Konstantyn die Grote—’n Yweraar vir die Christelike godsdiens?
Die Romeinse keiser Konstantyn is een van die min manne wie se naam deur die geskiedenis vereer is met die term die “Grote”. Die Christendom het die uitdrukkings “heilige”, “dertiende apostel”, “heilige eweknie van die apostels” en ‘deur God se Voorsienigheid gekies om die grootste ommekeer in die hele wêreld teweeg te bring’, bygevoeg. Van ’n ander kant beskou, word Konstantyn deur sommige beskryf as “bloedbevlek, deur tallose gruweldade gebrandmerk en vol bedrog, . . . ’n afstootlike tiran, skuldig aan afgryslike misdade”.
TALLE verklaarde Christene is geleer dat Konstantyn die Grote een van die Christelike godsdiens se vernaamste weldoeners was. Hulle beskou hom as die een wat Christene van die ellende van Romeinse vervolging verlos het en vir hulle godsdiensvryheid gegee het. Bowendien glo baie mense dat hy ’n getroue voetstapnavolger van Jesus Christus was met ’n sterk begeerte om die Christelike saak te bevorder. Die Oosters-Ortodokse Kerk en die Koptiese Kerk het hom én sy moeder, Helena, as “heiliges” verklaar. Hulle feesdag word op 3 Junie of volgens die kerkkalender op 21 Mei gevier.
Wie was Konstantyn die Grote werklik? Wat was sy rol in die ontwikkeling van die Christelike godsdiens in na-apostoliese tye? Dit is baie insiggewend om die geskiedenis en geleerdes hierdie vrae te laat beantwoord.
Die geskiedkundige Konstantyn
Konstantyn, die seun van Constantius Chlorus, is omstreeks 275 G.J. in Nisj in Serwië, gebore. Toe sy vader in 293 G.J. die keiser van Rome se westelike provinsies geword het, het hy op bevel van keiser Galerius op die Donau geveg. Konstantyn het in die jaar 306 G.J. na sy sterwende vader in Brittanje teruggekeer. Kort ná sy vader se dood is Konstantyn deur die leër tot die status van ’n keiser verhef.
Op daardie tydstip het vyf ander persone beweer dat hulle die Augustus is. Die tydperk tussen 306 en 324 G.J., waarna Konstantyn die alleenheerser geword het, was ’n tyd van ononderbroke burgeroorlog. Oorwinning in twee krygstogte het Konstantyn ’n plek in die Romeinse geskiedenis verseker en hom die alleenheerser van die Romeinse Ryk gemaak.
In 312 G.J. het Konstantyn sy teenstander Maxentius in die slag by die Milviese brug buite Rome verslaan. Christenapologete het beweer dat daar gedurende dié veldtog ’n vlammende kruis verskyn het met die Latynse woorde In hoc signo vinces daarop, wat beteken: “In dié teken sal jy oorwin.” Daar word ook beweer dat Konstantyn in ’n droom aangesê is om die eerste twee letters van Christus se naam in Grieks op die skilde van sy soldate te verf. Maar hierdie storie bevat baie anachronismes. Die boek A History of Christianity sê: “Daar is teenstrydige getuienis oor die presiese tyd, plek en besonderhede van hierdie visioen.” ’n Heidense senaat, wat Konstantyn in Rome verwelkom het, het hom tot die vernaamste Augustus en Pontifex Maximus uitgeroep, dit wil sê die hoëpriester van die heidense godsdiens van die ryk.
In 313 G.J. het Konstantyn ’n bondgenootskap met keiser Licinius, die heerser van die oostelike provinsies, aangegaan. Deur middel van die Edik van Milaan het hulle saam vryheid van aanbidding en gelyke regte aan alle godsdiensgroepe gegee. Talle geskiedkundiges beweer egter dat hierdie dokument nie so betekenisvol is nie en sê dat dit net ’n gewone amptelike brief was en nie ’n vername keiserlike dokument wat ’n verandering in die beleid ten opsigte van die Christelike godsdiens aangedui het nie.
Binne die volgende tien jaar het Konstantyn sy enigste oorblywende mededinger, Licinius, verslaan en die onbetwiste heerser van die Romeinse wêreld geword. In 325 G.J. het hy, hoewel nog nie gedoop nie, die eerste groot ekumeniese konsilie van die “Christelike” kerk gelei, wat Arianisme veroordeel het en ’n verklaring van die vernaamste godsdiensoortuigings opgestel het wat die Niceense Geloofsbelydenis genoem word.
Konstantyn het in die jaar 337 G.J. dodelik siek geword. Hy is op sy sterfbed gedoop en is daarna oorlede. Ná sy dood het die senaat hom onder die Romeinse gode geplaas.
Godsdiens in Konstantyn se strategie
Met verwysing na die algemene gesindheid wat Romeinse keisers van die derde en vierde eeu ten opsigte van godsdiens gehad het, sê die boek Istoria tou Ellinikou Ethnous (Die geskiedenis van die Griekse volk): “Selfs wanneer diegene op die keiserlike troon nie sulke diepgewortelde godsdiensneigings gehad het nie, het hulle, in ooreenstemming met die gees van die era, dit nodig gevind om aan godsdiens die voorkeur te gee binne die raamwerk van hulle politieke planne, om ten minste ’n skyn van godsdienstigheid aan hulle dade te gee.”
Konstantyn was ongetwyfeld ’n man van sy era. Aan die begin van sy loopbaan het hy ’n mate van “goddelike” ondersteuning nodig gehad, en die Romeinse gode wat in gewildheid afgeneem het, kon dit nie bied nie. Die ryk, met inbegrip van sy godsdiens en ander instellings, was aan die agteruitgaan en iets nuuts en besielends was nodig om dit weer te verstewig. Die ensiklopedie Hidria sê: “Konstantyn het veral in die Christelike godsdiens belanggestel omdat dit nie net sy oorwinning gesteun het nie, maar ook die herorganisering van sy ryk. Die Christelike kerke wat oraloor was, het sy politieke ondersteuning geword. . . . Hy het gesorg dat hy altyd in die geselskap van die hoë geestelikes van die tyd was . . . , en hy het versoek dat hulle hulle eenheid handhaaf.”
Konstantyn het besef dat die “Christelike” godsdiens—al was dit teen daardie tyd afvallig en erg verdorwe—op doeltreffende wyse gebruik kon word as ’n versterkende en verenigende krag om sy groot plan vir keiserlike oorheersing te bevorder. Hy het die grondbeginsels van die afvallige Christelike godsdiens aangeneem om steun te werf ten einde sy eie politieke oogmerke te bereik en het besluit om die volk onder een “katolieke”, of universele, godsdiens te verenig. Heidense gebruike en vierings is “Christelike” name gegee. En “Christen”-geestelikes het die status, salaris en invloedrykheid van heidense priesters gekry.
Aangesien Konstantyn godsdienseenheid om politieke redes probeer verkry het, het hy vinnig enige afwykende menings onderdruk, nie op grond van leerstellige waarheid nie, maar op grond van wat die meerderheid aanvaar het. Die diepliggende leerstellige verskille binne die erg verdeelde “Christelike” kerk het hom die geleentheid gebied om tussenbeide te tree as ’n middelaar wat deur “God gestuur is”. Deur sy omgang met die Donatiste in Noord-Afrika en die volgelinge van Arius in die oostelike deel van die ryk het hy spoedig agtergekom dat oorreding nie genoeg was om ’n stewige, verenigde geloof te vorm nie.a In ’n poging om die Ariaanse geskil op te los, het hy die eerste ekumeniese konsilie in die geskiedenis van die kerk byeengeroep.—Sien die venster “Konstantyn en die Konsilie van Nicea”.
Die geskiedkundige Paul Johnson sê oor Konstantyn: “Een van die hoofredes waarom hy die Christelike godsdiens verdra het, was moontlik omdat dit hom en die Staat die geleentheid gebied het om die Kerk se beleid oor ortodoksie en die behandeling van heterodoksie te beheer.”
Het hy ooit ’n Christen geword?
Johnson sê: “Konstantyn het nooit sonaanbidding die rug toegekeer nie en het die son op sy muntstukke gehou.” Die Catholic Encyclopedia sê: “Konstantyn het albei godsdienste ewe veel guns betoon. As pontifex maximus het hy oor die belange van die heidense aanbidding gewaak en die regte daarvan beskerm.” “Konstantyn het nooit ’n Christen geword nie”, sê die ensiklopedie Hidria, en dit voeg by: “Eusebius van Sesarea, wat sy biografie geskryf het, sê dat hy gedurende die laaste oomblikke van sy lewe ’n Christen geword het. Dit hou nie steek nie, want die vorige dag het [Konstantyn] ’n offerande aan Zeus gebring omdat hy ook die titel Pontifex Maximus gehad het.”
Tot sy dood in 337 G.J. het Konstantyn die heidense titel Pontifex Maximus, die opperhoof van godsdienssake, gedra. Dit is redelik om oor sy doop te vra: Is dit deur opregte berou en bekering voorafgaan, soos in die Skrif vereis word? (Handelinge 2:38, 40, 41). Was dit ’n algehele onderdompeling in water as simbool van Konstantyn se toewyding aan Jehovah God?—Vergelyk Handelinge 8:36-39.
’n “Heilige”?
Die Encyclopædia Britannica sê: “Konstantyn was daarop geregtig om die Grote genoem te word, nie soseer op grond van wat hy was nie, maar op grond van wat hy gedoen het. As hy volgens sy karakter beoordeel word, sal hy inderdaad onderaan die lys wees van almal wat die toevoegsel [die Grote] in antieke of hedendaagse tye ontvang het.” En die boek A History of Christianity deel ons mee: “Daar was vroeg reeds berigte oor sy verskriklike humeur en sy wreedheid wanneer hy kwaad was. . . . Hy het geen eerbied vir menselewe gehad nie . . . Sy private lewe het afskuwelik geword namate hy ouer geword het.”
Konstantyn het klaarblyklik ernstige persoonlikheidsprobleme gehad. ’n Geskiedvorser sê dat “sy temperamentele karakter dikwels die rede was waarom hy misdade gepleeg het”. (Sien die venster “Moorde deur die vorstehuis”.) Konstantyn was nie “’n Christenfiguur” nie, voer die geskiedskrywer H. Fisher aan in sy History of Europe. Die feite kenmerk hom nie as ’n ware Christen wat hom met “die nuwe persoonlikheid” beklee het en in wie die vrugte van God se heilige gees gevind kon word nie—naamlik liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing.—Kolossense 3:9, 10; Galasiërs 5:22, 23.
Die gevolge van sy pogings
As die heidense Pontifex Maximus—en derhalwe die godsdienshoof van die Romeinse Ryk—het Konstantyn die biskoppe van die afvallige kerk aan sy kant probeer kry. Hy het hulle magsposisies, vernaamheid en rykdom as amptenare van die Romeinse staatsgodsdiens aangebied. Die Catholic Encyclopedia erken: “Party biskoppe, verblind deur die glans van die [keiserlike] hof, het selfs sover gegaan as om die keiser as ’n engel van God, as ’n heilige wese, te verheerlik en om te voorspel dat hy, soos die Seun van God, in die hemel sou regeer.”
Namate die afvallige Christelike godsdiens die guns van die politieke regering begin geniet het, het dit al hoe meer deel van hierdie wêreld, van hierdie sekulêre stelsel, geword en van die leringe van Jesus Christus afgedwaal (Johannes 15:19; 17:14, 16; Openbaring 17:1, 2). Gevolglik het ’n samesmelting van “die Christelike godsdiens” met valse leerstellings en gebruike plaasgevind—die Drie-eenheidsleer, onsterflikheid van die siel, die helse vuur, die vaevuur, gebede vir afgestorwenes, die gebruik van die rosekrans, beelde, ensovoorts.—Vergelyk 2 Korintiërs 6:14-18.
Die kerk het ook van Konstantyn die neiging geërf om eiemagtig op te tree. Die geleerdes Henderson en Buck sê: “Die eenvoud van die Evangelie is verderf, vertonerige ritusse en seremonies is ingebring, wêreldse eerbewyse en salarisse is aan die onderrigters van die Christelike godsdiens toegeken en die Koninkryk van Christus is in groot mate in ’n koninkryk van hierdie wêreld verander.”
Waar vind ons die ware Christelike geloof vandag?
Geskiedenisfeite onthul wat die waarheid omtrent Konstantyn se “grootheid” is. In plaas daarvan dat die Christendom sy oorsprong by Jesus Christus, die Hoof van die ware Christengemeente, het, is dit deels die uitvloeisel van die politieke planne en die slinkse sette van ’n heidense keiser. Die geskiedkundige Paul Johnson vra heel gepas: “Het die ryk hom aan die Christelike godsdiens onderwerp of het die Christelike godsdiens hom met die ryk verontreinig?”
Almal wat werklik aan die ware Christelike geloof wil vashou, kan gehelp word om die ware Christengemeente van vandag uit te ken en daarmee om te gaan. Jehovah se Getuies regoor die wêreld help graag opregtes van hart om die ware Christelike geloof te identifiseer en om God te aanbid op die manier wat vir hom aanneemlik is.—Johannes 4:23, 24.
[Voetnoot]
a Donatisme was ’n “Christen”-sekte van die vierde en vyfde eeu G.J. Die aanhangers daarvan het beweer dat die geldigheid van die sakramente van die sedelike karakter van die godsdiensbedienaar afhang en dat die kerk nie mense wat aan ernstige sonde skuldig is as lidmate moet aanvaar nie. Arianisme was ’n “Christelike” beweging van die vierde eeu wat die godheid van Jesus Christus ontken het. Arius se leer was dat God nie verwek is en nie ’n begin gehad het nie. Aangesien die Seun verwek is, kan hy nie God wees in dieselfde sin as wat die Vader is nie. Die Seun het nie van ewigheid af bestaan nie, maar is geskep en bestaan deur die wil van die Vader.
[Venster op bladsy 28]
Konstantyn en die Konsilie van Nicea
Watter rol het die ongedoopte keiser Konstantyn by die Konsilie van Nicea gespeel? Die Encyclopædia Britannica sê: “Konstantyn was self die voorsitter en het ywerig die besprekings gelei . . . Die biskoppe, wat met ontsag vervul is deur die keiser, het met net twee uitsonderings die geloofsbelydenis onderteken, baie van hulle grootliks teen hulle beterwete.”
Nadat onstuimige godsdiensdebatte twee maande lank gevoer is, het hierdie heidense politikus tussenbeide getree en ten gunste van diegene beslis wat gesê het dat Jesus God is. Maar waarom? “Konstantyn het in werklikheid geen insig gehad in die vrae wat in Griekse teologie geopper is nie”, sê A Short History of Christian Doctrine. Wat hy wel begryp het, is dat godsdiensverdeeldheid ’n bedreiging vir sy ryk was en hy was vasbeslote om sy ryk stewig te vestig.
Die Istoria tou Ellinikou Ethnous (Die geskiedenis van die Griekse volk) sê aangaande die finale dokument wat onder beskerming van Konstantyn in Nicea opgestel is: “Dit toon [Konstantyn se] onverskilligheid teenoor leerstellige sake, . . . sy hardnekkige volharding daarin om ongeag die koste eenheid binne die kerk te probeer herstel en laastens sy oortuiging dat hy as die ‘biskop van diegene buite die kerk’ die finale seggenskap oor enige godsdienskwessie gehad het.” Is dit enigsins moontlik dat God se gees ’n invloed gehad het op die besluite wat by daardie konsilie geneem is?—Vergelyk Handelinge 15:28, 29.
[Venster op bladsy 29]
Moorde deur die vorstehuis
Onder hierdie titel beskryf die werk Istoria tou Ellinikou Ethnous (Die geskiedenis van die Griekse volk) gebeure wat dit die “afskuwelike familiemisdade wat Konstantyn gepleeg het”, noem. Kort nadat hy sy vorstehuis gevestig het, het hy vergeet hoe om onverwagse suksesse te geniet en het hy bewus geword van die gevare wat hom omring. Aangesien hy ’n agterdogtige mens was en miskien deur sy gemene vleiers aangehits is, het hy eers sy susterskind, Licinianus—die seun van ’n mede-Augustus wat hy reeds tereggestel het—as ’n moontlike mededinger begin wantrou. Die moord op hom is gevolg deur die teregstelling van Konstantyn se eie eersgebore seun, Crispus, op aanstigting van sy stiefmoeder, Fausta, omdat dit gelyk het of hy in die pad sou staan van haar eie nageslag se algehele mag.
Hierdie daad van Fausta was uiteindelik die rede vir haar eie dramatiese dood. Dit wil voorkom of Augusta Helena, wat tot die einde toe invloed oor haar seun Konstantyn gehad het, by hierdie moord betrokke was. Die onlogiese emosies wat dikwels die oorhand oor Konstantyn gehad het, het ook bygedra tot die magdom teregstellings van baie van sy vriende en metgeselle. Die boek History of the Middle Ages kom tot dié slotsom: “Die teregstelling—om nie te sê moord nie—van sy eie seun en sy vrou dui daarop dat hy glad nie geraak is deur enige geestelike invloed in die Christelike godsdiens nie.”
[Prent op bladsy 30]
Hierdie boog in Rome is ter ere van Konstantyn opgerig
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Musée du Louvre, Paris