Hoe die Bybel ons bereik het—Deel drie
BIRMA, 1824—Die koning se offisiere het pas die sendinghuis van Adoniram en Ann Judson deursoek en alles geneem wat hulle as waardevol beskou het. Maar hulle het nie die kosbaarste skat gevind nie—’n vertaalde Bybelmanuskrip wat Ann in die geheim onder die huis begrawe het. Adoniram, die vertaler, lê geboei in ’n tronk waar daar ’n plaag van muskiete is en word van spioenasie aangekla. Nou bestaan die gevaar dat die manuskrip deur vogtigheid vernietig kan word. Hoe kan dit gered word? Ann werk dit binne-in ’n harde kussing toe en gee dit vir haar man in die gevangenis. Die kussing bly behoue, en die inhoud daarvan word deel van die eerste Birmaanse Bybel.
Die Bybel het deur die geskiedenis heen baie soortgelyke avonture beleef. In vorige nommers het ons gekyk na die vertaling en verspreiding van die Bybel sedert dit voltooi is tot die vroeë 17de eeu. Hoe het die Bybel van toe af tot vandag toe gevaar? Sou dit ooit aan almal beskikbaar wees? Watter rol het die Wagtoringgenootskap gespeel?
Sendelinge en Bybelgenootskappe
In talle lande is die 17de en 18de eeu gekenmerk deur ’n oplewende belangstelling in Bybellees. Veral Engeland is gedurende hierdie tydperk grootliks deur die Bybel beïnvloed. Trouens, Bybelverhale en -leringe was in die gedagtes van feitlik almal in die land, van die koning tot die seun wat die ploegspan lei. Maar die Bybel se invloed het verder gestrek. Engeland was destyds ’n seevarende handels- en koloniale mag, en sekere Engelse het die Bybel saam met hulle op hulle reise geneem. Dit het die grondslag vir ’n uitgebreide Bybelveldtog gelê.
Teen die einde van die 18de eeu het die Bybel party in Engeland laat dink oor die geestelike behoeftes van inheemse volke in die wydverspreide lande van die Britse Ryk. Maar dit was beslis nie almal wat hierdie besorgdheid gedeel het nie. Baie kerkmanne het aan voorbeskikking geglo, en hulle het derhalwe gedink dat dit God se wil is dat party mense nie gered word nie. Toe die voornemende sendeling William Carey ’n vurige toespraak gehou het om ondersteuning te werf vir ’n sending na Indië, het iemand hom bestraf en uitgeroep: “Gaan sit, jong man; wanneer God die heidene wil bekeer, sal Hy dit sonder jou hulp doen!” Carey het nietemin in 1793 na Indië vertrek. Verbasend genoeg het hy uiteindelik die hele Bybel of dele daarvan in 35 Indiese tale vertaal.
Die sendelinge het besef dat hulle vernaamste instrument die Bybel in die plaaslike taal was. Maar wie sou Bybels voorsien? Dit is interessant dat ’n 16-jarige Walliese meisie, Mary Jones, onwetend daartoe aanleiding gegee het dat ’n beweging gestig is wat Bybels oor die hele wêreld sou versprei. In 1800 het Mary 40 kilometer ver kaalvoet geloop om ’n Walliese Bybel by ’n leraar te koop. Mary het haar geld ses jaar lank gespaar, en toe sy uitvind dat al die Bybels verkoop is, het sy van teleurstelling begin huil. Die leraar was diep geroer en het vir Mary een van sy eie Bybels gegee.
Die leraar het daarna nagedink oor al die ander mense wat Bybels nodig gehad het, en hy het die probleem met vriende in Londen bespreek. Die gevolg was die stigting, in 1804, van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap. Die doel daarvan was eenvoudig: Om mense bekostigbare Bybels in hulle eie taal te gee, wat “sonder aantekeninge of kommentare” gedruk is. Deur die kommentare in die kantlyne te verwyder, het die Genootskap se stigters gehoop om leerstellige geskille te vermy. Die Bybelgenootskap sou egter verskeie kere verdeeld wees oor die apokriewe boeke, doop deur onderdompeling en die Drie-eenheidsleer.
Die aanvanklike entoesiasme het gou versprei, en teen 1813 is verwante genootskappe in Duitsland, Nederland, Denemarke en Rusland gestig. Mettertyd is Bybelgenootskappe in ander lande bygevoeg. Toe die vroeë Bybelgenootskappe hulle doelwitte geformuleer het, het hulle gedink dat die grootste deel van die wêreld net ’n paar hooftale praat. Hulle het geen idee gehad dat daar duisende is nie! Betreklik min vertalers het Hebreeus en Grieks geken sodat hulle direk daaruit in ’n volkstaal kon vertaal. Wanneer die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap dus vertalings geborg het, het die vertalers baie dikwels hulle werk op die Engelse King James Version gebaseer.
Die beproewinge van een vertaler
Groot dele van die Bybel bestaan uit vertellings en illustrasies wat op alledaagse ondervindinge gebaseer is. Dit maak dit makliker om te vertaal as wat dit sou gewees het as dit in die abstrakte terme van die filosofie geskryf was. Soos ’n mens sou verwag, het die sendelinge se vroeë pogings soms verwarrende of grappige vertalings opgelewer. Een vertaling het mense in ’n sekere deel van Indië byvoorbeeld die idee gegee dat God ’n blouerige wese is. Die woord wat vir “hemelse” gebruik is in die uitdrukking “hemelse Vader” het beteken “wat die kleur van die lug het”—die letterlike hemele!
Adoniram Judson het in 1819 aangaande ’n vertaler se struikelblokke geskryf: ‘Wanneer ons ’n taal aanleer wat deur ’n volk aan die ander kant van die wêreld gepraat word, wie se taalpatrone gevolglik heeltemal nuut is, en waarvan die letters en woorde geheel en al sonder die geringste ooreenkoms is met enige taal wat ons al ooit teëgekom het; wanneer ons geen woordeboek of tolk het nie en iets omtrent die taal moet verstaan voordat ons gebruik kan maak van die hulp van ’n boorlingonderwyser—vereis dit inspanning!’ En die werk van vertalers soos Judson het die beskikbaarheid van die Bybel grootliks verhoog.—Sien tabel op bladsy 12.
Ann Judson het haar man met die moeilike taak van vertaling gehelp. Maar die Judsons het voor meer as net akademiese probleme te staan gekom. Toe die koning se offisiere Adoniram weggesleep het tronk toe was Ann swanger. Sy het vyandige amptenare 21 maande lank moedig versoek om haar man vry te laat. Daardie beproewing tesame met siekte het haar gesondheid ’n knou gegee. Kort ná Adoniram vrygelaat is, het sy dapper Ann en hulle dogtertjie van koors gesterf. Adoniram se hart was gebroke. Hy het nogtans op God vertrou vir krag en het voortgegaan met sy vertaalwerk en het in 1835 die Birmaanse Bybel voltooi. Intussen het die Bybel voor ander ondermynende uitdagings te staan gekom.
Die Bybel word die middelpunt van geskille
Die 19de eeu was ’n tyd van groot maatskaplike en politieke geskille, en die Bybel was soms die middelpunt daarvan. Hoewel die Russiese Bybelgenootskap byvoorbeeld met die steun van die tsaar en die Russies-Ortodokse Kerk begin het, het hulle mettertyd die Genootskap ontbind en verbied. (Omstreeks ’n jaar vroeër het teenstanders van daardie Genootskap reeds duisende Bybels verbrand.) Die Ortodokse geestelikes het nou ywerig probeer om ’n einde te maak aan die projek waarmee die vroeë Christene so geesdriftig begin het—die wêreldwye verspreiding van die Bybel. Ortodokse leiers in die 19de eeu het volgehou dat die Bybel die gesag van die Kerk sowel as die Staat bedreig. Dit is ironies dat die opkomende polities revolusionêre beweging die Bybel nie as ’n bedreiging vir die owerheid beskou het nie, maar eerder as ’n wapen van die Kerk en die Staat om die volksmassa in bedwang te hou. Die Bybel is van beide kante aangeval!
Die jare daarna het ook meer “intellektuele” aanvalle op die Bybel gesien. In 1831 het Charles Darwin op die ekspedisie vertrek wat tot sy evolusieteorie gelei het. In 1848 het Marx en Engels die Kommunistiese Manifes uitgegee, wat die Christelike godsdiens as ’n instrument van onderdrukking uitgebeeld het. Ook gedurende hierdie tydperk het hoër kritici die betroubaarheid van die Skrif en die geskiedkundige egtheid van Bybelkarakters bevraagteken—selfs die van Jesus! Maar party denkende mense het die onjuistheid besef van teorieë wat God en die Bybel verwerp, en hulle het wetenskaplike maniere gesoek om die betroubaarheid van die Bybel te bevestig. Een van hulle was Konstantin von Tischendorf, ’n begaafde Duitse taalkenner.
Ontdekkings help om die Bybelteks te bevestig
Tischendorf het deur die Midde-Ooste gereis op soek na antieke Bybelmanuskripte en in die hoop dat hy die oorspronklike teks van die Bybel buite alle twyfel sou kon bevestig. In 1859, dieselfde jaar waarin Darwin The Origin of Species uitgegee het, het Tischendorf die oudste bekende volledige afskrif van die Christelike Griekse Geskrifte in ’n klooster aan die voet van die berg Sinai gevind. Dit is bekend as die Codex Sinaiticus, en dit is waarskynlik gemaak sowat 50 jaar voor Hieronimus die Latynse Vulgaat voltooi het. Hoewel daar nog steeds daaroor gedebatteer word of dit gepas was dat Tischendorf die kodeks uit die klooster verwyder het, het hy dit gepubliseer, en dit sodoende vir geleerdes beskikbaar gestel.a
Omdat Sinaiticus een van die oudste manuskripte in die oorspronklike tale was, het dit nie alleen getoon dat die Griekse Geskrifte wesenlik onveranderd gebly het nie, maar dit het geleerdes ook gehelp om foute te ontdek wat in latere manuskripte ingesluip het. Die verwysing na Jesus in 1 Timoteus 3:16 in Sinaiticus lui byvoorbeeld soos volg: “Hy is openbaar gemaak in die vlees.” In die plek van “hy” het die meeste manuskripte wat destyds bekend was ’n afkorting van “God” getoon, as gevolg van ’n klein verandering aan die Griekse woord vir “hy”. Sinaiticus is egter baie jare voor enige Griekse manuskrip wat “God” sê, gemaak. Dit het dus getoon dat daar ’n latere bederwing van die teks was, wat waarskynlik gedoen is om die Drie-eenheidsleer te steun.
Sedert Tischendorf se tyd is meer manuskripte gevind. Vandag is daar altesaam sowat 6000 bekende manuskripte van die Hebreeuse Geskrifte en meer as 13 000 van die Griekse Geskrifte. Vergelykende studies hiervan het tot ’n betroubare teks in die oorspronklike taal gelei. Die geleerde F. F. Bruce stel dit só: “Variante lesings . . . beïnvloed geen wesenlike kwessie met betrekking tot geskiedenisfeite of die Christelike geloof en gebruike nie.” Terwyl Bybelvertaling in nog baie tale voortgeduur het, hoe kon mense baat vind by hierdie vermeerdering in kennis?
Die Wagtoringgenootskap en die Bybel
In 1881 het ’n klein maar opregte groepie Bybelonderrigters en -studente die organisasie gestig wat later die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap geword het. In die begin het hulle Bybels versprei wat deur ander Bybelgenootskappe uitgegee is, onder andere Tischendorf se Griekse Geskrifte. Maar teen 1890 het hulle self met Bybeluitgewery begin en het hulle die eerste van ’n aantal uitgawes van die Bybel finansieel gesteun. In 1926 het die Genootskap die Bybel op hulle eie drukperse begin druk. Maar die behoefte aan ’n nuwe vertaling van die Bybel het al hoe duideliker geword. Kon die kennis wat deur die ontdekkings en kundigheid van die vorige eeu opgedoen is in ’n verstaanbare, bekostigbare Bybel ingesluit word? Met hierdie oogmerk het medewerkers van die Genootskap in 1946 aan ’n nuwe vertaling van die Skrif begin werk.
Een vertaling, baie tale
’n Vertalingskomitee van bekwame gesalfde Christene is georganiseer om die New World Translation of the Holy Scriptures te vertaal. Dit het in ses bundels verskyn, wat vanaf 1950 tot 1960 vrygestel is en met die Christelike Griekse Geskrifte begin het. Sedert 1963 is dit in nog 27 tale vertaal, en daar word aan nog gewerk. Die doelwitte vir die ander tale is dieselfde as vir die Engels. In die eerste plek moet die vertaling juis wees, so na as moontlik aan die oorspronklike gedagtes. Die betekenis moet nie verdraai word om by ’n sekere leerstellige begrip te pas nie. In die tweede plek moet konsekwentheid gehandhaaf word deur so ver as die konteks dit redelikerwys toelaat by een vertaling vir elke hoofwoord te bly. So ’n benadering help lesers om te sien hoe Bybelskrywers spesifieke woorde gebruik het. In die derde plek moet die vertaling so letterlik moontlik wees sonder om die betekenis onduidelik te maak. Letterlikheid maak dit vir die leser makliker om die gevoel van die oorspronklike tale en die denkpatrone wat daarmee gepaardgaan te bepaal. En in die vierde plek moet dit vir die gewone mense maklik wees om dit te lees en te verstaan.
Die betreklik letterlike styl van die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling maak dit makliker om dit in ander tale te vertaal. Met hierdie doel voor oë gebruik die Genootskap se vertaalspanne tans gevorderde rekenaarprogramme sodat hulle vinniger en akkurater kan werk. Hierdie stelsel help vertalers om lyste saam te stel met ekwivalente in hulle eie taal vir elke hoofwoord. Dit stel hulle ook in staat om die Engelse vertalings van elke Hebreeuse en Griekse woord in die Bybel te bestudeer.
Daar is belangrike voordele wanneer daar uit die Engels vertaal word en nie regstreeks uit die Hebreeus en Grieks nie. Benewens die feit dat dit die vertaaltyd verkort, maak dit groter eenvormigheid van uitdrukkings in alle tale moontlik. Waarom? Want dit is baie makliker om ’n juiste vertaling uit een moderne taal in ’n ander te maak as om uit ’n antieke taal in verskeie moderne tale te vertaal. Bowendien kan vertalers mense raadpleeg wat moderne tale as moedertaal het, maar hulle kan dit nie doen in die geval van tale wat duisende jare gelede gepraat is nie.
Goeie nuus vir al die nasies
Daar kan nog baie oor die vasbeslote manne en vroue geskryf word wat gehelp het om die Bybel verreweg die mees bekombare boek op die aarde te maak. Deur die eeue heen is ten minste viermiljard Bybels en dele van die Bybel in meer as tweeduisend tale gedruk, wat deur ruim 90 persent van die wêreldbevolking gepraat word!
Die Bybel het ’n wêreldwye verkondiging van God se Koninkryk in ons dag voorspel. Met dié doel het Jehovah God self sake klaarblyklik so gerig dat die Bybel nou byna wêreldwyd beskikbaar is (Matteus 13:47, 48; 24:14). Onbevreesde Bybelvertalers en -uitgewers van die verlede het alles op die spel gesit om ons God se Woord te gee—die enigste bron van geestelike lig in ’n sedelik donker wêreld. Mag hulle voorbeeld jou beweeg om daardie Woord te lees, daarvolgens te lewe en om dit met dieselfde oortuiging wat hulle getoon het aan ander te verkondig. Ja, benut elke dag die betroubare Bybel in jou hande te volle!—Jesaja 40:6-8.
[Voetnoot]
a Sien “Die Codex Sinaiticus word gered” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1988.
[Tabel op bladsy 12]
Groei in Bybelvertaling
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Aantal
Tale
1 Jode begin die Hebreeuse Geskrifte in Grieks vertaal
ca. 280 v.G.J.
12 Hieronimus voltooi die Latynse Vulgaat ca. 400 G.J.
35 Gutenberg voltooi sy eerste gedrukte Bybel ca. 1455
81 Britse en Buitelandse Bybelgenootskap gestig 1804
Geraamde aantal tale volgens jaar
522
1900
600
700
800
900
1,049
1950
1 100
1 200
1 300
1 471
1970
2 123
1996
2 200
2 300
2 400
[Erkenning]
Bronne: Christianity Today, United Bible Society
[Prent op bladsy 8]
Judson is geboei en weggesleep
[Erkenning op bladsy 9]
Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 8]
Uit die boek Judson the Hero of Burma, deur Jesse Page
[Prente op bladsy 10]
Tischendorf het ’n kosbare manuskrip gered by hierdie klooster aan die voet van die berg Sinai
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.