Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 11/1 bl. 25-29
  • ‘Jehovah is my God op wie ek sal vertrou’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Jehovah is my God op wie ek sal vertrou’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My ouers se voorbeeld van ywer
  • Vader se verstandige vermaning
  • ’n Boodskap uit die hemel!
  • Dankbaar vir elke diensvoorreg
  • Steeds bedrywig gedurende die oorlogsjare
  • ’n Besoek met onverwagte resultate
  • Volharding ondanks probleme
  • Broer Knorr keer terug
  • Nog verrassings
  • Terugblik
  • ’n Lewe waaroor ek nog nooit spyt was nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Betheldiens—Meer vrywilligers is nodig
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Die voltydse bediening​—⁠Die seëninge wat dit vir my meegebring het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 11/1 bl. 25-29

‘Jehovah is my God op wie ek sal vertrou’

SOOS VERTEL DEUR WILLI DIEHL

“Waarom wil jy Bethel toe gaan?” Dit was my pa se vraag in die lente van 1931 toe ek hom vertel het dat ek in Bethel wou gaan dien. My ouers, wat in die Saarland gewoon het, was al sowat tien jaar lank in die waarheid, en hulle het ’n goeie voorbeeld vir ons drie seuns gestel. Hulle hele lewe het om die waarheid gedraai, en ek wou ook die waarheid my hele lewe maak.

MAAR hoe het my ouers van Jehovah en sy heilige wil geleer? Hulle was teleurgestel met georganiseerde godsdiens en het lank na die waarheid gesoek. Hulle het verskeie kerke en sektes probeer, maar het telkens ontdek dat dit nie die regte een was nie.

Op ’n dag het iemand ’n handbiljet, wat ’n toespraak oor God se voorneme geadverteer het, by ons deur gelaat. Dit het die titel “Photo-Drama of Creation” (“Fotodrama van die Skepping”) gehad en sou met behulp van skyfies en ’n rolprent aangebied word. Vader moes werk toe die “Fotodrama” aangebied is, maar hy het Moeder aangemoedig om te gaan. “Miskien”, het hy gesê, “sal dit tog die moeite werd wees.” Nadat sy dit daardie aand gesien het, was Moeder entoesiasties. “Uiteindelik het ek dit gevind!” het sy gesê. “Kom kyk self môreaand. Dit is die waarheid waarna ons nog altyd gesoek het.” Dit was in 1921.

My ouers, wat geesgesalfde Christene was, het getrou gebly tot hulle dood toe. Vader is in 1944 oorlede, nadat hy verskeie kere deur die Nazi’s gevange geneem is, en Moeder in 1970. Sy was ook lank in die tronk tydens die Nazi-bewind.

My ouers se voorbeeld van ywer

Voor hulle dood was my ouers baie bedrywig in die veldbediening. Moeder was veral ywerig in die verspreiding van die byeenkomsresolusies wat van 1922 tot 1928 vrygestel is. Ecclesiastics Indicted (Aanklag teen die Geestelikes), ’n resolusie wat in 1924 aangeneem is, het die geestelikes skerp gekritiseer. Dit het moed geverg om dit te versprei. Die verkondigers was reeds vieruur in die oggend op en besig om die traktate onder deure in te stoot. Al was ek net 12 het my ouers my toegelaat om ook deel te neem. Ons het dikwels vyfuur in die oggend al begin en het drie tot vier uur lank met fietse gery om afgeleë gebiede te bereik. Ons het die fietse in die bosse versteek, en ek het hulle opgepas terwyl die ander in die dorp gewerk het. In die middag het ons huis toe gery, en saans het ons ’n uur lank geloop om by die vergadering uit te kom.

Later is ’n jonger kind agtergelaat om die fietse op te pas, en ek het saam met die verkondigers gegaan. Maar niemand het daaraan gedink om my op te lei nie. Hulle het eenvoudig vir my gesê in watter straat ek moes werk! Met ’n bonsende hart het ek skoorvoetend na die eerste huis geloop en gehoop dat daar niemand tuis sou wees nie. Maar helaas, ’n man het die deur oopgemaak. Ek was stom van skrik. Ek het onhandig na die boek in my sak gewys. “Is dit een van regter Rutherford s’n?” het hy gevra. Ek het hom stotterend geantwoord. “Is dit ’n nuwe een wat ek nie het nie?” “Ja, dis nuut”, het ek gesê. “Dan moet ek dit kry. Hoeveel kos dit?” Dit het my die moed gegee om voort te gaan.

In 1924 het die grootmense baie oor 1925 gepraat. Eenkeer toe ons ’n gesin Bybelstudente besoek het, het ek een broer hoor vra: “As die Here ons wegneem, wat sal van ons kinders word?” Moeder, wat altyd positief was, het geantwoord: “Die Here sal weet hoe om vir hulle te sorg.” Die onderwerp het my verbeelding aangegryp. Wat het dit alles beteken? Die jaar 1925 het gekom en gegaan, en niks het gebeur nie. My ouers se ywer het egter nie afgeneem nie.

Vader se verstandige vermaning

Eindelik, in 1931, het ek vir my pa gesê wat ek met my lewe wou doen. “Waarom wil jy Bethel toe gaan?” het my pa gevra. “Omdat ek Jehovah wil dien”, het ek geantwoord. “Sê nou jy word vir Betheldiens aanvaar”, het hy voortgegaan. “Besef jy dat die broers daar nie engeltjies is nie? Hulle is onvolmaak en maak foute. Ek is bang dat dit jou dalk sal laat wegloop en dat jy selfs die geloof sal versaak. Jy moet beslis goed hieroor nadink.”

Ek was geskok om so iets te hoor, maar nadat ek ’n paar dae lank oor die saak nagedink het, het ek my begeerte om vir Betheldiens aansoek te doen herhaal. “Sê weer vir my waarom jy Bethel toe wil gaan”, het hy gesê. “Omdat ek Jehovah wil dien”, het ek herhaal. “My seun, moet dít nooit vergeet nie. As jy genooi word, onthou waarom jy gaan. Indien jy iets verkeerds opmerk, moenie jou te veel daaroor bekommer nie. Moenie wegloop nie, al word jy te na gekom. Moet nooit vergeet waarom jy by Bethel is nie: omdat jy Jehovah wil dien! Doen jy net jou werk en vertrou op hom.”

So het dit dan gekom dat ek vroeg die middag van 17 November 1931 by die Bethel in Bern, Switserland, aangekom het. Ek het ’n kamer met drie ander gedeel en in die drukkery gewerk waar ek geleer het om ’n klein handinlegpers te bedien. Een van die eerste dinge wat ek moes druk was Die Wagtoring in Roemeens.

’n Boodskap uit die hemel!

In 1933 het die Genootskap Die krisis uitgegee, ’n boekie met drie radiopraatjies wat broer Rutherford in die Verenigde State gehou het. Broer Harbeck, die takkneg, het die Bethelgesin een oggend by ontbyt ingelig dat die boekie op ’n bepaalde manier versprei sou word. Strooibiljette sou uit ’n klein gehuurde vliegtuig gegooi word terwyl dit oor Bern vlieg, en verkondigers sou die boekie op straat by die publiek aanbied. “Wie van julle jong broers is bereid om in die vliegtuig op te gaan?” het hy gevra. “Gee nou julle name op.” Ek het, en broer Harbeck het later aangekondig dat ek gekies is.

Op die groot dag het ons met houers vol strooibiljette lughawe toe gery. Ek het agter die vlieënier gaan sit en die strooibiljette langs my opgestapel. My uitdruklike opdrag was: Rol die strooibiljette in bondels van honderd op, en gooi elke bondel so hard as moontlik by die venster uit. As ek nie versigtig was nie, kon die biljette in die vliegtuig se stert verstrengel raak, en dit kon probleme skep. Maar alles het goed verloop. Broers het later opgemerk hoe opwindend dit was om hierdie ‘boodskap uit die hemel’ te sien neerdaal. Dit het die gewenste uitwerking gehad, en baie boekies is geplaas, al het party mense gebel om te kla dat hulle blombeddings vol strooibiljette was.

Dankbaar vir elke diensvoorreg

Ek het Jehovah elke dag gedank vir die vreugde en bevrediging van Betheldiens. In die gemeente was dit my werk om die Koninkryksaal oop te sluit, die stoele reg te sit en om ’n glas skoon water op die podium te plaas. Ek het dit as ’n groot eer beskou.

By Bethel het ek later op die groot platformpers gewerk wat gebruik is om The Golden Age (tans die Ontwaak!) in Pools te druk. In 1934 het ons begin om grammofone te gebruik, en ek het gehelp om hulle te bou. Ek het dit baie geniet om van huis tot huis te gaan met opnames van Bybeltoesprake. Baie huisbewoners was nuuskierig oor hierdie toestelletjie, en die hele gesin het dikwels vergader om te luister, maar het weer later een vir een verdwyn. Wanneer die hele gesin weg was, het ek eenvoudig verder gegaan.

Steeds bedrywig gedurende die oorlogsjare

Na die Eerste Wêreldoorlog is die Saarland, my geboorteland, van Duitsland afgeskei en onder beskerming van die Volkebond geregeer. Die Saarland het gevolglik sy eie identiteitsdokumente uitgegee. In 1935 is ’n volkstemming gehou om te bepaal of sy burgers met Duitsland herenig wou word. Ek het die geleentheid gebruik om my familie te besoek omdat ek besef het dat ek dit nie sou kon doen indien die Saarland onder Nazi-beheer sou kom nie. En ek het inderdaad daarna jare lank niks van my ouers of broers gehoor nie.

Hoewel Switserland regstreekse betrokkenheid by die Tweede Wêreldoorlog vrygespring het, is hy heeltemal geïsoleer toe Duitsland die een buurland na die ander beset het. Ons het lektuur vir die hele Europa buiten Duitsland gedruk, maar nou kon ons geen bestellings uitvoer nie. Broer Zürcher, wat destyds takkneg was, het vir ons gesê dat ons feitlik geen geld meer gehad het nie, en hy het ons genooi om werk buite Bethel te vind tot dinge weer normaal was. Ek kon egter aanbly aangesien daar ’n paar dinge was wat vir die sowat duisend plaaslike verkondigers gedruk moes word.

Die Bethelgesin sal 5 Julie 1940 nooit vergeet nie. Net na middagete het ’n militêre vragmotor daar aangekom. Soldate het uitgespring en by Bethel ingebars. Ons is beveel om stil te staan, en ons is elkeen persoonlik deur ’n gewapende soldaat bewaak. Ons is in die eetsaal ingebondel terwyl die res van die gebou deursoek is. Die owerheid het ons daarvan verdink dat ons ander aanraai om militêre diens te weier, maar hulle kon geen bewyse daarvoor vind nie.

Tydens die oorlogsjare was ek gemeentekneg in Thun en Frutigen. Dit het beteken dat my naweekprogram baie vol was. Elke Saterdag, net na middagete, het ek met my fiets 50 kilometer ver na Frutigen gery waar ek die aand die Wagtoring-studie gehou het. Sondagoggend het ek saam met die verkondigers in velddiens uitgegaan. Daarna het ek vroegmiddag afgesit na Interlaken om ’n Gemeentelike Boekstudie te lei, en later die middag het ek ’n Bybelstudie met ’n gesin in Spiez gehou. Om die dag af te rond, het ek die Wagtoring-studie in Thun gehou.

Laat snags, met al my take afgehandel, het ek met ’n tevrede gemoed sing-sing en fluit-fluit al die pad terug na Bern gery. Daar was maar min motors op die pad. Die heuwelagtige landskap, toegevou in oorlogsduisternis, was rustig en onversteurd en het net so nou en dan in die maanlig geglim. Hoe het daardie naweke tog my lewe verryk en my krag hernieu!

’n Besoek met onverwagte resultate

In die herfs van 1945 het broer Knorr ons besoek. Een dag het hy in die fabriek ingekom terwyl ek op die rotasiepers gestaan het. “Kom gou hier!” het hy geroep. “Hoe sal jy daarvan hou om die Gileadskool by te woon?” Ek was sprakeloos. “As Broer dink dat ek daarvoor opgewasse is, sal ek dit graag doen”, het ek geantwoord. In die lente van 1946 het ek, broer Fred Borys en suster Alice Berner uitnodigings ontvang. Maar aangesien ek in die Saarland gebore is, was ek sonder nasionaliteit en daarom moes ek by Washington, DC, VSA, om ’n spesiale visum aansoek doen.

Terwyl die ander betyds vertrek het, moes ek vir ’n antwoord op my aansoek wag. Op 4 September, toe die skool begin het, was ek nog steeds in Switserland en stadig besig om moed te verloor. Toe bel die Amerikaanse Konsulaat my en sê vir my dat my visum gekom het. Ek het dadelik reëlings vir die reis probeer tref en het dit eindelik reggekry om ’n plek te kry op ’n troepeskip wat van Marseilles na New York onderweg was. Wat ’n ervaring! Die Athos II was oorvol. Hulle het my ’n bank in ’n oop vertrek gegee. Die tweede dag op see het ’n ontploffing in die enjinkamer die skip tot stilstand gebring. Die passasiers en die bemanning was onrustig en was bang dat ons sou sink. Dit het my ’n wonderlike geleentheid gegee om van die opstandingshoop te getuig.

Dit het twee dae geduur om die skip te herstel, en daarna het ons teen ’n stadiger spoed voortgegaan. Ons het New York 18 dae later bereik, maar moes as gevolg van ’n dokstaking aan boord bly. Ná onderhandelings kon ons uiteindelik die skip verlaat. Ek het die Genootskap vroeër per telegram van die situasie in kennis gestel en toe ek by die doeane- en immigrasiekantore wegstap, vra ’n man vir my: “Is jy mnr. Diehl?” Hy was een van broer Knorr se assistente en het my gehelp om ’n plek te kry op die nagtrein na Ithaca, wat naby die Gileadskool is. Ek het die volgende oggend kort na agt daar aangekom. Hoe opgewonde was ek tog om uiteindelik daar te wees, en om die eerste internasionale Gileadklas by te woon.

Volharding ondanks probleme

Die agtste klas van Gilead het op 9 Februarie 1947 gegradueer en die afwagting was merkbaar. Waarheen sou ons gestuur word? Vir my het die “meetsnoere” op die Genootskap se pas geopende drukkery in Wiesbaden, Duitsland, geval (Psalm 16:6). Ek is terug Bern toe om aansoek te doen vir die nodige permitte, maar die Amerikaanse besettingstroepe in Duitsland het net mense toegelaat wat voor die oorlog daar gewoon het. Omdat ek nie daar gewoon het nie, moes ek ’n nuwe toewysing van die hoofkwartier in Brooklyn kry. Hierdie keer was dit die kringwerk in Switserland, wat ek met volle vertroue op Jehovah aangeneem het. Maar terwyl ek op hierdie toewysing gewag het, is ek een dag gevra om die Bethelhuis aan drie besoekende susters te wys. Die een suster was ’n pionier met die naam Marthe Mehl.

In Mei 1949 het ek die hoofkwartier in Bern laat weet dat ek van plan was om met Marthe in die huwelik te tree en dat ons graag in die voltydse diens wou bly. Die reaksie? Geen voorregte behalwe die gewone pionierdiens nie. Na ons huwelik in Junie 1949 het ons in Biel aan die pionierdiens begin deelneem. Ek is nie toegelaat om toesprake te hou nie, en ons kon ook nie huisvesting vir afgevaardigdes na ’n naderende byeenkoms soek nie, al het ons kringopsiener ons vir dié voorreg aanbeveel. Baie broers het ons nie meer gegroet nie en het ons soos uitgesette persone behandel, al was ons pioniers.

Ons het egter besef dat die feit dat ons in die huwelik getree het, nie onskriftuurlik was nie en daarom het ons ons vertroosting geput uit gebed en ons vertroue op Jehovah gevestig. Hierdie behandeling het in werklikheid nie die Genootskap se beskouing weerspieël nie. Dit was bloot die gevolg van ’n verkeerde toepassing van organisatoriese riglyne.

Broer Knorr keer terug

In 1951 het broer Knorr Switserland weer besoek. Nadat hy ’n toespraak gehou het, is ek gesê dat hy met my wou praat. Hoewel ek ’n bietjie lugtig was, was ek verlig toe ek sien dat hy bly is om my te sien. Hy het my gevra of ons bereid sou wees om ’n toewysing in Genève te aanvaar waar ’n sendinghuis beplan is. Ons was natuurlik verheug, al sou ons jammer wees om Biel te verlaat. Die volgende dag het ons nog ’n versoek van broer Knorr ontvang. Sou ons bereid wees om die kringwerk te hervat, aangesien dit ekstra aandag in Switserland nodig gehad het? Ons het dadelik ingestem. My gesindheid was nog altyd om enige toewysing wat my aangebied is, aan te neem.

Ons bedrywighede in die kringwerk in Oos-Switserland is grootliks geseën. Ons het per trein na gemeentes gereis en het al ons besittings in twee tasse saam met ons gedra. Die broers het ons dikwels met fietse by die stasie ontmoet, want nie baie broers het destyds motors gehad nie. Jare later het ’n broer ’n motor tot ons beskikking gestel, wat ons diens ietwat makliker gemaak het.

Nog verrassings

Hoe opwindend was dit tog toe ek en my vrou in 1964 uitgenooi is om die 40ste klas van Gilead by te woon. Dit was die laaste van die omvattende tien maande lange kursusse wat nou tot agt maande verkort is. Marthe moes vinnig Engels leer, maar sy het uitstekend daarin geslaag. Almal het gewonder waarheen ons gestuur gaan word. My beskouing was: ‘Ek gee nie om waarheen ek gestuur word nie, solank dit net nie agter ’n lessenaar is nie!’

Maar dit is presies wat gebeur het! Op ons gradueringsdag, 13 September 1965, is ek as takkneg van Switserland aangestel. Bethel sou vir Marthe ’n nuwe ondervinding wees. Vir my het dit beteken om terug te gaan na die “Huis van God”, nie na die drukkery waar ek van 1931 tot 1946 gedien het nie, maar na die kantoor. Daar was baie dinge wat ek moes leer, maar met Jehovah se hulp het ek daarin geslaag.

Terugblik

Gedurende 60 jaar van voltydse diens het ek ten volle op Jehovah vertrou, net soos my pa vir my gesê het. En Jehovah het my oorvloedig geseën. Wanneer ek teleurstellings ervaar het of wanneer dit vir my gevoel het of toewysings vir my te veel word, was Marthe altyd ’n bron van groot aanmoediging, voorwaar ’n lojale maat met onwrikbare vertroue op Jehovah.

Aan Jehovah kom die eer toe vir al die diensvoorregte wat ek geniet het! Ek dien steeds as koördineerder van die Takkomitee in Thun en het verskeie kere rondgereis as sone-opsiener. Ongeag wat ek gevra is om te doen, ek het my altyd tot Jehovah gewend vir leiding. Ondanks my talle foute en tekortkominge glo ek werklik dat Jehovah my deur Christus vergewe het. Mag ek hom altyd behaag. En mag hy altyd my voetstappe rig terwyl ek voortdurend na hom kyk as “my God op wie ek vertrou”.—Psalm 91:2.

[Prent op bladsy 27]

Broer Diehl vroeg in sy Bethel-loopbaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel