Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 11/15 bl. 29-31
  • Onesiforus—’n moedige vertrooster

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Onesiforus—’n moedige vertrooster
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Paulus se tweede gevangenskap
  • Besoeke aan Paulus die gevangene
  • Wat het van Onesiforus geword?
  • Laat ons lojale vertroosters wees
  • Kry die antwoorde op hierdie vrae
    Kringbyeenkomsprogram vir 2024-2025 met takverteenwoordiger
  • Bybelboek nommer 55—2 Timotheüs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Laat niks jou van Jehovah skei nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Paulus se medewerkers—Wie was hulle?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 11/15 bl. 29-31

Onesiforus—’n moedige vertrooster

“DINK aan dié in gevangenisboeie asof julle saam met hulle geboei is, en aan dié wat sleg behandel word” (Hebreërs 13:3). Toe die apostel Paulus omstreeks 61 G.J. hierdie woorde geskryf het, het hy self reeds by meer as een geleentheid gevangenskap verduur, en hy sou dit weer ondervind voor sy marteldood (Handelinge 16:23, 24; 22:24; 23:35; 24:27; 2 Korintiërs 6:5; 2 Timoteus 2:9; Filemon 1). Dit was destyds, net soos vandag, ’n saak van dringendheid vir gemeentes om na medegelowiges om te sien wat weens hulle geloof beproewinge verduur.

’n Eerste-eeuse dissipel wat in die besonder op hierdie behoefte gelet het, was Onesiforus. Hy het Paulus gedurende sy tweede gevangenskap in Rome besoek. Die apostel het van hom geskryf: “Mag die Here barmhartigheid aan die huis van Onesiforus skenk, want hy het my dikwels verkwikking verskaf, en hy het hom nie oor my kettings geskaam nie. Inteendeel, toe hy in Rome was, het hy naarstig na my gesoek en my gevind” (2 Timoteus 1:16, 17). Het jy al ooit die tyd geneem om na te dink oor wat daardie paar woorde werklik beteken? As jy dit doen, sal dit waarskynlik jou waardering vir Onesiforus vergroot. Jy sal sien dat hy ’n moedige vertrooster was.

Paulus se tweede gevangenskap

Nadat Paulus uit sy eerste gevangenskap vrygelaat is, was hy weer in ’n Romeinse tronk, maar onder ander toestande. Vroeër kon sy vriende hom in sy eie gehuurde huis besoek, en hy was blykbaar vol vertroue dat hy spoedig vrygelaat sou word. Maar nou het die meeste hom verlaat en het hy ’n marteldood in die gesig gestaar.—Handelinge 28:30; 2 Timoteus 4:6-8, 16; Filemon 22.

Paulus was omstreeks 65 G.J. by hierdie geleentheid in die gevangenis. Ongeveer ’n jaar vroeër—in Julie 64 G.J.—het ’n brand in Rome uitgebreek en groot skade in 10 van die stad se 14 streke aangerig. Volgens die Romeinse geskiedskrywer Tacitus kon keiser Nero nie “die sinistere opvatting onderdruk dat die groot brand die gevolg van ’n bevel was nie. Daarom het Nero, om die gerug die nek in te slaan, die skuld gepak op ’n klas wat deur die volk Christene genoem is en wat weens hulle veragtelike dade verfoei is, en hy het die allerhewigste foltering op hulle toegepas. . . . Daar is op allerhande maniere met hulle die spot gedryf wanneer hulle doodgemaak is. Hulle is met die velle van wilde diere bedek en deur honde verskeur, of aan kruise genael, of tot ’n vuurdood veroordeel en verbrand om as verligting in die aand te dien wanneer die daglig afgeneem het.”

Dit was in so ’n atmosfeer en met soortgelyke vooruitsigte dat Paulus hom weer in die gevangenis bevind het. Dit is geen wonder nie dat hy so dankbaar was vir die besoeke van sy vriend Onesiforus! Maar kom ons beskou dieselfde situasie uit die oogpunt van Onesiforus.

Besoeke aan Paulus die gevangene

Onesiforus se familie het blykbaar in Efese gewoon (2 Timoteus 1:18; 4:19). Of Onesiforus na die hoofstad van die ryk gekom het vir privaat sake of spesifiek om Paulus te besoek, word nie gesê nie. In alle geval, die apostel het gesê: ‘Toe Onesiforus in Rome was, het hy my dikwels verkwikking verskaf’ (2 Timoteus 1:16, 17). Watter soort verkwikking? Hoewel Onesiforus se bystand heel moontlik materiële hulp ingesluit het, het sy teenwoordigheid klaarblyklik ook as ’n aansporing gedien om Paulus te versterk en te bemoedig. Trouens, party vertalings lui: “Hy het my gees dikwels opgebeur” of “hy het my dikwels vertroos”.

Dit was destyds ’n groot uitdaging om ’n Christengevangene in Rome te besoek. Anders as gedurende die dae van Paulus se eerste gevangenskap het die Romeinse Christene blykbaar kontak met hom verloor. In ’n groot stad soos Rome was dit nie ’n maklike taak om een onbekende gevangene tussen die groot aantal gevangenes te vind wat weens verskillende oortredings in boeie was nie. Dit was gevolglik nodig om naarstig te soek. Die geleerde Giovanni Rostagno beskryf sake so: “Die probleme was dalk uiteenlopend van aard. In die eerste plek was dit nodig om buitengewoon versigtig te werk te gaan tydens die soektog. Dit sou dalk onnodige agterdog wek as ’n mens op verskillende plekke inligting ingewin het en blykbaar gretig was om uit te vind in watter tronk ’n fanatiese ou gevangene aangehou word wat by talle misdade betrokke was.”

Die skrywer P. N. Harrison skilder ’n duidelike beeld van dieselfde situasie en sê: “Ons kry blykbaar ’n vlugtige blik op een doelgerigte gesig in ’n see van mense en volg hierdie vreemdeling van die verre kus van die Egeïese see af met verhoogde belangstelling terwyl hy deur die doolhof van onbekende strate loop, aan baie deure klop, elke leidraad opvolg, en hoewel hy teen die gevare gewaarsku is, nie van sy soektog afsien nie; totdat ’n bekende stem hom in ’n donker gevangenis groet en hy Paulus vind waar hy aan ’n Romeinse soldaat vasgeketting is.” As daardie plek enigsins ooreengekom het met ander Romeinse tronke, was dit waarskynlik ’n koue, donker en vuil plek, waar boeie en lyding van alle soorte volop was.

Om as ’n vriend van ’n gevangene soos Paulus herken te word, was ’n waagstuk. Dit was selfs gevaarliker om aan te hou om hom te besoek. As jy jou openlik as ’n Christen geïdentifiseer het, het jy die gevaar geloop om in hegtenis geneem te word en ’n marteldood te sterf. Maar Onesiforus was nie tevrede om hom net een of twee keer te besoek nie. Hy was ook nie skaam of bang om dit “dikwels” te doen nie. Onesiforus het waarlik die betekenis van sy naam, “Bringer van nut”, nageleef deur ondanks die gevare moedige en liefdevolle bystand te verleen.

Waarom het Onesiforus al hierdie dinge gedoen? Brian Rapske het gesê: “Die gevangenis was nie alleen ’n plek van fisiese lyding nie, maar ’n plek van diepe angs as gevolg van die spanning wat dit die gevangene besorg het. Teen so ’n agtergrond kon die persoonlike teenwoordigheid en bemoedigende woorde van helpers ’n groot emosionele aansporing vir die gevangene wees.” Onesiforus het dit blykbaar besef en het sy vriend moedig en lojaal ondersteun. Paulus het sulke hulp sekerlik hoog op prys gestel!

Wat het van Onesiforus geword?

In Paulus se tweede brief aan Timoteus het hy groete gestuur aan die huis van Onesiforus en van hom gesê: “Mag die Here aan hom gee dat hy barmhartigheid by Jehovah sal vind in daardie dag” (2 Timoteus 1:18; 4:19). Baie dink dat die woorde “in daardie dag” na God se oordeelsdag verwys en lei dus daaruit af dat Onesiforus gesterf het. Indien dit die geval was, was dit miskien omdat “Onesiforus hom een keer te veel in hierdie gevaarlike buurte gewaag het en . . . met sy lewe daarvoor geboet het”, is die mening van P. N. Harrison. Onesiforus kon natuurlik bloot weg van die huis af gewees het, of dalk het Paulus hom ingesluit in die groete wat hy aan sy hele huis gestuur het.

Party dink dalk dat daar spesiale betekenis opgesluit is in die stelling: “Mag die Here aan hom gee dat hy barmhartigheid by Jehovah sal vind in daardie dag.” Hulle meen dat hierdie woorde regverdig dat voorbidding gedoen word ten behoewe van afgestorwe siele wat lewe en miskien in die een of ander geestelike ryk lyding ondervind. Maar so ’n idee is in stryd met die skriftuurlike lering dat die dooies niks weet nie (Prediker 9:5, 10). Al het Onesiforus gesterf, het Paulus bloot ’n wens uitgespreek dat sy vriend barmhartigheid by God sal vind. “Ons is daarop geregtig om daardie wens vir almal te koester”, sê R. F. Horton. “Maar om vir die dooies te bid en die mis vir hulle op te dra, is ’n gedagte wat ver van die [apostel se] verstand verwyder is.”

Laat ons lojale vertroosters wees

Hetsy Onesiforus werklik sy lewe verloor het terwyl hy Paulus bygestaan het of nie, hy het beslis sy lewe gewaag om die apostel te vind en hom in die gevangenis te besoek. En dit ly geen twyfel dat Paulus die ondersteuning en bemoediging wat hy van Onesiforus ontvang het dringend nodig gehad en hoog op prys gestel het nie.

Wanneer mede-Christene beproewinge, vervolging of gevangenskap verduur, is ons dalk in staat om hulle te vertroos en te bemoedig. Mag ons derhalwe vir hulle bid en uit liefde alles in ons vermoë doen om hulle te help (Johannes 13:35; 1 Tessalonisense 5:25). Laat ons, soos Onesiforus, moedige vertroosters wees.

[Prent op bladsy 31]

Onesiforus het die apostel Paulus moedig vertroos terwyl hy in die gevangenis was

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel