Hoofstuk 15
Waarom vir ander mense omgee?
1. (a) Wat het baie mense laat besluit om na hulself om te sien en hulle nie te veel oor ander te bekommer nie? (b) Wat is die gevolg?
ONSELFSUGTIGE besorgdheid oor ander is vandag seldsaam. Hoewel almal gebore word met die vermoë om lief te hê, kan iemand besluit dat dit die beste is om net na sy eie belange om te sien wanneer ander op onredelike wyse hulle eie voordeel nastreef of wanneer sy pogings om liefde te betoon, misverstaan word. Ander wat sien dat sommige wat hulle medemens uitbuit materieel voorspoedig is, kan dink dat dit die weg tot sukses is. Die gevolg is dat die meeste mense ander wantrou en min, indien enige, ware vrede het. Wat is verantwoordelik vir hierdie ongelukkige toedrag van sake?
2. (a) Hoe toon die Bybel wat die kern van die probleem is? (b) Wat beteken dit om God te ken?
2 Liefde ontbreek, die soort liefde wat tot uiting kom in opregte besorgdheid oor die blywende welsyn van ander. En waarom ontbreek dit? Die Bybel dring deur tot die kern van die probleem wanneer dit sê: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde” (1 Johannes 4:8). Daar is natuurlik talle selfsugtige individue wat bely dat hulle in God glo en selfs kerk toe gaan. Maar die feit is dat hulle God nie werklik ken nie. Om God te ken, beteken om goed vertroud te wees met sy persoonlikheid, om sy gesag te erken en om dan op te tree in ooreenstemming met wat ons van hom af weet (Jeremia 22:16, NW; Titus 1:16). As ons dus die ware genot uit die lewe wil put wat slegs gesmaak kan word wanneer ’n mens liefde betoon en ontvang, moet ons God goed leer ken en toepas wat ons leer.
3. Hoe het God sy groot liefde vir die mensdom bewys?
3 “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe”, het die apostel Johannes geskryf. “Hierin is die liefde: nie dat ons God [eerste] liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê” (1 Johannes 4:9-11). God het nie toegelaat dat die mensdom se liefdelose gedrag sy liefde smoor nie. Soos Romeine 5:8 sê: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
4. Hoe laat dit jou persoonlik teenoor God voel?
4 Hoeveel mense het jy so lief dat jy jou lewe vir hulle sal aflê—mense wat nog nooit iets vir jou gedoen het nie? Gestel jy is ’n ouer. Wie is daar vir wie jy jou kind sal laat sterf? Dit is die soort liefde wat God teenoor ons bewys het (Johannes 3:16). Hoe laat hierdie kennis jou teenoor God voel? As ons werklik waardeer wat hy gedoen het, sal dit nie vir ons moeilik wees om sy gebooie te gehoorsaam nie.—1 Johannes 5:3.
5. (a) Wat is die “nuwe gebod” wat Jesus aan sy dissipels gegee het? (b) Hoe is ons toegewydheid aan God as heerser by die saak betrokke? (c) Wat vereis gehoorsaamheid aan hierdie “nuwe gebod” dan?
5 Die aand voor sy dood het Jesus een van daardie gebooie aan sy dissipels gegee. Dit sou hulle identifiseer as mense wat van die res van die wêreld verskil. Hy het gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.” Jesus se gebod was ‘nuut’ in die opsig dat hy gesê het dat hulle ander moet liefhê, nie net so lief soos wat hulle hulself gehad het nie, maar “soos Ek julle liefgehad het”—so lief dat hulle bereid sou wees om hulle lewe vir mekaar af te lê (Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 3:16). Hierdie soort liefde toon ons toewyding aan God deur die Duiwel se bewering dat geen mens ten koste van sy eie lewe aan God gehoorsaam sal wees nie vals te bewys (Job 2:1-10). Gehoorsaamheid aan hierdie “nuwe gebod” verg vanselfsprekend diepe besorgdheid oor mekaar.—Jakobus 1:27; 2:15, 16; 1 Thessalonicense 2:8.
6. Aan wie anders moet ons liefde betoon, en waarom?
6 Maar Christus het vir die wêreld van die mensdom gesterf, nie net vir sy dissipels nie. Daarom spoor die Skrif ons aan: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Galasiërs 6:10). Ons vind elke dag geleenthede om ‘aan ander goed te doen’. Wanneer ons liefde nie eng is nie, maar ons dit ruimhartig en mildelik bewys, volg ons God na, “want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges”.—Mattheüs 5:43-48.
Eerbied vir die persoon en eiendom van ander
7. Wat moet bepaal hoe ons ander en hulle eiendom behandel?
7 Ons lewe te midde van ’n liefdelose wêreld. Jy besef moontlik dat jy nie altyd so bedagsaam teenoor ander was as wat jy kon gewees het nie. Maar as iemand God wil dien, moet hy pligsgetrou ’n poging aanwend om ‘sy gemoed te vernuwe’ (Romeine 12:1, 2). Hy moet sy gesindheid teenoor die persoon en eiendom van ander verander.
8. (a)Wat toon dat daar algemene minagting vir die eiendom van ander is? (b) Watter raad in die Bybel sal, indien dit gevolg word, voorkom dat ’n persoon sulke dinge doen?
8 In sommige gebiede is daar skokkende minagting vir die eiendom van ander. Net vir die pret vernietig jeugdiges privaat en openbare eiendom. Of hulle skend moedswillig dinge waarvoor ander hard gewerk het. Sommige keer sulke vandalisme af, maar dra self daartoe by deur rommel in parke, op straat of in openbare geboue te strooi. Strook hierdie dade met Jesus se vermaning: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen”? (Mattheüs 7:12). Sulke liefdelose gedrag toon dat ’n mens nie in volle ooreenstemming is met God se voorneme dat hierdie aarde ’n paradys moet word nie.
9. (a) Hoe word almal se lewe deur diefstal geraak? (b) Waarom is diefstal in God se oë verkeerd?
9 Op baie plekke maak besorgdheid oor ’n mens se lewe en besittings slotte aan deure, vensters met diefwering en waghonde algemeen. Winkels verhoog pryse om te vergoed wat gesteel word. Maar diefstal sal geen plek in God se Nuwe Orde hê nie. Almal wat hoop om daar te lewe, moet gevolglik nou leer om te lewe op ’n wyse wat tot die veiligheid van hulle medemens bydra. Die Bybel toon dat dit “’n gawe van God” is dat ’n man “die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid”. Dit is dus verkeerd om hom van die vrug van sy arbeid te probeer beroof (Prediker 3:13; 5:17). Baie mense wat in die verlede oneerlik was, het verander. Hulle het nie net opgehou om te steel nie, maar smaak ook die vreugde van mededeelsaamheid (Handelinge 20:35). Met die begeerte om God te behaag, het hulle die woorde wat in Efesiërs 4:28 opgeteken is ter harte geneem: “Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.”
10. (a) Hoe kan ons bedagsaam teenoor ander wees deur die manier waarop ons met hulle praat? (b) Wat sal ’n mens help om te leer om liefde op hierdie manier te betoon?
10 Dikwels, veral wanneer sake skeef loop, het ander ’n behoefte, nie aan iets stofliks nie, maar aan vriendelikheid. Maar wat gebeur in situasies waar ’n mens se gebreke aan die lig kom? Daar kan woede-uitbarstings, lasterlike taal of bitsige aanmerkings wees. Selfs sommige wat erken dat hierdie handelwyse verkeerd is, versuim om hulle tong te beheer. Hoe kan iemand so ’n gewoonte te bowe kom? Dit is basies weens ’n gebrek aan liefde, en dit toon dat hy God beter moet leer ken. Wanneer iemand besef hoe genadig God teenoor hom was, sal hy dit baie makliker vind om ander te vergewe. Hy kan dalk selfs begin om maniere te sien waarop hy die oortreder kan help en hom liefdevolle hulp aanbied sodat hy kan verbeter.—Mattheüs 18:21-35; Efesiërs 4:31–5:2.
11. Waarom moet ons nie beledigend raak nie, selfs al tree ander onvriendelik teenoor ons op?
11 Dit is waar dat ander mense dalk nie hierdie goeie raad uit God se Woord in hulle handelinge met ons sal toepas nie. Ondanks ons opregte beweegredes kan ons soms die skyf van hulle beledigings wees. Wat gaan ons dan doen? Die Bybel se raad is: “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Romeine 12:17-21; 1 Petrus 2:21-23). Volgehoue vriendelikheid van ons kant kan mettertyd hulle gesindheid versag en hulle goeie eienskappe na vore laat kom. Wat hulle reaksie ook al is, as ons voortgaan om vriendelikheid aan die dag te lê, toon ons dat ons God se manier van heerskappy, wat op liefde gegrond is, voorstaan.
Hoe om rasse-, volks- en maatskaplike vooroordeel te bowe te kom
12, 13. Hoe help die Bybel ’n mens om ontslae te raak van enige gevoel van rasse-, volks- of maatskaplike vooroordeel?
12 Iemand met ware liefde laat hom nie deur ras, velkleur, nasionaliteit of maatskaplike status beïnvloed nie. Waarom nie? Omdat hy die Bybelwaarheid besef dat God “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak” het (Handelinge 17:26). Alle mense is gevolglik aan mekaar verwant. Geen ras is inherent beter as ’n ander nie.
13 Niemand het enige rede om te roem op sy afkoms, ras, kleur, nasionaliteit of stand in die lewe nie. “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Almal is gevolglik op die losprys van Christus aangewese. En die Bybel toon dat diegene wat deur die komende “groot verdrukking” bewaar gaan word “uit alle nasies en stamme en volke en tale” kom.—Openbaring 7:9, 14-17.
14. Waarom is ’n onaangename persoonlike ondervinding nie ’n grondige rede tot vooroordeel teen die mense van ’n sekere ras of volk nie?
14 In ’n poging om sy vooroordeel te regverdig, sal iemand dalk ’n onaangename ondervinding ophaal wat hy met ’n lid van ’n ander ras of ’n volk gehad het. Maar was elke lid van daardie ras of volk by die oortreding betrokke? En maak lede van ’n mens se eie ras of volk hulle nie aan dieselfde ding skuldig nie? As ons hoop om in God se vreedsame Nuwe Orde te lewe, moet ons alle hoogmoed, wat ons maklik van ander kan vervreem, uit ons harte suiwer.
15. Hoe sal dit ’n persoon se posisie voor God en Christus raak as sy kommentaar oor ras of nasionaliteit ’n medegelowige laat struikel?
15 Die dinge wat in ons harte is, kom vroeër of later by ons monde uit. Christus Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek [die] mond” (Lukas 6:45). Gestel opmerkings wat van vooroordeel getuig, het iemand wat belangstelling in Jehovah se organisasie toon, laat struikel. Die saak is so ernstig dat Jesus gewaarsku het: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom as ’n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.”—Markus 9:42.
16. Hoe het Jesus getoon met watter onpartydigheid ons ander mense moet behandel?
16 Christene staan onder verpligting om liefdevolle belangstelling in ander te toon ongeag hulle ras, nasionaliteit of stand (Jakobus 2:1-9). Jesus het vermaan: “Wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie” (Lukas 14:13, 14). Wanneer ons sodanige besorgdheid oor ander mense toon, weerspieël ons die liefdevolle hoedanighede van ons hemelse Vader.
Liefdevolle besorgdheid oor die ewige welsyn van ander
17. (a) Wat is die kosbaarste ding wat ons met ander kan deel? (b) Waarom moet ons gedwonge voel om dit te doen?
17 Ons besorgdheid oor ander moet nie tot hulle fisiese behoeftes beperk wees nie. En ons liefde sal ook nie volkome wees net omdat ons teenoor allerhande mense vriendelik is nie. Die lewe kan alleen werklik sin hê as mense Jehovah en sy voornemens ken. In gebed tot sy Vader het Jesus gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). As jy hierdie boek van voor af gelees het, weet jy hoe om daardie prys te verkry. Jy het self gesien wat die Skrif oor die “groot verdrukking” voorspel, en jy het die fisiese bewyse gesien wat bevestig dat dit naby is. Jy weet dat God se Koninkryk die enigste hoop vir die mensdom is. Maar beweeg liefde vir Jehovah en vir jou naaste jou om hierdie lewensbelangrike kennis aan ander te verkondig?
18. (a) Watter werk het Jesus in Mattheüs 24:14 vir ons dag voorspel? (b) Hoe moet ons deelname daaraan beskou?
18 Toe Jesus van “die voleinding van die wêreld” gepraat het, het hy voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:3, 14). Watter voorreg is dit tog om die Soewereine Heerser van die heelal, Jehovah self, te verteenwoordig wanneer ’n mens aan hierdie ‘getuieniswerk’ deelneem! Die geleentheid om aan hierdie spesiale werk deel te neem bestaan nog, maar nie veel langer nie.
19. Waarom moet ons nie toelaat dat ’n gevoel van persoonlike onbekwaamheid ons daarvan weerhou om aan die werk deel te neem nie?
19 Wanneer ’n mens die moontlikheid oorweeg om aan hierdie “getuienis vir al die nasies” deel te neem, is dit goed om te besef dat dit nie jou eie bekwaamheid is nie, maar God wat die boodskap laat vrugte afwerp (Handelinge 16:14; 1 Korinthiërs 3:6). As jy deur ’n gewillige hart beweeg word, kan Jehovah jou gebruik om sy wil te doen. Die apostel Paulus het gesê: “So ’n vertroue het ons deur Christus by God. Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God.”—2 Korinthiërs 3:4-6.
20. (a) Sal almal gunstig op die goeie nuus reageer? (b) Watter nut word gestig deur vir mense te preek wat onverskillig teenoor die boodskap staan of selfs daarteen gekant is?
20 Ons moet natuurlik nie verwag dat almal gunstig sal reageer nie. Baie sal onverskillig staan. Sommige sal daarteen gekant wees. Maar hulle kan verander. Saulus van Tarsus, wat eens ’n vervolger van Christene was, het ’n ywerige apostel van Jesus geword (1 Timotheüs 1:12, 13). Of ander dit nou besef of nie, hulle het die Koninkryksboodskap nodig. Ons moet dus oor hulle besorg wees, bereid om ons te beywer vir hulle ewige welsyn (1 Thessalonicense 2:7, 8). Selfs al wil hulle nie die Koninkryksboodskap aanneem nie, word daar nietemin nut gestig. Die getuienis word gegee, Jehovah se naam word verheerlik, mense word van mekaar ‘geskei’ en ons toon ons lojaliteit teenoor Jehovah.—Mattheüs 25:31-33.
Besorgdheid oor jou gesin
21. Watter verantwoordelikheid rus op ’n gesinshoof wat die geestelike welsyn van sy gesin betref?
21 Jou pogings om ander te help om by Jehovah se liefdevolle voorsienings baat te vind, moet ook jou gesin insluit. ’n Gesinshoof is byvoorbeeld verantwoordelik vir die geestelike groei van sy gesin. Dit word regstreeks beïnvloed deur die gereeldheid van sy reëlings vir die gesin om God se Woord te bespreek. En wanneer ’n vader se gebede ten behoewe van die gesin van innige toegewydheid en dankbaarheid getuig, kan dit die hele gesin se gesindheid vorm.
22. Waarom is dit belangrik dat ’n vader sy kinders tugtig, en wat moet hom beweeg om dit te doen?
22 Sy verantwoordelikheid sluit ook tugtiging in. Wanneer probleme opduik, lyk dit miskien makliker om hulle te ignoreer. Maar as daar net getug word wanneer die vader ergerlik raak of as probleme net aandag kry wanneer hulle ernstige afmetings aanneem, skort daar iets. Spreuke 13:24 sê: ‘Die vader wat sy seun liefhet, besoek hom met tugtiging.’ ’n Liefdevolle vader dissiplineer dus konsekwent. Hy verduidelik dinge geduldig aan sy kinders en neem die verstandelike, emosionele en fisiese beperkinge van elkeen in ag (Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21). Het jy, indien jy ’n vader is, sulke liefde vir jou kinders? Is jy bereid om hierdie verantwoordelikheid na te kom, nie alleen met die teenswoordige welsyn van jou gesin in gedagte nie, maar ook hulle toekomstige welsyn?—Spreuke 23:13, 14; 29:17.
23. Hoe kan ’n moeder tot die geestelike welsyn van haar gesin bydra?
23 ’n Vrou kan ook ’n groot bydrae in die gesin lewer. Haar samewerking met haar man en die verstandige gebruik van haar tyd om haar kinders se lewe op ’n godvrugtige wyse te vorm, word gewoonlik deur die gedrag en gesindheid van die kinders weerspieël (Spreuke 29:15). Selfs waar daar geen vader in die huis is nie, werp sorgvuldige onderrigting in die Bybel tesame met ’n goeie voorbeeld goeie vrugte af.
24. (a) Watter geskil moet die gelowige in gedagte hou wanneer daar teenstand van ’n huweliksmaat ondervind word? (b) Hoe sal daar onder sulke omstandighede liefde aan die ongelowige huweliksmaat getoon word?
24 Maar gestel ’n vader in die huis neem nie God se Woord aan nie of vervolg selfs sy vrou. Wat staan haar te doen? As sy Jehovah liefhet, sal sy Hom beslis nie die rug toekeer nie. Dit is Satan wat die aantyging gemaak het dat mense God sou verlaat as hulle aan ontberinge onderwerp word. Sy wil sekerlik nie na Satan se pype dans nie (Job 2:1-5; Spreuke 27:11). Die Bybel spoor haar terselfdertyd aan om haar vir die blywende welsyn van haar man te beywer. As sy prysgee wat sy weet die waarheid is, sal dit beteken dat hulle albei die ewige lewe verloor. Maar as sy vasstaan in haar geloof, kan sy hom dalk help om gered te word (1 Korinthiërs 7:10-16; 1 Petrus 3:1, 2). En deur voortdurend haar huweliksgeloftes na te kom, selfs wanneer dit moeilik is, toon sy haar diepe eerbied vir die Insteller van die huwelik, Jehovah God.
25. Hoe raak die besluit van die ouer die lewensvooruitsigte van die kinders?
25 Nog ’n kragtige rede waarom ’n gelowige ouer lojaal aan God moet wees wanneer teenstand ondervind word, is die kinders. God bied die versekering dat die jong kindertjies van sy toegewyde knegte deur die komende “groot verdrukking” bewaar sal word. Selfs al is net een ouer ’n kneg van Jehovah, beskou Hy sulke jong kindertjies as “heilig” (1 Korinthiërs 7:14). Maar gestel die ouer het ‘verskonings gemaak’ om nie God se wil te doen nie. Wat dan? So ’n ouer sal nie net sy of haar goedgekeurde posisie voor God prysgee nie, maar ook dié van die jong kinders (Hebreërs 12:25, vgl. NW). Wat ’n tragiese verlies sal dit tog nie wees nie!
26. Wat moet ons doen om onsself en ander werklik tot voordeel te strek?
26 Dit maak nie saak na watter aspek van die lewe ons kyk nie, dit is duidelik dat ons nie net onsself in ag moet neem nie, maar ook ander. Ons sal liefde ontvang as ons ’n gewoonte daarvan maak om liefde aan ander te bewys (Lukas 6:38). Maar om ware liefde te betoon en nie deur kortsigtige mensedenke mislei te word nie, moet ons Jehovah ken en ’n goeie verhouding met hom geniet. Om dit te doen, is daar egter ’n keuse wat ons persoonlik moet doen.
[Prent op bladsy 171]
Die soort liefde wat Jehovah se knegte moet hê, verplig hulle om ware besorgdheid oor ander te toon ongeag ras, nasionaliteit of stand