’n Lewe waaroor ek nog nooit spyt was nie
SOOS VERTEL DEUR PAUL OBRIST
In 1912, toe ek ses was, het my ma gesterf terwyl sy aan haar vyfde kind geboorte gegee het. Omtrent twee jaar later het ’n jong huishoudster, Berta Weibel, na ons gesin begin omsien. Toe my pa die daaropvolgende jaar met haar trou, was ons as kinders bly om weer ’n ma te hê.
ONS het in Brugg, ’n dorpie in die Duitssprekende deel van Switserland, gewoon. Berta was waarlik ’n Christelike mens, en ek het baie van haar gehou. Sy het die publikasies van die Bybelstudente (Jehovah se Getuies) in 1908 begin studeer, en sy het vir ander vertel wat sy geleer het.
In 1915, kort nadat Berta en my pa getroud is, het ek saam met haar na ’n vertoning van die “Fotodrama van die Skepping” gegaan. Hierdie skyfie- en rolprentvertoning van die Internasionale Vereniging van Ernstige Bybelstudente het ’n diep indruk op my verstand en hart gelaat. Ander was ook beïndruk. Die saal in Brugg was so vol dat die polisie die deure toegemaak en dié wat nog gekom het, weggestuur het. Baie het toe probeer om met behulp van ’n leer deur ’n oop venster in te kom, en ’n paar het daarin geslaag.
My ma se goeie voorbeeld
Die Eerste Wêreldoorlog het toe in Europa gewoed, en mense het die toekoms gevrees. Dit was dus ’n edelmoedige taak om van huis tot huis te gaan met die vertroostende boodskap van God se Koninkryk, soos my ma gedoen het. Soms het sy my saam met haar laat gaan, en ek het dit baie geniet. In 1918 kon my ma uiteindelik haar toewyding aan Jehovah God deur waterdoop simboliseer.
Tot my ma se doop toe het my pa nie met haar aanbidding ingemeng nie, maar daarna het hy haar begin teëstaan. Eendag het hy haar Bybellektuur gegryp en dit in die stoof gegooi. My ma kon net haar Bybel uit die vuur red. Maar wat sy daarna gedoen het, was verstommend. Sy het na my pa toe gegaan en hom omhels. Sy het geen wrok teen hom gekoester nie.
My pa was heeltemal uit die veld geslaan en het afgekoel. Sy teenstand het egter van tyd tot tyd opgevlam, en ons moes maar sy uitbarstings verduur.
Werk en geestelike vooruitgang
In 1924, nadat ek ’n vakleerlingskap van drie jaar as ’n haarkapper voltooi het, het ek die huis verlaat en werk in die Franssprekende deel van Switserland gekry. Dit het my die geleentheid gebied om my kennis van Frans uit te brei. Hoewel my geestelike vooruitgang ietwat belemmer is deur my verhuising, het ek nooit my liefde vir Bybelwaarheid verloor nie. Toe ek dus ses jaar later terug huis toe gegaan het, het ek die vergaderinge van die Christengemeente in Brugg begin bywoon.
Kort daarna het ek na Rheinfelden, ’n dorpie omtrent 40 kilometer daarvandaan, verhuis. Ek het daar in my suster se haarsalon gewerk en geestelik bly vorder deur saam met ’n groepie Bybelstudente te vergader. Toe broer Soder, die ouer man wat die leiding geneem het, ons middelweekse Bybelstudie eendag afgesluit het, het hy gevra: “Wie beplan om Sondag aan die veldbediening deel te neem?” Ek het aangebied, want ek het aangeneem dat ek iemand sou vergesel en gewys sou word hoe om die werk te doen.
Toe Sondag aanbreek en ons ons gebied bereik, het broer Soder gesê: “Mnr. Obrist sal dáár werk.” Hoewel my hart vinniger as ooit geklop het, het ek mense in hulle huise begin besoek en met hulle oor God se Koninkryk gepraat (Handelinge 20:20). Van toe af het ek nooit gehuiwer om die predikingswerk te doen wat Jesus gesê het gedoen moes word voor die einde van hierdie stelsel van dinge sou aanbreek nie (Matteus 24:14). Op 4 Maart 1934, toe ek 28 jaar oud was, het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer.
Twee jaar later het ek werk gekry as haarkapper in Lugano, ’n stad in die Italiaanssprekende deel van Switserland. Ek het onmiddellik die goeie nuus daar begin verkondig, al het ek nie veel Italiaans geken nie. Gedurende my eerste Sondag in die bediening het ek nietemin die 20 boekies versprei wat ek saamgeneem het. Mettertyd was ek in staat om ’n paar belangstellendes in ’n groep te organiseer om Die Wagtoring te studeer. Later is ’n paar van hulle gedoop, en in Februarie 1937 het ons ’n gemeente van Jehovah se Getuies in Lugano gestig.
Twee maande later, in April 1937, het ek ’n brief ontvang wat my lewe dramaties verander het. Dit was ’n uitnodiging om by Bethel te dien, soos die takkantore van Jehovah se Getuies in ’n land genoem word. Ek het die uitnodiging onmiddellik aanvaar—’n besluit waaroor ek nog nooit spyt was nie. Só het ek dan begin met wat ’n 60 jaar lange loopbaan in die voltydse bediening geword het.
Betheldiens in moeilike tye
Destyds was die Switserse Bethel in die stad Bern, die hoofstad van Switserland, geleë. Daar het ons boeke, boekies en tydskrifte in 14 tale gedruk, en dit is na plekke regoor Europa versend. Soms het ek die gedrukte lektuur met ’n kruiwa na die spoorwegstasie geneem, aangesien ons in daardie dae nie altyd ’n voertuig tot ons beskikking gehad het nie. My eerste toewysing by Bethel was in die Setwerkafdeling, waar ons die loodletters gerangskik het waarmee die drukwerk gedoen is. Kort daarna het ek by die ontvangstoonbank begin werk, en ek het natuurlik ook as die haarkapper vir die Bethelgesin gedien.
In September 1939 het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, en die Nazi-aanvalle het vrees deur die hele Europa laat versprei. Switserland was ’n neutrale land in die middel van die strydende nasies. Aanvanklik het ons ons Christelike bedrywighede sonder hindernis voortgesit. Toe, op 5 Julie 1940 om twee-uur die middag, terwyl ek by my lessenaar in die voorportaal gesit het, het ’n burgerlike daar ingekom, vergesel van ’n soldaat wat ’n geweer met gevelde bajonet gedra het.
“Waar is Zürcher?” het die burgerlike hard uitgeroep. Franz Zürcher was op daardie stadium die takopsiener van ons predikingswerk in Switserland.
“Wie sal ek sê, is hier?” het ek gevra. Hulle het my op die daad gegryp en my met die trap opgesleep en geëis dat ek hulle na Zürcher se kantoor neem.
Die hele Bethelgesin—ons was destyds omtrent 40—is beveel om in die eetsaal bymekaar te kom. Vier masjiengewere is buite die gebou opgestel om persone wat wou probeer ontsnap te ontmoedig. Binne het ongeveer 50 soldate die gebou begin deursoek. Teen die verwagting is geen bewyse gevind dat Jehovah se Getuies verset teen krygsdiens bevorder nie. Nogtans is daar op baie lektuur beslag gelê, en dit is in vyf militêre voertuie weggeneem.
Toe ons nie wou toelaat dat Die Wagtoring deur die regeringsowerheid aan sensuur onderwerp word nie, is dit nie meer in Switserland gedruk nie. Dit het beteken dat minder mense nodig was om by Bethel te werk, en jonger lede van die gesin is aangemoedig om pioniers te word, soos Jehovah se Getuies genoem word wat aan die voltydse predikingswerk deelneem.
Pionierdiens tydens die oorlog
In Julie 1940 het ek teruggekeer na die Italiaanssprekende deel van Switserland naby Lugano, waar ek gewoon het voor ek Bethel toe gegaan het. Hierdie gebied met sy stoere Katolieke wat op daardie stadium ook onder die sterk invloed van Fascisme was, het my pioniertoewysing geword.
Daar het selde ’n dag verbygegaan sonder dat die polisie my voorgekeer en geëis het dat ek my predikingswerk staak. Terwyl ek eendag met ’n vrou by ’n tuinhekkie gesels het, het ’n man in burgerdrag my van agter af gegryp, my na ’n polisiemotor gelei en my na Lugano geneem. Daar het hy my aan die polisie oorgelewer. Toe ek ondervra is, het ek verduidelik dat Jehovah God ons beveel het om te getuig.
“Hier op aarde, gee ons bevele”, het die beampte op aanmatigende wyse geantwoord. “God kan in die hemel bevele gee!”
Gedurende die oorlog was dit veral noodsaaklik dat ons Jesus se raad gehoorsaam om “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” te wees (Matteus 10:16). Ek het dus die meeste van my lektuur in die binnesakke van my hemp weggesteek. En om seker te maak dat ek niks verloor nie, het ek kniebroeke gedra wat styf onder die knie vasgegespe was.
Ná verloop van tyd het ek instruksies ontvang om na die Engadinvallei te verhuis, waar die kat-en-muis-speletjie met die polisie voortgegaan het. Dit is ’n pragtige vallei in die oostelike deel van die Switserse Alpe, wat in die winter onder hope sneeu begrawe lê; ek het dus my ski’s hierheen laat aanstuur om my te help om in die gebied rond te beweeg.
Warm handskoene is noodsaaklik wanneer ’n mens gedurende ’n koue winter op ski’s beweeg. Weens voortdurende gebruik het myne spoedig begin verslyt. Hoe dankbaar was ek tog toe ek eendag ’n totaal onverwagte pakkie deur die pos ontvang het met ’n handgebreide oortrektrui sowel as warm handskoene! ’n Christensuster in my vorige gemeente in Bern het dit vir my gemaak. Selfs nou nog wanneer ek daaraan dink, word ek met dankbaarheid gevul.
Talle vreugdevolle voorregte
In 1943 het toestande in Switserland begin stabiliseer, en ek is teruggeroep om by Bethel te dien. Weens sekere probleme in die Franssprekende gemeente in Lausanne, wat omtrent 100 kilometer daarvandaan was, is ek gevra om daardie stad gereeld te besoek om die verkondigers te help om die regte beskouing van God se organisasie te kry.
Later het ek ’n ruk lank as kringopsiener vir al die Franse gemeentes in Switserland gedien. Vroeg in die week het ek by Bethel gewerk, maar Vrydae, Saterdae en Sondae het ek elke week ’n ander gemeente besoek om geestelike hulp te probeer verleen. Toe ’n Franssprekende gemeente in 1960 in Bern gestig is, het ek die presiderende opsiener geword. Ek het tot 1970 in hierdie hoedanigheid gedien, toe Bethel van Bern na sy huidige pragtige terrein in die stad Thun verskuif is.
Ek was verheug om ’n groepie Italiaanssprekende Getuies in Thun te vind, en ek het saam met hulle begin werk. Mettertyd is ’n gemeente gestig, en ek het etlike jare as die presiderende opsiener gedien totdat jonger broers bekwaam geword het om daardie verantwoordelikheid te dra.
Die bywoning van internasionale byeenkomste van Jehovah se volk is iets wat ek veral as ’n vreugdevolle voorreg beskou het. In 1950 was daar byvoorbeeld die onvergeetlike “Teokrasie se vermeerdering”-byeenkoms by Yankee-stadion, New York. My besoek aan die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, het ’n blywende indruk op my gelaat. Ek sal ook altyd broer Milton G. Henschel se toespraak die volgende jaar by die “Rein aanbidding”-byeenkoms in Londen, Engeland, onthou toe hy die aandag op Jesus se woorde gevestig het: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep” (Lukas 19:40). Broer Henschel het gevra: “Dink julle dat die klippe sal moet uitroep?” Ek kan nog steeds die dawerende “Nee!” wat van die tienduisende stemme gekom het in my ore hoor weergalm.
Toe ek in 1937 terug Bethel toe gegaan het, het my pa, wat uitgevind het dat ons net ’n klein toelae ontvang, ewe bekommerd gevra: “Seun, hoe gaan jy op jou oudag aan die lewe bly?” Ek het geantwoord deur die psalmis Dawid se woorde aan te haal: “Nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25). Hierdie woorde is beslis in my geval vervul.
Hoe bly is ek tog dat Berta Weibel 80 jaar gelede met my pa getrou het en dat ek deur middel van haar voorbeeld en leiding Jehovah en sy eienskappe leer ken het! Hoewel ander familielede haar bespot het, het sy Jehovah getrou gedien tot haar dood in 1983. Sy het nooit te kenne gegee dat sy spyt was omdat sy haar God, Jehovah, gedien het nie; en ek was ook nog nooit spyt dat ek ongetroud gebly en my lewe volkome aan Jehovah se diens gewy het nie.
[Prent op bladsy 25]
Werk by Bethel