‘Ons het gedoen wat ons behoort te gedoen het’
SOOS VERTEL DEUR GEORGE COUCH
Nadat ons die oggend in die huis-tot-huis-bediening deurgebring het, het my metgesel twee toebroodjies uitgehaal. Toe ons klaar geëet het, het ek ’n sigaret uitgehaal om te rook. “Hoe lank is jy al in die waarheid?” het hy gevra. “Gisteraand se vergadering was die eerste een wat ek bygewoon het”, het ek vir hom gesê.
EK IS op 3 Maart 1917 op ’n plaas sowat 50 kilometer oos van Pittsburgh, Pennsilvanië, VSA, gebore, naby die klein dorpie Avonmore. Daar het my ouers my, my vier broers en ’n suster grootgemaak.
Ons het nie veel godsdiensopleiding gehad nie. My ouers het ’n tyd lank kerk toe gegaan, maar hulle het opgehou toe ons kinders nog klein was. Ons het egter aan die Skepper geglo, en ons gesinslewe was op basiese beginsels gebaseer wat in die Bybel gevind word.
Die belangrikste les wat ek by my ouers geleer het, was in verband met verantwoordelikheid—hoe om dit te aanvaar en na te kom. Dit is wat die plaaslewe ’n mens geleer het. Maar ons lewe het nie net uit werk bestaan nie. Ons het heilsame ontspanning geniet, soos om basketbal en bofbal te speel, perd te ry en te swem. In daardie dae was geld skaars, maar die plaaslewe was lekker. Ons laerskool het net uit een klaskamer bestaan en gedurende ons hoërskooljare het ons in die dorp skoolgegaan.
Een aand het ek saam met ’n vriend in die dorp geloop. ’n Mooi meisie het uit haar huis uitgekom om vir my vriend hallo te sê. Hy het my aan Fern Prugh voorgestel. Dit was nogal gerieflik dat sy in dieselfde blok gewoon het as waarin die hoërskool was. Wanneer ek by haar huis verbygeloop het, was Fern dikwels buite met werkies besig. Sy was klaarblyklik ’n harde werker, en dit het my beïndruk. Ons het ’n hegte vriendskap en liefde vir mekaar opgebou en is in April van 1936 getroud.
Ek kom met Bybelwaarheid in aanraking
Voordat ek gebore is, was daar ’n bejaarde vrou wat deur die dorpsmense sleg behandel is weens haar godsdiens. My ma het haar Saterdae besoek wanneer sy inkopies in die dorp gaan doen het. My ma het haar huis skoongemaak en haar met takies gehelp, totdat die vrou gesterf het. Ek glo dat Jehovah my ma geseën het omdat sy so vriendelik was teenoor hierdie vrou, wat ’n Bybelstudent was, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is.
Later het ’n niggie van my skielik gesterf. Die kerk het nie vir my tante baie troos gebied nie, maar ’n buurvrou wat ’n Bybelstudent was, het wel. Die Bybelstudent het aan haar verduidelik wat gebeur wanneer iemand sterf (Job 14:13-15; Prediker 9:5, 10). Dit was ’n bron van groot vertroosting. My tante het daarna weer met my ma oor die opstandingshoop gepraat. Dit het my ma se belangstelling geprikkel, aangesien haar ouers oorlede is toe sy jonk was en sy graag wou weet wat met ’n mens gebeur as jy doodgaan. Daardie ondervinding het by my die belangrikheid daarvan tuisgebring om altyd gebruik te maak van geleenthede om informeel te getuig.
In die dertigerjare het my ma begin luister na die radio-uitsendings van Joseph F. Rutherford, destyds die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, wat op Sondagoggende uitgesaai is. Gedurende daardie jare het die Getuies ook huis-tot-huis-werk begin doen waar ons gewoon het. Hulle het ’n draagbare grammofoon onder ’n koelteboom op ons werf opgestel en opnames van broer Rutherford se preke gespeel. Daardie opnames en Die Wagtoring en Golden Age (nou Ontwaak!) het my ma se belangstelling wakker gehou.
’n Paar jaar later, in 1938, is ’n poskaart aan Wagtoring-intekenare gestuur wat hulle uitgenooi het na ’n spesiale vergadering in ’n privaat woning sowat 25 kilometer van waar ons gewoon het. Omdat my ma dit wou bywoon, het ek en Fern en twee van my broers saam met haar gegaan. John Booth en Charles Hessler, reisende opsieners van Jehovah se Getuies, het vir sowat twaalf van ons toesprake gehou. Daarna het hulle ’n groep begin organiseer om die volgende oggend in die bediening uit te gaan. Omdat niemand aangebied het om saam met hulle te gaan nie, het broer Hessler my gekies en gevra: “Waarom gaan jy nie saam met ons nie?” Ek het nie presies geweet wat hulle gaan doen nie, maar ek kon nie aan ’n rede dink waarom ek hulle nie moet help nie.
Ons het tot omtrent twaalfuur huis-tot-huis-werk gedoen, en toe het broer Hessler twee toebroodjies uitgehaal. Ons het op die trappies van die kerk gaan sit en begin eet. Dit was nadat ek daardie sigaret uitgehaal het dat broer Hessler uitgevind het dat ek nog net een vergadering bygewoon het. Hy het homself daardie selfde aand vir ete genooi en het ons gevra om ons bure vir ’n Bybelbespreking te nooi. Ná ete het hy ’n Bybelstudie met ons gehou en ’n toespraak gehou vir die groep van ongeveer tien wat gekom het. Hy het vir ons gesê dat ons elke week ’n Bybelstudie moet hê. Hoewel ons bure nie hiertoe ingestem het nie, het ek en Fern gereël om ’n weeklikse tuisbybelstudie te hê.
Vooruitgang in die waarheid
Kort daarna het ek en Fern in die veldbediening uitgegaan. Ons was op die agtersitplek van die motor, en ons het pas ons sigarette aangesteek toe my broer na ons omkyk en sê: “Ek het so pas uitgevind dat die Getuies nie rook nie.” Fern het haar sigaret onmiddellik by die venster uitgegooi—ek het myne klaargemaak. Selfs al het ons dit geniet om te rook, het ons nooit weer aan ’n sigaret geraak nie.
Nadat ons in 1940 gedoop is, was ek en Fern by ’n vergadering waar ons ’n artikel bestudeer het wat ons aangemoedig het om die pionierdiens, soos die voltydse predikingswerk genoem word, te betree. Op pad huis toe het ’n broer gevra: “Waarom gaan doen jy en Fern nie pionierdiens nie? Julle het niks wat julle terughou nie.” Ons kon hom nie hierop antwoord nie, en ons het ons dus beskikbaar gestel. Ek het 30 dae kennis gegee by my werksplek, en ons het reëlings getref om pionierdiens te doen.
Ons het die Wagtoringgenootskap geraadpleeg oor waar ons moet dien, en toe het ons na Baltimore, Maryland, verhuis. ’n Huis vir pioniers is daar in stand gehou, en die verblyfkoste was $10 (R48) per maand. Ons het ’n bietjie spaargeld gehad wat ons gedink het maklik tot Armageddon sou hou (Openbaring 16:14, 16). Ons het per slot van rekening altyd gedink dat Armageddon net om die draai is. Toe ons begin het om pionierdiens te doen, het ons dus ons huis opgegee en alle ander belange prys gegee.
Ons het van 1942 tot 1947 in Baltimore pionierdiens gedoen. Die teenkanting teen die werk van Jehovah se Getuies was gedurende daardie jare op sy hewigste. Pleks dat ons in ons motor na ons Bybelstudente se huise gery het, het ons by tye ’n geleentheid tot daar gekry. So sou die bande van ons motor nie stukkend gesny word nie. Niemand hou van sulke teenkanting nie, maar ek kan sê dat ons altyd die veldbediening geniet het. Trouens, ons het uitgesien na ’n bietjie opwinding wanneer ons die Here se werk gedoen het.
Ons het weldra al die geld uitgegee wat ons gespaar het. Ons motorbande het afgeloop, en ons klere en skoene was ook verslete. Twee of drie keer was ons lank siek. Dit was nie maklik om aan te hou nie, maar ons het nooit daaraan gedink om op te hou nie. Ons het nooit eers daaroor gepraat nie. Ons het ons ander dinge in die lewe ontsê sodat ons in die pionierwerk kon bly.
Veranderings van toewysing
In 1947 het ons na die byeenkoms in Los Angeles, Kalifornië, gegaan. Terwyl ons daar was, het ek en my broer William elkeen ’n brief gekry waarin ons toewysings ontvang het om reisende werk te doen om gemeentes te besoek en te help. Ons het destyds geen spesiale opleiding vir daardie werk gekry nie. Ons het net gegaan. Gedurende die volgende sewe jaar het ek en Fern in Ohio, Michigan, Indiana, Illinois en New York gedien. In 1954 is ons genooi om die 24ste klas van Gilead, ’n skool vir die opleiding van sendelinge, by te woon. Terwyl ons daar was, het Fern polio gekry. Gelukkig het sy goed herstel, en ons toewysing was om die reisende werk in New York en Connecticut te doen.
Terwyl ons in Stamford, Connecticut, gedien het, het Nathan H. Knorr, destyds president van die Wagtoringgenootskap, ons gevra om die naweek saam met hom en sy vrou, Audrey, deur te bring. Hulle het vir ons ’n heerlike ete voorgesit waarmee hulle groot moeite gedoen het. Ons het al vroeër met hulle kennis gemaak, en ek het broer Knorr goed genoeg geken om te weet dat hy iets meers as net ons geselskap en die ete in gedagte gehad het. Later daardie aand het hy my gevra: “Hoe sal julle daarvan hou om Bethel toe te kom?”
“Ek is nie eintlik seker nie; ek weet baie min van Bethellewe af”, het ek geantwoord.
Nadat ons ’n paar weke hieroor nagedink het, het ons vir broer Knorr gesê dat ons sou kom as dit is wat hy wou hê. Die volgende week het ons ’n brief ontvang om op 27 April 1957, ons 21ste huweliksherdenking, by Bethel aan te meld.
Daardie eerste dag by Bethel het broer Knorr vir my duidelike riglyne gegee oor wat van my verwag word. Hy het vir my gesê: “Jy is nie meer ’n kringkneg nie; jy is hier om by Bethel te werk. Dit is die belangrikste werk wat jy kan doen, en ons wil hê dat jy jou tyd en energie moet gebruik om die opleiding wat jy hier by Bethel ontvang, toe te pas. Ons wil hê jy moet bly.”
’n Betekenisvolle lewe by Bethel
Die eerste toewysing wat ek gehad het, was in die Tydskrif- en Posafdeling. Later, ná ongeveer drie jaar, het broer Knorr my na sy kantoor toe laat roep. Hy het toe vir my gesê dat die eintlike rede waarom hy my na Bethel toe laat kom het, is sodat ek in die huis kan werk. Sy instruksies was baie direk: “Jy is hier om na die Bethelhuis om te sien.”
Om na die Bethelhuis om te sien, het my laat terugdink aan lesse wat my ouers my geleer het terwyl ek op die plaas grootgeword het. Die Bethelhuis is baie soos ’n gewone gesinshuishouding. Daar is klere wat gewas moet word, etes wat voorberei moet word, skottelgoed wat gewas moet word, beddens wat opgemaak moet word, ensovoorts. Die huisadministrasie probeer om Bethel ’n gerieflike woonplek te maak, ’n plek wat ’n mens jou huis kan noem.
Ek glo dat gesinne baie lesse kan leer uit die manier waarop Bethel funksioneer. Ons word vroeg in die oggend wakker en begin ons dag op ’n geestelike noot deur ’n Bybelteks vir die dag te bespreek. Daar word van ons verwag om hard te werk en ’n gebalanseerde maar besige lewe te lei. Bethel is nie, soos sommige dalk dink, soos ’n klooster nie. Ons vermag baie as gevolg van ons georganiseerde lewenswyse. Baie het gesê dat die opleiding wat hulle hier ontvang het hulle later gehelp het om verantwoordelikhede in hulle gesinne en in die Christengemeente te aanvaar.
Jong manne en vroue wat Bethel toe kom, kry dalk die toewysing om skoonmaakwerk te doen, in die wassery of in die fabriek te werk. Die wêreld wil hê dat ons moet dink dat sulke fisiese werk vernederend en benede ons is. Maar jongmense by Bethel besef dat sulke werkstoewysings nodig is sodat ons gesin behoorlik en gelukkig kan funksioneer.
Die wêreld bevorder ook die gedagte dat ’n mens status en aansien moet hê as jy waarlik gelukkig wil wees. Dit is verkeerd. Wanneer ons ons toegewese taak vervul, ‘doen ons wat ons behoort te doen’ en ontvang ons Jehovah se seën (Lukas 17:10). Ons kan net ware tevredenheid en geluk hê as ons die doel van ons werk onthou—om Jehovah se wil te doen en Koninkryksbelange te bevorder. As ons dit in gedagte hou, kan enige toewysing aangenaam en bevredigend wees.
Die voorreg om deel te hê aan uitbreiding
By die byeenkoms in Cleveland, Ohio, in 1942, meer as ’n dekade voordat ons Bethel toe gekom het, het broer Knorr die toespraak “Vrede—Kan dit duur?” gehou. Hy het dit duidelik gestel dat die Tweede Wêreldoorlog, wat toe gewoed het, sou eindig en dat daar ’n vredestyd sou wees wat die geleentheid vir ’n uitgebreide predikingskampanje sou bied. In 1943 is die Gileadskool vir die opleiding van sendelinge gestig asook die Teokratiese Bedieningskool om broers se vermoë te verbeter om toesprake in die openbaar te hou. Groter byeenkomste is ook gereël. Die byeenkomste wat gedurende die vyftigerjare veral uitgestaan het, was dié by die Yankee-stadion, New York. Gedurende die byeenkomste wat in 1950 en 1953 daar gehou is, het ek die voorreg gehad om te help met die reëlings vir die groot woonwapark wat aan tienduisende verblyf verskaf het tydens die agt dae van elkeen van daardie byeenkomste.
Ná daardie byeenkomste, waarvan die grootste een in 1958 gehou is, was daar groot vermeerderings in Koninkryksverkondigers. Dit het ons werk by Bethel regstreeks beïnvloed. In die laat sestigerjare en vroeë sewentigerjare het ons ’n ernstige behoefte gehad aan meer spasie en aan kamers om werkers te huisves. Om ons groeiende gesin te akkommodeer, moes ons meer slaapkamers, kombuise en eetsale hê.
Broer Knorr het vir my en broer Max Larson, die fabrieksopsiener, gevra om gepaste eiendom vir uitbreiding te vind. In 1957, toe ek Bethel toe gekom het, is ons gesin van ongeveer 500 in ’n enkele groot woongebou gehuisves. Maar deur die jare heen het die Genootskap drie groot nabygeleë hotelle—die Towers, die Standish en die Bossert—asook talle kleiner woonstelgeboue gekoop en herstel. In 1986 het die Genootskap die eiendom gekoop waar die Margaret-hotel gestaan het en die pragtige nuwe gebou wat daar opgerig is, omskep in ’n tuiste vir sowat 250 mense. Toe, in die vroeë negentigerjare, is ’n dertigverdiepingwoongebou opgerig om nog 1000 werkers te huisves. Die Brooklynse Bethel kan nou ons gesin van meer as 3300 lede huisves en van kos voorsien.
Eiendom is ook in Wallkill, New York, amper honderd-en-sestig kilometer van die Brooklynse Bethel, gekoop. Deur die jare heen, van die laat sestigerjare af, is woongeboue en ’n groot drukkery daar gebou. Nou woon en werk sowat 1200 lede van ons Bethelgesin daar. In 1980 is daar begin met ’n soektog na sowat 250 hektaar grond wat nader aan die stad New York is en maklike toegang tot die hoofweë het. Die eiendomsagent het gelag en gesê: “Waar gaan julle so ’n eiendom kry? Dit is eenvoudig onmoontlik.” Maar die volgende oggend het hy teruggeskakel en gesê: “Ek het julle eiendom gevind.” Vandag staan dit bekend as die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York. Daar word skole gehou en daar is ’n gesin van meer as 1300 bedienaars.
Lesse wat ek geleer het
Ek het geleer dat ’n goeie opsiener iemand is wat waardevolle inligting by ander kan kry. Die meeste van die idees wat ek as Bethelopsiener die voorreg gehad het om te implementeer, het van ander gekom.
Toe ek Bethel toe gekom het, was daar baie ouer mense, soos ek vandag is. Die meeste is nie meer met ons nie. Wie vervang diegene wat oud word en sterf? Dit is nie altyd diegene met die grootste bekwaamheid nie. Dit is diegene wat hier is, wat hulle werk getrou doen en hulle beskikbaar stel.
Nog ’n belangrike saak om te onthou, is die waarde van ’n goeie vrou. Die ondersteuning van my dierbare vrou, Fern, was vir my ’n groot hulp in die uitvoering van my teokratiese toewysings. Mans het die verantwoordelikheid om seker te maak dat hulle vrouens hulle toewysings geniet. Ek probeer dinge beplan wat ek en Fern geniet om te doen. Dit hoef nie iets duurs te wees nie, net ’n verandering van omgewing. Dit is die man se verantwoordelikheid om dinge te doen om sy vrou gelukkig te maak. Die tyd wat hy saam met haar deurbring, is kosbaar en gaan gou verby, en daarom moet hy die beste gebruik daarvan maak.
Ek is bly dat ek in die laaste dae lewe waarvan Jesus gepraat het. Dit is die merkwaardigste tyd in die hele mensegeskiedenis. Ons kan kyk en met ons oë van geloof sien hoe die Here sy organisasie voorberei vir die koms van die beloofde nuwe wêreld. Wanneer ek terugkyk op my lewe in Jehovah se diens kan ek sien dat Jehovah die een is wat hierdie organisasie bestuur—nie mense nie. Ons is net sy knegte. Met dit in gedagte, moet ons ons altyd tot hom wend vir leiding. Wanneer hy dit duidelik maak wat ons moet doen, moet ons net inspring en dit saam doen.
Stort jouself uit vir die organisasie, en jy is verseker van ’n vol, gelukkige lewe. Ongeag wat jy doen—hetsy dit pionierdiens, kringwerk, diens in die gemeente as ’n verkondiger, Betheldiens of sendingwerk is—volg die riglyne wat gegee word en waardeer jou toewysing. Doen jou bes om elke toewysing en elke dag wat jy in Jehovah se diens bestee te geniet. Jy sal moeg word en jy sal moontlik by tye uitgeput of mismoedig voel. Dit is wanneer jy moet onthou waarom jy jou lewe aan Jehovah toegewy het. Dit is om sy wil te doen, nie jou eie nie.
Daar was nog nie een dag wat ek werk toe gekom het en nie geniet het wat ek doen nie. Waarom? Omdat ons, wanneer ons heelhartig van onsself aan Jehovah gee, die bevrediging het om te weet dat ‘ons gedoen het wat ons behoort te gedoen het’.
[Prent op bladsy 19]
Ons doen pionierdiens in Baltimore, 1946
[Prent op bladsy 19]
Saam met Fern by die woonwapark in 1950
[Prent op bladsy 19]
Die Tydskrifdepartement
[Prent op bladsy 19]
Woonwapark, 1950
[Prent op bladsy 22]
Saam met Audrey en Nathan Knorr
[Prent op bladsy 23]
Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York
[Prent op bladsy 24]
Ek en Fern vandag