
SOOS VERTEL DEUR JULIUS OWO BELLO
Ek was 32 jaar lank ’n Aladura.a Ek het geglo dat geloofsgenesing en gebede al my probleme sou oplos en alle siektes sou genees. Ek het nooit enige medisyne gekoop nie, nie eens pynstillers nie. Gedurende daardie jare is niemand in my familie ooit in die hospitaal opgeneem nie. Wanneer enigeen van my kinders ook al siek geword het, het ek dag en nag vir hulle gebid totdat hulle gesond was. Ek het geglo dat God my gebede verhoor en my seën.
EK HET aan die Egbe Jolly behoort, die vernaamste sosiale klub in Akure, ’n dorp in westelike Nigerië. My vriende was die welgesteldste en invloedrykste mense in ons gemeenskap. Die Deji, koning van Akure, het dikwels by my aan huis gekom.
Ek was ook ’n poligamis, met ses vrouens en baie byvrouens. My sakeonderneming het gefloreer. Dit het in elke opsig met my goed gegaan. Maar soos die reisende koopman in Jesus se gelykenis van die pêrel het ek iets so kosbaars gevind dat ek vyf van my vrouens, my byvrouens, kerk, sosiale klub en wêreldse vernaamheid prysgegee het in ruil daarvoor.—Matteus 13:45, 46.
Hoe ek ’n Aladura geword het
Ek het in 1936 vir die eerste keer van die Aladuras gehoor toe ek 13 jaar oud was. ’n Vriend met die naam Gabriel het vir my gesê: “As jy ’n diens van die Christus-Apostoliese Kerk bywoon, sal jy God hoor praat.”
“Hoe praat God?” het ek hom gevra.
Hy het gesê: “Kom, en jy sal sien.”
Ek was gretig om na God te luister. Ek het daardie aand dus saam met Gabriel na die kerk toe gegaan. Die klein geboutjie was stampvol aanbidders. Die gemeente het begin dreun-sing: “Kom, o mense! Dis hier waar Jesus is!”
Gedurende hierdie dreunsang het iemand geskreeu: “Daal neer, heilige gees!” Iemand anders het ’n klok gelui, en die gemeente het stil geword. Toe het ’n vrou opgewonde in ’n vreemde taal begin babbel. Skielik het sy uitgeroep: “Luister na die boodskap van God, o mense! Dit is wat God gesê het: ‘Bid vir die jagters sodat hulle nie mense doodmaak nie!’” Die atmosfeer was met emosie gelaai.
Ek het geglo dat God deur haar gepraat het, en daarom is ek die volgende jaar as ’n lid van die Christus-Apostoliese Kerk gedoop.
Vroeë kontak met Jehovah se Getuies
In 1951 het ek ’n eksemplaar van Die Wagtoring by ’n Getuie met die naam Adedeji Boboye geneem. Die tydskrif was interessant, en daarom het ek daarop ingeteken en dit gereeld gelees. In 1952 het ek ’n vierdaagse streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Ado Ekiti bygewoon.
Wat ek by die byeenkoms gesien het, het my beïndruk. Ek het dit ernstig oorweeg om een van Jehovah se Getuies te word, maar die idee verwerp. My probleem was dat ek op daardie stadium drie vrouens en een byvrou gehad het. Ek het gedink dat ek onmoontlik met net een vrou sou kon saamlewe.
Toe ek na Akure teruggekeer het, het ek vir Adedeji gesê om my nie weer te besoek nie, en ek het nie my intekening op Die Wagtoring hernieu nie. Ek het meer betrokke by my kerk geword. Buitendien het God my geseën sedert ek by die Christus-Apostoliese Kerk aangesluit het, het ek geredeneer. Ek was met drie vrouens getroud en het baie kinders gehad. Ek het my eie huis gebou. Ek was nog nooit in ’n hospitaal opgeneem nie. Waarom sou ek my godsdiens verander, aangesien God blykbaar my gebede verhoor?
Groter vernaamheid asook ontnugtering
Ek het baie geld aan die kerk begin bydra. Kort daarna het hulle my ’n ouderling in die kerk gemaak, ’n posisie wat dit vir my moontlik gemaak het om die interne werksaamhede van die kerk te sien. Wat ek gesien het, het my ontstel. Die pastoor en “profete” was baie lief vir geld; hulle hebsug het my geskok.
In Maart 1967 is daar byvoorbeeld vir my drie kinders by verskillende vrouens gebore. Dit was die gebruik in die kerk om ’n naamgewingseremonie te hê. Daarom het ek vir die pastoor geskenke—vis, lemonade en bottels koeldrank—ter voorbereiding vir die seremonie geneem.
Op die dag van die kerkdiens het die pastoor voor die hele gemeente gesê: “Ryk mense in hierdie kerk het my verbaas. Hulle wil ’n naamgewingseremonie hê, en al wat hulle bring, is koeldrank en vis. Geen vleis nie! Geen bok nie! Verbeel jou! Kain het aan God groot jamwortels geoffer, maar God het nie daardie offerande aanvaar nie, want daar was geen bloed in nie. God wil dinge hê waarin daar bloed is. Abel het ’n dier gebring, en sy offerande is aanvaar.”
Daarop het ek opgestaan en uitgestorm. Maar ek het steeds kerk toe gegaan. Ek het al hoe meer tyd daaraan bestee om sosiaal te verkeer en my klub se vergaderinge by te woon. Ek het soms vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon, en ek het my intekening op Die Wagtoring hernieu. Ek was nietemin steeds nie bereid om een van Jehovah se Getuies te word nie.
Die besluit om Jehovah te dien
Die keerpunt het vir my in 1968 gekom. Op ’n dag het ek ’n artikel in Die Wagtoring begin lees wat die onmenslike vervolging van Jehovah se Getuies in Malawi beskryf het. Dit het die verhaal van ’n 15-jarige meisie vertel wat aan ’n boom vasgebind en ses keer verkrag is omdat sy geweier het om haar geloof prys te gee. Ek was diep geskok en het die tydskrif neergesit, maar ek het daaroor bly nadink. Ek het besef dat nie een meisie in ons kerk sulke geloof sou toon nie. Later daardie aand het ek die tydskrif geneem en die bladsy weer gelees.
Ek het die Bybel ernstig begin bestudeer. Namate my kennis toegeneem het, het ek besef hoeveel die kerk ons mislei het. Net soos dit in die ou tyd die geval was, het ons priesters “skandelike dade gedoen” (Hosea 6:9). Sulke mense is onder die valse profete teen wie Jesus ons gewaarsku het! (Matteus 24:24). Ek stel nie meer my geloof in hulle visioene en kragtige dade nie. Ek het besluit om van valse godsdiens af weg te breek en ander te help om dieselfde te doen.
Pogings om my in die kerk te hou
Toe die ouderlinge in die kerk besef dat ek vasbeslote is om die kerk te verlaat, het hulle ’n afvaardiging na my toe gestuur om my te oorreed om dit nie te doen nie. Hulle wou nie ’n belangrike bron van inkomste verloor nie. Hulle het aangebied om my Baba Egbe te maak, die beskermheer van een van die Christus-Apostoliese kerke in Akure.
Ek het hulle aanbod van die hand gewys en vir hulle gesê waarom. “Die kerk het vir ons leuens vertel”, het ek gesê. “Hulle sê dat alle goeie mense hemel toe sal gaan. Maar ek het die Bybel gelees en ek is daarvan oortuig dat slegs 144 000 mense hemel toe sal gaan. Ander regverdige mense sal op ’n paradysaarde lewe.”—Matteus 5:5; Openbaring 14:1, 3.
Die pastoor van die kerk het probeer om my vrouens teen my te laat draai. Hy het vir hulle gesê om te probeer keer dat Jehovah se Getuies na ons huis toe kom. Een van my vrouens het gif in my kos gesit. Twee van hulle het my gewaarsku oor ’n visioen wat hulle in die kerk gesien het. Die visioen het getoon dat ek sou sterf as ek die kerk verlaat. Ten spyte hiervan het ek aangehou om vir my vrouens te getuig en hulle uitgenooi om vergaderinge saam met my by te woon. “Julle sal daar ander mans ontmoet met wie julle kan trou”, het ek gesê. Nie een van hulle het egter enige belangstelling getoon nie, en hulle het voortgegaan om my te probeer ontmoedig.
Op die ou end het ek my huis leeg gevind toe ek op 2 Februarie 1970 ná ’n besoek aan ’n naburige dorp tuiskom. Al my vrouens het met die kinders weggeloop.
Net een vrou
‘Nou kan ek my huweliksituasie regstel’, het ek gedink. Ek het my eerste vrou, Janet, gevra om terug te kom huis toe. Sy het ingestem. Haar familie het die gedagte egter sterk teëgestaan. Toe my ander vrouens hoor dat ek Janet gevra het om terug te kom, het hulle na haar pa se huis toe gegaan en haar probeer aanrand. Haar familie het my toe na ’n vergadering ontbied.
Daar was ongeveer 80 mense by die vergadering teenwoordig. Janet se oom, wat die familiehoof was, het gesê: “As jy weer met ons dogter wil trou, moet jy die ander vrouens terugneem. Maar as jy jou nuwe godsdiens wil beoefen en saam met een vrou wil lewe, moet jy vir jou ’n ander vrou kry. As jy Janet terugneem, sal jou ander vrouens haar doodmaak, en ons wil nie hê ons dogter moet sterf nie.”
Ná ’n lang bespreking het die familie besef dat ek vasbeslote was om net een vrou te hê. Uiteindelik het hulle toegegee. Die oom het gesê: “Ons sal nie jou vrou van jou af wegvat nie. Jy kan haar saam met jou neem.”
Op 21 Mei 1970 is ek en Janet wettig getroud. Nege dae later is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. In Desember daardie selfde jaar is Janet ook gedoop.
Ons Geniet Jehovah Se Seën
Lede van ons vorige kerk het geprofeteer dat ons sou sterf as ons Getuies word. Dit was bykans 30 jaar gelede. Selfs al sterf ek nou kan dit tog nie wees omdat ek een van Jehovah se Getuies geword het nie, of hoe? As my vrou nou sterf, kan niemand tog sê dit is omdat sy een van Jehovah se Getuies geword het nie, of hoe?
Ek het gesukkel om my 17 kinders die weg van die waarheid te leer. Hoewel baie van hulle reeds volwassenes was teen die tyd dat ek ’n Getuie geword het, het ek hulle aangespoor om die Bybel te bestudeer en hulle saamgeneem na vergaderinge en byeenkomste toe. Dit is vir my ’n vreugde dat vyf van hulle Jehovah saam met my dien. Een dien saam met my as ’n ouer man in die gemeente. ’n Ander een is ’n bedieningskneg in ’n nabygeleë gemeente. Twee van my kinders dien as gewone pioniers.
As ek terugkyk, verwonder ek my oor die onverdiende goedhartigheid wat Jehovah getoon het toe hy my gehelp het om sy kneg te word. Hoe waar is Jesus se woorde tog: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie”!—Johannes 6:44.
[Voetnoot]
a Afkomstig van ’n Joroeba-woord wat “iemand wat bid” beteken. Dit verwys na ’n lid van ’n Afrikakerk wat geloofsgenesing beoefen.