Hou aan om met God te wandel
“Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie.”—GALASIËRS 5:16.
1. (a) Onder watter omstandighede en hoe lank het Henog met God gewandel? (b) Hoe lank het Noag met God gewandel, en watter groot verantwoordelikhede het hy gehad?
DIE Bybel sê vir ons dat Henog “met die ware God bly wandel” het. Ondanks die skokkende spraak en goddelose gedrag van die mense om hom het hy aangehou om met God te wandel tot aan die einde van sy lewe op 365-jarige ouderdom (Genesis 5:23, 24, NW; Judas 14, 15). Ook Noag het “met God gewandel”. Hy het dit gedoen terwyl hy sy gesin grootgemaak het, terwyl hy te kampe gehad het met ’n wêreld wat deur opstandige engele en hulle gewelddadige nageslag beïnvloed is en terwyl hy na al die besonderhede omgesien het om ’n groot ark te bou wat groter was as enige vaartuig van die ou tyd. Hy het ná die Vloed met God bly wandel, selfs toe opstand teen Jehovah weer by Babel kop uitgesteek het. Trouens, Noag het reg tot sy dood op 950-jarige ouderdom met God bly wandel.—Genesis 6:9; 9:29.
2. Wat word daarmee bedoel om ‘met God te wandel’?
2 Wanneer die Bybel sê dat hierdie manne van geloof met God “gewandel” het, gebruik dit die woord in figuurlike sin. Dit beteken dat Henog en Noag gehandel het op ’n manier wat van sterk geloof in God getuig het. Hulle het gedoen wat Jehovah hulle beveel het en hulle lewe gerig in ooreenstemming met wat hulle van hom geweet het uit sy handelinge met die mensdom. (Vergelyk 2 Kronieke 7:17.) Hulle het nie net verstandelik saamgestem met wat God gesê en gedoen het nie, maar hulle het alles uitgevoer wat hy vereis het—nie net sommige van die dinge wat hy verwag het nie, maar alles tot die mate waarin dit vir hulle as onvolmaakte mense moontlik was. Sodoende het Noag byvoorbeeld presies gedoen wat “God hom beveel het” (Genesis 6:22). Noag het nie die riglyne vooruitgeloop wat hy ontvang het nie, en hy het nie op nalatige wyse gesloer nie. As iemand wat ’n innige verhouding met Jehovah geniet het, wat die vrymoedigheid gehad het om tot God te bid en groot waarde aan Goddelike leiding geheg het, het hy met God gewandel. Doen jy dit?
’n Koersvaste lewenswandel
3. Wat is van die uiterste belang vir almal wat toegewyde en gedoopte knegte van God is?
3 Dit is hartverblydend om te sien hoe mense met God begin wandel. Namate hulle positiewe stappe in ooreenstemming met Jehovah se wil doen, lewer hulle bewys van geloof, waarsonder niemand God kan behaag nie (Hebreërs 11:6). Hoe verheug ons ons tog dat daar die afgelope vyf jaar gemiddeld 330 000 persone was wat hulle elke jaar aan Jehovah toegewy en hulle laat doop het! Maar dit is ook belangrik dat hulle sowel as ons almal met God bly wandel.—Matteus 24:13; Openbaring 2:10.
4. Waarom het die meeste Israeliete wat Egipte verlaat het nie die Beloofde Land binnegegaan nie, hoewel hulle ’n mate van geloof aan die dag gelê het?
4 In Moses se dag het dit geloof van ’n Israelitiese gesin geverg om die Pasga in Egipte te vier en die deurposte en die bo-drumpel van hulle huis met bloed te besprinkel (Exodus 12:1-28). Maar die geloof van baie het gewankel toe hulle by die Rooi See sien dat Farao se leër op hulle hakke is (Exodus 14:9-12). Psalm 106:12 toon dat hulle weer “aan [Jehovah se] woorde geglo” het nadat hulle veilig deur die droë seebedding gegaan en gesien het hoe die bruisende water die Egiptiese leër vernietig. Maar kort daarna in die woestyn het die Israeliete begin kla oor drinkwater, kos en dié wat die leiding neem. Die negatiewe verslag van 10 van die 12 verkenners wat van die Beloofde Land af teruggekom het, het hulle bang gemaak. Onder daardie omstandighede het hulle, soos Psalm 106:24 sê, God se “woord nie geglo nie”. Hulle wou na Egipte terugkeer (Numeri 14:1-4). Hulle het alleenlik geloof aan die dag gelê wanneer hulle sekere wonderdadige vertonings van Goddelike krag gesien het. Hulle het nie met God bly wandel nie. Gevolglik het daardie Israeliete nie die Beloofde Land binnegegaan nie.— Psalm 95:10, 11.
5. Hoe hou 2 Korintiërs 13:5 en Spreuke 3:5, 6 verband met die gedagte om met God te wandel?
5 Die Bybel vermaan ons: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef” (2 Korintiërs 13:5). Om “in die geloof” te wees, beteken om aan al die Christelike oortuigings getrou te bly. Dit is noodsaaklik as ons daarin wil slaag om al die dae van ons lewe met God te wandel. As ons met God wil wandel, moet ons ook geloof beoefen deur ten volle op Jehovah te vertrou (Spreuke 3:5, 6). Daar is talle strikke en slaggate wat diegene kan verstrik wat dit nie doen nie. Wat is sommige hiervan?
Vermy die strik van selfvertroue
6. Wat weet alle Christene van hoerery en egbreuk, en hoe voel hulle oor hierdie sondes?
6 Elkeen wat die Bybel bestudeer het, sy lewe aan Jehovah toegewy het en gedoop is, weet dat God se Woord hoerery en egbreuk veroordeel (1 Tessalonisense 4:1-3; Hebreërs 13:4). Hulle stem saam dat dit reg is. Hulle is van voorneme om in ooreenstemming daarmee te lewe. Tog is geslagsonsedelikheid steeds een van Satan se doeltreffendste strikke. Waarom?
7. Hoe het Israelitiese mans op die vlaktes van Moab by gedrag betrokke geraak wat hulle geweet het verkeerd was?
7 Aanvanklik is diegene wat betrokke raak by sulke onsedelike gedrag moontlik nie van plan om dit te doen nie. Miskien was dit ook die geval met die Israeliete op die vlaktes van Moab. Vir Israelitiese mans wat moeg was vir die lewe in die woestyn het dit dalk in die begin gelyk of die Moabitiese en Midianitiese vroue deur wie hulle verlei is vriendelik en gasvry was. Maar wat het gebeur toe die Israeliete uitnodigings aanvaar het om met mense te assosieer wat Baäl aanbid het en nie Jehovah nie, mense wat hulle dogters (selfs uit vername families) toegelaat het om geslagsomgang met mans te hê met wie hulle nie getroud was nie? Toe sulke assosiasie vir mans uit die kamp van Israel aanloklik begin lyk het, is hulle verlei om dinge te doen wat hulle geweet het verkeerd was, en dit het hulle hulle lewe gekos.—Numeri 22:1; 25:1-15; 31:16; Openbaring 2:14.
8. Wat kan vandag veroorsaak dat ’n Christen hom aan geslagsonsedelikheid skuldig maak?
8 Wat kan maak dat iemand vandag in ’n soortgelyke strik trap? Moontlik weet hy hoe ernstig geslagsonsedelikheid is, maar as hy nie ook bewus is van die gevaar wat selfvertroue inhou nie, kan hy homself in ’n situasie laat beland waar die versoeking om verkeerd te doen sy gesonde oordeel vertroebel.—Spreuke 7:6-9, 21, 22; 14:16.
9. Watter skriftuurlike waarskuwings kan ons teen onsedelikheid beskerm?
9 In eenvoudige taal waarsku God se Woord ons om nie mislei te word en te dink dat ons so sterk is dat slegte omgang ons nie sal verderf nie. Dit sluit in om na televisieprogramme te kyk wat die lewens van onsedelike mense uitbeeld en na tydskrifte te kyk wat onsedelike begeertes opwek (1 Korintiërs 10:11, 12; 15:33). Selfs assosiasie met medegelowiges onder verkeerde omstandighede kan tot ernstige probleme lei. Die aantrekkingskrag tussen die geslagte is sterk. Jehovah se organisasie het ons dus uit liefdevolle besorgdheid daarteen gewaarsku om alleen en uit die openbare oog met iemand van die ander geslag te wees met wie ons nie getroud is of wat nie ’n familielid is nie. As ons met God wil bly wandel, moet ons die strik van selfvertroue vermy en ag slaan op die waarskuwende raad wat hy ons gee.—Psalm 85:8, NW.
Moenie dat mensevrees jou beheers nie
10. Hoe span “die vrees vir die mens” ’n strik?
10 Nog ’n gevaar word geïdentifiseer in Spreuke 29:25, wat sê: “Die vrees vir die mens span ’n strik.” ’n Jagter se strik bestaan dikwels uit ’n lus wat om die nek styf trek of uit toue wat ’n dier se pote verstrik (Job 18:8-11). Mensevrees kan eweneens ’n mens se vermoë belemmer om met vrymoedigheid te praat en op ’n manier op te tree wat God behaag. Die begeerte om ander tevrede te stel, is normaal, en ’n gevoellose verontagsaming van wat ander dink, is onchristelik. Maar balans is nodig. Wanneer besorgdheid oor hoe ander mense moontlik gaan reageer, veroorsaak dat ’n persoon iets doen wat God verbied of versuim om te doen wat God se Woord beveel, het daardie persoon verstrik geraak.
11. (a) Wat gaan ons beskerm sodat ons ons nie deur mensevrees laat beheers nie? (b) Hoe het Jehovah sy knegte gehelp wat met mensevrees geworstel het?
11 Dit is nie ’n mens se natuurlike geaardheid wat jou teen hierdie strik gaan beskerm nie, maar ‘vertroue op die HERE’ (Spreuke 29:25b). Selfs iemand wat van nature skugter is, kan moedig en standvastig wees deur op God te vertrou. Solank ons onder die druk van hierdie sataniese stelsel van dinge gebuk gaan, sal ons op ons hoede moet wees teen mensevrees wat ons kan verstrik. Hoewel die profeet Elia ’n voortreflike reputasie van moedige diens gehad het, het hy vreesbevange gevlug toe Isebel gedreig het om hom te laat doodmaak (1 Konings 19:2-18). Onder druk het die apostel Petrus vreesbevange ontken dat hy Jesus Christus ken, en jare later het hy toegelaat dat vrees hom beweeg om strydig met die geloof op te tree (Markus 14:66-71; Galasiërs 2:11, 12). Maar Elia sowel as Petrus het geestelike hulp aanvaar en het, met vertroue op Jehovah, voortgegaan om God op welgevallige wyse te dien.
12. Watter hedendaagse voorbeelde toon hoe individue gehelp is om nie toe te laat dat vrees hulle daarvan weerhou om God te behaag nie?
12 Baie van Jehovah se hedendaagse knegte het ook geleer hoe om verstrikkende vrees te oorkom. ’n Tienderjarige Getuie in Guyana het erken: “Op skool is die stryd om portuurdwang te weerstaan groot.” Maar sy het bygevoeg: “So ook met my geloof in Jehovah.” Toe haar onderwyser haar weens haar geloof voor die hele klas gespot het, het sy stil tot Jehovah gebid. Later, toe hulle alleen was, het sy taktvol vir die onderwyser getuig. ’n Jong man wat besig was om Jehovah se vereistes te leer, het tydens ’n besoek aan sy tuisdorp in Benin besluit om ontslae te raak van ’n afgodsbeeld wat sy vader vir hom gemaak het. Die jong man het geweet dat die beeld leweloos was en het dit nie gevrees nie, maar hy het ook geweet dat ontstoke dorpenaars hom dalk sou probeer doodmaak. Hy het tot Jehovah gebid en toe in die nag die afgodsbeeld in die bos geneem en daarvan ontslae geraak. (Vergelyk Rigters 6:27-31.) Toe ’n vrou in die Dominikaanse Republiek Jehovah begin dien het, het haar man geëis dat sy tussen hom en Jehovah kies. Die man het gedreig om van haar te skei. Sou vrees maak dat sy haar geloof verlaat? Sy het geantwoord: “As ek ontrou was, sou ek beskaamd gewees het, maar ek is nie beskaamd omdat ek Jehovah God dien nie!” Sy het met God bly wandel, en mettertyd het haar man saam met haar Jehovah se wil begin doen. As ons ten volle op ons hemelse Vader vertrou, kan ons ook voorkom dat mensevrees ons daarvan weerhou om te doen wat ons weet Jehovah sal behaag.
Moenie raad geringag nie
13. Teen watter strik waarsku 1 Timoteus 6:9 ons?
13 Hoewel party strikke wat deur jagters gebruik word, gemaak is om enige dier te vang wat toevallig by ’n sekere plek verbygaan, lok ander strikke diere deur middel van lokaas wat hulle op bedrieglike wyse aantrek. Dit is hoe rykdom vir baie mense is (Matteus 13:22). In 1 Timoteus 6:8, 9 spoor die Bybel ons aan om tevrede te wees met voedsel, klere en onderdak. Dan waarsku dit: “Dié wat egter vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort.”
14. (a) Wat kan verhinder dat ’n persoon die raad ter harte neem om met voedsel, klere en onderdak tevrede te wees? (b) Hoe kan ’n verkeerde beskouing van rykdom maak dat ’n mens die waarskuwing in 1 Timoteus 6:9 geringag? (c) Hoe kan “die begeerte van die oë” sommige verblind vir die strik wat op hulle wag?
14 Ten spyte van hierdie waarskuwing raak baie verstrik omdat hulle nie die raad op hulleself toepas nie. Waarom nie? Word hulle moontlik deur trots gedryf om op ’n lewenstyl aan te dring wat meer as die “voedsel, klere en onderdak” vereis waarmee die Bybel ons aanspoor om tevrede te wees? Ag hulle miskien die Bybel se waarskuwing gering omdat hulle rykdom meet aan wat skatryk mense besit? Die Bybel stel eenvoudig die vasbeslotenheid om ryk te wees teenoor tevredenheid met voedsel, klere en onderdak. (Vergelyk Hebreërs 13:5.) Veroorsaak “die begeerte van die oë”—die begeerte om dinge te besit wat hulle sien, selfs ten koste van geestelike belange—dat hulle die belange van ware aanbidding in die tweede plek skuif? (1 Johannes 2:15-17; Haggai 1:2-8). Hoeveel gelukkiger is diegene tog wat werklik die Bybel se raad ter harte neem en met God wandel deur die diens van Jehovah die middelpunt van hulle lewe te maak!
Bied die sorge van die lewe met welslae die hoof
15. Watter situasies veroorsaak begryplikerwys besorgdheid vir baie van Jehovah se volk, en teen watter strik moet ons op ons hoede wees wanneer ons onder sulke druk is?
15 Iets wat algemener is as die vasbeslotenheid om ryk te word, is angstige besorgdheid om lewensbenodigdhede te verkry. Baie van Jehovah se knegte lewe met slegs minimale besittings. Hulle doen ure lank harde werk om net die nodige klere, ’n plek waar hulle gesin snags kan slaap en ten minste ’n bietjie kos vir die dag te hê. Ander het te kampe met probleme weens siekte of omdat hulle of familielede oud word. Hoe maklik sou dit tog wees om toe te laat dat sulke omstandighede geestelike belange uit hulle lewe verdring!—Matteus 13:22.
16. Hoe help Jehovah ons om die druk van die lewe die hoof te bied?
16 Jehovah vertel op liefdevolle wyse vir ons van die verligting wat onder die Messiaanse Koninkryk ondervind sal word (Psalm 72:1-4, 16; Jesaja 25:7, 8). Hy help ons ook om die druk van die lewe nou die hoof te bied deur ons raad te gee oor hoe ons ons prioriteite in orde kan hou (Matteus 4:4; 6:25-34). Jehovah stel ons gerus deur middel van die verslae van hoe hy sy knegte in die verlede gehelp het (Jeremia 37:21; Jakobus 5:11). Hy versterk ons met die wete dat sy liefde vir sy lojale knegte konstant bly, ten spyte van enige teëspoed wat ons ondervind (Romeine 8:35-39). Vir diegene wat op Jehovah vertrou, sê hy: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie.”—Hebreërs 13:5.
17. Gee voorbeelde van hoe individue wat kwaai teëspoed ondervind het in staat was om met God te bly wandel.
17 Ware Christene word versterk deur hierdie kennis en hou eerder aan om met God te wandel as om af te wyk en wêreldse weë te volg. ’n Algemene wêreldse filosofie onder die armes in baie lande is dat jy nie steel nie, mits jy iets van iemand neem wat meer as jy het sodat jy jou gesin kan voed. Maar diegene wat deur geloof wandel, verwerp hierdie beskouing. Vir hulle is God se goedkeuring van groter waarde as enigiets anders, en hulle vertrou op hom om hulle eerlike gedrag te beloon (Spreuke 30:8, 9; 1 Korintiërs 10:13; Hebreërs 13:18). ’n Weduwee in Indië het gevind dat ’n gewilligheid om te werk tesame met vindingrykheid haar gehelp het om kop bo water te hou. Sy was nie gegrief oor haar lot in die lewe nie, maar het besef dat Jehovah haar pogings sou seën om lewensbenodigdhede vir haarself en haar seun te verkry as sy God se Koninkryk en sy regverdigheid eerste in haar lewe stel (Matteus 6:33, 34). Derduisende oor die wêreld toon dat Jehovah hulle toevlug en vesting is, ten spyte van die teëspoed wat hulle moontlik ondervind (Psalm 91:2). Is dit waar in jou geval?
18. Wat is die sleutel om die strikke van Satan se wêreld te vermy?
18 Solank ons in die huidige stelsel van dinge lewe, sal daar strikke wees om te vermy (1 Johannes 5:19). Die Bybel identifiseer hierdie strikke en toon vir ons hoe om dit te vermy. Diegene wat werklik vir Jehovah lief is en ’n heilsame vrees het om hom te mishaag, kan sulke strikke met welslae die hoof bied. As hulle ‘aanhou om deur gees te wandel’, sal hulle nie aan wêreldse weë toegee nie (Galasiërs 5:16-25). Almal wat werklik hulle lewe om hulle verhouding met Jehovah bou, het die wonderlike vooruitsig om met God te wandel en vir ewig intimiteit met hom te geniet.—Psalm 25:14, NW.
Wat is jou antwoord?
◻ Hoe kan selfvertroue ’n strik wees?
◻ Wat kan ons daarteen beskerm om deur mensevrees beheers te word?
◻ Wat kan maak dat ons versuim om raad toe te pas oor die gevaar om rykdom na te jaag?
◻ Wat kan ons in staat stel om nie deur die sorge van die lewe verstrik te raak nie?
[Prent op bladsy 16]
Baie wandel hulle hele lewe lank met God