Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 6/1 bl. 7-12
  • Jehovah—’n God wat geheime openbaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah—’n God wat geheime openbaar
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Almagtig maar liefdevol
  • Behoorlike eerbied vir die instrumente wat Jehovah gebruik
  • Openlikheid of geheimhouding?
  • Moet jy praat of stilbly?
  • ’n Geheim wat Christene nie durf bewaar nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Neem kennis van God in—Hoe?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • “God se wysheid, wat ’n heilige geheim is”
    Kom nader aan Jehovah
  • Die slang word ontmasker
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 6/1 bl. 7-12

Jehovah—’n God wat geheime openbaar

“Daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar.”—DANIËL 2:28.

1, 2. (a) Hoe verskil Jehovah van sy groot Teenstander? (b) Hoe weerspieël mense hierdie verskil?

JEHOVAH, die allerhoogste en liefdevolle God van die heelal, die enigste Skepper, is ’n God van wysheid en geregtigheid. Dit is nie vir hom nodig om sy identiteit, sy bedrywighede of sy voornemens te verberg nie. Hy openbaar hom op sy tyd en na sy goeddunke. Op hierdie manier verskil hy van sy Teenstander, Satan die Duiwel, wat sy ware identiteit en oogmerke probeer verberg.

2 Net soos Jehovah en Satan geheel en al van mekaar verskil, geld dieselfde ook vir diegene wat hulle aanbid. Dié wat Satan as hulle leier het, word deur geveinsdheid en bedrog gekenmerk. Hulle probeer om hulleself in ’n goeie lig te stel terwyl hulle werke doen wat tot die duisternis behoort. Daar is vir die Christene in Korinte gesê om nie oor hierdie feit verbaas te wees nie. “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike werkers, wat hulleself in apostels van Christus verander. En geen wonder nie, want Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander” (2 Korintiërs 11:13, 14). Christene vertrou daarenteen op Christus as hulle Leier. Terwyl hy op die aarde was, het hy die persoonlikheid van sy Vader, Jehovah God, volmaak weerspieël (Hebreërs 1:1-3). Deur Christus na te volg, is Christene dus besig om Jehovah, die God van waarheid, openlikheid en lig, na te volg. Dit is ook nie vir hulle nodig om hulle identiteit, hulle bedrywighede of hulle voornemens te verberg nie.—Efesiërs 4:17-19; 5:1, 2.

3. Hoe kan ons die aanklag weerlê dat mense wat Jehovah se Getuies word, gedwing word om by ’n “geheime sekte” aan te sluit?

3 By tye wanneer dit na Jehovah se wete die beste is, openbaar hy besonderhede omtrent sy voornemens en omtrent die toekoms waarmee mense voorheen onbekend was. In hierdie sin is hy ’n God wat geheime openbaar. Mense wat hom wil dien, word dus genooi—ja, aangespoor—om vertroud te raak met hierdie geopenbaarde inligting. ’n Opname wat in 1994 onder meer as 145 000 Getuies in ’n Europese land gedoen is, het getoon dat elkeen van hulle gemiddeld drie jaar lank die leringe van Jehovah se Getuies persoonlik ondersoek het voordat hulle besluit het om ’n Getuie te word. Hulle het die besluit uit vrye wil en sonder dwang geneem. En hulle het nog steeds wilsvryheid en vryheid van optrede. ’n Paar het byvoorbeeld later besluit dat hulle nie meer Getuies wil wees nie, omdat hulle hulle nie meer wou onderwerp aan die hoë sedelike standaarde vir Christene nie. Dit is egter interessant dat ’n groot persentasie van hierdie voormalige Getuies gedurende die laaste vyf jaar stappe gedoen het om weer met die Getuies om te gaan en saam met hulle te werk.

4. Wat moet getroue Christene nie verontrus nie, en waarom nie?

4 Nie alle voormalige Getuies kom natuurlik terug nie, en onder hulle is daar party wat eens verantwoordelike posisies in die Christengemeente gehad het. Dit behoort ons nie te verbaas nie, want selfs een van Jesus se intiemste volgelinge, die apostel Judas, het afgedwaal (Matteus 26:14-16, 20-25). Maar is dit ’n rede om oor die Christelike godsdiens as sodanig verontrus te wees? Kanselleer dit die sukses wat Jehovah se Getuies het wanneer hulle hulle onderrigtingsbedrywighede uitvoer? Glad nie, net so min soos die verraderlike optrede van Judas Iskariot die uitwerking van God se voornemens gekniehalter het.

Almagtig maar liefdevol

5. Hoe weet ons dat Jehovah en Jesus mense liefhet, en hoe het hulle hierdie liefde betoon?

5 Jehovah is ’n God van liefde. Hy is besorg oor mense (1 Johannes 4:7-11). Ondanks sy verhewe posisie skep hy behae daarin om vriendskappe met mense te sluit. Ons lees van een van sy eertydse knegte: “‘Abraham het geloof in Jehovah gestel, en dit is hom as regverdigheid toegereken’, en hy is ‘Jehovah se vriend’ genoem” (Jakobus 2:23; 2 Kronieke 20:7; Jesaja 41:8). Net soos mense wat vriende is vertroulike dinge, of geheime, vir mekaar vertel, doen Jehovah dit ook met sy vriende. In hierdie opsig het Jesus sy Vader nagevolg, want hy het vriendskapsbande met sy dissipels gesmee en het geheime met hulle gedeel. “Ek noem julle nie meer slawe nie”, het hy vir hulle gesê, “omdat ’n slaaf nie weet wat sy heer doen nie. Maar ek het julle vriende genoem, omdat ek alles wat ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15). Die vertroulike inligting, of “geheime” wat Jehovah, sy Seun en hulle vriende met mekaar gemeen het, verenig hulle in ’n onverbreeklike band van liefde en toegewydheid.—Kolossense 3:14.

6. Waarom het Jehovah nie nodig om sy oogmerke te verberg nie?

6 Die betekenis van die naam Jehovah, “Hy laat word”, dui op sy vermoë om te word wat ook al nodig is om sy voorneme te volbring. Anders as mense het Jehovah nie nodig om sy oogmerke te verberg omdat hy vrees dat ander hom kan verhinder om dit uit te voer nie. Hy kan eenvoudig nie misluk nie, en daarom openbaar hy baie dinge wat hy van voorneme is om te doen openlik in sy Woord, die Bybel. Hy belowe: “My woord . . . sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jesaja 55:11.

7. (a) Wat het Jehovah in Eden voorspel, en hoe het Satan bewys dat God waaragtig is? (b) In watter sin geld die beginsel in 2 Korintiërs 13:8 altyd?

7 Kort ná die opstand in Eden het Jehovah in breë trekke die finale gevolg van die geskil tussen hom en sy Teenstander, Satan, geopenbaar. God se beloofde Saad sou pynlik, maar nie noodlottig nie, gewond word, terwyl Satan op die ou end vermorsel sal word (Genesis 3:15). In 33 G.J. het die Duiwel wel die Saad, Christus Jesus, gewond deur sy dood teweeg te bring. Op hierdie manier het Satan die Skrif vervul en sodoende bewys dat Jehovah ’n God van waarheid is, hoewel dit ongetwyfeld nie Satan se bedoeling was nie. Die feit dat hy waarheid en regverdigheid haat, asook sy trotse, onberouvolle gesindheid het daartoe gelei dat hy presies gedoen het wat God voorspel het hy sou doen. Ja, vir alle teenstanders van waarheid, selfs vir Satan, geld die beginsel: “Ons kan niks teen die waarheid doen nie, maar net vir die waarheid.”—2 Korintiërs 13:8.

8, 9. (a) Wat weet Satan, maar stel hierdie kennis die uitvoering van Jehovah se voornemens in gevaar? (b) Watter duidelike waarskuwing verontagsaam teenstanders van Jehovah, en waarom?

8 Sedert God se Koninkryk in 1914 onsigbaar vir mense opgerig is, is Openbaring 12:12 van toepassing: “Wees om dié rede bly, o hemele en julle wat daarin woon! Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het.” Maar het die wete dat sy tyd kort is, gemaak dat Satan ’n ander weg inslaan? Dit sou ’n erkenning deur Satan wees dat Jehovah ’n God van waarheid is en dat hy as die Opperheerser alleen aanbidding waardig is. Die Duiwel is egter nie bereid om die stryd gewonne te gee nie, selfs ondanks die kennis wat hy het.

9 Jehovah openbaar openlik wat sal gebeur wanneer Christus kom om oordeel te vel oor Satan se wêreldstelsel (Matteus 24:29-31; 25:31-46). In verband hiermee sê sy Woord oor wêreldheersers: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan gaan skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou” (1 Tessalonisense 5:3). Diegene wat Satan se leiding volg, verontagsaam hierdie duidelike waarskuwing. Hulle word verblind weens hulle goddelose harte, en dit verhoed dat hulle berou het oor hulle goddelose weg en afsien van hulle planne en taktiek wat Jehovah se voornemens probeer verydel.

10. (a) In watter mate is 1 Tessalonisense 5:3 dalk vervul, maar hoe moet Jehovah se volk daarop reageer? (b) Waarom sal ongelowiges dalk in die toekoms aggressiewer raak in hulle teenstand van God se volk?

10 Veral sedert 1986, toe ’n Internasionale Jaar van Vrede deur die Verenigde Nasies aangekondig is, is daar wêreldwyd veel oor vrede en veiligheid gepraat. Daadwerklike stappe is gedoen om wêreldvrede te probeer bewerkstellig, en dit lyk of hulle ’n mate van sukses behaal. Is dit die volledige vervulling van hierdie profesie of kan ons die een of ander opsienbarende aankondiging in die toekoms verwag? Jehovah sal daardie saak op sy bestemde tyd opklaar. Laat ons intussen geestelik wakker bly, “terwyl [ons] die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou” (2 Petrus 3:12). Namate meer tyd verloop en daar nog meer oor vrede en veiligheid gepraat word, sal party individue wat van hierdie waarskuwing bewus is, maar besluit om dit te verontagsaam, dalk meer vermetel word in hulle veronderstelling dat Jehovah nie sy woord sal, of kan, vervul nie. (Vergelyk Prediker 8:11-13; 2 Petrus 3:3, 4.) Maar ware Christene weet dat Jehovah sy voorneme sal uitvoer!

Behoorlike eerbied vir die instrumente wat Jehovah gebruik

11. Wat het Daniël en Josef aangaande Jehovah geleer?

11 Toe koning Nebukadnesar, heerser van die Neo-Babiloniese Ryk, ’n kwellende droom gehad het wat hy nie kon onthou nie, het hy hulp gevra. Sy priesters, besweerders en towenaars kon nie vir hom sê wat sy droom was of wat dit beteken het nie. Maar God se kneg Daniël kon dit doen, al het hy geredelik erken dat die openbaring van die droom en die betekenis daarvan nie aan sy eie wysheid toe te skryf was nie. Daniël het gesê: “Daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur” (Daniël 2:1-30). Etlike eeue tevore het Josef, ’n ander profeet van God, insgelyks ondervind dat Jehovah die Een is wat geheime openbaar.—Genesis 40:8-22; Amos 3:7, 8.

12, 13. (a) Wie was God se grootste profeet, en waarom antwoord jy so? (b) Wie dien vandag as “bestuurders van heilige geheime van God”, en hoe moet ons hulle beskou?

12 Jehovah se grootste profeet wat op die aarde gedien het, was Jesus (Handelinge 3:19-24). Paulus het verduidelik: “God, wat lank gelede by baie geleenthede en op baie maniere met ons voorvaders gespreek het deur middel van die profete, het aan die einde van hierdie dae met ons gespreek deur middel van ’n Seun, wat hy as erfgenaam van alle dinge aangestel het en deur wie hy die stelsels van dinge gemaak het.”—Hebreërs 1:1, 2.

13 Jehovah het met die vroeë Christene gepraat deur middel van sy Seun, Jesus, wat Goddelike geheime aan hulle bekend gemaak het. Jesus het vir hulle gesê: “Aan julle word dit gegee om die heilige geheime van die koninkryk van God te verstaan” (Lukas 8:10). Paulus het later van gesalfde Christene as “ondergeskiktes van Christus en bestuurders van heilige geheime van God” gepraat (1 Korintiërs 4:1). Vandag dien gesalfde Christene nog steeds as sodanig en vorm ’n “getroue en verstandige slaaf”-klas wat deur sy Bestuursliggaam geestelike voedsel op die regte tyd voorsien (Matteus 24:45-47). As ons hoë agting vir God se geïnspireerde profete van die verlede en veral vir God se Seun het, moet ons dan nie ook eerbied hê vir die menslike instrument wat Jehovah vandag gebruik om Bybelse inligting te openbaar wat sy volk so nodig het in hierdie kritieke tye nie?—2 Timoteus 3:1-5, 13.

Openlikheid of geheimhouding?

14. Wanneer voer Christene hulle bedrywighede in die geheim uit, en wie se voorbeeld volg hulle sodoende?

14 Beteken die openlikheid waarmee Jehovah dinge openbaar dat Christene altyd en in alle omstandighede alles wat hulle weet bekend moet maak? Wel, Christene volg Jesus se raad aan sy apostels om “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” te wees (Matteus 10:16). As daar vir Christene gesê word dat hulle God nie mag dien soos hulle gewete van hulle vereis nie, gaan hulle voort om ‘God gehoorsaam te wees’, want hulle besef dat geen menslike instelling die reg het om die aanbidding van Jehovah te beperk nie (Handelinge 5:29). Jesus self het getoon dat dit geoorloof is. Ons lees: “En ná hierdie dinge het Jesus in Galilea bly rondgaan, want hy wou nie in Judea rondgaan nie, omdat die Jode hom probeer doodmaak het. Die fees van die Jode, die loofhuttefees, was egter naby. Daarom het Jesus vir hulle [sy ongelowige vleeslike broers] gesê: . . . ‘Gaan julle op na die fees; ek gaan nog nie na hierdie fees op nie, omdat my bestemde tyd nog nie heeltemal gekom het nie.’ Nadat hy dan hierdie dinge vir hulle gesê het, het hy in Galilea gebly. Maar nadat sy broers na die fees opgegaan het, het hy vervolgens self ook opgegaan, nie openlik nie maar asof in die geheim.”—Johannes 7:1, 2, 6, 8-10.

Moet jy praat of stilbly?

15. Hoe het Josef getoon dat ’n mens soms die liefdevolle ding doen as jy iets geheim hou?

15 In party gevalle is dit nie alleen verstandig nie maar ook liefdevol om ’n saak vertroulik te hou. Hoe het Josef, die pleegvader van Jesus, byvoorbeeld gereageer toe hy uitgevind het dat sy verloofde, Maria, swanger was? Ons lees: “Josef, haar man, was egter van plan om in die geheim van haar te skei, omdat hy regverdig was en haar nie in die openbaar tot skande wou maak nie” (Matteus 1:18, 19). Hoe hardvogtig sou dit tog gewees het om haar in die openbaar tot skande te maak!

16. Watter verantwoordelikheid het ouer manne, asook alle ander gemeentelede, wat vertroulike sake betref?

16 Vertroulike sake wat verleentheid of leed tot gevolg kan hê, moet nie aan ongemagtigde mense vertel word nie. Christen- ouer manne hou dit in gedagte wanneer hulle persoonlike raad of vertroosting aan mede-Christene moet gee of hulle moontlik selfs moet dissiplineer omdat hulle ernstig teen Jehovah gesondig het. Dit is noodsaaklik dat sulke sake op ’n skriftuurlike manier hanteer word; dit is onnodig en liefdeloos om vertroulike besonderhede aan diegene wat nie betrokke is nie te vertel. Lede van die Christengemeente sal beslis nie vertroulike inligting by ouer manne probeer uitvind nie, maar sal die ouer manne se verantwoordelikheid respekteer om vertroulike sake geheim te hou. Spreuke 25:9 sê: “Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar ’n ander se geheim nie.”

17. Waarom hou Christene in die meeste gevalle vertroulike sake geheim, maar waarom kan hulle dit nie altyd doen nie?

17 Hierdie beginsel geld ook binne die gesinskring of tussen goeie vriende. Party dinge moet vertroulik gehou word om misverstande en gespanne verhoudings te vermy. “Die wind uit die noorde bring soos met geboortepyne ’n stortreën voort; en ’n tong wat ’n geheim verklap, ’n openlik veroordeelde gesig” (Spreuke 25:23, NW). Lojaliteit teenoor Jehovah en sy regverdige beginsels, sowel as liefde vir persone wat gesondig het, maak dit moontlik soms nodig om ouers, Christen- ouer manne of ander gemagtigde persone selfs van vertroulike sake te vertel.a Maar in die meeste gevalle hou Christene die persoonlike geheime van ander vertroulik, en hulle bewaar dit asof dit hulle eie is.

18. Watter drie Christelike eienskappe kan ons help om te bepaal wat ons moet oorvertel en wat nie?

18 Ter opsomming, ’n Christen volg Jehovah na deur sekere sake vertroulik te hou wanneer dit nodig is en dit alleenlik te openbaar wanneer dit gepas is. Wanneer hy besluit wat hy moet oorvertel en wat nie, word hy deur nederigheid, geloof en liefde gerig. Nederigheid verhinder dat hy sy eie belangrikheid oordryf en ander probeer beïndruk deur hulle alles te vertel wat hy weet of hulle afgunstig te probeer maak met geheime wat hy nie kan vertel nie. Geloof in Jehovah se Woord en die Christengemeente beweeg hom om Bybelse inligting wat deur God voorsien is te verkondig en om terselfdertyd versigtig te wees dat hy nie dinge sê wat ander uit die staanspoor aanstoot sal gee nie. Ja, liefde beweeg hom om openlik dinge te vertel wat God verheerlik en wat mense moet weet om lewe te verkry. Hy bewaar daarenteen vertroulike persoonlike sake, want hy weet dat dit in die meeste gevalle op ’n gebrek aan liefde sou neerkom as hy dit bekend sou maak.

19. Watter handelswyse help om ware Christene uit te ken, en waartoe lei dit?

19 Hierdie gebalanseerde benadering help om ware Christene uit te ken. Hulle verberg nie God se identiteit onder ’n masker van naamloosheid of onder ’n geheimsinnige, onverklaarbare Drie-eenheidsleerstelling nie. Onbekende gode is kenmerkend van valse godsdiens, nie van die ware godsdiens nie. (Sien Handelinge 17:22, 23.) Jehovah se gesalfde Getuies waardeer waarlik die voorreg om “bestuurders van heilige geheime van God” te wees. Deur hierdie geheime openlik aan ander te openbaar, help hulle opregtes van hart om nader aan Jehovah te kom sodat hulle sy vriendskap kan soek.—1 Korintiërs 4:1; 14:22-25; Sagaria 8:23; Maleagi 3:18.

[Voetnoot]

a Sien “Moenie deel hê aan die sondes van ander nie” in Die Wagtoring van 15 November 1985.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Waarom het Jehovah nie nodig om sy oogmerke te verberg nie?

◻ Aan wie openbaar Jehovah sy geheime?

◻ Watter verantwoordelikheid het Christene wat vertroulike sake betref?

◻ Watter drie eienskappe sal Christene help om te weet wat om oor te vertel en wat nie?

[Prente op bladsy 8, 9]

Jehovah openbaar geheime deur sy Woord

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel