Wie is Jehovah?
JEHOVAH het vir een van sy getroue aanbidders gesê: “Geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Exodus 33:20). “God is ’n Gees”, en mense kan hom nie met hulle fisiese oë sien nie (Johannes 4:24). Net soos dit uiters skadelik vir ons oë sal wees as ons op die middaguur direk na die son kyk, net so sal dit rampspoedig vir ons wees om die ontsaglike Bron van energie te sien wat nie alleen ons helder son geskep het nie, maar ook die tallose ander sonne in die heelal.
Gelukkig hoef ons God nie te sien om van hom te leer nie. Die Bybel identifiseer die Een wat die wonderlike geskenk, die aarde, vir ons voorberei het en openbaar sy persoonlikheid. Dit is dus die moeite werd om die Bybel te ondersoek om van die Vader te leer wat ons lewe gegee het en ’n aangename tuiste voorsien het waarin ons daardie lewe kan geniet.
Die betekenis van Sy naam
Alle name het ’n betekenis, selfs al weet baie mense vandag dalk nie wat dit is nie. Die gewone Afrikaanse naam Dawid kom byvoorbeeld van ’n Hebreeuse woord wat “geliefde” beteken. Die Skepper se naam, Jehovah, het ook ’n betekenis. Wat is dit? In die oorspronklike Bybeltaal Hebreeus word die Goddelike naam met vier letters, JHWH, geskryf, en dit kom byna 7000 keer in die Hebreeuse deel van die Bybel voor. Die Goddelike naam beteken “Hy laat word”. Dit impliseer dat Jehovah hom wyslik laat word wat ook al nodig is om sy voornemens uit te voer. Hy is die Skepper, Regter, Redder, Onderhouer van die lewe, en daarom kan hy sy beloftes vervul. Wat meer is, in Hebreeus is die naam Jehovah in ’n vorm wat dui op ’n aksie wat besig is om uitgevoer te word. Ja, Jehovah laat hom nog steeds die vervuller van sy voornemens word. Hy is ’n lewende God!
Jehovah se oorheersende eienskappe
Die Bybel beskryf die Skepper as “’n barmhartige en genadige God, stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat dwaling en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:6, 7, NW). Die uitdrukking “liefderyke goedhartigheid” vertaal ’n baie betekenisvolle Hebreeuse woord. Dit dui op goedhartigheid wat hom liefdevol aan iets heg totdat sy doel daarmee bereik is. Dit kan ook as “lojale liefde” vertaal word. Jehovah se goedhartigheid word liefdevol aan sy skepsele geheg en verwesenlik sy wonderlike voorneme. Waardeer jy nie sulke liefde van die Een wat lewe aan jou gegee het nie?
Jehovah is stadig tot toorn en gou om ons dwalinge te vergewe. Dit is verkwikkend om na aan so ’n persoon te wees. Dit beteken egter nie dat hy oortreding vergoelik nie. Hy het gesê: “Ek, die HERE, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg” (Jesaja 61:8). As die God van geregtigheid sal hy verstokte sondaars wat in hulle goddeloosheid volhard nie vir ewig duld nie. Ons kan dus seker wees dat Jehovah op sy bestemde tyd die ongeregtighede in die wêreld sal regstel. Hy sal nooit die geteisterdes die rug toekeer nie.
Dit is nie maklik om ’n volmaakte ewewig tussen liefde en geregtigheid te handhaaf nie. Vind jy, indien jy ’n ouer is, dit moeilik om te besluit wanneer, hoe en in watter mate jy jou kinders moet teregwys wanneer hulle hulle sleg gedra? Dit verg groot wysheid om geregtigheid in ewewig te hou met liefdevolle medelye. Jehovah openbaar daardie eienskap in oorvloedige mate wanneer hy met mense handel (Romeine 11:33-36). Trouens, die Skepper se wysheid kan oral gesien word, byvoorbeeld in die skeppingswonders om ons.—Psalm 104:24; Spreuke 3:19.
Maar dit is nie genoeg om wysheid te hê nie. Die Skepper moet ook krag hê om sy wil uit te voer, en die Bybel openbaar dat hy baie krag besit: “Slaan julle oë op in die hoogte en sien. Wie het hierdie dinge geskep? Dit is die Een wat hulle leër selfs volgens getal uitlei, wat almal selfs by name roep. Vanweë die oorvloed van dinamiese energie en omdat hy sterk is in krag, ontbreek nie een van hulle nie” (Jesaja 40:26, NW). Met ’n “oorvloed van dinamiese energie” kry Jehovah dinge gedoen. Trek hierdie eienskap jou nie tot hom aan nie?
Die God van alle nasies
‘Maar is Jehovah nie die God van die “Ou Testament”, die God van eertydse Israel, nie?’ wonder jy dalk. Dit is waar dat Jehovah hom aan die Israeliete geopenbaar het. Maar op grond van die feit dat Jehovah die eerste mensepaar geskep het, is hy die God “aan wie elke familie . . . op die aarde sy naam te danke het” (Efesiërs 3:15). As jy dink dat dit reg is om eerbied vir jou voorouers te hê, sal dit dan nie gepas wees om hulde te bring aan die Een wat die lewe gegee het aan die eerste mens, ons gemeenskaplike voorouer, wat die oorsprong van al die stambome is wat vandag op die aarde bestaan nie?
Die Skepper van die mensdom is nie bekrompe nie. Hy het weliswaar op een stadium ’n spesiale verhouding met die nasie Israel gehad. Maar selfs tóé het hy almal wat sy naam aangeroep het, verwelkom. ’n Wyse koning van Israel het in gebed tot Jehovah gesê: “Na die uitlander, wat nie deel uitmaak van u volk Israel nie en wat inderdaad weens u naam uit ’n ver land kom . . . , mag ú luister vanuit die hemel, . . . en u moet doen volgens alles waaroor die uitlander u aanroep; sodat al die volke van die aarde u naam kan leer ken” (1 Konings 8:41-43, NW). Tot vandag toe kan mense van alle nasies Jehovah leer ken en ’n betekenisvolle verhouding met hom hê. Maar hoe raak dit jou?
Die voordele daarvan om Jehovah te ken
Om terug te keer na die illustrasie in die voorgaande artikel: as jy ’n mooi toegedraaide geskenk ontvang het, sou jy natuurlik wou uitvind waarvoor die geskenk was. Hoe moet dit gebruik en opgepas word? Ons wil eweneens weet wat God in gedagte gehad het toe hy die aarde vir ons voorberei het. Die Bybel sê dat hy “dit nie geskape [het] om woes te wees nie”, maar hy het “dit geformeer om bewoon te word”, dit wil sê, mense moet daarop woon.—Jesaja 45:18.
Die meeste mense het egter nie die Skepper se gawe opgepas nie. Hulle is besig om die aarde te verderf en haal hulle sodoende Jehovah se groot misnoeë op die hals. Maar in ooreenstemming met die betekenis van sy naam, is Jehovah vasbeslote om sy oorspronklike voorneme met die mens en die aarde te vervul (Psalm 115:16; Openbaring 11:18). Hy gaan die aarde herstel en dit as ’n erfenis gee aan diegene wat gewillig is om as sy gehoorsame kinders te lewe.—Matteus 5:5.
Die laaste boek van die Bybel beskryf hoe dinge sal wees wanneer dit gebeur: “Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. . . . En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Niemand sal dan trane van droefheid stort of treur oor die dood van ’n geliefde nie. Niemand sal desperaat om hulp roep of die pyn van dodelike siektes ervaar nie. Selfs ‘die dood gaan tot niet gemaak word’ (1 Korintiërs 15:26; Jesaja 25:8; 33:24). Dit beskryf die soort lewe wat Jehovah oorspronklik wou gehad het ons moet geniet toe hy ons eerste voorouers geskep het.
Trouens, jy kan nou al ’n voorskou van sulke paradysagtige toestande onder die aanbidders van Jehovah kry. Hy sê vir hulle: “Ek‚ Jehovah‚ is jou God‚ die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel‚ die Een wat jou laat tree op die weg waarop jy moet wandel” (Jesaja 48:17, NW). Jehovah is ’n goedhartige Vader wat ons, sy kinders, leer wat die beste manier is om te lewe. Sy riglyne vir mense is nie onnodig beperkend nie, maar bied liefdevolle beskerming. As ons dit volg, sal dit tot ware vryheid en geluk lei, net soos daar geskryf staan: “Jehovah is die Gees; en waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid” (2 Korintiërs 3:17). Deur die riglyne te volg wat in die Bybel uiteengesit word, ervaar diegene wat sy heerskappy aanvaar nou reeds ’n innerlike vrede wat eendag deur die hele mensewêreld geniet sal word.—Filippense 4:7.
Wat ’n welwillende Vader is Jehovah tog! Is jy gewillig om meer te leer van die Een wat al die wonders van die skepping ontwerp het? Vir diegene wat gewillig is, is die voordele nou reeds van onskatbare waarde. En in die toekoms sal die seëninge vir ewig duur.
[Prent op bladsy 5]
Die Goddelike naam wat met die vier Hebreeuse letters geskryf is, kan teen die mure van talle ou kerke gesien word