Koninkryksverkondigers berig
Uitdagings word die hoof gebied in “die land van die onverwagte”
DIE apostel Paulus het die eerste-eeuse Christene in Korinte gevra: “Wie sal gereedmaak vir die geveg as die trompet ’n onduidelike sein gee? Net so ook, hoe sal ’n mens weet wat gesê word tensy julle deur middel van die tong maklik verstaanbare woorde uiter?”—1 Korintiërs 14:8, 9. In Papoea-Nieu-Guinee, wat soms die land van die onverwagte genoem word, kom Jehovah se Getuies voor geweldige struikelblokke te staan om die duidelike boodskap van die Bybel te verkondig. Hulle getuig vir mense wat meer as 700 verskillende tale praat en ’n groot verskeidenheid gebruike het. Die Getuies het ook te kampe met bergagtige terrein, ’n gebrek aan paaie en stygende misdaad. Benewens al hierdie moeilikhede is daar teenstand van sekere godsdiensgroepe en soms selfs van skoolamptenare. Nietemin word die Getuies deur middel van goeie geestelike onderrigting en ’n groeiende biblioteek van Bybelstudiehulpe in die plaaslike tale toegerus om die goeie nuus soos ’n duidelike trompetsein oor te dra. Mense reageer dikwels gunstig, soos die volgende verslae toon:
• Aan die begin van ’n nuwe skooljaar wou ’n onderwyser weet waarom die kinders van Jehovah se Getuies nie die vlag salueer of die volkslied sing nie. Hy het sy vraag gerig aan Maiola, ’n 13-jarige leerling wat ’n gedoopte Getuie is. Maiola het ’n verstaanbare, skriftuurlike verduideliking gegee. Die onderwyser het haar redenasie aanvaar omdat dit uit die Bybel was. Haar verduideliking is ook aan die res van die skoolpersoneel oorgedra.
Later, toe die leerlinge gevra is om opstelle te skryf, het Maiola gekies om oor die Drie-eenheid te skryf. Haar opstel het die hoogste punte in die klas behaal, en die onderwyser het haar gevra waar sy die inligting gekry het. Sy het vir hom die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in Engels gewys. Die onderwyser het toe die boek vir die hele klas gewys, en baie wou hulle eie eksemplaar hê. Die volgende dag het Maiola 14 boeke en 7 tydskrifte onder haar skoolmaats versprei, en sy het Bybelstudies met drie van hulle begin. Dit is Maiola se doelwit om ’n voltydse bedienaar te word.
• ’n Afgesonderde groep van Jehovah se Getuies in ’n kusdorpie naby Port Moresby verduur al sedert die vroeë sewentigerjare teenstand. Hulle het egter onlangs uit ’n onverwagte bron hulp gekry. Die biskop van die Verenigde Kerk daar, ’n boorling van Papoea-Nieu-Guinee wat oorsee opgelei is, het eendag die gehoor in die kerk genooi om vrae te vra. ’n Man wou weet: “Daar is twee godsdienste in ons dorpie—die Verenigde Kerk en Jehovah se Getuies. Wat moet ons doen wanneer die Getuies aan ons deur klop?” Ná ’n lang stilte het die biskop geantwoord: “Jy weet, ek weet nie eintlik wat om vir jou te sê nie. Twee jong Getuies het my onlangs besoek. Hulle het my ’n vraag gevra, en ten spyte van al my universiteitsopleiding het ek nie geweet wat die antwoord is nie. Maar dit was vir hulle maklik om vir my die antwoord uit die Bybel te gee. Daarom gaan ek nie vir jou sê wat om te doen nie—ek sal dit aan jou oorlaat. Jy hoef nie te luister as jy nie wil nie, maar moenie gewelddadig teenoor hulle wees nie.”
’n Reisende verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap wat hierdie groep Getuies later besoek het, het berig: “Amper almal in die dorpie het na die Getuies geluister toe hulle in die predikingswerk uitgegaan het. Party het hulle selfs in hulle huise ingenooi. Dit is nou ’n paradys wat die predikingswerk betref.”