’n Boek wat lewende tale “praat”
As die taal waarin ’n boek geskryf is, uitsterf, sterf die boek in die gewone loop van sake ook uit. Daar is vandag min mense wat die ou tale kan lees waarin die Bybel geskryf was. Tog is dit lewend. Dit het behoue gebly, want dit het die lewende tale van die mensdom “leer praat”. Die vertalers wat die Bybel “geleer” het om ander tale te praat, het soms voor oënskynlik onoorkomelike struikelblokke te staan gekom.
DIE vertaling van die Bybel—met sy meer as 1 100 hoofstukke en 31 000 verse—is ’n veeleisende taak. Maar deur die eeue heen het toegewyde vertalers die uitdaging met genoeë aanvaar. Baie van hulle was bereid om teëspoed te verduur en selfs vir hulle werk te sterf. Die geskiedenis van hoe die Bybel in die tale van die mensdom vertaal is, is ’n merkwaardige verslag van volharding en vernuf. Beskou net ’n klein gedeelte van daardie boeiende verslag.
Die uitdagings waarvoor die vertalers te staan gekom het
Hoe vertaal ’n mens ’n boek in ’n taal waarvan daar geen geskrewe vorm bestaan nie? Talle Bybelvertalers het voor presies so ’n uitdaging te staan gekom. Ulfilas, van die vierde eeu G.J., het byvoorbeeld besluit om die Bybel te vertaal in wat destyds ’n moderne taal was, maar nie ’n geskrewe taal nie—Goties. Ulfilas het die uitdaging die hoof gebied deur die Gotiese alfabet van 27 karakters saam te stel, wat hoofsaaklik op die Griekse en die Latynse alfabet gegrond was. Sy vertaling van byna die hele Bybel in Goties is voor 381 G.J. voltooi.
In die negende eeu wou twee Griekssprekende broers, Cyrillus (oorspronklik Konstantyn genoem) en Methodius, albei uitsonderlike vakkundiges en taalkenners, die Bybel vir Slawiessprekende mense vertaal. Maar Slawonies—die voorloper van vandag se Slawiese tale—het geen geskrewe vorm gehad nie. Die twee broers het dus ’n alfabet ontwerp sodat hulle die Bybel kon vertaal. Die Bybel kon derhalwe nou met baie meer mense “praat”, dié in die Slawiese wêreld.
In die 16de eeu het William Tyndale besluit om die Bybel uit die oorspronklike tale in Engels te vertaal, maar hy het hewige teenkanting van beide die Kerk en die Staat gekry. Tyndale, wat opleiding aan Oxford ontvang het, wou ’n vertaling voortbring wat selfs “’n seun wat die ploegspan lei”, kon verstaan.1 Maar om dít te doen, moes hy na Duitsland vlug, waar sy Engelse “Nuwe Testament” in 1526 gedruk is. Toe eksemplare in Engeland ingesmokkel is, was die owerheid so woedend dat hulle dit in die openbaar verbrand het. Tyndale is later verraai. Net voordat hy verwurg en sy liggaam verbrand is, het hy hierdie woorde met ’n harde stem uitgeroep: “Here, open die Koning van Engeland se oë!”2
Bybelvertaling het voortgegaan; die vertalers het hulle nie laat keer nie. Teen 1800 het ten minste dele van die Bybel al 68 tale “leer praat”. Toe, met die stigting van Bybelgenootskappe—veral die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap wat in 1804 gestig is—het die Bybel selfs meer nuwe tale vinnig “aangeleer”. Honderde jong manne het aangebied om as sendelinge na die buiteland te gaan, baie met die hoofdoel om die Bybel te vertaal.
Die tale van Afrika word aangeleer
In 1800 was daar net ’n stuk of twaalf geskrewe tale in Afrika. Honderde ander gesproke tale moes wag totdat iemand ’n skryfstelsel uitgevind het. Sendelinge het gekom en die tale aangeleer, sonder die hulp van handboeke of woordeboeke. Dan het hulle hulle ingespan om ’n geskrewe vorm te ontwikkel, en daarna het hulle die mense geleer hoe om die skrif te lees. Dit het hulle gedoen sodat mense eendag die Bybel in hulle eie taal kon lees.3
Een van hierdie sendelinge was ’n Skot met die naam Robert Moffat. In 1821 het Moffat, op die ouderdom van 25, sendingwerk onder die Tswanasprekende mense van suidelike Afrika begin doen. Ten einde hulle ongeskrewe taal aan te leer, het hy met die mense omgegaan en soms na die binneland gereis om saam met hulle te woon. “Die mense was vriendelik”, het hy later geskryf, “en my flaters in die taal het baie maal op ’n geskater uitgeloop. Niemand sou ooit, nie eens een keer nie, ’n woord of sin verbeter voordat hy of sy nie die oorspronklike so goed moontlik nageboots het nie, tot groot vermaak van die ander.”4 Moffat het volhard en het uiteindelik die taal bemeester, sodat hy ’n geskrewe vorm daarvoor kon ontwikkel.
In 1829, nadat hy agt jaar onder die Tswanas gewerk het, het Moffat die vertaling van die Evangelie van Lukas voltooi. Om dit te laat druk, het hy omtrent 970 kilometer met ’n ossewa na die kus gery en daarna per skip na Kaapstad gereis. Daar het die goewerneur hom toestemming gegee om ’n regeringspers te gebruik, maar Moffat moes self die letters set en die drukwerk doen, en die Evangelie is uiteindelik in 1830 uitgegee. Die Tswanas kon vir die eerste keer ’n gedeelte van die Bybel in hulle eie taal lees. In 1857 het Moffat ’n vertaling van die hele Bybel in Tswana voltooi.
Moffat het later die reaksie van die Tswanas beskryf toe die Evangelie van Lukas aanvanklik aan hulle beskikbaar gestel is. Hy het gesê: “Ek weet van mense wat honderde [kilometers] gekom het om eksemplare van St. Lukas te bekom. . . . Ek het gesien hoe hulle dele van St. Lukas ontvang, daarmee staan en huil, dit teen hulle bors vasdruk en trane van dankbaarheid stort, totdat ek vir meer as een gesê het: ‘Julle gaan julle boeke met julle trane beskadig.’”5
Toegewyde vertalers soos Moffat het dus vir baie Afrikane—waarvan party aanvanklik geen behoefte aan ’n geskrewe taal gesien het nie—die eerste geleentheid gegee om in skrif te kommunikeer. Die vertalers het egter geglo dat hulle vir die mense van Afrika ’n selfs waardevoller geskenk gegee het—die Bybel in hulle eie taal. Vandag “praat” die Bybel, in sy geheel of ten dele, meer as 600 Afrikatale.
Die tale van Asië word aangeleer
Terwyl vertalers in Afrika gesukkel het om geskrewe vorme vir gesproke tale te ontwikkel, het ander vertalers, aan die ander kant van die wêreld, met ’n heel ander struikelblok te kampe gehad—vertaling in tale wat reeds ingewikkelde skryfstelsels gehad het. Dit was die uitdaging waarvoor persone te staan gekom het wat die Bybel in die tale van Asië vertaal het.
Aan die begin van die 19de eeu het William Carey en Joshua Marshman na Indië gegaan en baie van hulle geskrewe tale aangeleer. Met die hulp van William Ward, ’n drukker, het hulle vertalings van ten minste dele van die Bybel in bykans 40 tale voortgebring.6 Die skrywer J. Herbert Kane sê aangaande William Carey: “Hy het ’n pragtige, vloeiende, informele styl [van die Bengaalse taal] ontwikkel wat die ou klassieke vorm vervang het, en het dit sodoende verstaanbaarder en aangenamer vir moderne lesers gemaak.”7
Adoniram Judson, wat in die Verenigde State gebore en grootgemaak is, het na Birma gereis, en in 1817 het hy die Bybel in Birmaans begin vertaal. Hy het beskryf hoe moeilik dit was om ’n Oosterse taal aan te leer in die mate wat nodig is om die Bybel te kan vertaal: ‘Wanneer ons ’n taal aanleer wat deur ’n volk aan die ander kant van die wêreld gepraat word, wie se denkpatrone van ons s’n verskil, en wie se taalpatrone gevolglik heeltemal nuut is, en waarvan die letters en woorde geheel en al sonder die geringste ooreenkoms is met enige taal wat ons al ooit teëgekom het; wanneer ons geen woordeboek of tolk het nie en iets omtrent die taal moet verstaan voordat ons gebruik kan maak van die hulp van ’n boorlingonderwyser—dit vereis inspanning!’8
In Judson se geval het dit ongeveer 18 jaar se moeisame werk beteken. Die laaste gedeelte van die Birmaanse Bybel is in 1835 gedruk. Sy verblyf in Birma het hom egter duur te staan gekom. Terwyl hy met die vertaling besig was, is hy van spioenasie beskuldig en het hy derhalwe byna twee jaar in ’n tronk deurgebring waar daar ’n plaag van muskiete was. Nie lank ná sy vrylating nie het sy vrou en dogtertjie aan koors gesterf.
Toe die 25-jarige Robert Morrison in 1807 in China aangekom het, het hy die uiters moeilike taak aangepak om die Bybel te vertaal in Chinees, een van die ingewikkeldste geskrewe tale. Hy het slegs ’n beperkte kennis van Chinees gehad, wat hy net twee jaar tevore begin bestudeer het. Morrison het ook ’n probleem met die Chinese wetgewing gehad, wat China afgesonderd probeer hou het. Die Chinese volk was op straf van die dood verbied om buitelanders die taal te leer. Dit was ’n halsmisdaad vir ’n buitelander om die Bybel in Chinees te vertaal.
Morrison het onverskrokke dog versigtig voortgegaan om die taal te bestudeer, en hy het dit vinnig aangeleer. Binne twee jaar het hy werk as ’n vertaler vir die Oos-Indiese Kompanjie gekry. Bedags het hy vir die kompanjie gewerk, maar in die geheim en met die voortdurende gevaar dat hy betrap kon word, het hy aan die vertaling van die Bybel gewerk. In 1814, sewe jaar ná sy aankoms in China, het hy die Christelike Griekse Geskrifte persklaar gehad.9 Vyf jaar later, met die hulp van William Milne, het hy die Hebreeuse Geskrifte voltooi.
Dit was ’n ontsaglike prestasie—die Bybel kon nou die taal “praat” wat deur meer mense as enige ander taal ter wêreld gepraat word. Dit is aan bekwame vertalers te danke dat vertalings in ander Asiatiese tale daarna gevolg het. Vandag is dele van die Bybel in meer as 500 tale van Asië beskikbaar.
Waarom het manne soos Tyndale, Moffat, Judson en Morrison hulle jare lank ingespan—en party selfs hulle lewe gewaag—om ’n boek te vertaal vir mense wat hulle nie geken het en, in sommige gevalle, vir mense wat nie ’n geskrewe taal gehad het nie? Beslis nie vir roem of geldelike gewin nie. Hulle het geglo dat die Bybel God se Woord is en dat dit met mense—alle mense—in hulle eie taal moet “praat”.
Hetsy jy meen dat die Bybel die Woord van God is of nie, miskien sal jy saamstem dat die soort selfopofferende gees wat hierdie toegewyde vertalers aan die dag gelê het veels te seldsaam in vandag se wêreld is. Verdien ’n boek wat sulke onselfsugtigheid verwek nie om ondersoek te word nie?
[Tabel op bladsy 12]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Aantal tale waarin dele van die Bybel sedert 1800 gedruk is
68 107 171 269 367 522 729 971 1 199 1 762 2 123
1800 1900 1995
[Prent op bladsy 10]
Tyndale vertaal die Bybel
[Prent op bladsy 11]
Robert Moffat
[Prent op bladsy 12]
Adoniram Judson
[Prent op bladsy 13]
Robert Morrison