Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 9/15 bl. 10-15
  • Tye en tydperke is in Jehovah se hande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tye en tydperke is in Jehovah se hande
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se tye en tydperke
  • ‘Die tyd het nader gekom’
  • ‘Toe die tyd aangebreek het’
  • Gebeure—nie tydsberekeninge nie
  • Vertrou op Jehovah die God van “tye en tydperke”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Die tyd van die Messias se koms geopenbaar
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • “Ons het die Messias gevind”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Hoe Daniël se profesie die koms van die Messias voorspel
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 9/15 bl. 10-15

Tye en tydperke is in Jehovah se hande

“Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie jurisdiksie geplaas het nie.”—HANDELINGE 1:7.

1. Hoe het Jesus sy apostels se vrae oor die kwessie van tyd beantwoord?

WAT kan natuurliker wees vir diegene wat “sug en steun oor al die gruwels wat . . . gedoen word” in die Christendom en regoor die wêreld as om te wonder wanneer hierdie goddelose stelsel sal eindig en deur God se regverdige nuwe wêreld vervang sal word? (Esegiël 9:4; 2 Petrus 3:13). Jesus se apostels het hom kort voor sy dood en ná sy opstanding vrae oor die kwessie van tyd gevra (Matteus 24:3; Handelinge 1:6). In antwoord hierop het Jesus egter nie vir hulle ’n manier gegee om tye te bereken nie. In die een geval het hy vir hulle ’n saamgestelde teken gegee, en in die ander geval het hy gesê dat ‘dit nie vir hulle is om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie jurisdiksie geplaas het nie’.—Handelinge 1:7.

2. Waarom kan daar gesê word dat Jesus nie altyd sy Vader se tydrooster vir gebeure gedurende die tyd van die einde geken het nie?

2 Hoewel Jesus Jehovah se enigverwekte Seun is, het hy self nie altyd sy Vader se tydrooster vir gebeure geken nie. In Jesus se profesie oor die laaste dae het hy nederig erken: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:36). Jesus was bereid om geduldig op sy Vader te wag om die presiese tyd aan hom bekend te maak wanneer hierdie goddelose stelsel van dinge vernietig gaan word.a

3. Wat kan ons leer uit Jesus se antwoorde op vrae in verband met God se voorneme?

3 Twee dinge kan afgelei word uit die manier waarop Jesus vrae beantwoord het oor wanneer dinge ter vervulling van God se voorneme sal plaasvind. Eerstens dat Jehovah ’n tydrooster het; en tweedens dat slegs hy bepaal wanneer dinge gaan gebeur en dat sy knegte nie kan verwag om presiese voorkennis van sy tye of tydperke te ontvang nie.

Jehovah se tye en tydperke

4. Wat is die betekenisse van die Griekse woorde wat in Handelinge 1:7 met “tye” en “tydperke” vertaal word?

4 Wat word bedoel met “tye” en “tydperke”? Jesus se verklaring in Handelinge 1:7 bevat twee aspekte van tyd. Die Griekse woord wat met “tye” vertaal word, beteken “tyd in die sin van tydsduur”, ’n tydsbestek (lank of kort). “Tydperke” is die vertaling van ’n woord wat verwys na ’n bepaalde of ’n vasgestelde tyd, ’n spesifieke tydperk, of periode, wat deur sekere gebeure gekenmerk word. Aangaande hierdie twee oorspronklike woorde sê W. E. Vine: “In Handelinge 1:7 ‘het die Vader’ die tye (chronos), die duur van die periodes, sowel as die tydperke (kairos), tydvakke gekenmerk deur sekere gebeure, ‘onder Sy eie gesag gestel’.”

5. Wanneer het Jehovah vir Noag in kennis gestel van Sy voorneme om die verdorwe wêreld te vernietig, en watter tweeledige werk het Noag gedoen?

5 Voor die Vloed het God bepaal dat die verdorwe wêreld wat mense en opstandige gematerialiseerde engele tot stand gebring het nog 120 jaar sou bestaan (Genesis 6:1-3). Die godvresende Noag was toe 480 jaar oud (Genesis 7:6). Hy het geen kinders gehad nie en het nog 20 jaar kinderloos gebly (Genesis 5:32). God het baie later, eers nadat Noag se seuns opgegroei en getrou het, vir Noag in kennis gestel van Sy voorneme om goddeloosheid van die aarde te verwyder (Genesis 6:9-13, 18). Jehovah het selfs op daardie stadium nie sy tydrooster aan Noag bekend gemaak nie, hoewel hy die tweeledige opdrag ontvang het om die ark te bou en vir sy tydgenote te getuig.—Genesis 6:14; 2 Petrus 2:5.

6. (a) Hoe het Noag getoon dat hy die kwessie van tyd in Jehovah se hande gelaat het? (b) Hoe kan ons Noag se voorbeeld volg?

6 Noag het dekades lank—miskien oor ’n tydperk van ’n halfeeu—‘gedoen net soos God hom beveel het’. Noag het dit “deur geloof” gedoen, sonder om ’n presiese datum te weet (Genesis 6:22; Hebreërs 11:7). Jehovah het hom nie oor die presiese tyd van gebeure ingelig tot een week voor die Vloed sou begin nie (Genesis 7:1-5). Die onwrikbare vertroue en geloof wat Noag in Jehovah gestel het, het hom in staat gestel om die kwessie van tyd in God se hande te laat. En hoe dankbaar moes Noag tog gewees het toe hy sien hoe Jehovah hom tydens die Vloed beskerm en hy later uit die ark en op ’n gereinigde aarde uitgestap het! Moet ons nie sulke geloof in God beoefen nie, aangesien ons ’n soortgelyke hoop op verlossing in die vooruitsig het?

7, 8. (a) Hoe het nasies en wêreldmoondhede in aansyn gekom? (b) In watter opsig het Jehovah “die vasgestelde tye en die bepaalde grense van die woonplek van die mense verorden”.

7 Ná die Vloed het die meeste van Noag se nakomelinge die ware aanbidding van Jehovah verlaat. Hulle het ’n stad en ’n toring vir valse aanbidding begin bou met die doel om op een plek te bly. Jehovah het besluit dat dit tyd was om in te gryp. Hy het hulle taal verwar en “hulle [van Babel] oor die hele aarde verstrooi” (Genesis 11:4, 8, 9). Die taalgroepe het later tot nasies ontwikkel, en party van hulle het ander nasies by hulle ingelyf en streekmagte, en selfs wêreldmoondhede, geword.—Genesis 10:32.

8 In ooreenstemming met die uitvoering van sy voorneme het God soms landsgrense vasgestel en bepaal wanneer ’n sekere nasie plaaslik of as ’n wêreldmoondheid sou oorheers (Genesis 15:13, 14, 18-21; Exodus 23:31; Deuteronomium 2:17-22; Daniël 8:5-7, 20, 21). Die apostel Paulus het na hierdie aspek van Jehovah se tye en tydperke verwys toe hy vir Griekse intellektuele in Atene gesê het: “Die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, . . . het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon, en hy het die vasgestelde tye en die bepaalde grense van die woonplek van die mense verorden.”—Handelinge 17:24, 26.

9. Hoe het Jehovah ‘tye en tydperke verander’ wat konings betref?

9 Dit beteken nie dat Jehovah vir al die politieke verowerings en veranderinge onder die nasies verantwoordelik is nie. Maar hy kan ingryp wanneer hy besluit om dit te doen om sy voorneme uit te voer. Die profeet Daniël, wat sou sien hoe die Babiloniese wêreldmoondheid ondergaan en hoe Medo-Persië sy plek inneem, het gevolglik van Jehovah gesê: “Hy verander tye en tydperke, sit konings af en stel konings aan, gee wysheid aan die wyses en kennis aan dié wat onderskeidingsvermoë ken.”—Daniël 2:21, NW; Jesaja 44:24–45:7.

‘Die tyd het nader gekom’

10, 11. (a) Hoe lank vooruit het Jehovah die tyd bepaal wanneer hy Abraham se nakomelinge van slawerny sou verlos? (b) Wat toon dat die Israeliete nie presies geweet het wanneer hulle verlos sou word nie?

10 Jehovah het meer as vier eeue vooruit die presiese jaar bepaal wanneer hy die koning van die Egiptiese wêreldmoondheid sou verneder en Abraham se nakomelinge van slawerny sou bevry. God het sy voorneme aan Abraham bekend gemaak en belowe: “Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ’n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed” (Genesis 15:13, 14). In Stefanus se oorsig van Israel se geskiedenis, wat hy voor die Sanhedrin gegee het, het hy na hierdie tydperk van 400 jaar verwys en gesê: “Juis toe die tyd nader kom vir die vervulling van die belofte wat God openlik aan Abraham bekend gemaak het, het die volk in Egipte toegeneem en vermeerder, totdat daar ’n ander koning oor Egipte opgestaan het, wat nie van Josef geweet het nie.”—Handelinge 7:6, 17, 18.

11 Hierdie nuwe Farao het die Israeliete tot slawerny gedwing. Die boek Genesis was nog nie deur Moses geskryf nie, hoewel Jehovah se beloftes aan Abraham waarskynlik mondelings of in geskrewe vorm oorgedra is. Tog lyk dit nie of die inligting wat die Israeliete gehad het hulle in staat gestel het om die presiese datum van hulle verlossing van verdrukking te bereken nie. God het geweet wanneer hy hulle sou verlos, maar die verdrukte Israeliete is blykbaar nie ingelig nie. Ons lees: “In daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.”—Exodus 2:23-25.

12. Hoe het Stefanus getoon dat Moses Jehovah se tyd vooruitgeloop het?

12 Hierdie gebrek aan kennis oor die presiese tyd van Israel se verlossing kan ook uit Stefanus se oorsig afgelei word. Hy het met verwysing na Moses gesê: “Toe die tyd van sy veertigste jaar besig was om ten einde te loop, het dit in sy hart opgekom om inspeksie te hou van sy broers, die kinders van Israel. En toe hy sien dat iemand onregverdig behandel word, het hy hom verdedig en die een wat mishandel is, gewreek deur die Egiptenaar neer te vel. Hy het veronderstel dat sy broers sou begryp dat God hulle deur sy hand redding gee, maar hulle het dit nie begryp nie” (Handelinge 7:23-25). Moses het God se tyd 40 jaar vooruitgeloop. Stefanus het daarop gewys dat Moses nog 40 jaar moes wag voordat God ‘die Israeliete deur sy hand redding sou gee’.—Handelinge 7:30-36.

13. Hoe is ons situasie soortgelyk aan dié van die Israeliete voor hulle verlossing uit Egipte?

13 Hoewel ‘die tyd nader gekom het vir die vervulling van die belofte’ en daardie presiese jaar deur God bepaal is, moes Moses en die hele Israel geloof beoefen. Hulle moes op Jehovah se vasgestelde tyd wag, blykbaar sonder dat hulle dit vooruit kon bereken. Ons is ook daarvan oortuig dat ons verlossing van die huidige goddelose stelsel van dinge nader kom. Ons weet dat ons in “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5). Moet ons dan nie bereid wees om ons geloof te toon en op Jehovah se bestemde tyd vir sy groot dag te wag nie? (2 Petrus 3:11-13). Dan sal ons heel moontlik, soos Moses en die Israeliete, ’n pragtige lied van verlossing tot lof van Jehovah sing.—Exodus 15:1-19.

‘Toe die tyd aangebreek het’

14, 15. Hoe weet ons dat God ’n tyd bepaal het vir sy Seun om aarde toe te kom, en waarvoor het profete en selfs engele op die uitkyk gebly?

14 Jehovah het ’n vasgestelde tyd bepaal vir sy enigverwekte Seun om as die Messias aarde toe te kom. Paulus het geskryf: “Toe die voleinding van die tyd aangebreek het, het God sy Seun uitgestuur, wat uit ’n vrou gebore is en onder die wet te staan gekom het” (Galasiërs 4:4). Dit was ter vervulling van God se belofte om ’n Saad—‘Silo, aan wie die volke gehoorsaam sal wees’—te stuur.—Genesis 3:15; 49:10.

15 God se profete—selfs engele—het voortdurend op die uitkyk gebly vir die “tydperk” wanneer die Messias op die aarde sou verskyn en redding vir die sondige mensdom moontlik gemaak sou word. “Aangaande juis hierdie redding”, het Petrus gesê, “is daar ywerig nagevors en sorgvuldig ondersoek gedoen deur die profete wat geprofeteer het oor die onverdiende goedhartigheid wat vir julle bedoel is. Hulle het bly ondersoek watter besondere tydperk of watter soort tydperk die gees in hulle aangaande Christus aangedui het toe dit vooraf getuig het oor die lyding vir Christus en oor die heerlikheid wat hierop sou volg. . . . In juis hierdie dinge is engele begerig om te tuur.”—1 Petrus 1:1-5, 10-12.

16, 17. (a) Deur middel van watter profesie het Jehovah die eerste-eeuse Jode gehelp om in afwagting van die Messias te wees? (b) Watter uitwerking het Daniël se profesie op die Jode se afwagting van die Messias gehad?

16 Jehovah het deur middel van sy profeet Daniël—’n man van onwrikbare geloof—aangaande “sewentig weke” geprofeteer. Daardie profesie sou eerste-eeuse Jode in staat stel om te weet dat die verskyning van die beloofde Messias nader kom. Die profesie het onder meer gesê: “Vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou tot op Messias die Leier [sal daar] sewe weke . . . wees, ook twee-en-sestig weke” (Daniël 9:24, 25, NW). Joodse, Katolieke en Protestantse geleerdes stem oor die algemeen saam dat die “weke” waarvan hier gepraat word weke van jare beteken. Die 69 “weke” (483 jaar) van Daniël 9:25 het in 455 v.G.J. begin, toe die Persiese koning Artasasta Nehemia toestemming gegee het “om Jerusalem te herstel en te herbou” (Nehemia 2:1-8). Dit het 483 jaar later—in 29 G.J.—geëindig toe Jesus gedoop en met heilige gees gesalf is en sodoende die Messias, of Christus, geword het.—Matteus 3:13-17.

17 Daar kan nie met sekerheid gesê word of die eerste-eeuse Jode presies geweet het wanneer die 483 jaar begin het nie. Maar toe Johannes die Doper sy bediening begin het, het ‘die volk in afwagting verkeer, en almal het in hulle harte oor Johannes geredeneer: “Is hy miskien die Christus?”’ (Lukas 3:15). Party Bybelgeleerdes verbind hierdie afwagting met Daniël se profesie. Matthew Henry het kommentaar gelewer oor hierdie vers en geskryf: “Daar word hier vir ons gesê . . . hoe die volk, weens die bediening en doop van Johannes, ’n rede gesien het om aan die Messias te dink, en om te dink dat sy verskyning op hande is. . . . Daniël se sewentig weke was nou amper verby.” Die Franse Manuel Biblique, deur Vigouroux, Bacuez en Brassac sê: “Mense het geweet dat die sewentig weke van jare wat deur Daniël bepaal is ten einde loop; niemand was verbaas om te hoor hoe Johannes die Doper aankondig dat die koninkryk van God naby gekom het nie.” Die Joodse geleerde Abba Hillel Silver het geskryf dat “die Messias” volgens die “algemene chronologie” van die dag “omstreeks die tweede kwartaal van die eerste eeu G.J. verwag is”.

Gebeure—nie tydsberekeninge nie

18. Wat was die oortuigendste bewys van Jesus se Messiasskap, hoewel Daniël se profesie die Jode gehelp het om die tyd te identifiseer wanneer die Messias se verskyning verwag kon word?

18 Hoewel chronologie die Joodse volk blykbaar gehelp het om min of meer te weet wanneer die Messias sou verskyn, toon latere gebeure dat dit die meeste van hulle nie van Jesus se Messiasskap help oortuig het nie. Minder as ’n jaar voor sy dood het Jesus sy dissipels gevra: “Wie sê die skare is ek?” Hulle het geantwoord: “Johannes die Doper; maar ander: Elia, en nog ander dat een van die eertydse profete opgestaan het” (Lukas 9:18, 19). Ons het geen rekord dat Jesus ooit die profesie van die simboliese weke aangehaal het om te bewys dat hy die Messias is nie. Maar hy het by een geleentheid gesê: “Ek het die getuienis wat groter is as dié van Johannes, want juis die werke wat my Vader my opgedra het om te volbring, die werke self wat ek doen, getuig aangaande my dat die Vader my gestuur het” (Johannes 5:36). Dit was nie enige geopenbaarde chronologie nie, maar eerder Jesus se prediking, sy wonderwerke en die gebeure rondom sy dood (die wonderdadige duisternis, die skeuring van die tempelvoorhangsel en die aardbewing) wat bewys het dat hy die Messias was wat deur God gestuur is.—Matteus 27:45, 51, 54; Johannes 7:31; Handelinge 2:22.

19. (a) Hoe sou Christene weet dat Jerusalem se vernietiging op hande was? (b) Waarom het die vroeë Christene wat uit Jerusalem gevlug het nog steeds baie geloof nodig gehad?

19 Ná Jesus se dood is die vroeë Christene eweneens geen manier gegee om die naderende einde van die Joodse stelsel van dinge te bereken nie. Daniël se profesie oor die simboliese weke het weliswaar die vernietiging van daardie stelsel gemeld (Daniël 9:26b, 27b). Maar dit sou ná die einde van die “sewentig weke” plaasvind (455 v.G.J.–36 G.J.). Nadat die eerste heidene in 36 G.J. Jesus se volgelinge geword het, was Christene met ander woorde buite die chronologiese grense van Daniël hoofstuk 9. Gebeure, nie chronologie nie, sou vir hulle aandui dat die Joodse stelsel binnekort moes eindig. Daardie gebeure, wat deur Jesus voorspel is, het in 66 G.J. ’n klimaks begin bereik, toe Romeinse legioene Jerusalem aangeval en toe teruggetrek het. Dit het getroue, waaksame Christene in Jerusalem en Judea die geleentheid gegee om ‘na die berge te vlug’ (Lukas 21:20-22). Omdat daardie vroeë Christene geen chronologiese bakens gehad het nie, het hulle nie geweet wanneer Jerusalem vernietig sou word nie. Hoeveel geloof het dit tog nie van hulle geverg om hulle huise, plase en werkswinkels te verlaat en ongeveer vier jaar buite Jerusalem te bly totdat die Romeinse leër in 70 G.J. teruggekeer en die Joodse stelsel vernietig het nie!—Lukas 19:41-44.

20. (a) Hoe kan ons by die voorbeelde van Noag, Moses en eerste-eeuse Christene in Judea baat vind? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Soos Noag, Moses en eerste-eeuse Christene in Judea kan ons wat vandag lewe die tye en tydperke vol vertroue in Jehovah se hande laat. Ons oortuiging dat ons in die tyd van die einde lewe en dat ons verlossing nader kom, hang nie bloot van chronologiese berekeninge af nie, maar van werklike gebeure ter vervulling van Bybelprofesieë. Wat meer is, hoewel ons tydens Christus se teenwoordigheid lewe, is dit nog steeds noodsaaklik dat ons geloof beoefen en aanhou waak. Ons moet voortgaan om in gretige afwagting te lewe van die opwindende gebeure wat in die Skrif voorspel is. Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 1 Augustus 1996, bladsye 30-1.

Ter hersiening

◻ Wat het Jesus vir sy apostels gesê in verband met Jehovah se tye en tydperke?

◻ Hoe lank vooruit het Noag geweet wanneer die Vloed sou begin?

◻ Wat toon dat Moses en die Israeliete nie presies geweet het wanneer hulle uit Egipte verlos sou word nie?

◻ Hoe kan ons by voorbeelde in die Bybel oor Jehovah se tye en tydperke baat vind?

[Prent op bladsy 11]

Noag se geloof het hom in staat gestel om die kwessie van tyd aan Jehovah oor te laat

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel