Is dit altyd verkeerd om te kla?
Watter ergernisse is pynliker as dié waaroor ons nie kan kla nie?—Markies De Custine, 1790-1857.
SY HET twee jaar lank seksuele teistering deur ’n kollega verduur. Haar besware het daartoe gelei dat sy beledig en opsetlik geïgnoreer is. Die opgekropte spanning het haar gesondheid aangetas, maar wat kon sy doen? ’n Leerling wat eerste gestaan het in sy klas is eweneens geskors omdat sy gewete hom nie toegelaat het om aan die verweerkunsoefeninge deel te neem wat deur die skool vereis is nie. Albei het gevoel dat hulle veronreg is, maar moes hulle daaroor kla? Kon hulle verligting verwag indien hulle dit doen of sou dit sake net vererger?
Sulke en ander klagtes is vandag algemeen, aangesien ons tussen onvolmaakte mense lewe in ’n wêreld wat alles behalwe ideaal is. Klaery neem verskillende vorme aan: van ’n uiting van lydelike misnoeë, droefheid, pyn of gegriefdheid oor die een of ander situasie tot ’n formele aanklag teen ’n party. Die meeste mense verkies om klaery en konfrontasie te vermy; maar moet ’n mens altyd stilbly? Wat is die Bybel se beskouing?
Die slegte gevolge vir jou en ander
Dit ly geen twyfel dat ’n chroniese klaaggees skadelik is nie, en dit word in die Bybel veroordeel. ’n Klaer sal homself fisiese en geestelike skade berokken en die mense oor wie hy kla ergernis besorg. Die Bybelspreuk verwys na ’n klaende vrou en sê: “’n Aanhoudende gedrup op die dag van ’n stortreën en ’n twisgierige vrou is net eenders” (Spreuke 27:15). Klaery wat teen Jehovah of een van sy voorsienings gerig word, is veral strafwaardig. Toe die nasie Israel oor die manna gekla het wat gedurende hulle woestyntrek van 40 jaar wonderdadig voorsien is en dit “ellendige kos” genoem het, het Jehovah giftige slange gestuur om die oneerbiedige klaers te straf, en baie het gesterf.—Numeri 21:5, 6.
Daarbenewens het Jesus sy volgelinge gemaan om nie te kla oor “die strooihalm” van foute wat ons in ons medemens sien nie, maar om deeglik bewus te wees van die groter “balk” van tekortkominge wat ons self het (Matteus 7:1-5). In ’n soortgelyke trant het Paulus gesê dat dit “onverskoonbaar” is om ander te oordeel (’n vorm van klaery), “aangesien jy wat oordeel dieselfde dinge beoefen”. Hierdie waarskuwings teen klaery behoort ons te beweeg om nie onnodig krities te wees en ’n klaaggees te ontwikkel nie.—Romeine 2:1.
Word alle klaery veroordeel?
Moet ons derhalwe die gevolgtrekking maak dat alle vorme van klaery veroordeel moet word? Nee, ons moet nie. Die Bybel toon dat daar baie ongeregtighede in die sondige wêreld is waarin ons lewe wat tereg reggestel moet word. In ’n illustrasie het Jesus melding gemaak van ’n onregverdige regter wat teen sy sin aan ’n onderdrukte weduwee reg laat geskied het sodat sy ‘nie aanhoudend sou kom en hom slaan tot hy gedaan is nie’ (Lukas 18:1-8). In sommige opsigte sal dit dalk ook vir ons nodig wees om vol te hou met ons klagtes totdat onregte reggestel word.
Het Jesus ons, deur ons aan te moedig om te bid dat God se Koninkryk moet kom, nie aangespoor om die gebreke van hierdie huidige wêreld te erken en tot God ‘uit te roep’ om dit reg te stel nie? (Matteus 6:10). Toe “die klaaggeroep” oor die goddeloosheid van eertydse Sodom en Gomorra Jehovah se ore bereik het, het hy sy boodskappers uitgestuur om te “sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is” en sake reg te stel. (Genesis 18:20, 21, vgl. NW.) Tot verligting van diegene wat by Jehovah gekla het, het hy die situasie vervolgens reggestel deur die twee stede en hulle onsedelike inwoners te vernietig.
Die Christengemeente
Moet dinge anders wees onder broers in die Christengemeente? Hoewel Christene onvolmaakte manne en vroue is, probeer hulle opreg om God in vrede en eenheid te aanbid. Maar situasies sal wel onder hulle ontstaan wat tot ’n sekere mate rede sal gee tot klagte en wat reggestel sal moet word. In die eerste eeu het daar kort ná Pinkster ’n situasie ontstaan in die gemeente van gesalfdes. Talle pas bekeerde Christene het in Jerusalem gebly om verdere onderrigting en aanmoediging te ontvang. Die beskikbare voedsel is onder almal verdeel. Maar “daar [het] ’n murmurering aan die kant van die Griekssprekende Jode teen die Hebreeussprekende Jode ontstaan, omdat hulle weduwees in die daaglikse uitdeling oor die hoof gesien is”. Die apostels het nie hierdie klaers as rusiesoekers veroordeel nie, maar het eerder stappe gedoen om die situasie reg te stel. Ja, geregverdigde klagtes wat met die nodige eerbied en in die gepaste gees gedoen word, sal nederig aangehoor word, en diegene wat toesig in die gemeente het, sal daarop reageer.—Handelinge 6:1-6; 1 Petrus 5:3.
By dié wat die gepaste gesag het
Het jy uit die voorgaande voorbeelde opgelet dat klagtes in die gepaste gees en by dié wat die gepaste gesag het, ingebring moet word? Dit sou byvoorbeeld sinloos wees om by die polisie te kla oor ’n swaar belastingdruk of by ’n regter oor ’n mens se fisiese kwale. Dit sal eweneens ongepas wees om oor die een of ander situasie in of buite die gemeente te kla by iemand wat nie die gesag of vermoë het om te help nie.
Vandag is daar in die meeste lande howe en ander gepaste instansies waarop ’n mens jou kan beroep in die hoop om ’n mate van verligting te kry. Toe die leerling wat aan die begin van die artikel genoem is met sy klagte hof toe gegaan het, het die regters in sy guns beslis, en hy is deur die skool teruggeneem, en hulle het hom om verskoning gevra. Die vroulike werker wat seksueel geteister is, het eweneens verligting gevind deur ’n unie vir werkende vroue. Sy het ’n verskoning van die skoolraad ontvang. Haar werkgewers het stappe gedoen om die seksuele teistering stop te sit.
’n Mens moet egter nie verwag dat alle klagtes dieselfde uiteinde sal hê nie. Wyse koning Salomo was realisties en het gesê: “Wat krom is, kan nie reguit word nie” (Prediker 1:15). Ons sal verstandig wees as ons besef dat sekere sake eenvoudig aan God oorgelaat sal moet word om op sy bestemde tyd reg te stel.
[Prent op bladsy 31]
Ouer manne luister na geregverdigde klagtes en tree daarvolgens op