Onthou jy?
Het jy die onlangse nommers van Die Wagtoring van praktiese waarde gevind? Toets dan gerus jou geheue met die volgende vrae.
◻ Wat sal Armageddon wees? (Openbaring 16:14, 16).
Dit sal nie ’n kern-apokalips of ’n ramp wees wat deur die mens veroorsaak word nie. Nee, dit is God se oorlog om ’n einde te maak aan alle menseoorloë, om diegene uit te wis wat sulke oorloë bevorder en om ware vrede te bring vir diegene wat vrede liefhet. Dit sal nie vertoef nie (Habakuk 2:3).—4/15, bladsy 17.
◻ Watter soort troue eer Jehovah?
’n Troue waar die geestelike aspekte oor wêreldse weë die botoon voer, sal Jehovah waarlik eer. Christene sal die geleentheid geniet as hulle verdorwe wêreldse gebruike, bygelowe en onmatighede vermy; as hulle nie toelaat dat dit inbreuk maak op gewone teokratiese bedrywighede nie en as hulle beskeidenheid belangriker as ’n spoggerige vertoon ag.—4/15, bladsy 26.
◻ Wat kenmerk ’n man van onkreukbaarheid?
’n Man van onkreukbaarheid kan vertrou word, nie net deur sy medemens nie maar, nog belangriker, deur God. Die reinheid van sy hart word in sy dade gesien. Daar is geen geveinsdheid in hom nie. Hy is nie geslepe of verdorwe nie (2 Korintiërs 4:2).—5/1, bladsy 6.
◻ Waarom het Jeremia gesê: “Dit is goed vir ’n man dat hy die juk in sy jeug dra”? (Klaagliedere 3:27).
As ’n mens leer om probleme die hoof te bied terwyl jy jonk is, help dit jou om voor te berei vir die uitdagings waarvoor volwassenes te staan kom (2 Timoteus 3:12). Die voordele van getrouheid oortref verreweg enige tydelike verligting wat dit miskien sou meebring as ’n mens tou opgooi.—5/1, bladsy 32.
◻ Wat is voorafgeskadu deur die verskyning van Moses en Elia in die visioen van die gedaanteverandering?
In die konteks van die gedaanteverandering was Moses en Elia gepaste afbeeldings van Jesus se gesalfde broers. Die feit dat hulle, sowel as Jesus, ‘met heerlikheid verskyn het’, is ’n afbeelding daarvan dat getroue gesalfde Christene “saam [met Jesus] verheerlik” sal word in die hemelse Koninkryksreëling (Lukas 9:30, 31; Romeine 8:17; 2 Tessalonisense 1:10).—5/15, bladsye 12, 14.
◻ Wat is God se “heilige geheim”? (1 Korintiërs 2:7).
Jesus Christus is die middelpunt van God se “heilige geheim” (Efesiërs 1:9, 10). Dit is egter nie bloot die identifisering van Jesus as die beloofde Messias nie. Dit behels ’n hemelse regering, God se Messiaanse Koninkryk, en sluit die rol in wat Jesus toegewys is om in God se voorneme te speel.—6/1, bladsy 13.
◻ Hoe moet ’n Christen bejaardheid of siekte beskou?
Hy moet sulke beproewinge eerder as ’n geleentheid beskou om groter vertroue in Jehovah op te bou, en nie as ’n beperking op sy diens aan hom nie. Hy moet ook onthou dat ’n Christen se waarde nie net gemeet word aan hoeveel hy doen nie, maar ook aan sy geloof en die intensiteit van sy liefde (Markus 12:41-44).—6/1, bladsy 26.
◻ Hoe blyk Jehovah se groot wysheid uit die feit dat hy mense, en nie engele nie, gebruik het om die Bybel te skryf?
As die menslike element heeltemal ontbreek het, sou dit dalk vir ons moeilik gewees het om die Bybel se boodskap te verstaan. Die Bybel het ook die hartlikheid, verskeidenheid en bekoring wat die menslike element dit gee.—6/15, bladsy 8.
◻ Wat is die geheim van gesinsgeluk?
Die geheim lê in die bladsye van God se Woord, die Bybel, en in die toepassing van die beginsels daarin, soos selfbeheersing, die erkenning van hoofskap, goeie kommunikasie en liefde.—6/15, bladsye 23, 24.
◻ Hoe was die genesings wat Jesus gedoen het heel anders as die wat vandag oor die algemeen gedoen word deur diegene wat beweer dat hulle geneeskrag het?
Daar was geen groot emosionele vertoon deur die skare nie en geen dramatiese, waansinnige optrede deur Jesus nie. Daarbenewens het Jesus nooit in gebreke gebly om die siekes te genees onder die voorwendsel dat hulle bydrae nie milddadig genoeg was of dat hulle nie geloof gehad het nie.—7/1, bladsy 5.
◻ Hoe het Jehovah sy volk gehelp om ’n plek te hê in sy Goddelike voorneme met betrekking tot sy naam en Koninkryk?
Eerstens het Jehovah die waarheid aan sy volk toevertrou. Tweedens het hy hulle sy heilige gees gegee. En derdens het ons ons wêreldwye broederskap en Jehovah se wonderlike organisatoriese reëling vir aanbidding.—7/1, bladsye 19, 20.
◻ Wat is deug?
Deug is sedelike voortreflikheid, goedheid, korrekte optrede en denke. Dit is nie ’n passiewe eienskap nie, maar is ’n aktiewe, positiewe eienskap. Deug beteken nie net dat ’n mens sonde vermy nie; dit beteken dat ’n mens nastreef wat goed is (1 Timoteus 6:11).—7/15, bladsy 14.
◻ Wat is die kosbaarste erfenis wat ouers vir hulle kinders kan nalaat?
Die kosbaarste erfenis is hulle eie voorbeeld in die betoning van liefde aan ander. Kinders moet bowenal sien en hoor dat hulle ouers ware liefde vir God uitspreek en toon in alles wat hulle doen.—7/15, bladsy 21.
◻ Wat is ’n paar vereistes vir ’n suksesvolle gesinstudie?
’n Gesinstudie moet gereeld gehou word. Ons moet ‘die tyd uitkoop’ vir die studie (Efesiërs 5:15-17). Maak studietye interessant vir die kinders deur die Bybel te laat lewe. Vir kinders om die studie te geniet, moet hulle voel dat hulle daarby betrokke is.—8/1, bladsye 26, 28.