Jehovah se organisasie ondersteun jou bediening
“Ek het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak.”—OPENBARING 14:6.
1. Hoe is Jehovah se Getuies beproef, en waarom het hulle dit oorleef?
WAAROM is dit so belangrik om die rol van Jehovah se hemelse organisasie in die ondersteuning van die Christelike bediening te erken? Wel, kon Jehovah se Getuies die goeie nuus van God se Koninkryk in ’n vyandige wêreld verkondig het sonder die ondersteuning van Jehovah se hemelse leërskare? Getuies het hierdie predikingswerk gedoen in ’n eeu van die ergste nasionalisme, totalitêre politieke stelsels, wêreldoorloë en allerhande teëspoed. Kon die Getuies die internasionale vloedgolf van vooroordeel, diskriminasie en dikwels gewelddadige vervolging wat teen hulle aangestook is sonder Jehovah se hulp oorleef het?—Psalm 34:8.
Oorlewing ten spyte van wêreldwye teenstand
2. Watter parallel is daar tussen ware Christene van die eerste eeu en dié van vandag?
2 In hierdie 20ste eeu het godsdiensvyande sowel as politieke vyande elke moontlike struikelblok, geregtelik en andersins, in die weg gelê om Jehovah se werk te keer of aan bande te lê. Christenbroers en -susters is vervolg, verkeerd voorgestel, beswadder en belaster—baie is selfs doodgemaak—dikwels op aanstigting van die geestelikes van Babilon die Grote. Daar kan gesê word, soos daar van die vroeë Christene gesê is: “Waarlik, wat hierdie sekte betref, is dit aan ons bekend dat daar oral daarteen gespreek word.” Net soos die Joodse geestelikes van Christus se tyd hand en tand geveg het om sy bediening stop te sit, het die geestelikes en afvalliges, kop in een mus met hulle politieke minnaars, die groot opvoedkundige getuieniswerk van Jehovah se volk probeer smoor.—Handelinge 28:22; Matteus 26:59, 65-67.
3. Wat kan ons uit Henryka Żur se onkreukbaarheid leer?
3 Neem byvoorbeeld wat op 1 Maart 1946 in Pole gebeur het. Henryka Żur, ’n 15-jarige Getuiemeisie wat naby Chełm gewoon het, het saam met ’n ander Getuie, ’n broer, gegaan om belangstellendes in ’n nabygeleë dorp te besoek. Hulle is gearresteer deur lede van ’n Katolieke militêre afdeling wat die Narodowe Siły Zbrojne (Nasionale Weermag) genoem is. Die broer is erg geslaan, maar het lewendig daarvan afgekom. Vir Henryka het dit anders afgeloop. Sy is baie ure lank verskriklik gemartel terwyl hulle haar probeer dwing het om die Katolieke teken van die kruis te maak. Een van haar folteraars het gesê: “Dink net wat jy wil, maar maak net die Katolieke teken van die kruis. Anders wag ’n koeël op jou!” Het sy in haar onkreukbaarheid verswak? Nee. Die godsdienslafaards het haar in ’n nabygeleë woud ingesleep en haar geskiet. Tog het sy oorwin! Hulle het haar nie haar onkreukbaarheid laat prysgee nie.a—Romeine 8:35-39.
4. Hoe het politieke en godsdienselemente die Koninkrykspredikingswerk probeer onderdruk?
4 God se hedendaagse knegte word al meer as honderd jaar lank wreed en met minagting behandel. Omdat Jehovah se Getuies nie ’n deel van Satan se hoofstroomgodsdienste is nie, en ook nie ’n deel daarvan wil wees nie, word hulle as gepaste slagoffers vir enige bevooroordeelde kritikus of fanatiese teenstander beskou. Hulle is wreed aangeval deur die politieke elemente. Baie Getuies is al weens hulle geloof doodgemaak. Selfs so genoemde demokrasieë het die verkondiging van die goeie nuus al probeer teëstaan. Die geestelikes het reeds in 1917 in Kanada en die Verenigde State beskuldigings van ondermyning ingebring teen die Bybelstudente, soos die Getuies destyds bekend gestaan het. Amptenare van die Wagtoringgenootskap is wederregtelik opgesluit en is eers later vrygespreek.—Openbaring 11:7-9; 12:17.
5. Watter woorde was dikwels ’n bron van aanmoediging vir Jehovah se knegte?
5 Satan het elke middel tot sy beskikking gebruik om die predikingswerk van Christus se broers en hulle lojale metgeselle te probeer stopsit. Maar, soos soveel ondervindinge toon, het nie dreigemente, intimidasie, liggaamlike geweld, gevangenisskap, konsentrasiekampe of selfs nie eers die dood Jehovah se Getuies die swye opgelê nie. En dit was deur die geskiedenis heen die geval. Elisa se woorde was keer op keer ’n bron van aanmoediging: “Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.” Een rede hiervoor is dat die getroue engele meer is as wat die Duiwel se hordes is!—2 Konings 6:16; Handelinge 5:27-32, 41, 42.
Jehovah seën ywerige predikingswerk
6, 7. (a) Watter vroeë pogings is aangewend om die goeie nuus te verkondig? (b) Watter voordelige verandering het sedert 1943 plaasgevind?
6 In die loop van die 20ste eeu het Jehovah se Getuies grootliks van tegnologiese vooruitgang gebruik gemaak om die groot predikingswerk voor die einde uit te brei en te bespoedig. Reeds in 1914 was pastor Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, een van die eerstes om die gebruik te bevorder van skyfies en rolprente, wat met Bybelkommentare op grammofoonplate gesinchroniseer is in ’n Bybelproduksie van agt uur wat “Die fotodrama van die Skepping” genoem is. Dit het gehore in baie lande destyds verstom. Later, in die dertiger- en veertigerjare, het die Getuies bekend geword vir hulle predikingswerk van huis tot huis met draagbare grammofone, waarop hulle opnames van Bybeltoesprake deur J. F. Rutherford, die Genootskap se tweede president, gespeel het.
7 In 1943 is ’n moedige stap onder leiding van Nathan H. Knorr, die derde president van die Genootskap, gedoen toe daar besluit is om ’n skool vir bedienaars in elke gemeente te begin. Die Getuies sou opgelei word om sonder die gebruik van grammofoonplate vir mense van huis tot huis te getuig en hulle te onderrig. Sedertdien is ander skole georganiseer om sendelinge, voltydse pionierbedienaars, gemeentelike ouer manne en verantwoordelike opsieners in die takkantore van die Wagtoringgenootskap op te lei. Watter resultate het dit gelewer?
8. Hoe het Getuies in 1943 groot geloof getoon?
8 In 1943, te midde van die Tweede Wêreldoorlog, was daar slegs 129 000 Getuies in 54 lande bedrywig. Maar hulle het die geloof en oortuiging gehad dat Matteus 24:14 voor die einde vervul sou word. Hulle was oortuig dat Jehovah eers die belangrike waarskuwingsboodskap sou laat verkondig voor die opeenvolging van gebeurtenisse wat ’n einde aan hierdie verdorwe stelsel van dinge sou bring (Matteus 24:21; Openbaring 16:16; 19:11-16, 19-21; 20:1-3). Is hulle pogings beloon?
9. Watter feite toon dat die getuieniswerk floreer?
9 Daar is nou ten minste 13 lande met meer as 100 000 bedrywige Getuies elk. Etlike van hulle is oorheersend Katolieke lande. Kyk egter na die situasie. Brasilië het ongeveer 450-000 verkondigers van die goeie nuus, en meer as 1200 000 het in 1997 die herdenking van Christus se dood bygewoon. Mexiko is nog ’n voorbeeld, met byna 500 000 Getuies en meer as 1600 000 by die Gedenkmaalviering. Ander Katolieke lande is Italië (sowat 225 000 Getuies), Frankryk (nagenoeg 125 000), Spanje (meer as 105 000) en Argentinië (meer as 115 000). In die Verenigde State, waar die Protestantse, Katolieke en Joodse godsdienste in die meerderheid is, is daar ongeveer 975 000 Getuies en meer as 2000 000 het die Gedenkmaal bygewoon. Groot skares stroom ongetwyfeld uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, met sy mistieke leringe, en hulle leer van God se eenvoudige en gewisse beloftes van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”.—2 Petrus 3:13; Jesaja 2:3, 4; 65:17; Openbaring 18:4, 5; 21:1-4.
Getuies pas hulle by die behoeftes van mense aan
10. Hoe het omstandighede in sommige gebiede verander?
10 Baie van dié wat hulle deur Christus Jesus tot Jehovah gekeer het, is van huis tot huis gevind (Johannes 3:16; Handelinge 20:20). Maar ander metodes is ook al gebruik. Tye het verander, en ekonomiese toestande is van so ’n aard dat baie vroue nou sekulêre werk doen. Dikwels kan min mense gedurende die week tuisgevind word. Jehovah se Getuies het hulle gevolglik by die situasie aangepas. Soos Jesus en die vroeë dissipels gaan hulle waar en wanneer die mense gevind kan word.—Matteus 5:1, 2; 9:35; Markus 6:34; 10:1; Handelinge 2:14; 17:16, 17.
11. Waar getuig Jehovah se Getuies vandag, en watter resultate lewer dit?
11 Getuies neem die inisiatief en getuig oordeelkundig vir mense in groot parkeerterreine, winkelsentrums, fabrieke, kantore en sakeondernemings, skole, polisiestasies, vulstasies, hotelle en restaurante asook op straat. Trouens, hulle getuig waar mense ook al gevind kan word. En wanneer mense wel tuis is, hou die Getuies aan om hulle daar te besoek. Hierdie aanpasbare en praktiese benadering het ’n groter verspreiding van Bybellektuur tot gevolg. Skaapgeaardes word gevind. Nuwe Bybelstudies word begin. Die grootste onderrigtingswerk in die mensegeskiedenis word ywerig uitgevoer deur meer as vyf en ’n half miljoen vrywillige bedienaars! Het jy die voorreg om een van hulle te wees?—2 Korintiërs 2:14-17; 3:5, 6.
Wat motiveer Jehovah se Getuies?
12. (a) Hoe leer Jehovah sy volk? (b) Wat het hierdie onderrigting tot gevolg gehad?
12 Watter rol speel die hemelse organisasie hierin? Jesaja het geprofeteer: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jesaja 54:13). Jehovah leer hierdie wêreldwye verenigde broederskap deur sy sigbare organisasie op aarde—by Koninkryksale asook by streek- en kringbyeenkomste. Dit het eenheid en vrede tot gevolg. Jehovah se onderrigting het ’n unieke volk voortgebring wat geleer is om mekaar en hulle naaste soos hulleself lief te hê, nie hulle naaste te haat nie, waar hulle ook al in hierdie verdelende en verdeelde wêreld lewe.—Matteus 22:36-40.
13. Hoe kan ons seker wees dat engeleleiding by die predikingswerk betrokke is?
13 Liefde motiveer Jehovah se Getuies om ondanks onverskilligheid of vervolging aan te hou getuig (1 Korintiërs 13:1-8). Hulle weet dat hulle lewensreddende werk vanuit die hemel gerig word, soos Openbaring 14:6 sê. Wat is die boodskap wat onder engeleleiding verkondig word? “Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het.” Die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk verheerlik Jehovah se naam. Mense word genooi om aan die Skepper, God, heerlikheid te gee, nie aan skepsele en blinde evolusie nie. En waarom is die predikingswerk so dringend? Omdat die uur van oordeel aangebreek het—oordeel teen Babilon die Grote en alle ander elemente van Satan se sigbare stelsel van dinge.—Openbaring 14:7; 18:8-10.
14. Wie is betrokke by hierdie groot predikingsveldtog?
14 Geen toegewyde Christen is vrygestel van hierdie predikingswerk nie. Geestelike ouer manne neem die leiding in die predikingswerk saam met die gemeente. Opgeleide pioniers is druk besig met die werk. Ywerige verkondigers van die Koninkryksboodskap neem die boodskap na elke uithoek van die aarde, hetsy hulle net ’n paar of baie ure per maand kan getuig.—Matteus 28:19, 20; Hebreërs 13:7, 17.
15. Wat is ’n aanduiding van die impak wat die predikingswerk van Jehovah se Getuies het?
15 Het al hierdie inspanning ’n impak op die wêreld gehad? ’n Eenvoudige bewys dat dit wel ’n impak gehad het, is die aantal kere wat daar na Jehovah se Getuies in TV-programme en in koerantrubrieke verwys word. Dit vestig dikwels die aandag op ons volharding en vasbeslotenheid om almal te bereik. Ja, ons ywer en voortdurende teenwoordigheid maak ’n diep indruk, selfs al verwerp die meeste mense die boodskap en die boodskappers!
Ons ywer om die getuieniswerk te voltooi
16. Watter gesindheid moet nou geopenbaar word in die min tyd wat oorbly?
16 Ons weet nie hoeveel tyd daar nog vir hierdie stelsel van dinge oor is nie, en ons hoef ook nie te weet nie, solank ons Jehovah uit ’n suiwer beweegrede dien (Matteus 24:36; 1 Korintiërs 13:1-3). Maar ons weet wel dat die goeie nuus “eers” verkondig moet word sodat Jehovah se liefde, krag en geregtigheid geopenbaar kan word (Markus 13:10). Ons moet ons toewyding derhalwe ywerig naleef in ooreenstemming met ons omstandighede, ongeag hoeveel jaar ons al gretig uitsien na die einde van hierdie goddelose, onregverdige en gewelddadige wêreld. Ons is dalk bejaard of siek, maar ons kan Jehovah nog steeds met die ywer dien wat ons in ons jonger of gesonder dae gehad het. Miskien kan ons nie meer soveel tyd as voorheen in die bediening deurbring nie, maar ons kan beslis die gehalte van ons lofofferande aan Jehovah handhaaf.—Hebreërs 13:15.
17. Vertel ’n aanmoedigende ondervinding wat ons almal dalk sal help.
17 Hetsy ons jonk of oud is, laat ons dus ywerig wees en ons positiewe boodskap oor die nuwe wêreld aan almal vertel wat ons ontmoet. Laat ons soos die skamerige sewe-jarige dogtertjie in Australië wees wat saam met haar moeder winkel toe gegaan het. Sy het by die Koninkryksaal gehoor hoe belangrik dit vir almal is om vir ander te getuig, en daarom het sy twee Bybelbrosjures in haar sak gesit. Terwyl haar moeder by die toonbank besig was, het die dogtertjie verdwyn. Toe haar moeder haar soek, was sy sowaar besig om ’n brosjure vir ’n vrou aan te bied! Die moeder het om verskoning gaan vra omdat haar dogtertjie die vrou miskien lastig geval het. Maar die vrou het die brosjure met graagte geneem. Toe die moeder weer alleen by haar dogtertjie was, het sy haar gevra hoe sy die moed bymekaar geskraap het om ’n vreemdeling te nader. “Ek het net gesê: Een, twee, drie, weg is jy! En toe gaan ek!”
18. Hoe kan ons ’n voortreflike gees openbaar?
18 Ons het almal ’n gees soos dié van die Australiese dogtertjie nodig, veral as ons vreemdelinge of selfs amptenare met die goeie nuus wil nader. Ons is dalk bang dat ons afgewys sal word. Laat ons nie vergeet wat Jesus gesê het nie: “Julle [moet] nie besorg raak oor hoe of wat julle ter verdediging sal spreek of wat julle sal sê nie; want die heilige gees sal julle in daardie selfde uur die dinge leer wat julle behoort te sê.”—Lukas 12:11, 12.
19. Hoe beskou jy jou bediening?
19 Vertrou dus op die hulp van God se gees wanneer jy mense vriendelik met die goeie nuus nader. Miljoene stel hulle vertroue op mans en vrouens wat dit dikwels nie waardig is nie en wat vandag lewe en môre dood is. Ons vertrou op Jehovah en sy hemelse organisasie—Christus Jesus, die heilige engele en verrese gesalfde Christene—wat vir ewig lewe! Onthou dus: “Die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is”!—2 Konings 6:16.
[Voetnoot]
a Sien die 1994 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 217-20, vir verdere voorbeelde.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter rol het God se hemelse organisasie in die voortbestaan van Jehovah se volk gespeel?
◻ Deur watter politieke en godsdienselemente is Jehovah se Getuies in die 20ste eeu aangeval?
◻ Hoe het Jehovah se Getuies hulle bediening by die behoeftes van die tyd aangepas?
◻ Wat motiveer jou om te getuig?
[Prent op bladsy 17]
Henryka Żur
[Prente op bladsy 18]
Japan
Martinique
Verenigde State
Kenia
Verenigde State
Jehovah se Getuies getuig waar en wanneer mense ook al gevind kan word
[Prent op bladsy 20]
Grammofone is vroeër in hierdie eeu gebruik om die Koninkryksboodskap te verkondig