Dien as boodskappers van Goddelike vrede
“Hoe lieflik is op die berge die voete van die een . . . wat vrede verkondig.”—JESAJA 52:7, NW.
1, 2. (a) Watter goeie nuus moet verkondig word, soos in Jesaja 52:7 (NW) voorspel is? (b) Wat het Jesaja se profetiese woorde vir eertydse Israel beteken?
DAAR is goeie nuus wat verkondig moet word! Dit is nuus aangaande vrede—ware vrede. Dit is ’n boodskap van redding wat met die Koninkryk van God verband hou. Die profeet Jesaja het lank gelede daaroor geskryf, en sy woorde is in Jesaja 52:7 (NW) vir ons bewaar, waar ons lees: “Hoe lieflik is op die berge die voete van die een wat goeie nuus bring, wat vrede verkondig, wat goeie nuus van iets beters bring, wat redding verkondig, wat vir Sion sê: ‘Jou God het koning geword!’”
2 Jehovah het sy profeet Jesaja geïnspireer om daardie boodskap tot voordeel van eertydse Israel en tot ons voordeel vandag op te teken. Wat beteken dit? Toe Jesaja daardie woorde geskryf het, was die noordelike koninkryk van Israel dalk reeds deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer. Later sou die inwoners van die suidelike koninkryk van Juda as ballinge na Babilon weggevoer word. Dit was ’n tyd van hartseer en beroering vir die nasie omdat die volk nie aan Jehovah gehoorsaam was nie en gevolglik nie vrede met God geniet het nie. Soos Jehovah vir hulle gesê het, het hulle sondige gedrag ’n skeidsmuur tussen hulle en hulle God veroorsaak (Jesaja 42:24; 59:2-4). Maar deur middel van Jesaja het Jehovah voorspel dat die poorte van Babilon op die bestemde tyd sou oopswaai. God se volk sou vry wees om na hulle tuisland terug te keer en daar Jehovah se tempel te herbou. Sion sou herstel word, en die aanbidding van die ware God sou weer in Jerusalem beoefen word.—Jesaja 44:28; 52:1, 2.
3. Hoe was die belofte van herstelling vir Israel ook ’n profesie van vrede?
3 Hierdie belofte van verlossing was ook ’n profesie van vrede. Die Israeliete se herstelling in die land wat Jehovah aan hulle gegee het, sou ’n bewys wees van God se barmhartigheid en van hulle berou. Dit sou toon dat hulle vrede met God geniet.—Jesaja 14:1; 48:17, 18.
“Jou God het koning geword!”
4. (a) In watter sin kon daar in 537 v.G.J. gesê word dat ‘Jehovah koning geword het’? (b) Hoe het Jehovah in later jare sake tot voordeel van sy volk bewerk?
4 Toe Jehovah hierdie verlossing in 537 v.G.J. teweeggebring het, kon die aankondiging tereg aan Sion gedoen word: “Jou God het koning geword!” Jehovah is weliswaar die “Koning van die ewigheid” (Openbaring 15:3). Maar deur hierdie verlossing van sy volk het hy sy soewereiniteit op ’n nuwe manier geopenbaar. Dit het op treffende wyse die verhewenheid van sy krag bo dié van die magtigste menslike ryk tot op daardie tyd getoon (Jeremia 51:56, 57). As gevolg van die werking van Jehovah se gees is ander sameswerings teen sy volk gedwarsboom (Ester 9:24, 25). Jehovah het herhaaldelik op verskillende maniere ingegryp sodat die konings van Medo-Persië sou saamwerk met die uitvoering van sy eie soewereine wil (Sagaria 4:6). Die wonderlike gebeure wat in daardie tyd plaasgevind het, is vir ons in die Bybelboeke Esra, Nehemia, Ester, Haggai en Sagaria opgeteken. En hoe geloofversterkend is dit tog om dit te hersien!
5. Na watter betekenisvolle gebeure verwys Jesaja 52:13–53:12?
5 Maar wat in 537 v.G.J. en daarna plaasgevind het, was net ’n begin. Onmiddellik ná die herstellingsprofesie in hoofstuk 52 het Jesaja aangaande die koms van die Messias geskryf (Jesaja 52:13–53:12). Deur middel van die Messias, Jesus Christus, sou Jehovah ’n boodskap van verlossing en vrede voorsien wat selfs groter betekenis sou hê as wat in 537 v.G.J. plaasgevind het.
Jehovah se grootste boodskapper van vrede
6. Wie is Jehovah se grootste boodskapper van vrede, en watter opdrag het hy op homself toegepas?
6 Jesus Christus is Jehovah se grootste boodskapper van vrede. Hy is die Woord van God, Jehovah se persoonlike Woordvoerder (Johannes 1:14). In ooreenstemming hiermee het Jesus, ’n ruk nadat hy in die Jordaanrivier gedoop is, in die sinagoge in Nasaret opgestaan en sy opdrag hardop uit Jesaja hoofstuk 61 gelees. Daardie opdrag het dit duidelik gemaak dat die boodskap wat hy uitgestuur is om te verkondig “vrylating” en “herstel” ingesluit het, sowel as die geleentheid om deur Jehovah aangeneem te word. Tog het Jesus meer gedoen as om net ’n boodskap van vrede te verkondig. God het hom ook gestuur om die grondslag vir blywende vrede te voorsien.—Lukas 4:16-21.
7. Wat het die vrede met God wat deur middel van Jesus Christus moontlik gemaak word tot gevolg?
7 Toe Jesus gebore is, het engele aan herders naby Betlehem verskyn en God geloof en gesê: “Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid” (Lukas 2:8, 13, 14). Ja, daar sou vrede wees vir diegene teenoor wie God welwillendheid betoon het omdat hulle geloof beoefen het in die voorsiening wat hy deur middel van sy Seun gemaak het. Wat sou dit beteken? Dit sou beteken dat mense ’n rein posisie voor God, ’n goedgekeurde verhouding met hom, kon verkry al is hulle in sonde gebore (Romeine 5:1). Hulle kon die innerlike kalmte, die vrede, geniet wat op geen ander manier moontlik is nie. Op God se bestemde tyd sal daar ’n vrylating van al die gevolge van sonde wees wat ons van Adam geërf het, insluitend siekte en die dood. Mense sal nie meer blind of doof of kreupel wees nie. Frustrerende swakheid en hartverskeurende geestesiektes sal vir altyd verwyder wees. Dit sal moontlik wees om vir ewig volmaakte lewe te geniet.—Jesaja 33:24; Matteus 9:35; Johannes 3:16.
8. Aan wie word Goddelike vrede aangebied?
8 Aan wie word Goddelike vrede aangebied? Dit word aangebied aan almal wat geloof in Jesus Christus beoefen. Die apostel Paulus het geskryf dat ‘God dit goedgevind het om deur Christus alle ander dinge met homself te versoen deur vrede te maak deur die bloed wat Jesus aan die folterpaal vergiet het’. Die apostel het bygevoeg dat hierdie versoening “die dinge in die hemele” sou insluit—dit wil sê diegene wat mede-erfgename met Christus in die hemel sou wees. Dit sou ook “die dinge op die aarde” insluit—dit wil sê diegene wat met die geleentheid begunstig sou word om vir ewig op hierdie aarde te lewe wanneer dit heeltemal in ’n paradys omskep is (Kolossense 1:19, 20). Omdat hulle die waarde van Jesus se offerande benut en omdat hulle God uit die hart gehoorsaam, kan hulle almal ’n hegte vriendskap met God geniet.—Vergelyk Jakobus 2:22, 23.
9. (a) Watter ander verhoudinge word deur ons vrede met God geraak? (b) Watter gesag het Jehovah aan sy Seun gegee ten einde oral blywende vrede te bewerkstellig?
9 Hoe noodsaaklik is sulke vrede met God tog! As daar geen vrede met God is nie, kan daar geen blywende of betekenisvolle vrede in enige ander verhouding wees nie. Vrede met Jehovah is die grondslag van ware vrede op aarde (Jesaja 57:19-21). Jesus Christus is gepas die Vredevors (Jesaja 9:5). Jehovah het ook aan hierdie een, deur wie mense met God versoen kan word, heersersgesag gegee (Daniël 7:13, 14). En wat die resultate van Jesus se vorstelike heerskappy oor die mensdom betref, belowe Jehovah: “Aan vrede sal daar geen einde wees nie.”—Jesaja 9:7, NW; Psalm 72:7.
10. Hoe het Jesus ’n voorbeeld gestel in die verkondiging van God se boodskap van vrede?
10 Die hele mensdom het God se boodskap van vrede nodig. Jesus het self ’n ywerige voorbeeld in die verkondiging daarvan gestel. Hy het dit in die tempelgebied in Jerusalem, op berghange, langs die pad, aan ’n Samaritaanse vrou by ’n put en in die huise van die mense gedoen. Waar daar ook al mense was, het Jesus geleenthede geskep om van vrede en die Koninkryk van God te getuig.—Matteus 4:18, 19; 5:1, 2; 9:9; 26:55; Markus 6:34; Lukas 19:1-10; Johannes 4:5-26.
Opgelei om in Christus se voetstappe te volg
11. Vir watter werk het Jesus sy dissipels opgelei?
11 Jesus het sy dissipels geleer om God se boodskap van vrede te verkondig. Net soos Jesus Jehovah se “getroue en waaragtige getuie” was, het hulle besef dat hulle ook die verantwoordelikheid gehad het om te getuig (Openbaring 3:14; Jesaja 43:10-12). Hulle het na Christus as hulle Leier opgesien.
12. Hoe het Paulus die belangrikheid van die predikingswerk getoon?
12 Die apostel Paulus het oor die belangrikheid van die predikingswerk geredeneer en gesê: “Die Skrifgedeelte sê: ‘Niemand wat sy geloof op hom grond, sal teleurgestel word nie.’” Dit wil sê, niemand wat geloof in Jesus Christus beoefen as Jehovah se Hoofbewerker van redding sal teleurgestel word nie. En niemand se etniese agtergrond sal hom diskwalifiseer nie, want Paulus het bygevoeg: “Daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie, want oor almal is daar dieselfde Here, wat ryk is teenoor almal wat hom aanroep. Want ‘elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word’” (Romeine 10:11-13). Maar hoe sou mense van daardie geleentheid te hore kom?
13. Wat was nodig sodat mense die goeie nuus kon hoor, en hoe het eerste-eeuse Christene op daardie behoefte gereageer?
13 Paulus het daardie behoefte bespreek deur vrae te stel waaroor elke kneg van Jehovah gerus kan nadink. Die apostel het gevra: “Hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek? En hoe sal hulle preek tensy hulle uitgestuur is?” (Romeine 10:14, 15). Die verslag van die vroeë Christelike godsdiens lewer sprekende bewys daarvan dat mans en vrouens, oud en jonk, gereageer het op die voorbeeld wat deur Christus en sy apostels gestel is. Hulle het ywerige verkondigers van die goeie nuus geword. In navolging van Jesus het hulle vir mense getuig waar hulle hulle ook al kon vind. Omdat hulle niemand wou oorslaan nie, het hulle hulle bediening in openbare plekke sowel as van huis tot huis gedoen.—Handelinge 17:17; 20:20.
14. Hoe was “die voete” van diegene wat die goeie nuus bekend gemaak het “lieflik”?
14 Nie almal het Christenpredikers natuurlik vriendelik ontvang nie. Wat Paulus uit Jesaja 52:7 aangehaal het, het nietemin waar geblyk. Nadat hy die vraag gevra het: “Hoe sal hulle preek tensy hulle uitgestuur is?” het hy bygevoeg: “Net soos daar geskrywe staan: ‘Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!’” Die meeste van ons dink nie dat ons voete lieflik, of mooi, is nie. Wat beteken dit dus? Dit is die voete wat ’n persoon gewoonlik van plek tot plek neem wanneer hy uitgaan om vir ander te getuig. Hierdie voete verteenwoordig in werklikheid die persoon. En ons kan daarvan seker wees dat die apostels en ander eerste-eeuse dissipels van Jesus Christus inderdaad ’n mooi gesig was vir baie wat die goeie nuus by hierdie vroeë Christene gehoor het (Handelinge 16:13-15). Nog belangriker, hulle was kosbaar in God se oë.
15, 16. (a) Hoe het die vroeë Christene getoon dat hulle werklik boodskappers van vrede was? (b) Wat kan ons help om ons bediening op dieselfde manier as die eerste-eeuse Christene uit te voer?
15 Jesus se volgelinge het ’n boodskap van vrede gehad, en hulle het dit op ’n vreedsame wyse verkondig. Jesus het vir sy dissipels hierdie instruksies gegee: “Oral waar julle in ’n huis ingaan, sê eers: ‘Mag hierdie huis vrede hê.’ En as daar ’n vriend van vrede is, sal julle vrede op hom rus. Maar so nie, sal dit na julle toe terugkeer” (Lukas 10:5, 6). Sja·loomʹ, oftewel “vrede”, is ’n tradisionele Joodse groet. Maar Jesus se instruksies het baie meer as dit behels. As “ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree”, het sy gesalfde dissipels mense aangespoor: “Raak met God versoen” (2 Korintiërs 5:20). In ooreenstemming met Jesus se instruksies het hulle met mense gepraat oor God se Koninkryk en wat dit vir hulle as individue kon beteken. Diegene wat geluister het, het ’n seën ontvang; diegene wat die boodskap verwerp het, het hulle kans verbeur.
16 Jehovah se Getuies voer vandag hulle bediening op dieselfde manier uit. Die goeie nuus wat hulle na mense toe neem, is nie hulle s’n nie; dit behoort aan die Een wat hulle gestuur het. Hulle opdrag is om dit te verkondig. As mense dit aanneem, kom hulle in aanmerking vir wonderlike seëninge. As hulle dit verwerp, verwerp hulle vrede met Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus.—Lukas 10:16.
Vreedsaam in ’n wêreld vol beroering
17. Hoe moet ons ons gedra selfs wanneer ons mense teëkom wat beledigend is, en waarom?
17 Wat mense se reaksie ook al is, dit is belangrik vir Jehovah se knegte om in gedagte te hou dat hulle boodskappers van Goddelike vrede is. Mense van die wêreld raak dalk in hewige argumente gewikkel en gee uiting aan hulle toorn deur snydende aanmerkings te maak of deur diegene wat hulle irriteer uit te skel. Miskien het sommige van ons dit voorheen gedoen. Maar as ons ons met die nuwe persoonlikheid beklee het en nou geen deel van die wêreld is nie, sal ons nie hulle weë navolg nie (Efesiërs 4:23, 24, 31; Jakobus 1:19, 20). Ongeag hoe ander optree, ons sal die raad toepas: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—Romeine 12:18.
18. Hoe moet ons reageer as ’n staatsamptenaar onvriendelik teenoor ons optree, en waarom?
18 Ons bediening kan met tye daartoe lei dat ons voor staatsamptenare moet verskyn. Hulle laat dalk hulle gesag geld en ‘eis van ons’ ’n verduideliking waarom ons sekere dinge doen of waarom ons nie aan sekere bedrywighede deelneem nie. Hulle wil moontlik weet waarom ons ons besondere boodskap verkondig—’n boodskap wat valse godsdiens aan die kaak stel en mense vertel van die einde van die huidige stelsel van dinge. Ons eerbied vir die voorbeeld wat Christus gestel het, sal ons beweeg om saggeaardheid en diep respek te openbaar (1 Petrus 2:23; 3:15). Hierdie amptenare is dikwels onder druk van die geestelikes of moontlik van hulle eie meerderes. ’n Vriendelike antwoord help hulle dalk om te besef dat ons bedrywighede geen bedreiging vir hulle of vir die vrede van die gemeenskap inhou nie. So ’n antwoord bring ’n gees van respek, samewerking en vrede voort in diegene wat dit aanvaar.—Titus 3:1, 2.
19. Aan watter bedrywighede neem Jehovah se Getuies nooit deel nie?
19 Jehovah se Getuies is wêreldwyd daarvoor bekend dat hulle geen deel aan die wêreld se onenigheid het nie. Hulle raak nie by die wêreld se konflikte oor ras, godsdiens of die politiek betrokke nie (Johannes 17:14). Omdat God se Woord ons beveel om “onderdanig [te] wees aan die hoër owerhede” sal ons dit nie eers oorweeg om aan dade van burgerlike oproerigheid deel te neem om protes aan te teken teen regeringsbeleide nie (Romeine 13:1). Jehovah se Getuies het nog nooit by enige beweging aangesluit wat daarop gemik is om ’n regering omver te werp nie. In die lig van die standaarde wat Jehovah vir sy Christenknegte stel, is dit vir hulle ondenkbaar om aan enige bloedvergieting of geweld deel te neem! Ware Christene praat nie net oor vrede nie; hulle lewe in ooreenstemming met wat hulle verkondig.
20. Watter soort reputasie het Babilon die Grote opgebou wat vrede betref?
20 In teenstelling met ware Christene het diegene wat die godsdiensorganisasies van die Christendom verteenwoordig, nie getoon dat hulle boodskappers van vrede is nie. Die godsdienste van Babilon die Grote—die Christendom se kerke sowel as nie-Christelike godsdienste—het die oorloë van die nasies vergoelik, ondersteun en in werklikheid aan die spits daarvan gestaan. Hulle het ook vervolging en selfs die moord van getroue knegte van Jehovah aangeblaas. Gevolglik sê Openbaring 18:24 oor Babilon die Grote: “In haar is die bloed van profete en van heiliges gevind, en van almal wat op die aarde doodgemaak is.”
21. Hoe reageer talle opregtes van hart wanneer hulle die verskil sien in die gedrag van Jehovah se volk en van diegene wat valse godsdiens beoefen?
21 In teenstelling met die godsdienste van die Christendom en die res van Babilon die Grote is die ware godsdiens ’n positiewe, verenigende krag. Aan sy ware volgelinge het Jesus Christus gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Dit is ’n liefde wat kragtiger is as die nasionale, maatskaplike, ekonomiese en rassegrense wat nou die res van die mensdom verdeel. Miljoene mense oor die hele aarde sien dit, en daarom sê hulle vir Jehovah se gesalfde knegte: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”—Sagaria 8:23.
22. Hoe beskou ons die getuieniswerk wat nog gedoen moet word?
22 As Jehovah se volk verheug ons ons grootliks in wat reeds bereik is, maar die werk is nog nie klaar nie. Nadat ’n boer saad gesaai en sy land bewerk het, hou hy nie op om te werk nie. Hy hou aan met werk, veral wanneer die oes ingesamel word. Die oestyd vereis volgehoue, kragtige inspanning. En op hierdie oomblik word ’n groter oes van aanbidders van die ware God as ooit tevore ingesamel. Dit is ’n tyd van vreugde (Jesaja 9:2). Ons kom weliswaar voor teenstand en onverskilligheid te staan. As individue probeer ons dalk om ernstige siekte, moeilike gesinsomstandighede of ekonomiese probleme die hoof te bied. Maar liefde vir Jehovah beweeg ons om te volhard. Die boodskap wat God aan ons toevertrou het, is iets wat mense moet hoor. Dit is ’n boodskap van vrede. Trouens, dit is die boodskap wat Jesus self verkondig het—die goeie nuus van die Koninkryk van God.
Wat is jou antwoord?
◻ Watter vervulling het Jesaja 52:7 (NW) op eertydse Israel gehad?
◻ Hoe was Jesus die grootste boodskapper van vrede?
◻ Hoe het die apostel Paulus Jesaja 52:7 (NW) in verband gebring met die werk waaraan Christene deelneem?
◻ Wat behels dit om in ons dag boodskappers van vrede te wees?
[Prente op bladsy 13]
Soos Jesus, is Jehovah se Getuies boodskappers van Goddelike vrede
[Prente op bladsy 15]
Jehovah se Getuies bly vreedsaam ongeag hoe mense op die Koninkryksboodskap reageer