Wil jy graag in groter mate dien?
“EK WAS kwaad vir Jehovah”, sê Laura. “Ek het gebid en gebid dat hy ons moet help om ons finansiële probleme op te los sodat ek kon aanhou om as ’n pionier te dien—maar tevergeefs. Op die ou end moes ek uit die pionierdiens tree. Ek moet ook erken dat ek jaloers was op diegene wat daarmee kon aanhou.”
Dink ook aan die geval van Michael, ’n bedieningskneg in ’n gemeente van Jehovah se Getuies. Hy het na die amp van opsiener gestreef (1 Timoteus 3:1). Toe sy doelwit ná etlike jare nog nie verwesenlik is nie, het hy só verbitterd geword dat hy nie meer vir die voorreg oorweeg wou word nie. “Ek kon net nie weer die pyn van teleurstelling verdra nie”, sê hy.
Het jy al ’n soortgelyke ondervinding gehad? Moes jy al van ’n geliefde teokratiese voorreg afstand doen? Moes jy byvoorbeeld ophou om as ’n pionier, ’n voltydse Koninkryksverkondiger, te dien? Of wil jy graag sekere gemeentelike verantwoordelikhede hê wat aan ander toevertrou is? Dit kan selfs wees dat jy ’n sterk begeerte het om by Bethel of as ’n sendeling te dien, maar jou omstandighede laat jou nie toe nie.
“’n Uitgestelde hoop maak die hart siek”, erken die boek Spreuke (Spreuke 13:12). Dit kan veral so wees wanneer ander die einste voorregte ontvang wat jy graag wil hê. Voorsien God se Woord insig, bemoediging en hoop vir iemand wat sulke teleurstellings ervaar? Ja, beslis. Trouens, Psalm 84 gee die gevoelens weer van ’n kneg van Jehovah wat soortgelyke onvervulde begeertes ten opsigte van Jehovah se diens gehad het.
’n Leviet se waardering
Die komponiste van Psalm 84 was die seuns van Korag, Leviete wat by Jehovah se tempel gedien het en hulle diensvoorregte hoog op prys gestel het. “Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare!” roep een van hulle uit. “My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God.”—Psalm 84:2, 3.
Hierdie Leviet wou só graag by Jehovah se tempel dien dat selfs die gewone natuurtonele op die pad na Jerusalem vir hom mooi was. “As hulle deur die Droë Laagte trek”, sê hy, “maak hulle dit ’n fonteinland” (Psalm 84:7). Ja, ’n gebied wat normaalweg droog was, was soos ’n streek met volop water.
Omdat die psalmis ’n niepriesterlike Leviet was, kon hy net een week in elke ses maande by die tempel dien (1 Kronieke 24:1-19; 2 Kronieke 23:8; Lukas 1:5, 8, 9). Die res van die tyd was hy by sy huis in een van die Levitiese stede. Derhalwe het hy gesing: “Selfs vind die mossie ’n huis en die swaweltjie ’n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God!” (Psalm 84:4). Hoe bly sou die Leviet tog gewees het as hy soos die voëls was wat ’n permanenter woonplek by die tempel gehad het!
Die Leviet kon maklik verbitterd geword het omdat hy nie meer dikwels by die tempel kon dien nie. Hy was egter bly om te dien soos hy kon, en hy het beslis besef dat heelhartige toegewydheid aan Jehovah die moeite werd is. Wat het hierdie getroue Leviet gehelp om vergenoeg te bly met sy diensvoorregte?
Leer om vergenoeg te wees
“’n Dag in u voorhowe is beter as duisend [elders, NW]”, sê die Leviet. “Ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid” (Psalm 84:11). Hy het besef dat dit ’n onskatbare voorreg is om selfs een dag by Jehovah se huis deur te bring. En die Leviet het baie meer as een dag gehad om by die tempel te dien. Hy was so vergenoeg met sy voorregte dat hy van vreugde gesing het.
Wat van ons? Tel ons ons seëninge, of is ons geneig om te vergeet wat ons reeds in Jehovah se diens geniet? Weens sy volk se toegewydheid aan hom het Jehovah ’n groot verskeidenheid voorregte en pligte aan hulle toevertrou. Hieronder tel die swaarder verantwoordelikhede van opsienerskap, herderswerk, onderrigting en verskeie vertakkings van die voltydse diens. Maar dit behels ook ander kosbare dinge wat met Jehovah se aanbidding verband hou.
Neem byvoorbeeld die Christelike bediening. Die apostel Paulus vergelyk ons voorreg om die goeie nuus te verkondig met ’n “skat in erdehouers” (2 Korintiërs 4:7). Beskou jy hierdie diens as ’n kosbare skat? Jesus Christus, wat die voortou geneem het met die Koninkrykspredikingswerk, het dit in daardie lig beskou en het sodoende die voorbeeld gestel (Matteus 4:17). ‘Aangesien ons hierdie bediening het, gee ons nie moed op nie’, het Paulus gesê.—2 Korintiërs 4:1.
Christelike vergaderinge is ook ’n heilige voorsiening wat ons nie ligtelik moet opneem nie. By ons vergaderinge ontvang ons lewensbelangrike onderrigting en geniet ons noodsaaklike omgang. By vergaderinge kan ons ook openbare bekendmaking van ons geloof en hoop doen deur gereeld kommentaar te lewer en op ander maniere aan die program deel te neem (Hebreërs 10:23-25). Ons vergaderinge is inderdaad ’n voorsiening waarvoor ons dankbaar moet wees!
Michael, wat vroeër genoem is, het baie waarde geheg aan hierdie seëninge en het hulle hoog op prys gestel. Maar sy teleurstelling omdat hy nie as ’n ouer man kon dien nie, het sy waardering daarvoor tydelik laat vervaag. Deur weer sy gedagtes daarop te rig, was hy in staat om sy ewewig te herwin en geduldig op Jehovah te wag.
Dit sal goed wees as ons eerder weer dink aan die maniere waarop Jehovah ons seën, soos die psalmis gedoen het, as om ontevrede te voel omdat ons nie ’n sekere voorreg het nie.a As ons nie baie sien nie, moet ons weer kyk en Jehovah vra om ons oë te open om ons te laat sien watter voorregte ons geniet en hoe hy ons seën en tot sy lof gebruik.—Spreuke 10:22.
Dit is ook belangrik om te besef dat spesiale voorregte, soos die opsienersamp, spesifieke kwalifikasies vereis (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9). Ons moet onsself dus ondersoek en let op enige gebiede waar verbetering nodig is en ons dan ywerig inspan om te verbeter.—1 Timoteus 4:12-15.
Moenie ontmoedig raak nie
Indien ons nie ’n sekere diensvoorreg ontvang nie, moet ons nie die gevolgtrekking maak dat Jehovah liewer is vir diegene wat dit wel geniet of dat hy iets goeds van ons weerhou nie. Ons moet beslis nie op ’n afgunstige wyse aanneem dat hulle hulle voorregte onverdiend weens menslike voortrekkery ontvang het en nie deur ’n teokratiese aanstelling nie. As ons oor sulke gedagtes tob, kan dit jaloesie of twis tot gevolg hê en selfs daartoe lei dat ons heeltemal moed opgee.—1 Korintiërs 3:3; Jakobus 3:14-16.
Laura, wat aan die begin genoem is, het nie opgegee nie. Sy het uiteindelik haar gevoelens van woede en jaloesie onder beheer gekry. Laura het herhaaldelik tot God gebid om haar te help om haar negatiewe reaksie op die feit dat sy nie meer aan die pionierdiens kon deelneem nie te bowe te kom. Sy het ook by bekwame manne in die gemeente om hulp aangeklop en is weer van God se liefde verseker. “Jehovah het my gemoedsrus gegee”, het sy gesê. “Hoewel ek en my man nie nou in die pionierdiens kan wees nie, is die tyd toe ons dit wel gedoen het vir ons iets kosbaars, en ons put krag uit die ondervindinge wat ons gehad het. Ons help ook ons volwasse seun in sy pionierdiens.” Omdat Laura vergenoeg is, kan sy haar nou “verheug . . . saam met mense wat hulle verheug” in hulle pionierdiens.—Romeine 12:15.
Stel bereikbare doelwitte
Om tevrede te wees met ons huidige diensvoorregte beteken nie dat ons moet ophou om verdere teokratiese doelwitte te stel nie. In ’n bespreking van die hemelse opstanding het Paulus gesê dat hy hom ‘uitstrek na die dinge wat voor is’. Hy het ook gesê: “Laat ons . . . in die mate waarin ons vooruitgang gemaak het, voortgaan om ordelik in hierdie selfde roetine te wandel” (Filippense 3:13-16). Teokratiese doelwitte kan ons help om ons uit te strek na wat voor is. Die uitdaging is egter om hulle realisties te hou.
Realistiese doelwitte is redelik en bereikbaar (Filippense 4:5). Dit beteken nie dat ’n doelwit wat ’n paar jaar van harde werk vereis onrealisties is nie. So ’n langtermyndoelwit kan trapsgewys bereik word deur ’n reeks tussentydse doelwitte, of stappe, te stel. Dit kan as bakens vir geestelike vordering dien. Elke stap in daardie rigting wat met welslae voltooi word, sal ’n gevoel van tevredenheid eerder as teleurstelling meebring.
’n Fyn balans
Dit is egter belangrik om te besef dat ons dalk sekere voorregte weens ons omstandighede en beperkinge nie sal ontvang nie. Dit sal net tot teleurstelling en frustrasie lei om hulle as doelwitte te stel. Sulke doelwitte moet ten minste voorlopig opsy gesit word. Dit sal nie moeilik wees om dit te doen as ons om godvrugtige vergenoegdheid bid en die uitvoering van Jehovah se wil die hoofsaak in ons lewe maak nie. Wanneer ons na voorregte streef, is Jehovah se heerlikheid belangrik—nie die erkenning van ons persoonlike prestasies nie (Psalm 16:5, 6; Matteus 6:33). Die Bybel sê gepas vir ons: “Laat jou werke aan die HERE oor, dan sal jou planne uitgevoer word.”—Spreuke 16:3.
Wanneer ons Psalm 84 ondersoek, kan ons sien dat die psalmis só ’n gesindheid teenoor diensvoorregte geopenbaar het, en Jehovah het hom ryklik geseën. Wat meer is, Jehovah se volk vind tot vandag toe by hierdie psalm baat.
Deur biddend op Jehovah te vertrou, kan jy jou begeerte na bykomende voorregte in ewewig hou met jou vergenoegdheid met dié wat jy nou geniet. Moet nooit toelaat dat die begeerte om meer te doen, veroorsaak dat jy jou waardering verloor vir wat jy nou het en vir die vreugde om Jehovah vir ewig te dien nie. Vertrou op Jehovah, want dit bring geluk, soos die Leviet se woorde toon: “O Jehovah van die leërs‚ gelukkig is die mens wat op u vertrou.”—Psalm 84:12, NW.
[Voetnoot]
a Sien asseblief die artikel “Waardeer jy heilige dinge?” in Die Wagtoring van 15 Junie 1988.
[Venster op bladsy 11]
Doelwitte wat ons kan stel
Lees die Bybel daagliks.—Josua 1:8; Matteus 4:4
Verbeter waarnemingsvermoëns deur skriftuurlike opleiding.—Hebreërs 5:14
Bou ’n hegter verhouding met God op.—Psalm 73:28
Kweek elk van die vrugte van die gees aan.—Galasiërs 5:22, 23
Verbeter die gehalte van ons gebede.—Filippense 4:6, 7
Word bekwamer in die predikings- en onderrigtingswerk.—1 Timoteus 4:15, 16.
Lees en peins oor elke nommer van Die Wagtoring en Ontwaak!—Psalm 49:4
[Prent op bladsy 9]
Wanneer jy persoonlike doelwitte stel, moet jy die uitvoering van God se wil die eerste plek gee