Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 6/1 bl. 9-14
  • ‘Gaan voort om in eenheid met Christus te wandel’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Gaan voort om in eenheid met Christus te wandel’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is jy ‘in Christus gewortel’?
  • Word jy ‘in Christus opgebou’?
  • Is jy ‘standvastig gemaak in die geloof’?
  • “Terwyl julle oorloop van geloof in danksegging”
  • Bybelboek nommer 51—Kolossense
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die briewe aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense en die Kolossense
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Wandel met God—die eerste stappe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Is jy ‘gewortel en gegrond op die fondament’?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 6/1 bl. 9-14

‘Gaan voort om in eenheid met Christus te wandel’

“Aangesien julle Christus Jesus, die Here, dan aangeneem het, moet julle voortgaan om in eenheid met hom te wandel.”—KOLOSSENSE 2:6.

1, 2. (a) Hoe beskryf die Bybel Henog se lewe van getroue diens aan Jehovah? (b) Hoe het Jehovah ons gehelp om met hom te wandel, soos Kolossense 2:6, 7 toon?

HET jy al ooit ’n klein seuntjie dopgehou wat saam met sy vader loop? Die outjie boots elke beweging van sy vader na en sy gesig straal van bewondering; die vader help hom aan, en sy eie gesig gloei van liefde en goedkeuring. Dit is gepas dat Jehovah juis hierdie beeld gebruik om ’n lewe van getroue diens aan hom te beskryf. God se Woord sê byvoorbeeld dat die getroue man Henog “met God gewandel” het.—Genesis 5:24; 6:9.

2 Net soos ’n bedagsame vader sy seuntjie sal help om saam met hom te loop, so het Jehovah ons die beste hulp moontlik gegee. Hy het sy enigverwekte Seun na die aarde toe gestuur. Jesus Christus het met elke tree van sy lewensweg hier op die aarde sy hemelse Vader volmaak weerspieël (Johannes 14:9, 10; Hebreërs 1:3). As ons dus met God wil wandel, moet ons met Jesus wandel. Die apostel Paulus het geskryf: “Aangesien julle Christus Jesus, die Here, dan aangeneem het, moet julle voortgaan om in eenheid met hom te wandel, gewortel in hom en terwyl julle opgebou word in hom en standvastig gemaak word in die geloof, net soos julle geleer is, terwyl julle oorloop van geloof in danksegging.”—Kolossense 2:6, 7.

3. Waarom kan ons, volgens Kolossense 2:6, 7, sê dat daar meer by betrokke is om in eenheid met Christus te wandel as om net gedoop te word?

3 Omdat opregte Bybelstudente in eenheid met Christus wil wandel en sy volmaakte voetstappe probeer navolg, laat hulle hulle doop (Lukas 3:21; Hebreërs 10:7-9). In 1997 alleen het meer as 375 000 regoor die wêreld hierdie lewensbelangrike stap gedoen—gemiddeld meer as 1000 per dag. Hierdie vermeerdering is opwindend! Maar Paulus se woorde in Kolossense 2:6, 7 toon dat daar meer by betrokke is om in eenheid met Christus te wandel as om net gedoop te word. Die Griekse werkwoord wat vertaal word met ‘voortgaan om te wandel’, beskryf ’n aksie wat onafgebroke moet voortduur. Daarbenewens voeg Paulus by dat vier dinge daarby betrokke is om met Christus te wandel: ’n mens moet gewortel wees in Christus, opgebou word in hom, in die geloof standvastig gemaak word en oorloop van danksegging. Kom ons ondersoek elke frase en kyk hoe dit ons help om aan te hou om in eenheid met Christus te wandel.

Is jy ‘in Christus gewortel’?

4. Wat beteken dit om ‘in Christus gewortel’ te wees?

4 Eerstens skryf Paulus dat ons ‘in Christus gewortel’ moet wees. (Vergelyk Matteus 13:20, 21.) Hoe kan ’n mens daarna streef om in Christus gewortel te wees? Wel, die wortels van ’n plant kan nie gesien word nie, maar hulle is noodsaaklik vir die plant—hulle gee hom stabiliteit en voorsien hom van voedsel. Christus se voorbeeld en leringe het op soortgelyke wyse eerstens ’n onsigbare invloed op ons deur in ons verstand en hart wortel te skiet. Daar voed en versterk dit ons. Wanneer ons toelaat dat dit ons denke, ons dade en ons besluite rig, word ons daartoe beweeg om ons lewe aan Jehovah toe te wy.—1 Petrus 2:21.

5. Hoe kan ons “’n verlange” na geestelike voedsel ontwikkel?

5 Jesus was lief vir die kennis van God. Hy het dit selfs met voedsel vergelyk (Matteus 4:4). Trouens, in sy Bergpredikasie het hy 21 keer uit agt verskillende boeke van die Hebreeuse Geskrifte aangehaal. As ons sy voorbeeld wil volg, moet ons doen wat die apostel Petrus ons aanspoor om te doen—“ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange” na geestelike voedsel (1 Petrus 2:2). Wanneer ’n pasgebore kindjie voedsel verlang, laat hy geen twyfel oor wat hy wil hê nie. As ons nie tans so oor geestelike voedsel voel nie, spoor Petrus se woorde ons aan om daardie verlange te “ontwikkel”. Hoe? Die beginsel in Psalm 34:9 kan nuttig wees: “Smaak en sien dat die HERE goed is.” As ons gereeld van Jehovah se Woord, die Bybel, inneem deur miskien elke dag ’n deel daarvan te lees, sal ons sien dat dit geestelik voedsaam en goed is. Mettertyd sal ons verlange daarna groter word.

6. Waarom is dit belangrik om te peins oor wat ons lees?

6 Maar dit is belangrik om voedsel goed te verteer nadat ons dit ingeneem het. Ons moet dus peins oor wat ons lees (Psalm 77:12, 13). Wanneer ons byvoorbeeld die boek Die grootste mens wat nog geleef het lees, word elke hoofstuk selfs waardevoller as ons stilstaan en ons ons afvra: ‘Watter faset van Christus se persoonlikheid sien ek in hierdie verslag, en hoe kan ek dit in my eie lewe navolg?’ As ons op hierdie manier peins, sal dit ons in staat stel om toe te pas wat ons leer. Wanneer ons ’n besluit moet neem, kan ons ons dan afvra wat Jesus moontlik sou gedoen het. As ons ons besluit hiervolgens neem, lewer ons bewys dat ons werklik in Christus gewortel is.

7. Wat moet ons beskouing van vaste geestelike voedsel wees?

7 Paulus spoor ons ook aan om “vaste voedsel”, die dieper waarhede van God se Woord, in te neem (Hebreërs 5:14). Ons eerste doelwit in hierdie opsig kan wees om die hele Bybel deur te lees. Dan is daar meer spesifieke onderwerpe wat ons kan bestudeer, soos die losprysofferande van Christus, die verskillende verbonde wat Jehovah met sy volk gesluit het of sommige van die profetiese boodskappe in die Bybel. Daar is ’n oorvloed van materiaal wat ons sal help om sulke vaste geestelike voedsel in te neem en te verteer. Met watter doel neem ons hierdie kennis in? Dit is nie om ons rede te gee om te spog nie, maar om ons liefde vir Jehovah op te bou en ons nader aan hom te bring (1 Korintiërs 8:1; Jakobus 4:8). As ons hierdie kennis ywerig inneem, dit op onsself toepas en dit gebruik om ander te help, volg ons Christus werklik na. Dit sal ons help om behoorlik in hom gewortel te wees.

Word jy ‘in Christus opgebou’?

8. Wat beteken dit om ‘in Christus opgebou te word’?

8 Wanneer Paulus die volgende aspek bespreek van hoe ons in eenheid met Christus wandel, skakel hy vinnig oor van een visuele beeld na ’n ander—van ’n plant na ’n gebou. Wanneer ons dink aan ’n gebou wat in aanbou is, dink ons nie net aan die fondament nie, maar ook aan die deel van die gebou wat as gevolg van veel harde werk duidelik te sien is. Ons moet eweneens baie hard werk om Christelike eienskappe en gewoontes aan te kweek. Sulke harde werk bly nie ongemerk nie, net soos Paulus aan Timoteus geskryf het: ‘Laat jou vooruitgang vir almal duidelik wees’ (1 Timoteus 4:15; Matteus 5:16). Wat is sommige Christelike werke waardeur ons opgebou word?

9. (a) Wat is sommige praktiese doelwitte wat ons kan stel sodat ons Christus in ons bediening kan navolg? (b) Hoe weet ons dat Jehovah wil hê dat ons ons bediening moet geniet?

9 Jesus het ons die opdrag gegee om die goeie nuus aan ander te verkondig en hulle te leer (Matteus 24:14; 28:19, 20). Hy het die volmaakte voorbeeld gestel deur moedig en met welslae te getuig. Ons sal natuurlik nooit so suksesvol soos hy wees nie. Maar die apostel Petrus stel hierdie doelwit voor ons: “Heilig die Christus as Here in julle harte, en wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met saggeaardheid en diep respek” (1 Petrus 3:15). As jy nie voel dat jy ‘altyd gereed is om jou te verdedig’ nie, moenie moed opgee nie. Stel redelike doelwitte wat jou sal help om stelselmatig nader aan daardie standaard te kom. Voorbereiding kan jou help om verskillende aanbiedings te gebruik of om ’n teks of twee daarby in te sluit. Jy kan jou dit ten doel stel om meer Bybellektuur te versprei, meer herbesoeke te doen of ’n Bybelstudie te begin. Die klem moet nie hoofsaaklik op getalle gelê word nie—met ander woorde die aantal ure, stukke lektuur wat by mense gelaat word of studies nie—maar op gehalte. As ons redelike doelwitte stel en daarna streef om hulle te bereik, kan dit ons help om vreugde te vind deur van onsself in die bediening te gee. Dit is wat Jehovah wil hê—dat ons hom “met blydskap” moet dien.—Psalm 100:2; vergelyk 2 Korintiërs 9:7.

10. Wat is sommige ander Christelike werke wat ons moet verrig, en hoe help hulle ons?

10 Daar is ook werke wat ons in die gemeente verrig wat ons in Christus opbou. Die belangrikste hiervan is dat ons liefde aan mekaar betoon, want dit is die kenmerk van ware Christene (Johannes 13:34, 35). Terwyl ons nog studeer, raak baie van ons geheg aan ons onderrigter, wat net natuurlik is. Maar kan ons nou Paulus se raad volg om ‘verruim te word’ deur ander in die gemeente te leer ken? (2 Korintiërs 6:13). Ook die ouer manne het ons liefde en waardering nodig. As ons met hulle saamwerk en hulle om skriftuurlike raad vra en dit aanneem, sal ons hulle harde werk soveel makliker maak (Hebreërs 13:17). Terselfdertyd sal dit daartoe bydra dat ons in Christus opgebou word.

11. Watter realistiese beskouing moet ons oor doop hê?

11 Om gedoop te word, is ’n opwindende gebeurtenis! Ons moet egter nie verwag dat elke oomblik van die lewe daarna net so opwindend sal wees nie. ’n Groot deel van hoe ons in Christus opgebou word, behels dat ons “ordelik in hierdie selfde roetine . . . wandel” (Filippense 3:16). Dit beteken nie dat ons ’n saai, vervelige lewe moet lei nie. Dit beteken bloot dat ons reguit vorentoe moet gaan—dat ons met ander woorde goeie geestelike gewoontes moet aankweek en dag na dag, jaarin en jaaruit daarby moet bly. Onthou, “wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 24:13.

Is jy ‘standvastig gemaak in die geloof’?

12. Wat beteken dit om “standvastig gemaak [te] word in die geloof”?

12 In Paulus se derde frase wat beskryf hoe ons in eenheid met Christus wandel, spoor hy ons aan om “standvastig gemaak [te] word in die geloof”. Een vertaling sê: “bevestig in die geloof”, want die Griekse woord wat Paulus gebruik het, kan beteken “om te bevestig, te waarborg en wetlik onherroeplik te maak”. Namate ons in kennis toeneem, word ons verdere redes gegee om te sien dat ons geloof in Jehovah God op goeie grond berus en in werklikheid wetlik bevestig is. Die gevolg is dat ons standvastiger word. Dit word al hoe moeiliker vir Satan se wêreld om ons te beïnvloed. Dit herinner ons aan Paulus se vermaning om ‘tot volwassenheid voort te beur’ (Hebreërs 6:1). Volwassenheid en standvastigheid gaan hand aan hand.

13, 14. (a) Voor watter bedreigings vir hulle standvastigheid het die eerste-eeuse Christene in Kolosse te staan gekom? (b) Waaroor was die apostel Paulus moontlik besorg?

13 Die eerste-eeuse Christene in Kolosse het voor bedreigings vir hulle standvastigheid te staan gekom. Paulus het gewaarsku: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kolossense 2:8). Paulus wou nie hê dat die Kolossense, wat onderdane in “die koninkryk van die Seun van [God se] liefde” geword het, weggevoer, afgelei moes word van hulle geseënde geestelike toestand nie (Kolossense 1:13). Waardeur kon hulle mislei word? Paulus het gepraat van “filosofie”, die enigste keer wat hierdie woord in die Bybel verskyn. Het hy na die Griekse filosowe, soos Plato en Sokrates, verwys? Hoewel hulle ’n bedreiging vir ware Christene ingehou het, het die woord “filosofie” destyds ’n breë gebruiksveld gehad. Dit het oor die algemeen verwys na talle groepe en denkrigtings—selfs dié van ’n godsdienstige aard. Eerste-eeuse Jode soos Josefus en Filo het byvoorbeeld hulle eie godsdiens ’n filosofie genoem—moontlik sodat dit groter byval by mense kon vind.

14 Van die filosofieë waaroor Paulus besorg was, was moontlik van ’n godsdienstige aard. Later in dieselfde hoofstuk van sy brief aan die Kolossense het hy diegene aangespreek wat geleer het: “Moenie hanteer, of proe, of aanraak nie” waardeur hulle gesinspeel het op kenmerke van die Mosaïese Wet wat deur Christus se dood afgeskaf is (Romeine 10:4). Benewens heidense filosofieë was daar invloede aan die werk wat die geestelikheid van die gemeente bedreig het (Kolossense 2:20-22). Paulus het teen filosofieë gewaarsku wat deel was van “die elementêre dinge van die wêreld”. Sulke valse leringe het hulle oorsprong by mense gehad.

15. Hoe kan ons voorkom dat ons beïnvloed word deur die onskriftuurlike denke waarmee ons dikwels te doen kry?

15 Die bevordering van menslike idees en denke wat nie ’n vaste grondslag in God se Woord het nie, kan ’n bedreiging vir Christelike standvastigheid inhou. Ons moet vandag op ons hoede wees vir sulke bedreigings. Die apostel Johannes het gemaan: “Geliefdes, moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het” (1 Johannes 4:1). As ’n skoolmaat jou dus probeer oortuig dat dit ouderwets is om volgens Bybelstandaarde te lewe, of as ’n buurman jou soms beïnvloed om ’n materialistiese gesindheid aan te kweek, of as ’n werksmaat op subtiele wyse druk op jou plaas om jou Bybelopgeleide gewete te skend, of selfs as ’n medegelowige kritiese, negatiewe aanmerkings maak oor ander in die gemeente wat gebaseer is op sy eie opinie, moet ons nie sommer net aanvaar wat hulle sê nie. Verwerp dít wat nie in ooreenstemming met God se Woord is nie. Wanneer ons almal dit doen, sal ons ons standvastigheid handhaaf terwyl ons in eenheid met Christus wandel.

“Terwyl julle oorloop van geloof in danksegging”

16. Wat is die vierde aspek van hoe ons in eenheid met Christus wandel, en watter vraag kan ons ons afvra?

16 Die vierde aspek van hoe ons in eenheid met Christus wandel wat Paulus meld, is dat ons moet “oorloop van geloof in danksegging” (Kolossense 2:7). Die woord “oorloop” laat ’n mens aan ’n rivier dink wat sy oewers oorstroom. Dit gee te kenne dat ons danksegging as Christene aanhoudend of ’n gewoonte moet wees. Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Is ek dankbaar?’

17. (a) Waarom kan daar gesê word dat ons almal baie het om voor dankbaar te wees, selfs gedurende moeilike tye? (b) Wat is sommige gawes van Jehovah waarvoor jy besonder dankbaar is?

17 Ons almal het inderdaad oorgenoeg rede om elke dag oor te loop van dank aan Jehovah. Selfs in die swaarste tye is daar dalk klein dingetjies wat oomblikke van verligting verskaf. ’n Vriend wat empatie betoon. ’n Geliefde wat ons gerusstellend aanraak. ’n Goeie nagrus wat ons verkwik. ’n Smaaklike ete wat hongerpyne stil. Voëlgesang, ’n kind se gelag, ’n helder blou hemel, ’n verfrissende bries—ons kan dit alles en nog meer in ’n enkele dag geniet. Hoe maklik is dit tog om sulke gawes as vanselfsprekend aan te neem. Verdien al hierdie dinge nie ’n dankie nie? Dit kom alles van Jehovah, die Bron van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17). En hy het ons gawes gegee wat hierdie dinge ver oortref—soos byvoorbeeld die lewe self (Psalm 36:10). Daarbenewens het hy ons die geleentheid gebied om vir ewig te lewe. Sodat hy hierdie gawe kon voorsien, het Jehovah die hoogste offer gebring deur sy enigverwekte Seun te stuur, ‘die een vir wie hy besonder lief was’.—Spreuke 8:30, NW; Johannes 3:16.

18. Hoe kan ons toon dat ons dankbaar is teenoor Jehovah?

18 Hoe waar is die psalmis se woorde dus: “Dit is goed om Jehovah te dank” (Psalm 92:1, NW). Paulus het die Christene in Tessalonika eweneens herinner: “Betuig dank in verband met alles” (1 Tessalonisense 5:18; Efesiërs 5:20; Kolossense 3:15). Elkeen van ons kan ons voorneem om dankbaarder te wees. Ons gebede hoef nie net uit versoeke tot God in verband met ons behoeftes te bestaan nie. Versoeke het hulle plek. Maar stel jou voor dat jy ’n vriend het wat net met jou praat wanneer hy iets van jou nodig het! Ons kan dus tot Jehovah bid met die uitsluitlike doel om hom te dank en te loof. Hoe bly moet sulke gebede hom tog maak wanneer hy op hierdie ondankbare wêreld neerkyk! ’n Bykomende voordeel is dat sulke gebede ons kan help om ons toe te spits op die positiewe aspekte van die lewe deurdat dit ons gedagtig maak aan hoe geseënd ons eintlik is.

19. Hoe gee Paulus se woorde in Kolossense 2:6, 7 te kenne dat ons almal kan aanhou om te verbeter in die manier waarop ons met Christus wandel?

19 Is dit nie merkwaardig hoeveel wyse leiding uit een teks in God se Woord gekry kan word nie? Paulus se raad om aan te hou om met Christus te wandel, is iets wat elkeen van ons ter harte moet neem. Laat ons dus vasbeslote wees om ‘in Christus gewortel’ te wees, ‘in hom opgebou te word’, ‘in die geloof standvastig gemaak te word’ en ‘oor te loop van danksegging’. Sulke raad is veral noodsaaklik vir pasgedooptes. Maar dit is op ons almal van toepassing. Dink aan hoe ’n penwortel al hoe dieper groei en hoe ’n gebou wat in aanbou is al hoe hoër word. Net so hou ons nooit op om met Christus te wandel nie. Daar is oorgenoeg ruimte vir groei. Jehovah sal ons help en seën, want hy wil hê dat ons moet voortgaan om vir ewig saam met hom en sy geliefde Seun te wandel.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat behels dit om in eenheid met Christus te wandel?

◻ Wat beteken dit om ‘in Christus gewortel’ te wees?

◻ Hoe kan ons ‘in Christus opgebou word’?

◻ Waarom is dit so belangrik om ‘in die geloof standvastig gemaak te word’?

◻ Watter redes het ons om ‘van danksegging oor te loop’?

[Prent op bladsy 10]

Al is die boom se wortels nie sigbaar nie, voorsien hulle hom van voedsel en anker hulle hom stewig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel