Wees versigtig om verkeerde beweegredes toe te skryf
’N VOORAANSTAANDE televisie-evangelis het ’n medeprediker skerp veroordeel omdat hy egbreuk gepleeg het. Maar minder as ’n jaar later is die evangelis wat die ander een beskuldig het by ’n prostituut gevang.
In ’n ander geval het ’n vername wêreldmoondheid afgesante uitgestuur om strydende faksies na die onderhandelingstafel te bring. Intussen het dieselfde land sy wapenhandelaars in die geheim na die buiteland gestuur om wapens ter waarde van miljarde rande te verkwansel.
Is dit, in die lig van die feit dat openlike huigelary so algemeen geword het, enigsins verbasend dat skeptisisme vertroue in groot mate verdring het? Vir baie mense het dit ’n tweede natuur geword om ander se beweegredes te bevraagteken.
As Christene moet ons versigtig wees om nie toe te laat dat sulke gesindhede ons verhouding met getroue medeaanbidders beïnvloed nie. Hoewel Jesus Christus ons aangespoor het om “versigtig soos slange” te wees wanneer ons tussen ons vyande is, het hy nie gesê dat ons sy ware volgelinge moet wantrou nie (Matteus 10:16). Watter gevare hou dit dus in as ’n mens verkeerde beweegredes aan ander toeskryf? Op watter gebiede moet ons veral versigtig wees om so ’n neiging te vermy? En hoe kan ons ons kosbare verhouding met mede-Christene beskerm?
’n Les uit die verlede
Om sonder ’n grondige rede verkeerde beweegredes aan ander toe te skryf, kom daarop neer dat ’n mens hulle oordeel. Dit is asof ons sonder meer aanvaar dat hulle woorde en dade bloot ’n skyn is om iets slinks en kwaadwilligs te verberg. Dikwels is die werklike probleem dat ’n mens die verkeerde beskouing oor sake het, soos ons in die Bybelverslag in Josua hoofstuk 22 kan sien.
Die Israeliete het hulle verowering van die Beloofde Land voltooi en het pas hulle stamgebiede ontvang. Die stamme Ruben en Gad en die halwe stam Manasse het ’n altaar “groot van aansien” by die Jordaanrivier gebou. Die ander stamme het verkeerdelik aangeneem dat dit ’n daad van afvalligheid was. Hulle het gedink dat die drie stamme hierdie groot konstruksie wou gebruik om offerandes te bring pleks van na die tent van samekoms in Silo te gaan, die plek waar hulle aangewys is om te aanbid. Die beskuldigende stamme het hulle onmiddellik begin voorberei vir oorlog.—Josua 22:10-12.
’n Mens moet hulle dit ter ere nagee dat hulle met hulle Israelitiese broers gekommunikeer het deur ’n amptelike afvaardiging na hulle te stuur met Pinehas aan die hoof daarvan. Toe die stamme wat kwansuis verkeerd gedoen het die aanklagte van ontrouheid, opstandigheid en afvalligheid teenoor Jehovah gehoor het, het hulle hulle rede vir hierdie reusagtige altaar verduidelik. Dit was nie ’n altaar vir offerandes nie, maar dit was om as “’n getuie” te dien van die eenheid van die stamme van Israel in hulle aanbidding van Jehovah (Josua 22:26, 27). Die afvaardiging het teruggegaan huis toe, tevrede dat hulle broers niks verkeerds gedoen het nie. Sodoende is ’n burgeroorlog en verskriklike bloedvergieting vermy.
Wat ’n les is dit tog vir ons om nie oorhaastig te wees om verkeerde beweegredes aan ander toe te skryf nie! ’n Mens vind dikwels dat wat ná ’n bloot oppervlakkige waarneming waar lyk heeltemal anders is wanneer jy nader ondersoek daarna instel. Dit geld vir baie aspekte van ’n Christen se lewe.
Ons beskouing van die ouer manne
In die uitvoering van hulle verantwoordelikheid “om as herders toesig te hou oor die gemeente van God” is dit by tye vir ouer manne nodig om verskillende individue in die gemeente raad te gee (Handelinge 20:28). Hoe reageer ons byvoorbeeld daarop as ’n ouer man met ons praat oor sake wat ons kinders raak, soos slegte omgang of onbehoorlike gedrag met ’n lid van die ander geslag? Neem ons aan dat hy ’n verskuilde beweegrede het en sê ons vir onsself: ‘Hy het nog nooit van ons gesin gehou nie’? As ons toelaat dat sulke gevoelens ons beïnvloed, sal ons miskien later spyt wees daaroor. Die geestelike welsyn van ons kinders is moontlik in gevaar, en ons moet nuttige skriftuurlike raad waardeer.—Spreuke 12:15.
Wanneer ’n gemeentelike ouer man ons raad gee, moet ons nie die een of ander verskuilde beweegrede soek nie. Laat ons ons eerder afvra hoe ons by sy Bybelse raad baat kan vind. Die apostel Paulus het geskryf: “Geen dissipline lyk weliswaar op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend; tog lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid” (Hebreërs 12:11). Laat ons dus dankbaar wees en sake objektief oorweeg. Onthou dat dit dikwels net so moeilik is vir die ouer manne om raad te gee as wat dit vir ons is om dit te ontvang.
Gevoelens teenoor ouers
Wanneer party jongmense deur hulle ouers sekere beperkings opgelê word, bevraagteken hulle hulle ouers se beweegredes. Party jeugdiges sê dalk: ‘Waarom maak my ouers soveel reëls? Hulle wil seker nie hê dat ek die lewe moet geniet nie.’ Pleks van tot hierdie slotsom te kom, moet jongmense eerder die situasie objektief ontleed.
Ouers het jare lank hulle kinders versorg. Dit was materieel en andersins ’n groot opoffering. Is daar enige rede om tot die gevolgtrekking te kom dat hulle nou vasbeslote is om die lewe van hulle tienerkinders te versuur? Is dit nie redeliker om te dink dat liefde hierdie ouers beweeg om hulle kinders te beskerm en te versorg nie? Sou dit nie dieselfde liefde wees wat hulle beweeg om sekere beperkings te plaas op hulle kinders wat nou voor nuwe uitdagings in die lewe te staan kom nie? Hoe liefdeloos en ondankbaar sou dit tog wees om verkeerde beweegredes aan liefdevolle ouers toe te skryf!—Efesiërs 6:1-3.
Ons gesindheid teenoor mede-Christene
Baie is geneig om bevooroordeeld teenoor ander te wees en hulle in ’n stereotipe in te deel. Sê nou ons het so ’n gesindheid gehad en was ietwat agterdogtig teenoor sekere mense? Kan ons in hierdie opsig deur die wêreld beïnvloed word?
Gestel byvoorbeeld een van ons geestelike broers het ’n mooi huis en ’n duur motor. Moet ons outomaties die gevolgtrekking maak dat hy ’n materialis is wat nie Koninkryksbelange eerste in sy lewe stel nie? Party Christene kan dalk mooi dinge bekostig, maar dit beteken nie dat hulle slegte beweegredes het of nie ‘die koninkryk eers soek nie’. Hulle is dalk baie besig met geestelike bedrywighede en is moontlik vrygewig in die gebruik van hulle materiële bates om Koninkryksbelange te bevorder, miskien heel onopsigtelik.—Matteus 6:1-4, 33.
Die eerste-eeuse Christengemeente het uit alle soorte mense bestaan—ryk en arm (Handelinge 17:34; 1 Timoteus 2:3, 4; 6:17; Jakobus 2:5). God beoordeel nie mense op grond van hulle finansiële posisie nie, en ons moet ook nie. Ons moet ons getroue medeaanbidders wat hulleself bewys het, liefhê en ‘niks ooreenkomstig ’n neiging tot partydigheid doen nie’.—1 Timoteus 5:21.
In hierdie wêreld wat in Satan se mag lê, is daar verskillende maniere waarop dit duidelik word dat mense ander in stereotipes indeel en agterdogtig teenoor mekaar is. Iemand kan byvoorbeeld as gewelddadig of materialisties beskou word bloot as gevolg van sy agtergrond. As Christene moet ons egter nie toelaat dat sulke gesindhede ons beïnvloed nie. Jehovah se organisasie is nie die plek om kleingeestig en agterdogtig wees nie. Alle ware Christene moet Jehovah God navolg, by wie ‘daar geen onreg of partydigheid is nie’.—2 Kronieke 19:7; Handelinge 10:34, 35.
Word beweeg deur liefde
Die Skrif sê duidelik dat ‘almal gesondig het en aan die heerlikheid van God te kort skiet’ (Romeine 3:23). Ons moet dus ons medeaanbidders beskou as diegene wat met ons verenig is in die strewe om aanneemlike diens aan Jehovah te lewer. As ons toegelaat het dat agterdog of ander negatiewe gevoelens ons verhouding met ’n geestelike broer of suster beïnvloed, moet ons tot God om hulp bid om teen so ’n gesindheid te stry sodat ons nie ’n slagoffer van Satan word nie (Matteus 6:13). Hy het Eva oortuig dat Jehovah slegte beweegredes het, nie besorg is oor haar welsyn nie en vryhede van haar weerhou wat haar waarlik gelukkig sou maak (Genesis 3:1-5). As ons verkeerde beweegredes aan ons broers toeskryf, bevorder ons sy oogmerke.—2 Korintiërs 2:11; 1 Petrus 5:8.
As ons vind dat ons ’n neiging het om verkeerde beweegredes aan ander toe te skryf, moet ons op die voorbeeld van Jesus Christus let. Al was hy die volmaakte Seun van God het hy nie slegte beweegredes in sy dissipels gesoek nie. Jesus het eerder na die goeie in hulle gesoek. Toe sy dissipels om ’n posisie van vernaamheid meegeding het, het hy nie aangeneem dat hulle verdorwe beweegredes het en hulle met 12 nuwe apostels vervang nie (Markus 9:34, 35). Omdat hulle onvolmaak was, is hulle dalk in sekere mate beïnvloed deur die kultuur van afvallige Judaïsme, met die klem wat dit op trots en klasseverskille geplaas het. Jesus het geweet dat die basiese beweegrede van sy volgelinge liefde vir Jehovah was. Hulle is grootliks beloon omdat hulle sulke liefde betoon het en by Jesus gebly het.—Lukas 22:28-30.
As ons met agterdog na ons getroue medeaanbidders kyk, sou dit wees soos om na dinge deur ’n vervormde lens te kyk. Niks sou lyk soos dit werklik is nie. Laat ons dus deur die lens van liefde kyk. Daar is oorvloedige bewys van die feit dat lojale mede-Christene ons liefhet en ons goedhartige agting verdien (1 Korintiërs 13:4-8). Mag ons dus liefde aan hulle betoon en versigtig wees om verkeerde beweegredes aan ander toe te skryf.
[Prent op bladsy 26]
Hoe beskou jy ander wat God getrou dien?
[Prent op bladsy 27]
Vertroue en respek maak Jehovah se Getuies ’n gelukkige gesin