Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 1/1 bl. 11-20
  • “Maak julle harte standvastig”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Maak julle harte standvastig”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Abraham se voorbeeld van geloof
  • Luister na God
  • Praat met God
  • ’n Hedendaagse bewys van geloof
  • Kweek vandag geloof aan
  • ’n Hoop wat binnekort verwesenlik sal word
  • Jehovah het hom “my vriend” genoem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Het jy geloof soos dié van Abraham?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Wie was Abraham?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • “Wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 1/1 bl. 11-20

“Maak julle harte standvastig”

“Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang.”—HEBREËRS 10:36.

1, 2. (a) Wat het in die eerste eeu met ’n aantal Christene gebeur? (b) Waarom kan geloof maklik verswak?

NIE een van die Bybelskrywers het meer oor geloof gepraat as die apostel Paulus nie. En hy het dikwels diegene gemeld wie se geloof verswak of tot niet gegaan het. Himeneus en Aleksander het byvoorbeeld “skipbreuk gely wat hulle geloof betref” (1 Timoteus 1:19, 20). Demas het Paulus verlaat omdat “hy die teenswoordige stelsel van dinge liefgehad het” (2 Timoteus 4:10). Sommige het “die geloof verloën” deur hulle onchristelike, onverantwoordelike optrede. Ander is mislei deur valse wysheid en het “van die geloof afgewyk”.—1 Timoteus 5:8; 6:20, 21.

2 Waarom het daardie gesalfde Christene toegelaat dat dit gebeur? Wel, “geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike demonstrasie van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Ons beoefen geloof in wat ons nie kan sien nie. Ons het dit nie nodig vir dinge wat ons wel sien nie. Dit is makliker om vir sigbare rykdom as onsigbare geestelike skatte te werk (Matteus 19:21, 22). Talle sigbare dinge—soos “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë”—is baie aanloklik vir ons onvolmaakte vlees en kan ons geloof verswak.—1 Johannes 2:16.

3. Watter soort geloof moet ’n Christen aankweek?

3 Tog sê Paulus dat “hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek”. Moses het sulke geloof gehad. Hy “het sy blik stip op die beloning gerig gehou” en “het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:6, 24, 26, 27). ’n Christen het hierdie soort geloof nodig. Soos in die vorige artikel genoem is, was Abraham ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig.

Abraham se voorbeeld van geloof

4. Watter uitwerking het Abraham se geloof op sy lewenswandel gehad?

4 Abraham was in Ur toe hy God se belofte ontvang het dat hy ’n saad sou voortbring wat ’n seën vir mense van alle nasies sou word (Genesis 12:1-3; Handelinge 7:2, 3). Op grond van daardie belofte het Abraham Jehovah gehoorsaam en het hy eers na Haran en toe na Kanaän getrek. Daar het Jehovah belowe om die land aan Abraham se saad te gee (Genesis 12:7; Nehemia 9:7, 8). Maar baie van wat Jehovah belowe het, sou ná Abraham se dood vervul word. Abraham self het byvoorbeeld nooit enige deel van Kanaän besit nie—behalwe die spelonk van Magpela, wat hy gekoop het om as ’n begraafplaas te gebruik (Genesis 23:1-20). Hy het nogtans geloof in Jehovah se woord beoefen. Hy het bowenal geloof beoefen in ’n toekomstige “stad wat ware fondamente het, van welke stad God die bouer en maker is” (Hebreërs 11:10). Sulke geloof het hom dwarsdeur sy lewe onderskraag.

5, 6. Hoe is Abraham se geloof in Jehovah se belofte getoets?

5 Dit word veral gesien in verband met die belofte dat Abraham se saad ’n groot nasie sou word. Voordat dit kon gebeur, moes Abraham ’n seun hê, en hy het lank gewag om met een geseën te word. Ons weet nie hoe oud hy was toe hy God se belofte vir die eerste keer gehoor het nie, maar toe hy die lang reis na Haran onderneem het, het Jehovah hom nog nie ’n kind gegee nie (Genesis 11:30). Hy was lank genoeg in Haran om ‘besittings bymekaar te maak en slawe te verwerf’, en toe hy na Kanaän getrek het, was hy 75 en Sara 65 jaar oud. Maar hy het nog steeds nie ’n seun gehad nie (Genesis 12:4, 5). Toe Sara in haar middel-sewentigerjare was, het sy gedink dat sy nou te oud was om vir Abraham ’n kind te baar. Sy het gevolglik, volgens ’n destydse gebruik, haar slavin Hagar vir Abraham gegee, en hy het ’n seun by haar gehad. Maar dit was nie die beloofde kind nie. Hagar en haar kind, Ismael, is later weggestuur. Jehovah het nietemin belowe om Ismael te seën toe Abraham vir hulle gepleit het.—Genesis 16:1-4, 10; 17:15, 16, 18-20; 21:8-21.

6 Op God se bestemde tyd—baie lank nadat hulle die belofte vir die eerste keer gehoor het—het die 100-jarige Abraham en die 90-jarige Sara ’n babaseuntjie, Isak, gehad. Hoe wonderlik moes dit tog gewees het! Vir hierdie bejaarde egpaar was dit amper soos ’n opstanding toe hulle liggame, wat as ’t ware “dood” was, nuwe lewe voortgebring het (Romeine 4:19-21). Hulle moes lank wag, maar toe die belofte uiteindelik vervul is, is hulle geduld beloon.

7. Hoe hou geloof en volharding met mekaar verband?

7 Abraham se voorbeeld herinner ons aan die feit dat geloof nie net van korte duur moet wees nie. Paulus het geloof en volharding met mekaar verbind toe hy geskryf het: “Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang. . . . Ons is dan nou nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie, maar die soort wat geloof het tot die behoud van die siel” (Hebreërs 10:36-39). Baie wag al lank vir die vervulling van die belofte. Sommige het hulle hele lewe lank daarvoor gewag. Hulle sterk geloof het hulle onderskraag. En soos Abraham sal hulle die beloning op Jehovah se bestemde tyd ontvang.—Habakuk 2:3.

Luister na God

8. Hoe luister ons vandag na God, en waarom sal dit ons geloof versterk?

8 Ten minste vier faktore het Abraham se geloof versterk, en dieselfde dinge kan ons help. Hy het eerstens getoon dat hy ‘glo dat God bestaan’ deur na Jehovah te luister wanneer hy gepraat het. Hy was dus anders as die Jode van Jeremia se dag wat aan Jehovah geglo het, maar geen geloof in sy woorde gehad het nie (Jeremia 44:15-19). Jehovah praat vandag met ons deur middel van die Bybel, sy geïnspireerde Woord, wat Petrus gesê het soos ‘’n lamp is wat in ’n donker plek skyn, in julle harte’ (2 Petrus 1:19). Wanneer ons die Bybel aandagtig lees, word ons “gevoed . . . met die woorde van die geloof” (1 Timoteus 4:6; Romeine 10:17). Daarbenewens voorsien “die getroue en verstandige slaaf” in hierdie laaste dae geestelike “voedsel op die regte tyd”, met ander woorde leiding om Bybelbeginsels toe te pas en Bybelprofesieë te verstaan (Matteus 24:45-47). As ons sterk geloof wil hê, is dit onontbeerlik dat ons deur middel van hierdie kanale na Jehovah luister.

9. Wat sal die gevolg wees as ons vas glo in die Christelike hoop?

9 Daar was ’n noue verband tussen Abraham se geloof en sy hoop. “Met hoop as grondslag [het hy] geloof gehad, dat hy die vader van baie nasies kon word” (Romeine 4:18). Dit is ’n tweede faktor wat ons kan help. Ons moet nooit vergeet dat Jehovah “die beloner word van dié wat hom ernstig soek” nie. Die apostel Paulus het gesê: ‘Ons werk hard en span ons in, omdat ons ons hoop gevestig het op ’n lewende God’ (1 Timoteus 4:10). As ons vas glo in die Christelike hoop, sal ons hele lewenswandel, soos in die geval van Abraham, bewys lewer van ons geloof.

Praat met God

10. Watter soort gebed sal ons geloof versterk?

10 Abraham het met God gepraat, en dit was ’n derde faktor wat sy geloof versterk het. Ons kan ook vandag met Jehovah praat deur gebruik te maak van die gawe van gebed deur Jesus Christus (Johannes 14:6; Efesiërs 6:18). Dit was nadat Jesus ’n gelykenis vertel het wat beklemtoon het hoe belangrik dit is om voortdurend te bid dat hy die vraag gevra het: “Wanneer die Seun van die mens kom, sal hy werklik die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8). Geloofversterkende gebed is nie gedagteloos of werktuiglik nie. Dit is uiters sinvol. Hartgrondige gebed is byvoorbeeld noodsaaklik wanneer ons belangrike besluite moet neem of wanneer ons onder groot druk verkeer.—Lukas 6:12, 13; 22:41-44.

11. (a) Hoe is Abraham versterk toe hy sy hart voor God uitgestort het? (b) Wat kan ons uit Abraham se ondervinding leer?

11 Toe Abraham ouer geword het en Jehovah hom nog steeds nie die beloofde saad gegee het nie, het hy met God gepraat oor wat hom kwel. Jehovah het hom gerusgestel. Die gevolg? Abraham “het geloof in Jehovah gestel; en hy het hom dit as regverdigheid toegereken”. Jehovah het hom toe ’n teken gegee om sy gerusstellende woorde te bevestig (Genesis 15:1-18, NW). As ons ons hart in gebed voor Jehovah uitstort, die versekering aanvaar wat Jehovah in sy Woord, die Bybel, gee en hom met algehele geloof gehoorsaam, sal Jehovah ook ons geloof versterk.—Matteus 21:22; Judas 20, 21.

12, 13. (a) Hoe is Abraham geseën toe hy Jehovah se bevele gehoorsaam het? (b) Watter soort ondervindinge sal ons geloof versterk?

12 ’n Vierde faktor wat Abraham se geloof versterk het, was die ondersteuning wat Jehovah hom gegee het wanneer hy God se bevele gehoorsaam het. Toe Abraham Lot van die invallende konings gaan red het, het Jehovah hom die oorwinning gegee (Genesis 14:16, 20). Terwyl Abraham soos ’n tydelike inwoner gewoon het in die land wat sy saad sou beërf, het Jehovah hom materieel geseën. (Vergelyk Genesis 14:21-23.) Jehovah het sy dienaar gerig sodat hy ’n geskikte vrou vir Isak kon vind (Genesis 24:10-27). Ja, Jehovah “het Abraham in alles geseën” (Genesis 24:1). Gevolglik het hy sulke sterk geloof in Jehovah God en so ’n hegte verhouding met hom gehad dat Jehovah hom “my vriend” genoem het.—Jesaja 41:8; Jakobus 2:23.

13 Kan ons vandag sulke sterk geloof hê? Ja. As ons, soos Abraham, Jehovah op die proef stel deur sy bevele te gehoorsaam, sal hy ons ook seën, en dit sal ons geloof versterk. ’n Kykie na die rapport vir die 1998-diensjaar toon byvoorbeeld dat talle mense wonderlike seëninge geniet het wanneer hulle sy bevel gehoorsaam het om die goeie nuus te verkondig.—Markus 13:10.

’n Hedendaagse bewys van geloof

14. Hoe het Jehovah die kampanje met Koninkryksnuus Nr. 35 geseën?

14 Danksy die ywer en entoesiasme van miljoene individuele Getuies was die wêreldwye kampanje met Koninkryksnuus Nr. 35 in Oktober 1997 ’n reusesukses. ’n Tipiese voorbeeld is wat in Ghana gebeur het. Byna 2,5 miljoen eksemplare is in vier tale versprei, en byna 2 000 Bybelstudies is as gevolg hiervan aangevra. In Siprus het twee Getuies wat besig was om die Koninkryksnuus te versprei, opgemerk dat ’n priester hulle volg. Ná ’n rukkie het hulle hom ’n eksemplaar van die Koninkryksnuus aangebied. Hy het reeds een gehad en gesê: “Ek was so beïndruk deur die boodskap daarin dat ek die mense wat dit voorberei het, wou gelukwens.” In Denemarke is 1,5 miljoen eksemplare van die Koninkryksnuus versprei en het dit goeie resultate gelewer. ’n Vrou wat as ’n skakelbeampte in daardie land werk, het gesê: “Die traktaat het ’n boodskap vir almal. Dit is maklik om te verstaan, dit ontroer jou en vul jou met ’n begeerte om meer te weet. Dit slaan die spyker op die kop!”

15. Watter ondervindinge toon dat Jehovah die pogings geseën het om mense te bereik waar hulle ook al gevind kan word?

15 In 1998 is pogings aangewend om nie net by mense se huise vir hulle te getuig nie, maar waar hulle ook al gevind kan word. In Côte d’Ivoire het ’n sendelingegpaar 322 skepe in die dok besoek. Hulle het 247 boeke, 2 284 tydskrifte, 500 brosjures en honderde traktate versprei, asook video’s waarna die matrose kan kyk terwyl hulle op see is. In Kanada het ’n Getuie na die werkswinkel van ’n paneelklopper gegaan. Die eienaar het belanggestel, en die broer het vier en ’n half uur daar gebly, al het hy altesaam net ’n uur of wat getuig wanneer daar nie klante was nie. Uiteindelik is ’n studie vir 10:00 nm. gereël. Maar soms het dit eers middernag begin en tot twee-uur in die oggend geduur. Die studietyd was waarskynlik ’n uitdaging, maar goeie resultate is gelewer. Die man het besluit om sy werkswinkel op Sondae te sluit sodat hy vergaderinge kon bywoon. Hy en sy gesin het gou goeie vooruitgang begin maak.

16. Watter ondervindinge toon dat die Vereis-brosjure en die Kennis-boek kragtige instrumente in die predikings- en onderrigtingswerk is?

16 Die brosjure Wat vereis God van ons? en die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei is nog steeds kragtige instrumente in die predikings- en onderrigtingswerk. In Italië het ’n non wat vir ’n bus gewag het ’n eksemplaar van die Koninkryksnuus geneem. Die volgende dag is sy weer genader en het sy die Vereis-brosjure geneem. Elke dag daarna het sy ’n Bybelstudie van 10 tot 15 minute by die bushalte gehad. Ná ’n maand en ’n half het sy besluit om die klooster te verlaat en na haar tuiste in Guatemala terug te gaan om haar studie voort te sit. In Malawi was ’n getroue kerkganger, Lobina, ontevrede toe haar dogters die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Wanneer hulle kon, het die dogters nogtans met hulle moeder oor Bybelwaarhede gepraat. In Junie 1997 het Lobina die Kennis-boek gesien, en die woorde “Kennis wat tot die ewige lewe lei” het haar belangstelling geprikkel. In Julie het sy tot ’n Bybelstudie ingestem. In Augustus het sy die streekbyeenkoms bygewoon en aandagtig na die hele program geluister. Teen die einde van daardie maand het sy haar kerk verlaat en gekwalifiseer om ’n ongedoopte verkondiger te wees. Sy is in November 1997 gedoop.

17, 18. Hoe was die Genootskap se video’s nuttig om mense te help om geestelike dinge te “sien”?

17 Die Genootskap se video’s het al baie mense gehelp om geestelike dinge te “sien”. In Mauritius het ’n man sy kerk weens die verdeeldheid daarin verlaat. ’n Sendeling het met behulp van die video United by Divine Teaching vir hom gewys hoe verenig Jehovah se Getuies is. Die man was beïndruk en het gesê: “Jehovah se Getuies is alreeds in die Paradys!” Hy het tot ’n Bybelstudie ingestem. ’n Suster in Japan het haar ongelowige man die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name gewys, en dit het hom beweeg om ’n gereelde Bybelstudie te hê. Nadat hy United by Divine Teaching gesien het, wou hy een van Jehovah se Getuies wees. Die drieledige reeks met die titel The Bible—A Book of Fact and Prophecy het hom gehelp om Bybelbeginsels in sy lewe toe te pas. Laastens het die video Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault vir hom gewys dat Jehovah sy volk teen Satan se aanvalle versterk. Die man is in Oktober 1997 gedoop.

18 Dit is net ’n paar van die afgelope diensjaar se talle ondervindinge. Dit toon dat Jehovah se Getuies ’n lewende geloof het en dat Jehovah hulle geloof versterk deur hulle werk te seën.—Jakobus 2:17.

Kweek vandag geloof aan

19. (a) Hoe is ons in ’n beter posisie as Abraham? (b) Hoeveel het verlede jaar bymekaargekom om Jesus se offerdood te herdenk? (c) Watter lande het verlede jaar ’n uitsonderlike Gedenkmaalopkoms gehad? (Sien tabel op bladsy 12 tot 15.)

19 In baie opsigte is ons vandag in ’n beter posisie as Abraham. Ons weet dat Jehovah al sy beloftes aan Abraham vervul het. Abraham se nakomelinge hét Kanaän beërf, en hulle hét ook ’n groot nasie geword (1 Konings 4:20; Hebreërs 11:12). Wat meer is, ongeveer 1 971 jaar nadat Abraham Haran verlaat het, is een van sy nakomelinge, Jesus, deur Johannes die Doper in water en toe deur Jehovah self in heilige gees gedoop wat hom in die volste, geestelike sin die Messias, Abraham se Saad, laat word het (Matteus 3:16, 17; Galasiërs 3:16). Op 14 Nisan 33 G.J. het Jesus sy lewe as ’n losprys opgeoffer vir diegene wat geloof in hom sou beoefen (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Miljoene kon hulleself nou deur middel van hom seën. Verlede jaar het 13 896 312 op 14 Nisan bymekaargekom om hierdie wonderlike liefdedaad te herdenk. Hoe het dit Jehovah, die Groot Vervuller van beloftes, tog verheerlik!

20, 21. Hoe het mense uit alle nasies hulleself in die eerste eeu deur Abraham se Saad geseën, en hoe seën hulle hulleself vandag?

20 In die eerste eeu het baie mense uit alle nasies—waarvan vleeslike Israel die eerste was—geloof in hierdie Saad van Abraham beoefen en gesalfde seuns van God, lede van ’n nuwe, geestelike “Israel van God”, geword (Galasiërs 3:26-29; 6:16; Handelinge 3:25, 26). Hulle het ’n gewaarborgde verwagting van onsterflike geeslewe in die hemel as medeheersers in God se Koninkryk gehad. Slegs 144 000 sou op hierdie wyse geseën word, en daar is min van hulle nog op die aarde oor (Openbaring 5:9, 10; 7:4). Verlede jaar het 8 756 bewys gelewer van hulle oortuiging dat hulle deel is van hierdie groep deur gedurende die Gedenkmaalviering van die embleme te gebruik.

21 Vandag is byna al Jehovah se Getuies lede van die “groot skare” wat in Openbaring 7:9-17 voorspel is. Omdat hulle hulleself deur Jesus seën, het hulle die hoop van ewige lewe op ’n paradysaarde (Openbaring 21:3-5). Die 5 888 650 wat in 1998 aan die predikingswerk deelgeneem het, is ’n bewys dat hierdie skare werklik “groot” is. Dit was veral opwindend om te sien dat Rusland sowel as die Oekraïne vir die eerste keer meer as 100 000 verkondigers gerapporteer het. Die verslag van die Verenigde State was ook uitstekend—1 040 283 verkondigers in Augustus! Dit is slegs drie van die 19 lande wat verlede jaar meer as 100 000 verkondigers gerapporteer het.

’n Hoop wat binnekort verwesenlik sal word

22, 23. (a) Waarom moet ons ons harte vandag standvastig maak? (b) Hoe kan ons soos Abraham wees, en nie soos dié sonder geloof wat deur Paulus gemeld is nie?

22 Gedenkmaalbywoners is herinner aan hoe ver die vervulling van Jehovah se beloftes al gevorder het. In 1914 is Jesus as Koning van God se hemelse Koninkryk gekroon, wat die begin was van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag (Matteus 24:3; Openbaring 11:15). Ja, Abraham se Saad heers nou in die hemel! Jakobus het vir Christene van sy dag gesê: ‘Beoefen geduld; maak julle harte standvastig, want die teenwoordigheid van die Here het naby gekom’ (Jakobus 5:8). Wel, daardie teenwoordigheid is nou ’n werklikheid! Hoeveel meer rede het ons tog nie om ons harte standvastig te maak nie!

23 Mag ons vertroue in God se beloftes voortdurend versterk word deur gereelde Bybelstudie en sinvolle gebed. Mag ons altyd Jehovah se seën geniet terwyl ons sy Woord gehoorsaam. Dan sal ons soos Abraham wees, nie soos diegene wat Paulus gemeld het wie se geloof verswak en tot niet gegaan het nie. Niks sal ons van ons allerheiligste geloof skei nie (Judas 20). Dit is ons bede dat dit vir al Jehovah se knegte gedurende die 1999-diensjaar en tot in alle ewigheid die geval sal wees.

Weet jy?

◻ Hoe kan ons vandag na God luister?

◻ Watter voordele hou sinvolle gebed tot God in?

◻ Hoe sal ons geloof versterk word as ons gehoorsaam is en Jehovah se leiding volg?

◻ Watter aspekte van die jaarverslag (bladsye 12 tot 15) het jy veral interessant gevind?

[Tabel op bladsy 12-15]

WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1998-DIENSJAAR

(See bound volume)

[Prent op bladsy 16]

As ons na Jehovah se Woord luister, sal ons vertroue in sy beloftes versterk word

[Prent op bladsy 18]

Ons geloof word versterk wanneer ons aan die bediening deelneem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel