“Wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie”
“Ons wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie.”—2 KORINTIËRS 5:7.
1. Wat beteken dit om ‘deur geloof te wandel’?
ELKE keer as ons in ooreenstemming met die riglyne in God se Woord bid, toon ons dat ons ten minste ’n mate van geloof het. Ons lê ook geloof aan die dag wanneer ons vir ander oor God se Koninkryk begin getuig. En wanneer ons ons lewe aan Jehovah toewy, lewer ons bewys dat dit ons begeerte is om ‘deur geloof te wandel’, dit wil sê dat ons ’n lewe wil lei wat deur geloof gerig word.—2 Korintiërs 5:7; Kolossense 1:9, 10.
2. Waarom is deelname aan gemeentelike bedrywighede nie noodwendig bewys dat ’n mens geloof het nie?
2 As ons werklik so gaan lewe, het ons geloof nodig wat ’n goeie fondament het (Hebreërs 11:1, 6). Baie mense voel aangetrokke tot Jehovah se Getuies weens die hoë sedelike standaarde en die liefde wat hulle onder die Getuies sien. Dit is ’n goeie begin, maar dit beteken nie dat sulke persone geloof het nie. Ander het dalk ’n huweliksmaat of ’n ouer wat sterk geloof het, en hulle neem dalk saam met die een vir wie hulle lief is aan van sy bedrywighede deel. Dit is werklik ’n seën om so ’n invloed in ’n mens se huis te hê, maar ook dít is geen plaasvervanger daarvoor om God self lief te hê en self geloof te hê nie.—Lukas 10:27, 28.
3. (a) Wat moet ons persoonlike oortuiging met betrekking tot die Bybel wees as ons geloof wil hê wat ’n goeie fondament het? (b) Waarom word party mense makliker oortuig dat die Bybel geïnspireer is as ander?
3 Diegene wat werklik deur geloof wandel, is heeltemal oortuig dat die Bybel die Woord van God is. Daar is oorvloedige bewys dat die Heilige Skrif inderdaad “deur God geïnspireer” is (2 Timoteus 3:16).a Hoeveel van hierdie bewyse moet ondersoek word voordat ’n persoon oortuig word? Dit hang dalk van sy agtergrond af. Wat een persoon heeltemal tevrede stel, sal iemand anders moontlik nie oortuig nie. Soms, al lê ’n mens ’n oorvloed van onweerlegbare bewyse aan iemand voor, wil hy dalk nog steeds nie die gevolgtrekking aanvaar waartoe dit hom lei nie. Waarom nie? Weens begeertes wat diep in sy hart opgesluit is (Jeremia 17:9). Al sê iemand dat hy in God se voorneme belangstel, is dit dus moontlik dat sy hart na erkenning deur die wêreld smag. Hy wil dalk nie van ’n lewenswyse afsien wat strydig met Bybelstandaarde is nie. Maar as enigeen werklik honger na die waarheid, eerlik is met homself en nederig is, sal hy mettertyd besef dat die Bybel God se Woord is.
4. Wat word van ’n persoon vereis om geloof te verkry?
4 Dikwels besef mense wat gehelp word om die Bybel te bestudeer binne net ’n paar maande dat hulle reeds meer as genoeg bewys het dat dit die Woord van God is. As dit hulle beweeg om hulle hart oop te maak om deur Jehovah onderrig te word, sal hulle diepste gedagtes, hulle begeertes en hulle beweegredes geleidelik gevorm word deur die dinge wat hulle leer (Psalm 143:10). Romeine 10:10 sê dat ’n mens “met die hart” geloof beoefen. Sulke geloof toon hoe die individu werklik voel, en dit sal in sy lewenswandel duidelik wees.
Noag het op geloof met ’n goeie fondament gereageer
5, 6. Waarop was Noag se geloof gegrond?
5 Noag het geloof met ’n goeie fondament gehad (Hebreërs 11:7). Watter grondslag het hy daarvoor gehad? Noag het God se woord gehad, nie in geskrewe vorm nie, maar soos dit mondelings aan hom oorgedra is. Genesis 6:13 sê: “God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld.” (Ons kursiveer.) Jehovah het vir Noag die opdrag gegee om ’n ark te bou, en hy het besonderhede verstrek oor hoe om dit te doen. Toe het God bygevoeg: “Want kyk, Ék bring ’n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ’n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe.”—Genesis 6:14-17.
6 Het dit ooit voor hierdie tyd gereën? Die Bybel sê nie. Genesis 2:5 sê: “Die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie.” Maar dit is hoe Moses, wat eeue later gelewe het, die situasie beskryf het, nie soos dit in Noag se dag was nie, maar soos dit lank voor daardie tyd was. Soos ons in Genesis 7:4 sien, het Jehovah na reën verwys toe hy met Noag gepraat het, en Noag het klaarblyklik verstaan wat hy bedoel het. Tog was Noag se geloof nie in iets wat hy kon sien nie. Die apostel Paulus het geskryf dat Noag “’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie”. God het vir Noag gesê dat Hy die “watervloed”, of “die hemelse oseaan”, soos ’n voetnoot in die naslaanuitgawe van die New World Translation by Genesis 6:17 dit noem, oor die aarde gaan bring. Tot op daardie tydstip het so iets nog nooit gebeur nie. Maar die hele skepping wat vir Noag sigbaar was, het as ’n duidelike demonstrasie gedien dat God wel so ’n vernietigende vloed kon bring. Deur geloof aangedryf, het Noag die ark gebou.
7. (a) Wat het Noag nie nodig gehad ten einde te doen wat God hom beveel het nie? (b) Hoe word ons bevoordeel deur op Noag se geloof te let, en hoe kan ons geloof vir ander ’n seën wees?
7 God het nie vir Noag ’n datum gegee waarop die Vloed sou begin nie. Maar Noag het dit nie as ’n verskoning gebruik om die houding aan te neem dat hy eers sal kyk wat gebeur, terwyl hy die werk om die ark te bou en te preek die tweede plek in sy lewe gegee het nie. God het vroegtydig vir Noag gesê wanneer om in die ark in te gaan. Intussen het “Noag . . . voortgegaan om te doen volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Genesis 6:22, NW). Noag het deur geloof gewandel, nie deur aanskouing nie. Hoe dankbaar is ons tog dat hy dit gedoen het! Ons lewe vandag as gevolg van sy geloof. In ons geval kan die geloof wat ons aan die dag lê ook ’n diepgaande uitwerking hê op wat die toekoms inhou, nie net vir ons nie maar ook vir ons kinders en vir ander mense om ons.
Die geloof van Abraham
8, 9. (a) Waarop het Abraham sy geloof gegrond? (b) Hoe het Jehovah aan Abraham “verskyn”?
8 Kyk na ’n ander voorbeeld—dié van Abraham (Hebreërs 11:8-10). Waarop het Abraham sy geloof gegrond? Die milieu waarin hy opgegroei het, in Ur van die Galdeërs, was afgodies en materialisties. Maar Abraham se lewensbeskouing is deur ander invloede gevorm. Hy kon ongetwyfeld omgaan met Noag se seun Sem, wie se lewe 150 jaar lank met sy lewe saamgeval het. Abraham het oortuig geraak dat Jehovah “die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde” is.—Genesis 14:22.
9 Iets anders het ’n groot invloed op Abraham gehad. Jehovah het aan “Abraham verskyn terwyl hy in Mesopotamië was, voordat hy hom in Haran gevestig het, en hy het vir hom gesê: ‘Trek weg uit jou land en van jou familielede en kom na die land wat ek jou sal wys’” (Handelinge 7:2, 3). Hoe het Jehovah aan Abraham “verskyn”? Abraham het God nie direk gesien nie (Exodus 33:20). Maar dit is moontlik dat Jehovah in ’n droom aan Abraham verskyn het, met ’n bonatuurlike vertoning van heerlikheid of deur middel van ’n engeleboodskapper, oftewel engeleverteenwoordiger. (Vergelyk Genesis 18:1-3; 28:10-15; Levitikus 9:4, 6, 23, 24.) Ongeag hoe Jehovah aan Abraham verskyn het, hierdie getroue man het die vertroue gehad dat God ’n kosbare voorreg voor hom stel. Abraham het in geloof opgetree.
10. Hoe het Jehovah Abraham se geloof versterk?
10 Abraham se geloof het nie daarvan afgehang of hy besonderhede gehad het oor die land waarheen God hom gelei het nie. Dit het ook nie daarvan afgehang of hy geweet het wanneer daardie land aan hom gegee sou word nie. Hy het geloof gehad omdat hy Jehovah as God die Almagtige geken het (Exodus 6:2). Jehovah het vir Abraham gesê dat hy ’n nageslag sou hê, maar soms het Abraham gewonder hoe dit moontlik kon wees. Hy het begin oud word (Genesis 15:3, 4). Jehovah het Abraham se geloof versterk deur vir hom te sê om na die sterre op te kyk en hulle te tel as hy kon. “Só sal jou saad word”, het God gesê. Abraham is diep geraak. Natuurlik kon die Skepper van daardie ontsagwekkende hemelliggame vervul wat hy belowe het. Abraham “het geloof in Jehovah gestel” (Genesis 15:5, 6, NW). Abraham het nie geglo bloot omdat hy gehou het van wat hy gehoor het nie; hy het geloof gehad wat op ’n goeie fondament gegrond was.
11. (a) Hoe het Abraham, toe hy amper 100 jaar oud was, op God se belofte gereageer dat die bejaarde Sara ’n seun sou baar? (b) Met watter soort geloof het Abraham die toets die hoof gebied om sy seun na die berg Moria te neem en hom te offer?
11 Toe Abraham amper 100 jaar oud was en sy vrou, Sara, amper 90, het Jehovah sy belofte herhaal dat Abraham ’n seun sou hê en dat Sara die moeder sou wees. Abraham het realisties gedink oor hulle situasie. “Maar weens die belofte van God het hy nie in ongeloof gewankel nie, maar kragtig geword deur sy geloof, terwyl hy God die heerlikheid gegee het en heeltemal daarvan oortuig was dat hy ook kon doen wat hy beloof het” (Romeine 4:19-21). Abraham het geweet dat die belofte van God nie kon faal nie. Weens Abraham se geloof was hy later gehoorsaam toe God vir hom gesê het om sy seun Isak na die land Moria te neem en hom te offer (Genesis 22:1-12). Abraham het die volste vertroue gehad dat die God wat wonderdadig die geboorte van daardie seun kon bewerk hom ook kon opwek sodat die verdere beloftes wat Hy in verband met hom gemaak het, vervul sou word.—Hebreërs 11:17-19.
12. Hoe lank het Abraham deur geloof bly wandel, en watter beloning wag op hom en sy familielede wat sterk geloof aan die dag gelê het?
12 Abraham het getoon dat hy deur geloof gerig is, nie net in enkele gevalle nie, maar dwarsdeur sy lewe. Gedurende sy leeftyd het Abraham geen deel van die Beloofde Land as ’n erfdeel van God ontvang nie (Handelinge 7:5). En tog het Abraham nie moeg geword en na Ur van die Galdeërs teruggekeer nie. Hy het 100 jaar lank, tot sy dood, in tente gewoon in die land waarheen God hom gebring het (Genesis 25:7). Aangaande hom en sy vrou Sara, hulle seun Isak en hulle kleinseun Jakob sê Hebreërs 11:16: “God skaam hom derhalwe nie vir hulle nie, om as hulle God aangeroep te word nie, want hy het ’n stad vir hulle gereedgemaak.” Ja, Jehovah het ’n plek vir hulle in die aardse ryk van sy Messiaanse Koninkryk.
13. Wie is daar vandag onder Jehovah se knegte wat bewys lewer dat hulle geloof het soos dié van Abraham?
13 Daar is vandag mense onder Jehovah se knegte wat soos Abraham is. Hulle wandel al jare lank deur geloof. Deur die krag wat God gee, het hulle bergagtige struikelblokke te bowe gekom (Matteus 17:20). Hulle wankel nie in hulle geloof omdat hulle nie weet presies wanneer God hulle die erfdeel gaan gee wat hy belowe het nie. Hulle weet dat die woord van Jehovah nie kan faal nie, en hulle beskou dit as ’n onskatbare voorreg om onder sy Getuies gereken te word. Is dit hoe jy voel?
Die geloof waardeur Moses beweeg is
14. Hoe is die grondslag vir Moses se geloof gelê?
14 Nog ’n voorbeeld van geloof is Moses. Wat was die grondslag van sy geloof? Dit is in sy kinderjare gelê. Hoewel Farao se dogter Moses in ’n papirusmandjie in die Nylrivier gevind het en hom as haar seun aangeneem het, het Moses se eie Hebreeuse moeder, Jogebed, die seuntjie gesoog en hom gedurende sy vroeë jare onder haar sorg gehad. Jogebed het hom klaarblyklik goed geleer en liefde vir Jehovah en waardering vir Sy beloftes aan Abraham by hom ingeskerp. Later is Moses, as ’n lid van Farao se huis, “in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig” (Handelinge 7:20-22; Exodus 2:1-10; 6:20; Hebreërs 11:23). Maar ondanks Moses se begunstigde posisie was sy hart met God se volk wat in slawerny was.
15. Wat het dit vir Moses beteken toe hy hom met Jehovah se volk geïdentifiseer het?
15 In sy 40ste jaar het Moses ’n Egiptenaar doodgeslaan om ’n Israeliet te red wat onregverdig behandel is. Hierdie voorval het getoon hoe Moses God se volk beskou het. Ja, “deur geloof het Moses, nadat hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word”. Hy het nie aan “die tydelike genieting van sonde” as ’n lid van die Egiptiese hof vasgekleef nie, maar is eerder deur geloof beweeg om hom te identifiseer met die volk van God wat sleg behandel is.—Hebreërs 11:24, 25; Handelinge 7:23-25.
16. (a) Watter opdrag het Jehovah Moses gegee, en hoe het God hom gehelp? (b) Hoe het Moses geloof getoon terwyl hy sy opdrag uitgevoer het?
16 Moses was gretig om op te tree om vir sy volk verligting te bring, maar God se tyd vir hulle verlossing het toe nog nie aangebreek nie. Moses moes uit Egipte vlug. Eers omtrent 40 jaar later het Jehovah, deur middel van ’n engel, vir Moses die opdrag gegee om na Egipte terug te keer om die Israeliete uit daardie land te lei (Exodus 3:2-10). Hoe het Moses gereageer? Hy het nie getwyfel aan Jehovah se vermoë om Israel te verlos nie, maar hy het gevoel dat hy nie opgewasse was vir die rol wat God voor hom gestel het nie. Jehovah het op liefdevolle wyse die aanmoediging gegee wat Moses nodig gehad het (Exodus 3:11–4:17). Moses se geloof het sterk geword. Hy het na Egipte teruggekeer en Farao herhaaldelik van aangesig tot aangesig gewaarsku oor die plae wat oor Egipte sou kom omdat daardie heerser Israel nie laat gaan het om Jehovah te aanbid nie. Moses het self nie die krag gehad om daardie plae teweeg te bring nie. Hy het deur geloof gewandel, nie deur aanskouing nie. Sy geloof was in Jehovah en sy woord. Farao het Moses gedreig. Maar Moses het volhard. “Deur geloof het hy Egipte verlaat, maar sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). Moses was nie volmaak nie. Hy het foute gemaak (Numeri 20:7-12). Maar nadat hy deur God aangestel is, is sy hele lewenswandel deur geloof gerig.
17. Die feit dat Noag, Abraham en Moses deur geloof gewandel het, het wat vir hulle tot gevolg gehad, al het hulle nie God se nuwe wêreld in hulle dag gesien nie?
17 Mag jou geloof soos dié van Noag, Abraham en Moses wees. Hulle het God se nuwe wêreld weliswaar nie in hulle dag gesien nie (Hebreërs 11:39). Dit was nog nie God se vasgestelde tyd nie; daar was ander aspekte van sy voorneme wat eers uitgevoer moes word. Maar hulle geloof in God se woord het nie gewankel nie, en hulle name is in God se boek van die lewe.
18. Waarom is dit vir diegene wat tot hemelse lewe geroep is, nodig om deur geloof te wandel?
18 “God [het] iets beters vir ons voorsien”, het die apostel Paulus geskryf. Dit wil sê, God het iets beters voorsien vir diegene wat, soos Paulus, tot hemelse lewe saam met Christus geroep is (Hebreërs 11:40). Dit is juis hulle wat Paulus in gedagte gehad het toe hy die woorde van 2 Korintiërs 5:7 geskryf het: “Ons wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie.” Toe dit geskryf is, het nog nie een van hulle al hulle hemelse beloning ontvang nie. Hulle kon dit nie met hulle fisiese oë sien nie, maar hulle geloof daarin het ’n goeie fondament gehad. Christus is uit die dode opgewek, die eersteling van dié wat hemelse lewe ontvang het. En meer as 500 getuies het hom gesien voor hy na die hemel opgevaar het (1 Korintiërs 15:3-8). Hulle het oorgenoeg rede gehad om hulle hele lewe deur daardie geloof te laat rig. Ons het ook goeie rede om deur geloof te wandel.
19. Deur middel van wie het God, volgens Hebreërs 1:1, 2, met ons gepraat?
19 Vandag praat Jehovah nie deur middel van ’n engel met sy volk, soos hy met Moses by die brandende bos gedoen het nie. God het deur middel van sy Seun gepraat (Hebreërs 1:1, 2). Wat God deur middel van hom gesê het, het Hy laat opteken in die Bybel, wat in die tale van mense regoor die wêreld vertaal is.
20. Hoe is ons situasie baie gunstiger as dié van Noag, Abraham en Moses?
20 Ons het baie meer as wat Noag, Abraham en Moses gehad het. Ons het die volledige Woord van God—waarvan ’n groot deel reeds vervul is. Met die oog op alles wat die Bybel sê oor manne en vroue wat ondanks allerhande beproewinge getoon het dat hulle getroue getuies van Jehovah is, spoor Hebreërs 12:1 ons aan: “Laat ons ook elke gewig aflê en die sonde wat ons maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop.” Ons geloof is nie iets wat ons as vanselfsprekend kan aanneem nie. “Die sonde wat ons maklik verstrik”, is ’n gebrek aan geloof. Ons moet hard stry om ‘deur geloof te bly wandel’.
[Voetnote]
a Sien Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Wat is jou antwoord?
◻ Wat behels dit om ‘deur geloof te wandel’?
◻ Hoe kan ons baat vind by die manier waarop Noag geloof getoon het?
◻ Hoe word ons gehelp deur die manier waarop Abraham geloof beoefen het?
◻ Waarom verwys die Bybel na Moses as ’n voorbeeld van geloof?
[Prent op bladsy 10]
Abraham het deur geloof gewandel
[Prent op bladsy 10]
Moses en Aäron het geloof getoon toe hulle voor Farao verskyn het