Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 4/15 bl. 13-19
  • Soek ware vrede en streef dit na!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Soek ware vrede en streef dit na!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Mense kan vredeliewend word
  • Diegene wat vrede nastreef
  • ’n Veel groter verandering
  • Heerskappy deur die vredevors
  • Wie sal die mensdom na vrede lei?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Ware vrede—Uit watter bron?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Goddelike vrede vir die wat deur Jehovah geleer word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Hoe jy goddelike vrede in groter mate kan geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 4/15 bl. 13-19

Soek ware vrede en streef dit na!

“Wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, . . . laat hy hom afkeer van wat sleg is en doen wat goed is; laat hom vrede soek en dit nastreef.”—1 PETRUS 3:10, 11.

1. Watter welbekende woorde van Jesaja sal beslis vervul word?

“HULLE sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4). Al word hierdie welbekende teks naby die wêreldhoofkwartier van die Verenigde Nasies in die stad New York vertoon, het daardie wêreldorganisasie dit beslis nie toegepas nie. As deel van die onfeilbare woord van Jehovah God, sal daardie verklaring egter nie onvervuld bly nie.—Jesaja 55:10, 11.

2. Wat moet volgens Jesaja 2:2, 3 “aan die einde van die dae” gebeur?

2 Die woorde in Jesaja 2:4 is eintlik deel van ’n wonderlike profesie, ’n profesie oor ware vrede—en dit word wel in ons tyd vervul. Voor die profesie die wonderlike vooruitsig noem dat daar geen oorloë en oorlogswapens meer sal wees nie, sê dit: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.”—Jesaja 2:2, 3.

Mense kan vredeliewend word

3. Hoe kan ’n mens van ’n strydlustige tot ’n vredeliewende persoon verander?

3 Let daarop dat mense in Jehovah se weë onderrig moet word voor hulle ’n vreedsame lewe kan lei. As ’n mens gehoorsaam op Jehovah se onderrigting reageer, kan jou denkwyse en gedrag verander, sodat iemand wat strydlustig was vredeliewend word. Hoe word hierdie verandering teweeggebring? Romeine 12:2 sê: “Hou op om na hierdie stelsel van dinge gevorm te word, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God kan vergewis.” Ons hervorm ons verstand, of stuur dit in ’n ander rigting, deur dit met beginsels en voorskrifte uit God se Woord te vul. Gereelde Bybelstudie help ons om hierdie verandering aan te bring en stel ons in staat om ons te vergewis van wat Jehovah se wil vir ons is, sodat ons duidelik kan sien watter weg ons moet inslaan.—Psalm 119:105.

4. Hoe beklee ’n mens jou met die vredeliewende nuwe persoonlikheid?

4 Bybelwaarhede verander nie net ons denkpatroon nie, maar ook ons handelswyse en persoonlikheid. Dit help ons om te doen wat die apostel Paulus ons aangespoor het: ‘Lê die ou persoonlikheid af, wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom en wat volgens sy bedrieglike begeertes verderf word; maar word vernuwe in die krag wat julle verstand aandryf en beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is’ (Efesiërs 4:22-24). Die krag wat die verstand aandryf, kom van binne. Dit word verander en word versterk namate ons liefde vir Jehovah en sy wette toeneem, en dit maak ons geestelike en vredeliewende mense.

5. Hoe dra die “nuwe gebod” wat Jesus sy dissipels gegee het tot die vrede onder hulle by?

5 Die nodigheid vir hierdie verandering blyk uit die onderrigting wat Jesus sy dissipels gegee het gedurende sy laaste ure saam met hulle: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Hierdie Christelike, onselfsugtige liefde bind die dissipels in volmaakte eenheid saam (Kolossense 3:14). Slegs diegene wat bereid is om hierdie “nuwe gebod” aan te neem en daarvolgens te lewe, sal die vrede geniet wat God belowe. Is daar mense wat dit vandag doen?

6. Waarom geniet Jehovah se Getuies vrede, in teenstelling met die mense in die wêreld?

6 Jehovah se Getuies probeer liefde in hulle wêreldwye broederskap betoon. Hoewel hulle uit al die nasies van die wêreld kom, raak hulle nie by die wêreld se geskille betrokke nie, al kom hulle voor hewige politieke en godsdiensdruk te staan. As ’n verenigde volk, word hulle deur Jehovah onderrig, en hulle geniet vrede (Jesaja 54:13). Hulle bly neutraal in politieke konflikte, en hulle neem nie aan oorloë deel nie. Sommige was voorheen gewelddadig, maar het daardie lewenswyse laat vaar. Hulle het vredeliewende Christene geword wat die voorbeeld van Christus Jesus navolg. En hulle volg Petrus se raad met hulle hele hart: “Wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, laat hom sy tong weerhou van wat sleg is en sy lippe daarvan om bedrog te spreek, maar laat hy hom afkeer van wat sleg is en doen wat goed is; laat hom vrede soek en dit nastreef.”—1 Petrus 3:10, 11; Efesiërs 4:3.

Diegene wat vrede nastreef

7, 8. Gee voorbeelde van mense wat van oorlogvoering afgesien het en begin het om ware vrede na te streef. (Vertel ander ondervindinge waarvan jy weet.)

7 Daar is byvoorbeeld Rami Oved, ’n gewese offisier in ’n gespesialiseerde antiterroristegroep. Hy is opgelei om sy vyande dood te maak. Hy het vas geglo in sy Israelse nasionalisme totdat hy ontdek het dat die rabbi’s nie wou hê dat hy met die vrou moes trou vir wie hy lief was nie, bloot omdat sy ’n Asiaat, ’n nie-Jood, was. Hy het in die Bybel na die waarheid begin soek. Toe het hy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Sy Bybelstudie saam met die Getuies het hom daarvan oortuig dat hy nie langer ’n fanatiese nasionalis kon wees nie. Christelike liefde het beteken dat hy van oorlog en wapens moes afsien en moes leer om mense van alle rasse lief te hê. Hoe verbaas was hy tog toe hy ’n vriendelike brief ontvang met die openingswoorde: “My broer Rami”! Waarom was dit so vreemd? Die skrywer was ’n Palestynse Getuie. “Ek het gedink dat dit ongelooflik was”, sê Rami, “aangesien Palestyne my vyande was, en hier het een van hulle my ‘my broer’ genoem.” Rami en sy vrou streef nou ware vrede op God se manier na.

8 Nog ’n voorbeeld is dié van Georg Reuter, wat in die Duitse leër gedien het wat Rusland gedurende die Tweede Wêreldoorlog binnegeval het. Hy is gou deur Hitler se groot plan vir wêreldoorheersing ontnugter. Toe hy ná die oorlog teruggekeer het, het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Hy het geskryf: “Dinge het uiteindelik vir my duidelik begin word. Ek het besef dat God nie die skuld vir al die bloedvergieting dra nie . . . Ek het geleer dat dit sy voorneme is om ’n aardwye paradys tot stand te bring met ewige seëninge vir gehoorsame mense. . . . Hitler het oor sy ‘Duisendjarige Ryk’ gespog maar het net 12 [jaar] geregeer—en met watter aaklige gevolge! Dit is nie Hitler nie, maar Christus . . . wat ’n duisendjarige heerskappy oor die aarde kan en sal voer.” Georg dien nou al sowat 50 jaar as ’n gesant vir ware vrede in die voltydse diens.

9. Hoe bewys die ondervinding van Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland dat hulle moedig maar vredeliewend is?

9 Die onkreukbaarheid en neutraliteit van Jehovah se Getuies in Duitsland gedurende die Nazi-bewind is nou nog, meer as 50 jaar later, ’n bewys van hulle liefde vir God en vir vrede. ’n Boekie wat uitgegee is deur die Verenigde State se Slagtingsgedenkmuseum in Washington, DC, sê: “Jehovah se Getuies het hewige vervolging onder die Nazi-bewind verduur. . . . Die moed wat die oorgrote meerderheid aan die dag gelê het deur te weier [om hulle geloof te versaak], ondanks marteling, mishandeling in konsentrasiekampe en soms teregstelling, het die respek van baie van hulle tydgenote afgedwing.” Dan voeg dit by: “Gedurende die bevryding van die kampe het Jehovah se Getuies met hulle werk voortgegaan deur met die oorlewendes te gesels en bekeerlinge te maak.”

’n Veel groter verandering

10. (a) Watter groot verandering is nodig sodat ware vrede kan kom? (b) Hoe is dit in die boek Daniël uitgebeeld?

10 Beteken dit dat Jehovah se Getuies glo dat hulle deur die een of ander massabekering tot geloof in Christelike neutraliteit vrede in die hele wêreld kan teweegbring? Nee! ’n Baie groter verandering is nodig om vrede op die aarde te herstel. Wat is dit? Verdelende, onderdrukkende en gewelddadige menseheerskappy moet plek maak vir heerskappy deur God se Koninkryk, waarvoor Jesus sy dissipels leer bid het (Matteus 6:9, 10). Maar hoe sal dit plaasvind? In ’n Goddelik geïnspireerde droom het die profeet Daniël gesien dat God se Koninkryk, soos ’n groot klip wat ‘sonder toedoen van mensehande losraak’, in die laaste dae ’n reusebeeld, wat die mensdom se politieke heerskappye oor die aarde voorstel, sal verbrysel. Toe het hy gesê: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:31-44.

11. Hoe gaan Jehovah die nodige verandering vir vrede meebring?

11 Waarom sal hierdie ingrypende verandering in die wêreldsituasie plaasvind? Omdat Jehovah belowe het dat hy die aarde gaan reinig van almal wat dit besoedel en verderf (Openbaring 11:18). Hierdie verandering sal plaasvind tydens Jehovah se regverdige oorlog teen Satan en sy goddelose wêreld. Ons lees in Openbaring 16:14, 16: “Hulle [dit wil sê onreine geïnspireerde uitinge] is in werklikheid uitinge wat deur demone geïnspireer is en doen tekens, en hulle gaan uit na die konings [die politieke heersers] van die hele bewoonde aarde, om hulle te versamel vir die oorlog van die groot dag van God die Almagtige. En hulle het hulle versamel na die plek wat in Hebreeus Har–Magedon genoem word.”

12. Hoe sal Armageddon wees?

12 Hoe sal Armageddon wees? Dit sal nie ’n kern-apokalips of ’n ramp wees wat deur die mens veroorsaak word nie. Nee, dit is God se oorlog om ’n einde te maak aan alle menseoorloë en om diegene uit te wis wat sulke oorloë bevorder. Dit is God se oorlog om ware vrede te bring vir diegene wat vrede liefhet. Ja, Armageddon gaan kom soos Jehovah hom voorgeneem het. Dit sal nie vertoef nie. Sy profeet Habakuk is geïnspireer om te skryf: “Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie” (Habakuk 2:3). Weens ons menslike gevoelens lyk dit moontlik asof dit versuim, maar Jehovah bly by sy rooster. Armageddon sal kom op die tyd wat Jehovah bepaal het.

13. Hoe sal God afreken met die een wat werklik die skuld dra, Satan die Duiwel?

13 Hierdie beslissende optrede sal die weg baan vir ware vrede! Maar daar is nog iets wat gedoen moet word voor ware vrede ten volle bevestig kan word—die een wat verdeeldheid, haat en tweedrag stook, moet uit die weg geruim word. En dit is presies wat die Bybel voorspel volgende gaan plaasvind—dat Satan, die oorlogstoker en die vader van die leuen, in die afgrond gewerp gaan word. Die apostel Johannes het hierdie gebeurtenis in ’n profetiese visioen gesien, wat in Openbaring 20:1-3 opgeteken staan: “Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp, die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is, en hom vir duisend jaar gebind. En hy het hom in die afgrond geslinger en dit gesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou mislei totdat die duisend jaar geëindig het nie.”

14. Hoe kan Jehovah se triomfantlike optrede teen Satan beskryf word?

14 Dit is nie ’n droom nie; dit is God se belofte—en die Bybel sê: ‘Dit is onmoontlik vir God om te lieg’ (Hebreërs 6:18). Jehovah kon dus deur sy profeet Jeremia sê: “Ek [is] die HERE . . . wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae, spreek die HERE” (Jeremia 9:24). Jehovah tree in reg en geregtigheid op en hy skep behae in die vrede wat hy op die aarde gaan teweegbring.

Heerskappy deur die vredevors

15, 16. (a) Wie is deur Jehovah gekies om as Koning te heers? (b) Hoe word daardie heerskappy beskryf, en wie sal ’n aandeel daaraan hê?

15 Om te verseker dat almal wat onder sy Koninkryksreëling lewe ware vrede sal geniet, het Jehovah die heerskappy aan die ware Vredevors, Jesus Christus, gegee, soos voorspel in Jesaja 9:5, 6: “’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde . . . Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” Die psalmis het ook profeties oor die Messias se vreedsame heerskappy geskryf: “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie.”—Psalm 72:7.

16 Daarbenewens sal 144 000 geesgesalfde broers van Christus saam met hom in die hemele regeer. Hulle is die mede-erfgename met Christus van wie Paulus geskryf het: “Wat die God betref wat vrede gee, hy sal Satan binnekort onder julle voete verbrysel. Mag die onverdiende goedhartigheid van ons Here Jesus met julle wees” (Romeine 16:20). Ja, hulle sal vanuit die hemele ’n aandeel hê aan Christus se oorwinning oor die oorlogstoker, Satan die Duiwel!

17. Wat moet ons doen om ware vrede te beërf?

17 Die vraag ontstaan dus nou: Wat moet jy doen om ware vrede te beërf? Ware vrede kan slegs op God se manier kom, en om dit te verkry moet jy positiewe stappe doen. Jy moet die Vredevors aanneem en vertroue in hom stel. Dit beteken dat jy Christus in sy rol as Loskoper en Verlosser van die sondige mensdom moet aanneem. Jesus self het die welbekende woorde gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Is jy bereid om geloof te beoefen in Christus Jesus as die Instrument wat God gaan gebruik om ware vrede en redding te bewerkstellig? Daar is geen ander naam onder die hemel wat vrede kan bring en dit kan waarborg nie (Filippense 2:8-11). Waarom? Omdat Jesus God se Uitverkorene is. Hy is die grootste boodskapper van vrede wat nog op die aarde was. Sal jy na Jesus luister en sy voorbeeld volg?

18. Wat moet ons doen in reaksie op Jesus se woorde wat in Johannes 17:3 opgeteken is?

18 “Dít beteken die ewige lewe”, het Jesus gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Dit is nou die tyd om juiste kennis in te neem deur gereeld die vergaderinge van Jehovah se Getuies by die Koninkryksaal by te woon. Hierdie leersame vergaderinge sal jou beweeg om jou kennis en hoop aan ander oor te dra. Jy kan ook ’n gesant vir God se vrede word. Jy kan nou reeds vrede geniet deur op Jehovah God te vertrou, soos Jesaja 26:3 sê: “U sal [dié met] ’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.” Op wie moet jy vertrou? “Vertrou op Jehovah vir altyd, want in Jah Jehovah is die Rots van onbepaalde tye.”—Jesaja 26:4, NW.

19, 20. Wat wag op diegene wat vandag vrede soek en dit nastreef?

19 Neem nou jou standpunt in vir ewige lewe in God se vreedsame nuwe wêreld. In Openbaring 21:3, 4 verseker God se Woord ons: “Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” Is dit nie die vreedsame toekoms waarna jy smag nie?

20 Onthou dan wat God belowe het. “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ’n toekoms vir die man van vrede” (Psalm 37:11, 37). Mag ons, wanneer daardie blye dag aanbreek, met dankbaarheid sê: “Uiteindelik ware vrede! Danksy Jehovah God, die bron van ware vrede!”

Kan jy verduidelik?

◻ Wat kan ’n mens help om veranderinge in jou gedagtes en optrede aan te bring?

◻ Hoe het Jehovah se Getuies, individueel en as ’n groep, van hulle liefde vir ware vrede bewys gelewer?

◻ Hoe sal Jehovah afreken met almal wat haat en oorlog aanstig?

◻ Wat sal die heerskappy van die Vredevors vir die mensdom doen?

[Prent op bladsy 14]

Die woorde van Jesaja word nie deur die VN vervul nie, maar deur diegene wat gehoor gee aan Jehovah se onderrigting

[Prent op bladsy 15]

Hierdie twee manne het verander om vrede na te streef

Rami Oved

Georg Reuter

[Prent op bladsy 16]

Ware vrede sal heers onder die heerskappy van die Vredevors

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel