Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 5/1 bl. 19-25
  • Oordeel word in die dal van beslissing voltrek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Oordeel word in die dal van beslissing voltrek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah verhoor ’n gebed
  • Jehovah red sy volk
  • “Heilig ’n oorlog!”
  • Jehovah beskerm dié wat aan hom behoort
  • Bybelboek nommer 29—Joël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Hou die dag van Jehovah goed in gedagte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • “Die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Roep Jehovah se naam aan en word gered!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 5/1 bl. 19-25

Oordeel word in die dal van beslissing voltrek

“Die nasies moet . . . optrek na die dal van Josafat, want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies.”—JOËL 3:12.

1. Waarom sien Joël menigtes wat in “die dal van beslissing byeengekom het”?

“MENIGTES, menigtes in die dal van beslissing”! Ons lees hierdie aangrypende woorde in Joël 3:14. Waarom het hierdie menigtes byeengekom? Joël antwoord: ‘Die dag van Jehovah is naby.’ Dit is die groot dag van Jehovah se regverdiging—die dag om oordeel te voltrek aan die menigtes wat God se opgerigte Koninkryk onder Christus Jesus verwerp het. Uiteindelik sal die “vier engele” van Openbaring hoofstuk 7 “die vier winde van die aarde” uit hulle stewige greep loslaat, wat dan sal lei tot “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie”.—Openbaring 7:1; Matteus 24:21.

2. (a) Waarom is dit gepas dat die plek waar Jehovah oordeel gaan voltrek “die dal van Josafat” genoem word? (b) Wat het Josafat tereg gedoen toe hy aangeval is?

2 In Joël 3:12 word die plek vir hierdie voltrekking van oordeel “die dal van Josafat” genoem. Dit is gepas dat Jehovah, gedurende ’n stormagtige tydperk in Juda se geskiedenis, daar oordeel voltrek het ten behoewe van goeie koning Josafat, wie se naam “Jehovah is Regter” beteken. ’n Bespreking van wat destyds gebeur het, sal ons help om beter te verstaan wat binnekort in ons tyd sal plaasvind. Die verslag word in 2 Kronieke hoofstuk 20 gevind. In vers 1 van daardie hoofstuk lees ons dat “die kinders van Moab en die kinders van Ammon, en saam met hulle ’n deel van die Meüniete teen Josafat gekom [het] om te veg”. Wat het Josafat gedoen? Hy het gedoen wat getroue knegte van Jehovah altyd in ’n krisis doen. Hy het hom tot Jehovah gewend vir leiding en ernstig gebid: “Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.”—2 Kronieke 20:12.

Jehovah verhoor ’n gebed

3. Watter instruksies het Jehovah aan Juda gegee toe hulle deur hulle buurnasies bedreig is?

3 Terwyl ‘die hele Juda voor Jehovah gestaan het, ook hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns’ het Jehovah sy antwoord gegee (2 Kronieke 20:13). Net soos hy vandag sy “getroue en verstandige slaaf” gebruik, so het die groot Hoorder van gebed die Levitiese profeet Jahasiël gemagtig om Sy antwoord aan die vergaderdes te gee (Matteus 24:45). Ons lees: “So sê die HERE aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. . . . Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle. . . . Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees.”—2 Kronieke 20:15-17.

4. Toe Jehovah se volk voor die vyand se uitdaging te staan gekom het, hoe het hy van hulle verwag om daadwerklik op te tree en nie net passief te wees nie?

4 Jehovah het meer van koning Josafat en sy volk verwag as om net ledig rond te sit en te wag op ’n wonderdadige verlossing. Hulle moes die inisiatief neem om die vyand se uitdaging die hoof te bied. Die koning en ‘die hele Juda, ook hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns’ het sterk geloof geopenbaar toe hulle vroeg die oggend opgestaan en uitgetrek het om die invallende menigtes tegemoet te gaan. Op pad daarheen het die koning voortgegaan om teokratiese instruksies en aanmoediging te gee en hulle aan te spoor: “Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees” (2 Kronieke 20:20). Geloof in Jehovah! Geloof in sy profete! Dít was die sleutel tot sukses. Mag ons eweneens vandag, terwyl ons in Jehovah se diens bedrywig bly, nooit twyfel dat hy ons geloof sal laat seëvier nie!

5. Hoe is Jehovah se Getuies bedrywig terwyl hulle Jehovah vandag loof?

5 Soos die Judeërs van Josafat se dag, moet ons ‘Jehovah loof, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid’. Hoe loof ons hom? Deur ons ywerige Koninkrykspredikingswerk! Soos daardie Judeërs ‘die gejubel en die lofsang aangehef het’, so voeg ons by ons geloof werke (2 Kronieke 20:21, 22). Ja, laat ons soortgelyke voortreflike geloof aan die dag lê terwyl Jehovah hom voorberei om teen sy vyande op te tree! Hoewel die pad dalk lank lyk, moet ons vasbeslote wees om te volhard, ywerig in die geloof, net soos sy seëvierende knegte vandag doen in die probleemgebiede van die wêreld. In party lande wat erg geteister word deur vervolging, geweld, hongersnood en haglike ekonomiese toestande, ondervind getroue knegte van God merkwaardige groei, soos die 1998 Yearbook of Jehovah’s Witnesses berig.

Jehovah red sy volk

6. Hoe help sterk geloof ons vandag om lojaal te bly?

6 Die goddelose nasies rondom Juda het God se volk probeer verower, maar Jehovah se knegte het met voorbeeldige geloof gereageer deur lofsange tot Jehovah te sing. Ons kan vandag dieselfde geloof aan die dag lê. Deur ons lewe met werke van lof tot Jehovah te vul, versterk ons ons geestelike wapenrusting en laat ons geen ruimte vir Satan se listige planne om ingang te vind nie (Efesiërs 6:11). Die versoeking om ons aandag te laat aflei deur die verderflike vermaak, materialisme en onverskilligheid wat die sterwende wêreld om ons kenmerk, sal deur sterk geloof in die kiem gesmoor word. Hierdie onoorwinlike geloof sal ons help om lojaal te dien saam met “die getroue en verstandige slaaf” terwyl ons voortdurend versterk word deur die dieet van geestelike voedsel wat “op die regte tyd” voorsien word.—Matteus 24:45.

7. Hoe het Jehovah se Getuies op verskeie aanvalle teen hulle gereageer?

7 Ons Bybelse geloof sal ons versterk om ’n ferm standpunt in te neem teen haatveldtogte wat aangestig word deur diegene wat die gees van die “bose slaaf” van Matteus 24:48-51 openbaar. Afvalliges, wat hierdie profesie op merkwaardige wyse vervul, versprei vandag in baie lande leuens en propaganda, en hulle is selfs kop in een mus met sommige wat gesagsposisies in die nasies het. Waar gepas, het Jehovah se Getuies opgetree, soos beskryf word in Filippense 1:7, deur ‘die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig’. Op 26 September 1996, in ’n hofsaak uit Griekeland, het die nege regters van die Europese Hof van Menseregte, in Straatsburg, byvoorbeeld eenparig herbevestig dat “Jehovah se Getuies onder die definisie van ’n ‘bekende godsdiens’ val”, wat die reg het op vryheid van denke, gewete en oortuiging en die reg het om hulle geloof bekend te maak. God se oordeel oor afvalliges word in hierdie woorde saamgevat: “Oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: ‘Die hond het na sy eie uitbraaksel teruggekeer, en die gewaste sog om in die modder te rol.’”—2 Petrus 2:22.

8. Hoe het Jehovah in Josafat se dag oordeel voltrek aan die vyande van Sy volk?

8 In Josafat se dag het Jehovah oordeel aan diegene voltrek wat Sy volk kwaad wou aandoen. Ons lees: “Die HERE [het] ’n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is. Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp” (2 Kronieke 20:22, 23). Die Judeërs het daardie plek die dal van Beraka genoem, wat “Seën” beteken. In hedendaagse tye sal die voltrekking van Jehovah se oordeel aan sy vyande ook tot groot seëninge vir sy eie volk lei.

9, 10. Wie het getoon dat hulle Jehovah se ongunstige oordeel verdien?

9 Ons vra miskien: Wie sal in hedendaagse tye ’n ongunstige oordeel van Jehovah ontvang? Ons moet weer na Joël se profesie kyk vir die antwoord op daardie vraag. Joël 3:3 praat van vyande van sy volk wat “’n jong seun weggegee [het] vir ’n hoer en ’n meisie verkoop [het] vir wyn”. Ja, hulle beskou God se knegte as ver benede hulle, hulle kinders as niks meer werd as die prys vir ’n hoer of ’n beker wyn nie. Hulle sal verantwoording daarvoor moet doen.

10 Diegene wat hulle aan geestelike hoerery skuldig maak, verdien ewe veel om geoordeel te word (Openbaring 17:3-6). En diegene wat die politieke magte aanpor om Jehovah se Getuies te vervolg en hulle werk te dwarsboom, soos sommige opstokerige godsdiensleiers in onlangse tye in Oos-Europa gedoen het, is veral laakbaar. Jehovah spreek sy vasbeslotenheid uit om teen sulke boosdoeners op te tree.—Joël 3:4-8.

“Heilig ’n oorlog!”

11. Hoe daag Jehovah sy vyande tot oorlog uit?

11 Vervolgens doen Jehovah ’n beroep op sy volk om ’n uitdaging onder die nasies te verkondig: “Heilig ’n oorlog! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk!” (Joël 3:9). Dit is ’n aankondiging van ’n ongewone soort oorlogvoering—regverdige oorlogvoering. Jehovah se lojale Getuies gebruik geestelike wapens wanneer hulle op valse propaganda reageer en bestry onwaarheid met waarheid (2 Korintiërs 10:4; Efesiërs 6:17). God sal binnekort “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” heilig (Openbaring 16:14). Dit sal die aarde reinig van alle teenstanders van God se soewereiniteit. Sy volk op die aarde sal geen fisiese aandeel daaraan hê nie. Hulle het letterlik en figuurlik “van hul swaarde pikke [gesmee] en van hul spiese snoeimesse” (Jesaja 2:4). Daarenteen daag Jehovah die vyandige nasies uit om die teenoorgestelde te doen: “Smee van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese” (Joël 3:10). Hy nooi hulle om al hulle moderne wapentuig in die stryd te werp. Maar hulle kan nie sukses behaal nie, want die stryd en die oorwinning behoort aan Jehovah!

12, 13. (a) Hoe het baie nasies getoon dat hulle steeds oorlogsugtig is, al het die Koue Oorlog geëindig? (b) Waarop is die nasies nie voorbereid nie?

12 In die vroeë negentigerjare het die nasies verklaar dat die Koue Oorlog verby is. Het die Verenigde Nasies in die lig daarvan hulle vernaamste doel van vrede en veiligheid bereik? Hoegenaamd nie! Wat toon gebeure in Burundi, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Irak, die voormalige Joego-Slawië, Liberië, Rwanda en Somalië vir ons? In die woorde van Jeremia 6:14 sê hulle: “Vrede, vrede!—terwyl daar geen vrede is nie.”

13 Al het openlike oorlogvoering in sommige plekke opgehou, ding lidlande van die VN nog steeds met mekaar mee om ultramoderne oorlogswapens te vervaardig. Party behou nog hulle voorraadstapels kernwapens. Ander ontwikkel chemiese of bakteriologiese wapens vir massavernietiging. Terwyl daardie nasies byeenkom by die simboliese plek wat Armageddon genoem word, daag hy hulle uit: “Laat die swakke sê: Ek is ’n held. Haas julle en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle.” Joël voeg dan sy eie versoek by: “Laat u helde, HERE, daarheen aftrek!”—Joël 3:10, 11. (Ons kursiveer.)

Jehovah beskerm dié wat aan hom behoort

14. Wie is Jehovah se helde?

14 Wie is Jehovah se helde? In die Bybel word die ware God ongeveer 280 keer “HERE van die leërskare” genoem (2 Konings 3:14). Hierdie leërs is die engelemagte van die hemel wat gereedstaan om Jehovah se bevele uit te voer. Toe die Arameërs probeer het om Elisa gevange te neem, het Jehovah uiteindelik die oë van Elisa se dienaar geopen sodat hy kon sien waarom hulle dit nie sou kon doen nie: “Meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa” (2 Konings 6:17). Jesus het gesê dat hy ’n beroep op sy Vader kon doen vir “meer as twaalf legioene engele” (Matteus 26:53). In die beskrywing van hoe Jesus uittrek om oordeel by Armageddon te voltrek, sê Openbaring: “Die leërs wat in die hemel was, [het] hom op wit perde gevolg, en hulle was geklee in wit, skoon, fyn linne. En uit sy mond kom ’n skerp lang swaard, dat hy die nasies daarmee kan slaan, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor hulle optree. Hy trap ook die wynpers van die toorn van die gramskap van God die Almagtige” (Openbaring 19:14, 15). Daardie simboliese wynpers word op aanskoulike wyse beskryf as “die groot wynpers van die toorn van God”.—Openbaring 14:17-20.

15. Hoe beskryf Joël Jehovah se oorlog teen die nasies?

15 Hoe antwoord Jehovah dan Joël se versoek om God se eie helde te laat aftrek? Dit is met hierdie beskrywende woorde: “Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Josafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom. Steek die sekel in, want die oes is ryp! Kom trap, want die parskuip is vol, die kuipe loop oor! Want hulle boosheid is groot. Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE in die dal van beslissing! Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in. En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe.”—Joël 3:12-16.

16. Wie sal onder diegene wees aan wie Jehovah oordeel voltrek?

16 So seker as wat die naam Josafat “Jehovah is Regter” beteken, net so seker sal God, Jehovah, sy soewereiniteit ten volle regverdig wanneer hy oordeel voltrek. Die profesie beskryf diegene wat ’n ongunstige oordeel ontvang as “menigtes, menigtes in die dal van beslissing”. Enige oorblywende voorstanders van valse godsdiens sal onder daardie menigtes wees. Dit sal ook diegene insluit wat in die tweede Psalm beskryf word—die nasies, die volke, die konings van die aarde en die vorste—wat eerder die verdorwe stelsel van hierdie wêreld verkies het as om ‘Jehovah met vrees te dien’. Hulle weier om ‘die Seun te kus’ (Psalm 2:1, 2, 11, 12). Hulle erken Jesus nie as Jehovah se mede-Koning nie. Verder sal die menigtes wat tot vernietiging gedoem is al die mense insluit wat deur daardie glorieryke Koning as “bokke” geoordeel sal word (Matteus 25:33, 41). Wanneer dit Jehovah se bestemde tyd is om uit die hemelse Jerusalem te brul, sal sy aangestelde Koning van die konings uittrek om daardie oordeel te voltrek. Die hemel en aarde sal beslis bewe! Maar ons het die versekering: “[Jehovah, NW] sal ’n toevlug wees vir sy volk en ’n skuilplek vir die kinders van Israel.”—Joël 3:16.

17, 18. Wie word as oorlewendes van die groot verdrukking geïdentifiseer, en watter toestande sal hulle geniet?

17 Openbaring 7:9-17 identifiseer diegene wat die groot verdrukking oorleef as “’n groot skare” wat bestaan uit mense wat geloof beoefen in die loskoopkrag van Jesus se bloed. Hulle word in Jehovah se dag beskerm terwyl die menigtes van Joël se profesie ongunstig geoordeel word. Joël sê aan die oorlewendes: “Dan sal julle weet dat Ek [Jehovah, NW] julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg”, Jehovah se hemelse woonplek.—Joël 3:17a.

18 Die profesie lig ons dan in dat die ryk van God se hemelse Koninkryk ‘’n heiligdom sal wees waar geen vreemdes meer sal deurtrek nie’ (Joël 3:17b). In die hemel en in die aardse ryk van daardie hemelse Koninkryk sal daar geen vreemdes wees nie, want almal sal in ware aanbidding verenig wees.

19. Hoe beskryf Joël die paradysagtige vreugde wat God se volk vandag geniet?

19 Selfs vandag heers daar oorvloedige vrede onder Jehovah se volk hier op die aarde. Hulle verkondig sy oordele eendragtig in meer as 230 lande en 300 verskillende tale. Joël gee ’n pragtige voorspelling van hulle voorspoed: “Op dié dag sal die berge drup van mos en die heuwels vloei van melk en al die spruitjies van Juda stroom van water” (Joël 3:18). Ja, Jehovah sal voortgaan om op sy aardse lowers ’n oorvloed verblydende seëninge uit te stort, asook voorspoed en ’n toenemende stroom kosbare waarhede. Jehovah se soewereiniteit sal ten volle geregverdig wees in die dal van beslissing, en vreugde sal oral heers terwyl hy vir ewig by sy losgekoopte volk woon.—Openbaring 21:3, 4.

Onthou jy?

◻ Hoe het Jehovah sy volk in Josafat se dag gered?

◻ Wie verdien volgens Jehovah se oordeel om in “die dal van beslissing” vernietig te word?

◻ Wie is God se helde, en watter rol sal hulle in die finale konflik speel?

◻ Watter vreugde geniet getroue aanbidders?

[Prent op bladsy 21]

Vir Juda is daar gesê: ‘Wees nie bevrees nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God’

[Prent op bladsy 23]

Jehovah daag sy vyande uit om ‘van hulle pikke swaarde te smee’

[Prent op bladsy 24]

Die Bybel identifiseer ’n groot skare van oorlewendes van die groot verdrukking

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel