Jesus: Die Heerser wie se ‘uitgange uit die voortyd is’
JY RAAK al hoe meer opgewonde terwyl jy die aankoms van ’n langverlore familielid afwag. Uiteindelik kom hy, en jy groet hom hartlik. Jy luister aandagtig terwyl hy jou vertel waarom sy vader hom na jou toe gestuur het. Kort voor lank moet hy weer huis toe gaan. Met ’n swaar hart neem jy afskeid van hom. Die verlies wat jy by sy vertrek ervaar, neem af wanneer jy die nuus kry dat hy veilig by die huis aangekom het.
Later, wanneer jy ou dokumente deurgaan, kom jy op briewe af wat kortliks vertel van jou familielid se prestasies lank voordat hy sy reis onderneem het om jou te ontmoet. Wat daardie briewe jou vertel, gee jou interessante insae in sy agtergrond en vergroot jou waardering vir sy besoek sowel as sy huidige werk.
“Uit die voortyd”
Een van die ou dokumente wat aan eerste-eeuse Jode beskikbaar was, was die geskrifte van God se profeet Miga, wat ongeveer sewehonderd jaar vroeër geskryf is. Dit sê presies waar die Messias gebore sou word. “Jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1). In ooreenstemming met hierdie woorde is Jesus in die Judese dorpie Betlehem gebore in die jaar wat nou 2 v.G.J. genoem word. Maar hoe kon sy uitgange “uit die voortyd” wees?
Jesus het ’n voormenslike bestaan gehad. In die apostel Paulus se brief aan die Christene in Kolosse het hy Jesus as “die beeld van die onsigbare God, die eersgeborene van die hele skepping” beskryf.—Kolossense 1:15.
Jehovah, die Bron van wysheid, het sy eerste Seun as die “vroegste van sy werke” geskep, volgens die woorde van die geïnspireerde uitdrukking wat deur koning Salomo in die boek Spreuke opgeteken is. Ná Jesus se verblyf op die aarde en sy terugkeer na die hemel, het hy getuig dat hy inderdaad “die begin van die skepping deur God” was. As die beliggaming van wysheid het die voormenslike Jesus verklaar: “Toe Hy [Jehovah] die hemele berei het, was ek daar.”—Spreuke 8:22, 23, 27; Openbaring 3:14.
God se Seun het van die begin af ’n unieke toewysing gekry, naamlik om ’n “meesterwerker” naas sy Vader te wees. Watter vreugde het dit Jehovah tog verskaf! “Ek het die een geword vir wie hy [Jehovah] dag vir dag besonder lief was”, sê Spreuke 8:30 (NW) en voeg dan by, “terwyl ek die hele tyd voor hom vrolik was.”
Jehovah het later sy eersgebore Seun genooi om saam met hom te werk in die skepping van die mens. “Laat Ons mense maak na ons beeld,” het hy gesê, “na ons gelykenis” (Genesis 1:26). As gevolg hiervan het ’n ander liefde ontwikkel. “Die dinge waarvoor ek lief was”, het die voormenslike Jesus verduidelik, “was by die mensekinders” (Spreuke 8:31, NW). Aan die begin van sy Evangelie het die apostel Johannes Jesus se voormenslike rol in die skepping erken: “Alle dinge het deur hom ontstaan, en sonder hom het nie eens een ding ontstaan nie.”—Johannes 1:3.
Jehovah se woordvoerder
Johannes se woorde vestig die aandag op nog ’n voorreg wat God se Seun geniet het, naamlik om ’n woordvoerder te wees. Hy het van die begin af as die Woord gedien. Toe Jehovah dus met Adam gepraat het, en later toe hy Adam en Eva saam aangespreek het, het hy dit waarskynlik deur middel van die Woord gedoen. En wie was meer geskik om God se instruksies vir die mensdom se welsyn oor te dra as die een wat lief was vir hulle?—Johannes 1:1, 2.
Hoeveel pyn moes dit die Woord tog veroorsaak het om te sien hoe Eva en toe Adam ongehoorsaam geword het aan hulle Skepper! En hoe moes hy tog verlang het om die euwels uit die weg te ruim wat hulle ongehoorsaamheid vir hulle nageslag tot gevolg gehad het! (Genesis 2:15-17; 3:6, 8; Romeine 5:12). Toe Jehovah Satan aangespreek het, wat Eva aangemoedig het om in opstand te kom, het hy gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad” (Genesis 3:15). Aangesien die Woord gesien het wat in Eden gebeur het, het hy besef dat hy as die primêre deel van die vrou se “saad” die skyf van wrede haat sou word. Hy het geweet dat Satan ’n mensemoordenaar is.—Johannes 8:44.
Toe Satan later die getroue Job se onkreukbaarheid in twyfel getrek het, moes die Woord ontstoke gewees het oor die lasterlike beskuldigings wat teen sy Vader ingebring is (Job 1:6-10; 2:1-4). Trouens, in sy rol as aartsengel, staan die Woord bekend as Migael, wie se naam “Wie is soos God?” beteken en aandui hoe hy Jehovah teen almal verdedig wat God se soewereiniteit probeer inpalm.—Daniël 12:1; Openbaring 12:7-10.
Met verloop van Israel se geskiedenis het die Woord gesien hoe Satan mense van ware aanbidding probeer afkeer. Ná Israel se uittog uit Egipte het God deur Moses vir hulle gesê: “Kyk, Ek stuur ’n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom” (Exodus 23:20, 21). Wie was hierdie engel? Waarskynlik die voormenslike Jesus.
Getroue onderdanigheid
Moses het in 1473 v.G.J. gesterf, en sy liggaam is “in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor” begrawe (Deuteronomium 34:5, 6). Satan wou blykbaar die lyk gebruik, moontlik om afgodediens te bevorder. Migael het dit teëgestaan, maar het hom nederig aan die gesag van sy Vader, Jehovah, onderwerp. Omdat ‘hy nie gedurf het om ’n oordeel met smadende woorde oor Satan uit te spreek nie’, het Migael Satan gewaarsku: “Mag Jehovah jou bestraf.”—Judas 9.
Daarna het Israel die Beloofde Land Kanaän begin verower. Naby die stad Jerigo het Josua weer versekering ontvang van die Woord se voortgesette toesig oor die nasie. Daar het hy ’n man met ’n ontblote swaard in sy hand teëgekom. Josua het na die vreemdeling geloop en gevra: “Behoort U by ons of by ons vyande?” Stel jou Josua se verbasing voor toe die vreemdeling sy identiteit bekend maak met die woorde: “Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom.” Dit is geen wonder nie dat Josua met sy aangesig na die grond geval het voor hierdie verhewe verteenwoordiger van Jehovah, ongetwyfeld die voormenslike Jesus wat later “Messias die Leier” sou word.—Josua 5:13-15; Daniël 9:25, NW.
Daar was nog ’n konfrontasie met Satan in die dae van God se profeet Daniël. By hierdie geleentheid het Migael sy mede-engel bygestaan toe die demoonprins van Persië hom drie weke lank “teëgestaan” het. Die engel het verduidelik: “Kyk, Migael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.”—Daniël 10:13, 21, vgl. NW.
Voormenslike en menslike heerlikheid
In 778 v.G.J., die jaar waarin die Judese koning Ussia gesterf het, het God se profeet Jesaja ’n visioen van Jehovah op sy verhewe troon gesien. “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” het Jehovah gevra. Jesaja het hom vrywillig aangebied, maar Jehovah het hom gewaarsku dat sy mede-Israeliete nie na sy verklarings sou luister nie. Die apostel Johannes het die ongelowige Jode van die eerste eeu met die mense van Jesaja se dag vergelyk en gesê: “Jesaja het hierdie dinge gesê omdat hy sy heerlikheid gesien het.” Wie se heerlikheid? Dié van Jehovah en van die voormenslike Jesus aan sy sy in die hemelse howe.—Jesaja 6:1, 8-10, ons kursiveer; Johannes 12:37-41.
’n Paar eeue later het Jesus sy grootste toewysing tot op daardie tydstip ontvang. Jehovah het die lewenskrag van sy geliefde Seun van die hemel na die baarmoeder van Maria oorgeplaas. Nege maande later het sy aan ’n babaseuntjie, Jesus, geboorte gegee (Lukas 2:1-7, 21). Dit is hoe die apostel Paulus dit stel: “Toe die voleinding van die tyd aangebreek het, het God sy Seun uitgestuur, wat uit ’n vrou gebore is” (Galasiërs 4:4). So ook het die apostel Johannes erken: “Die Woord het dus vlees geword en onder ons gewoon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos dié van ’n enigverwekte seun wat van ’n vader kom; en hy was vol onverdiende goedhartigheid en waarheid.”—Johannes 1:14.
Die Messias verskyn
Die jong Jesus het ten minste al op 12-jarige ouderdom geweet dat hy besig moet wees om sy hemelse Vader se werk te doen (Lukas 2:48, 49). Ongeveer 18 jaar later het Jesus na Johannes die Doper by die Jordaanrivier gegaan en hom laat doop. Terwyl Jesus gebid het, het die hemel oopgegaan, en die heilige gees het op hom neergedaal. Stel jou die vloed van herinneringe voor wat in sy gedagtes opgekom het toe hy die tallose millenniums onthou het wat hy sy aan sy saam met sy Vader as meesterwerker, woordvoerder, owerste oor God se leër en as die aartsengel, Migael, gedien het. Toe het hy die vreugde ervaar om sy Vader se stem te hoor wat vir Johannes die Doper sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het.”—Matteus 3:16, 17; Lukas 3:21, 22.
Johannes die Doper het beslis nie Jesus se voormenslike bestaan betwyfel nie. Toe Jesus na hom toe gekom het, het Johannes gesê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” En hy het bygevoeg: “Dit is die een van wie ek gesê het: Ná my kom ’n man wat voor my uit gegaan het, want hy het voor my bestaan” (Johannes 1:15, 29, 30). Die apostel Johannes het ook van Jesus se voormenslike bestaan geweet. “Hy wat van bo kom, is oor alle ander”, het hy geskryf, asook: “Hy wat uit die hemel kom, is oor alle ander. Wat hy gesien en gehoor het, hiervan getuig hy.”—Johannes 3:31, 32.
Omstreeks 61 G.J. het die apostel Paulus Hebreeuse Christene aangespoor om die volle betekenis van die Messias se aankoms op aarde en sy werk as Hoëpriester te begryp. Paulus het die aandag op Jesus se rol as Woordvoerder gevestig en geskryf: “God . . . het aan die einde van hierdie dae met ons gespreek deur middel van ’n Seun . . . deur wie hy die stelsels van dinge gemaak het.” Hier voeg Paulus sy getuienis by aangaande Jesus se voormenslike bestaan, hetsy dit verwys na Jesus se rol as “meesterwerker” tydens die skepping of na sy betrokkenheid by God se progressiewe reëlings vir die mens se versoening.—Hebreërs 1:1-6; 2:9.
Lojaal van die “voortyd” af
Paulus het hierdie vermaning aan die eerste-eeuse Christene in Filippi gerig: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was, wat, hoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg het nie. Nee, maar hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en die gelykenis van mense verkry. Wat meer is, toe hy hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal” (Filippense 2:5-8). Jehovah het Jesus se lojale lewenswandel liefdevol beloon deur hom op te wek en hom toe in die hemel terug te verwelkom. Wat ’n voortreflike voorbeeld van onkreukbaarheid het Jesus tog deur die eeue vir ons gelaat!—1 Petrus 2:21.
Hoe dankbaar is ons tog vir die kykie wat die Bybel ons van Jesus se voormenslike bestaan gee! Dit versterk beslis ons voorneme om sy voorbeeld van lojale diens na te volg, veral noudat hy as Koning van God se Messiaanse Koninkryk regeer. Laat ons die “Vredevors”, Christus Jesus, ons Heerser en Vors wie se ‘uitgange uit die voortyd is’, begroet!—Jesaja 9:5; Miga 5:1.
[Venster op bladsy 24]
Getuies van ’n voormenslike bestaan
Jesus se eie woorde hieronder gee oorvloedige getuienis van sy voormenslike bestaan:
◻ “Geen mens het in die hemel opgevaar nie, behalwe hy wat uit die hemel neergedaal het, die Seun van die mens.”—Johannes 3:13.
◻ “Moses het julle nie die brood uit die hemel gegee nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is die een wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. . . . Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.”—Johannes 6:32, 33, 38.
◻ “Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat enigeen daarvan kan eet en nie sterf nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het; as iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe.”—Johannes 6:50, 51.
◻ “Wat dan as julle die Seun van die mens sou sien opvaar na waar hy tevore was?”—Johannes 6:62.
◻ “My getuienis [is] waar, omdat ek weet waar ek vandaan gekom het en waarheen ek gaan. . . . Julle is van die ryke hier onder; ek is van die ryke daar bo. Julle is van hierdie wêreld; ek is nie van hierdie wêreld nie.”—Johannes 8:14, 23.
◻ “As God julle Vader was, sou julle my liefhê, want van God het ek uitgegaan en is ek hier. Ook het ek glad nie op eie inisiatief gekom nie, maar daardie Een het my uitgestuur.”—Johannes 8:42.
◻ “Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Voordat Abraham in aansyn gekom het, was ek.”—Johannes 8:58.
◻ “Vader, verheerlik my naas uself met die heerlikheid wat ek naas u gehad het voordat die wêreld was. Vader, met betrekking tot wat u my gegee het, wens ek dat, waar ek is, hulle ook by my kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat u my gegee het, omdat u my voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het.”—Johannes 17:5, 24.
[Prent op bladsy 23]
Josua ontmoet Jehovah se leërowerste