Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 5/15 bl. 21-23
  • Bereik harte met die oorredingskuns

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bereik harte met die oorredingskuns
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gebruik oorreding in die bediening
  • Hoe om emosies te hanteer
  • Bied die Goeie Nuus Aan—Met oortuigingskrag
    Ons Koninkryksbediening—1989
  • Hoe om ander te oorreed
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • Skenk aandag aan jou “onderrigkuns”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Help jou Bybelstudente om gedoopte dissipels te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 5/15 bl. 21-23

Bereik harte met die oorredingskuns

BAIE mense beskou die woord “oorreding” met agterdog. Dit laat ’n mens miskien dink aan ’n opdringerige verkoopsman of ’n advertensie wat bedoel is om die verbruiker te mislei of te manipuleer. Selfs in die Bybel het die gedagte van oorreding soms negatiewe konnotasies en dui dit op verderwing of misleiding. Die Christenapostel Paulus het byvoorbeeld aan die Galasiërs geskryf: “Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? Hierdie soort oorreding kom nie van die Een wat julle roep nie” (Galasiërs 5:7, 8). Paulus het ook die Kolossense gewaarsku om hulle nie deur enigiemand ‘met oorredende argumente te laat mislei nie’ (Kolossense 2:4). Sulke oorreding is afhanklik van listige argumente wat op valse fondamente gegrond is.

In die apostel Paulus se tweede brief aan Timoteus het hy egter die gedagte van oorreding op ’n ander manier gebruik. Hy het geskryf: “Bly jy egter in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo, aangesien jy weet by watter persone jy dit geleer het” (2 Timoteus 3:14). Toe Timoteus “oortuig is om te glo”, oftewel oorreed is, is hy nie gemanipuleer deur sy moeder en sy grootmoeder, by wie hy skriftuurlike waarhede geleer het nie.—2 Timoteus 1:5.a

Terwyl Paulus onder huisarres in Rome was, het hy vir baie ’n deeglike getuienis gegee “deur aan die hand van die wet van Moses asook die Profete met oorredingskrag met hulle oor Jesus te praat, van die oggend tot die aand” (Handelinge 28:23). Was Paulus besig om sy gehoor te mislei? Hoegenaamd nie! Dit is dus duidelik dat oorreding nie altyd iets slegs is nie.

Wanneer die Griekse grondwoord wat met “oorreed” vertaal word in ’n positiewe sin gebruik word, beteken dit om te oortuig, om ’n verandering van gedagte deur gegronde, logiese redenasie teweeg te bring. ’n Onderrigter kan dus op ’n skriftuurlike grondslag bou deur oorreding te gebruik om ander van Bybelwaarheid te oortuig (2 Timoteus 2:15). Dit was in werklikheid ’n kenmerk van Paulus se bediening. Selfs Demetrius die silwersmid, wat van mening was dat die Christelike leer vals was, het gesê dat “hierdie Paulus nie net in Efese nie, maar in byna die hele landstreek Asië ’n aansienlike skare oorreed het en hulle tot ’n ander mening gebring het deur te sê dat dié wat met hande gemaak word nie gode is nie”.—Handelinge 19:26.

Gebruik oorreding in die bediening

Jesus Christus het sy volgelinge beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:19, 20). Jehovah se Getuies gehoorsaam hierdie bevel in meer as 230 lande. Hulle het elke maand gedurende hulle 1997-diensjaar gemiddeld 4552 589 tuisbybelstudies regoor die wêreld gehou.

As jy die voorreg het om ’n tuisbybelstudie te hou, sal jy dalk vir uitdagings kan voorberei wat oorredingskuns gaan verg. Sê byvoorbeeld dat daar by jou volgende studie ’n vraag oor die Drie-eenheid opkom. Sê nou jy weet dat jou student hierdie leerstelling glo? Jy kan hom ’n publikasie gee wat daardie onderwerp bespreek. Nadat hy dit gelees het, sal jy dalk vind dat hy oorreed is dat God en Jesus nie dieselfde is nie. Maar hoe gaan jy te werk as hy nog vrae het?

Luister aandagtig. Dit sal jou help vasstel wat jou student omtrent ’n sekere onderwerp glo. As jou student byvoorbeeld sê: “Ek glo aan die Drie-eenheid”, kan jy net daar ’n skriftuurlike bespreking begin om hierdie leerstelling te weerlê. Maar daar is verskeie menings omtrent die Drie-eenheid. Jou student glo miskien iets wat hemelsbreed verskil van wat jy as die Drie-eenheidsleerstelling sou definieer. Dieselfde kan van ander opvattings, soos reïnkarnasie, die onsterflikheid van die siel en redding, gesê word. Luister dus aandagtig voordat jy praat. Moenie aanneem dat jy weet wat die student glo nie.—Spreuke 18:13.

Stel vrae. Dit kan die volgende insluit: ‘Het jy nog altyd aan die Drie-eenheid geglo? Het jy al ooit deeglik ondersoek wat die Bybel oor hierdie onderwerp sê? As God deel was van ’n drie-eenheid, sou sy Woord, die Bybel, dit dan nie duidelik en reguit vir ons gesê het nie?’ Terwyl jy die student leer, kan jy van tyd tot tyd stilstaan om vrae soos die volgende te vra: ‘Maak die materiaal wat ons tot dusver gedek het vir jou sin?’ ‘Stem jy saam met hierdie verduideliking?’ Deur jou bekwame gebruik van vrae betrek jy die student by die leerproses. Hy moenie bloot luister terwyl jy ’n onderwerp verduidelik nie.

Gebruik grondige redenasies. Wanneer jy byvoorbeeld die Drie-eenheidsleerstelling bespreek, kan jy vir jou student sê: ‘Toe Jesus gedoop is, het ’n stem uit die hemel gekom wat gesê het: “Jy is my Seun, die geliefde.” Sou God, as hy werklik op aarde was, besig om gedoop te word, sy stem tot in die hemel en terug projekteer sodat daardie woorde op aarde gehoor kon word? Sou dit nie misleidend wees nie? Sou God, “wat nie kan lieg nie”, so ’n misleidende ding doen?’—Lukas 3:21, 22; Titus 1:1, 2.

Grondige redenasies wat taktvol oorgedra word, is dikwels baie doeltreffend. Kyk na die voorbeeld van ’n vrou wat ons Barbara sal noem. Sy het haar hele lewe lank geglo dat Jesus God is en deel is van ’n drie-eenheid wat die heilige gees insluit. Maar toe het een van Jehovah se Getuies vir haar gesê dat God en Jesus twee afsonderlike persone is, en hy het vir haar tekste gewys om sy verklaring te staaf.b Barbara kon nie teen die Bybel stry nie. Terselfdertyd was sy gefrustreerd. Die Drie-eenheidsleerstelling het haar per slot van rekening na aan die hart gelê.

Die Getuie het geduldig met Barbara geredeneer. “As jy my wou leer dat twee persone gelyk is”, het hy gevra, “watter familiebetrekking sou jy gebruik om dit toe te lig?” Sy het vir ’n oomblik gedink en toe geantwoord: “Ek sou moontlik twee broers gebruik.” “Presies”, het die Getuie geantwoord. “Miskien selfs ’n identiese tweeling. Maar watter gedagte het Jesus oorgedra deur ons te leer om God as die Vader en homself as die Seun te beskou?” “Nou verstaan ek”, het Barbara met groot oë gesê. “Volgens sy beskrywing is die een ouer en het hy groter gesag.”

“Ja”, het die Getuie geantwoord, “en Jesus se Joodse gehoor, wat in ’n patriargale gemeenskap gelewe het, sou des te meer tot daardie slotsom kom.” Die Getuie het sy punt laat inslaan deur ten slotte te sê: “As ons aan so ’n gepaste illustrasie gedink het om gelykheid te verduidelik—naamlik van broers of ’n identiese tweeling—dan kon Jesus, die Groot Onderrigter, dit tog sekerlik ook gedoen het. Maar hy het eerder die woorde ‘vader’ en ‘seun’ gebruik om die verhouding tussen hom en God te beskryf.”

Barbara het uiteindelik die punt gesnap en dit aanvaar. Haar hart is met die oorredingskuns bereik.

Hoe om emosies te hanteer

Diepgewortelde godsdiensopvattings gaan dikwels met emosies gepaard. Neem byvoorbeeld die geval van Edna, ’n vroom Katoliek. Haar tienderjarige kleinseuns het haar duidelike skriftuurlike bewyse gegee dat God en Jesus nie dieselfde persoon is nie. Edna het verstaan wat sy gehoor het. Sy het nogtans vriendelik maar ferm gesê: “Ek glo aan die heilige Drie-eenheid.”

Miskien het jy ’n soortgelyke ondervinding gehad. Baie beskou die leerstellings van hulle godsdiens asof dit deel is van hulle identiteit. Om sulke Bybelstudente te oorreed, vereis meer as koue logika of selfs ’n reeks tekste wat bewys dat die persoon se beskouing verkeerd is. Sulke situasies kan goed hanteer word deur die oorredingskuns met medelye te kombineer. (Vergelyk Romeine 12:15; Kolossense 3:12.) ’n Goeie onderrigter moet weliswaar sterk oortuigings hê. Paulus het byvoorbeeld uitdrukkings gebruik soos “ek is daarvan oortuig” en “ek weet en is daarvan oortuig in die Here Jesus” (Romeine 8:38; 14:14). Maar wanneer ons ons opvattings verduidelik, moet ons nie ’n dogmatiese, eiegeregtige houding aanneem nie, en ons moet ook nie sarkasties wees of neerhalend praat wanneer ons Bybelwaarhede bekend maak nie. Ons wil beslis nie die student aanstoot gee of selfs beledig nie.—Spreuke 12:18.

Dit is baie doeltreffender om die student se opvattings te respekteer en sy reg te erken om daardie opvattings te hê. Nederigheid is die sleutel. ’n Ootmoedige onderrigter meen nie dat hy inherent beter as sy student is nie (Lukas 18:9-14; Filippense 2:3, 4). Goddelike oorreding sluit ’n nederigheid in wat as ’t ware sê: ‘Jehovah het my genadiglik gehelp om dit te verstaan. Laat my toe om jou daarvan te vertel.’

Paulus het aan sy mede-Christene in Korinte geskryf: “Die wapens van ons oorlogvoering is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om sterk verskanste dinge omver te werp. Want ons werp redenasies omver, en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig word; en ons bring elke gedagte in gevangenskap om dit aan die Christus gehoorsaam te maak” (2 Korintiërs 10:4, 5). Jehovah se Getuies gebruik vandag God se Woord om sterk verskanste valse leerstellings sowel as diepgewortelde gebruike en eienskappe wat hom mishaag omver te werp (1 Korintiërs 6:9-11). Terwyl hulle dit doen, onthou die Getuies dat Jehovah liefdevolle geduld teenoor hulle geopenbaar het. Hoe bly is hulle tog om sy Woord, die Bybel, te hê en hierdie kragtige instrument te gebruik om valse leerstellings uit die weg te ruim en harte met die oorredingskuns te bereik!

[Voetnote]

a Sien die artikel “Eunice en Loïs—voorbeeldige opvoeders” op bladsy 7-9 in hierdie nommer van Die Wagtoring.

b Sien Johannes 14:28; Filippense 2:5, 6; Kolossense 1:13-15. Sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir verdere inligting.

[Venster op bladsy 23]

Hoe om jou student se hart te bereik

◻ Bid tot Jehovah vir leiding om die hart van die Bybelstudent te bereik.—Nehemia 2:4, 5; Jesaja 50:4.

◻ Onderskei wat die student glo en waarom ’n valse opvatting moontlik by hom byval vind.—Handelinge 17:22, 23.

◻ Ontwikkel ’n logiese, skriftuurlike argument op ’n vriendelike, geduldige wyse terwyl jy ’n gemeenskaplike grondslag handhaaf.—Handelinge 17:24-34.

◻ Indien moontlik, skerp Bybelwaarhede by studente in deur middel van doeltreffende illustrasies.—Markus 4:33, 34.

◻ Wys vir die student watter voordele dit inhou om juiste kennis van die Bybel te aanvaar.—1 Timoteus 2:3, 4; 2 Timoteus 3:14, 15.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel