Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 11/1 bl. 13-18
  • Hou aan om julle eie redding te bewerk!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou aan om julle eie redding te bewerk!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ‘bouwerk’ wat ons in onsself doen
  • Juda se konings—Hulle het hulle eie keuses gemaak
  • Jehovah het vertroue in jou!
  • Hy gee ons wilsvryheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • “Hy het Jehovah bly aankleef”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Rolmodel—Hiskia
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Maak wyse keuses gedurende jou jeug
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 11/1 bl. 13-18

Hou aan om julle eie redding te bewerk!

“Geliefdes, . . . [hou aan] om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk.”—FILIPPENSE 2:12.

1, 2. Watter gewilde idees het baie mense al laat dink dat hulle geen beheer het oor wat in hulle lewe gebeur nie?

“IS JY so gebore?” Daardie vraag het onlangs op die voorblad van ’n gewilde tydskrif verskyn. Onder die opskrif was daar die woorde: “Persoonlikheid, temperament, selfs keuses in die lewe. Nuwe studies toon dat dit hoofsaaklik in jou gene is.” Sulke bewerings kan sommige laat dink dat hulle min beheer oor hulle eie lewe het.

2 Ander vrees dat hulle weens die swak opvoeding wat hulle van hulle ouers en onderwysers ontvang het op die een of ander manier tot ’n ongelukkige lewe gedoem is. Hulle voel miskien dat hulle gedoem is om hulle ouers se foute te herhaal, om op hulle slegste drange te reageer, om ontrou aan Jehovah te wees—kortom, om slegte keuses te maak. Is dit wat die Bybel leer? Daar is ongetwyfeld godsdiensyweraars wat daarop aandring dat die Bybel so iets, naamlik die leerstelling van predestinasie, leer. Volgens hierdie leerstelling het God lank gelede elke gebeurtenis in jou lewe voorbeskik.

3. Watter bemoedigende boodskap het die Bybel oor ons vermoë om self aanspreeklikheid te aanvaar vir ons toekoms?

3 Al hierdie verskillende idees het een boodskap in gemeen: Jy het nie veel van ’n keuse of veel beheer oor wat in jou lewe gebeur nie. Dit is ’n ontmoedigende boodskap, nie waar nie, en ontmoediging dra by tot die probleem. Spreuke 24:10 (NW) sê: “Het jy getoon dat jy ontmoedig is op die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” Dit is egter bemoedigend om te weet dat ons, volgens die Bybel, ‘ons eie redding kan bewerk’ (Filippense 2:12). Hoe kan ons ons vertroue in hierdie positiewe skriftuurlike lering versterk?

Die ‘bouwerk’ wat ons in onsself doen

4. Wat impliseer 1 Korintiërs 3:10-15 nie, hoewel dit sê dat ons met vuurvaste materiaal moet bou?

4 Neem die apostel Paulus se illustrasie in 1 Korintiërs 3:10-15. Daar praat hy van ’n Christelike bouwerk, en die beginsel van sy illustrasie kan op die interne en eksterne bediening toegepas word. Impliseer hy dat ’n dissipel se uiteindelike besluit om Jehovah te dien en by daardie besluit te bly geheel en al die verantwoordelikheid van diegene is wat hom geleer en opgelei het? Nee. Paulus het beklemtoon hoe belangrik dit is dat die onderrigter die beste bouwerk moontlik doen. Maar soos ons in die vorige artikel geleer het, het hy nie gesê dat die student of dissipel geen keuse in die saak het nie. Paulus se illustrasie vestig weliswaar die aandag op die werk wat ons in ander doen, en nie op hoe ons onsself opbou nie. Dit is duidelik omdat Paulus van minderwaardige bouwerk praat wat vernietig word terwyl die bouer self gered word. Maar soms pas die Bybel daardie selfde beeldspraak toe op die werk wat ons in onsself doen.

5. Watter tekste toon dat Christene ’n ‘bouwerk’ in hulleself moet doen?

5 Kyk byvoorbeeld na Judas 20, 21: “Julle, geliefdes, moet julle, deur julle op julle allerheiligste geloof op te bou en met heilige gees te bid, in God se liefde hou.” Judas gebruik hier dieselfde Griekse woord vir “bou” wat Paulus in 1 Korintiërs hoofstuk 3 gebruik, maar sy punt is blykbaar dat ons onsself op die fondament van ons geloof opbou. Toe Lukas Jesus se illustrasie opgeteken het van die man wat sy huis op ’n rots gebou het, het hy dieselfde Griekse woord vir “fondament” gebruik wat Paulus in sy illustrasie van Christelike bouwerk gebruik (Lukas 6:48, 49). Daarbenewens gebruik Paulus, waar hy sy mede-Christene aanspoor om geestelike vordering te maak, die beeld van ’n “fondament” waarop hulle gegrond moet wees. Ja, God se Woord leer dat ons ‘bouwerk’ in onsself moet doen.—Efesiërs 3:15-19; Kolossense 1:23; 2:7.

6. (a) Lig toe hoe elke Christendissipel die resultaat van ’n gesamentlike bouprojek is. (b) Watter verantwoordelikheid het elke individuele dissipel?

6 Is die werk om ’n Christen te maak iets wat deur slegs een persoon gedoen word? Wel, stel jou voor dat jy besluit om ’n huis te bou. Jy gaan na ’n argitek vir die planne. Hoewel jy beplan om baie van die werk self te doen, huur jy ’n kontrakteur om saam met jou te werk en jou raad te gee oor die beste metodes. As hy ’n sterk fondament lê, jou help om die planne te verstaan, voorstel wat die beste materiaal is om te koop en jou selfs baie oor bouwerk leer, sal jy waarskynlik saamstem dat hy hom goed van sy taak gekwyt het. Maar sê nou jy ignoreer sy raad, koop goedkoop of minderwaardige materiaal en wyk selfs van die argitek se planne af? Dan kan jy beslis nie die kontrakteur of die argitek blameer as die huis ineenstort nie! Elke Christendissipel is eweneens die resultaat van ’n gesamentlike bouprojek. Jehovah is die meesterargitek. Hy ondersteun die getroue Christen wat, as een van “God se medewerkers”, ’n student onderrig en opbou (1 Korintiërs 3:9). Maar die student is ook betrokke. Hy is per slot van rekening verantwoordelik vir sy eie lewensweg (Romeine 14:12). As hy voortreflike Christelike eienskappe wil hê, moet hy hard werk om hulle aan te kweek, om dit in homself te laat ontwikkel.—2 Petrus 1:5-8.

7. Voor watter uitdagings kom sommige Christene te staan, en waaruit kan hulle vertroosting put?

7 Beteken dit dan dat ons gene, ons omgewing en die gehalte van ons onderrigters van geen belang is nie? Geensins. God se Woord erken dat elkeen van hierdie dinge belangrik is en ’n groot invloed het. Talle sondige, negatiewe neigings is ingebore en kan baie moeilik wees om teen te stry (Psalm 51:7; Romeine 5:12; 7:21-23). Ouerlike opleiding en die huislike omgewing kan ’n groot invloed op kinders hê—ten goede of ten kwade (Spreuke 22:6; Kolossense 3:21). Jesus het die Joodse godsdiensleiers veroordeel weens die slegte uitwerking wat hulle onderrigting op ander gehad het (Matteus 23:13, 15). Sulke faktore werk vandag in op ons almal. Sommige van God se knegte kom byvoorbeeld voor uitdagings te staan as gevolg van moeilike kinderjare. Hulle het ons goedhartigheid en empatie nodig. En hulle kan vertroosting put uit die Bybel se boodskap dat hulle nie gedoem is om hulle ouers se foute te herhaal of om ontrou te wees nie. Kom ons kyk hoe sommige van die konings van eertydse Juda hierdie punt toelig.

Juda se konings—Hulle het hulle eie keuses gemaak

8. Watter slegte voorbeeld het Jotam se vader gestel, maar watter keuse het hy gemaak?

8 Ussia was maar 16 toe hy koning van Juda geword het en het 52 jaar lank geheers. Gedurende ’n groot deel van hierdie tyd het hy “gedoen wat reg was in die oë van die HERE, net soos sy vader Amasia gedoen het” (2 Konings 15:3). Jehovah het hom met ’n reeks uitsonderlike militêre oorwinnings geseën. Maar ongelukkig het die sukses na Ussia se kop toe gegaan. Hy het hoogmoedig geword en teen Jehovah in opstand gekom deur reukwerk by die altaar in die tempel te offer, ’n taak wat alleenlik die priesters moes verrig. Ussia is bestraf, maar hy het woedend geword. Toe is hy verneder—hy is met melaatsheid getref en gedwing om die res van sy lewe in afsondering deur te bring (2 Kronieke 26:16-23). Hoe het sy seun Jotam hierop gereageer? Die jong man kon maklik deur sy vader beïnvloed gewees het en gekrenk gevoel het oor Jehovah se teregwysing. Oor die algemeen was die volk moontlik ’n negatiewe invloed aangesien hulle verkeerde godsdiensgebruike beoefen het (2 Konings 15:4). Maar Jotam het sy eie keuse gemaak. “Hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE.”—2 Kronieke 27:2.

9. Wat is van die goeie invloede in Agas se lewe, maar wat het hy met sy lewe gemaak?

9 Jotam het 16 jaar geheers en het daardie hele tyd getrou gebly aan Jehovah. Sy seun Agas het dus die uitstekende voorbeeld van ’n getroue vader gehad. En daar was ook ander goeie invloede in Agas se lewe. Hy was bevoorreg om te lewe toe die getroue profete Jesaja, Hosea en Miga ywerig in die land geprofeteer het. Tog het hy ’n slegte keuse gemaak. Hy het “nie gedoen wat reg was in die oë van die HERE soos sy vader Dawid nie”. Hy het beelde van Baäl gemaak en hulle aanbid en selfs van sy eie seuns aan heidense gode geoffer deur hulle in offervure te verbrand. Ten spyte van die allerbeste invloede het hy hopeloos misluk as ’n koning en as ’n kneg van Jehovah.—2 Kronieke 28:1-4.

10. Watter soort vader was Agas, maar watter keuse het sy seun Hiskia gemaak?

10 As ’n mens die saak uit die oogpunt van ware aanbidding beskou, is dit moeilik om jou ’n slegter vader as Agas voor te stel. Sy seun Hiskia kon egter nie sy eie vader kies nie! Die jong seuns wat Agas as offerandes aan Baäl doodgemaak het, was waarskynlik Hiskia se eie broers. Het hierdie verskriklike agtergrond Hiskia tot ’n lewe van ontrouheid aan Jehovah gedoem? Nee, inteendeel, Hiskia het een van die min konings in Juda geword wat waarlik groot was—’n getroue, wyse en geliefde man. “Die HERE was met hom” (2 Konings 18:3-7). Trouens, daar is rede om te glo dat Hiskia as ’n jong prins die geïnspireerde skrywer van die 119de Psalm was. Indien dit die geval is, is dit nie moeilik om te verstaan waarom hy die woorde “my siel is slapeloos van droefheid” neergeskryf het nie (Psalm 119:28, NW). Ondanks Hiskia se pynlike kwellinge het hy hom deur Jehovah se Woord in sy lewe laat lei. Psalm 119:105 sê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Ja, Hiskia het sy eie keuse gemaak—die regte keuse.

11. (a) Tot watter mate het Manasse teen Jehovah in opstand gekom ondanks sy vader se goeie invloed? (b) Watter keuse het Manasse teen die einde van sy lewe gemaak, en wat kan ons hieruit leer?

11 Maar snaaks genoeg, van een van Juda se beste konings het een van die slegste konings gekom. Hiskia se seun Manasse het afgodediens, spiritisme en wydverspreide geweld op ongeëwenaarde skaal bevorder. Die verslag sê dat Jehovah, waarskynlik deur die profete, “met Manasse en met sy volk gespreek” het (2 Kronieke 33:10). Volgens Joodse tradisie het Manasse hierop gereageer deur Jesaja in stukke te laat saag. (Vergelyk Hebreërs 11:37.) Of dit nou waar is of nie, Manasse het nie na enige waarskuwing van God af geluister nie. Trouens, hy het van sy eie seuns lewendig as offerandes laat verbrand, net soos sy oupa Agas gedoen het. Maar hierdie goddelose man het weens ernstige beproewinge teen die einde van sy lewe berou getoon en sy weë verander (2 Kronieke 33:1-6, 11-20). Sy voorbeeld leer vir ons dat iemand wat slegte keuses gemaak het nie noodwendig heeltemal verlore is nie. Hy kan verander.

12. Hoe het die keuses wat Amon en sy seun Josia met betrekking tot diens aan Jehovah gemaak het van mekaar verskil?

12 Manasse se seun Amon kon baie uit sy vader se berou geleer het. Maar hy het verkeerde keuses gemaak. Amon het in werklikheid ‘die skuld laat vermeerder’ totdat hy op die ou end vermoor is. Sy seun Josia was verfrissend anders as hy. Josia het klaarblyklik gekies om te leer uit wat met sy oupa gebeur het. Hy het begin heers toe hy maar agt jaar oud was. Toe hy maar 16 was, het hy Jehovah begin soek en was hy daarna ’n voorbeeldige, getroue koning (2 Kronieke 33:20–34:5). Hy het ’n keuse gemaak—die regte keuse.

13. (a) Wat leer ons by die Judese konings wat ons bespreek het? (b) Hoe belangrik is ouerlike opleiding?

13 Hierdie kort ondersoek van sewe Judese konings bevat ’n kragtige les. In party gevalle het die slegste konings die beste seuns en, omgekeerd, die beste konings die slegste seuns gehad. (Vergelyk Prediker 2:18-21.) Dit verklein nie die belangrikheid van ouerlike opleiding nie. Ouers wat hulle kinders volgens Jehovah se weg oplei, gee hulle kinders beslis die beste geleentheid moontlik om getroue knegte van Jehovah te word (Deuteronomium 6:6, 7). Maar ondanks getroue ouers se beste pogings besluit sommige kinders nog steeds om ’n verkeerde weg te volg. Ander kinders besluit om Jehovah lief te hê en te dien ondanks die slegste ouerlike invloed. Met sy seën maak hulle ’n sukses van hulle lewe. Wonder jy soms watter keuse jy gaan maak? Kyk dan na sommige van die versekeringe wat Jehovah self gee dat jy die regte keuse kan maak!

Jehovah het vertroue in jou!

14. Hoe weet ons dat Jehovah ons beperkings verstaan?

14 Jehovah sien alles. Spreuke 15:3 sê: “Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.” Koning Dawid het van Jehovah gesê: “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie” (Psalm 139:16). Jehovah weet derhalwe teen watter negatiewe neigings jy stry—hetsy jy dit oorgeërf het of aangeleer het weens ander invloede wat buite jou beheer is. Hy weet presies watter invloed dit op jou het. Hy verstaan jou beperkings selfs beter as jy self. En hy is barmhartig. Hy verwag nooit meer van ons as wat ons redelikerwys kan doen nie.—Psalm 103:13, 14.

15. (a) Wat is een bron van vertroosting vir diegene wat opsetlik deur ander leed aangedoen is? (b) Watter verantwoordelikheid gee Jehovah elkeen van ons wat waardigheid aan ons verleen?

15 Aan die ander kant sien Jehovah ons nie as hulpelose slagoffers van ons omstandighede nie. As ons slegte ondervindinge in die verlede gehad het, kan ons vertroosting put uit die sekerheid dat Jehovah al sulke opsetlik kwaadwillige gedrag haat (Psalm 11:5; Romeine 12:19). Maar sal hy ons vrystel van die gevolge as ons doelbewus verkeerde keuses maak? Natuurlik nie. Sy Woord sê: “Elkeen sal sy eie vrag dra” (Galasiërs 6:5). Jehovah verleen waardigheid aan elkeen van sy intelligente skepsele deur hulle die verantwoordelikheid te gee om reg op te tree en hom te dien. Dit is soos Moses vir die nasie Israel gesê het: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronomium 30:19). Jehovah is oortuig dat ons ook die regte keuse kan maak. Hoe weet ons dit?

16. Hoe kan ons ons ‘eie redding met sukses bewerk’?

16 Let op wat die apostel Paulus geskryf het: “Gevolglik moet julle, my geliefdes, . . . aanhou om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk; want God is die een wat, ter wille van sy welbehae, in julle werk sodat julle kan wil sowel as werk” (Filippense 2:12, 13). Die oorspronklike Griekse woord wat hier met “bewerk” vertaal word, dui op die voltooiing van iets. Nie een van ons is dus gedoem om te misluk of om tou op te gooi nie. Jehovah God moet vol vertroue wees dat ons die werk kan voltooi wat hy ons gegee het om te doen—die werk wat tot ons redding lei—anders sou hy nie so ’n stelling geïnspireer het nie. Maar hoe behaal ons sukses? Dit is nie in ons eie krag nie. As ons deur ons eie vermoë sterk genoeg was, sou “vrees en bewing” glad nie nodig gewees het nie. Jehovah ‘werk eerder in ons’, met ander woorde sy heilige gees werk in ons verstand en hart en help ons om te “wil sowel as [te] werk”. Aangesien ons sulke liefdevolle hulp het, is daar dan enige rede waarom ons nie die regte keuses in die lewe kan maak en daarvolgens kan lewe nie? Nee!—Lukas 11:13.

17. Watter veranderinge kan ons in onsself aanbring, en hoe help Jehovah ons om dit te doen?

17 Ons sal hindernisse moet oorkom—moontlik ’n leeftyd se slegte gewoontes en skadelike invloede wat ons denke kan verdraai. Maar ons kan dit met behulp van Jehovah se gees oorkom! Soos Paulus aan die Christene in Korinte geskryf het, is God se Woord kragtig genoeg om selfs “sterk verskanste dinge” omver te werp (2 Korintiërs 10:4). Trouens, Jehovah kan ons help om ingrypende veranderinge in onsself te maak. Sy Woord spoor ons aan om ‘die ou persoonlikheid af te lê’ en ons “met die nuwe persoonlikheid [te] beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:22-24). Kan Jehovah se gees ons werklik help om sulke veranderinge aan te bring? Beslis! God se gees bring vrugte in ons voort—pragtige, kosbare eienskappe wat ons almal wil aankweek. Die eerste hiervan is liefde.—Galasiërs 5:22, 23.

18. Watter keuse is elke intelligente mens heeltemal in staat om te maak, en wat moet dit ons vasbeslote maak om te doen?

18 Hierin lê ’n groot, bevrydende waarheid. Jehovah God het ’n onbeperkte vermoë om liefde te betoon, en ons is na sy beeld gemaak (Genesis 1:26; 1 Johannes 4:8). Ons kan dus kies om Jehovah lief te hê. En daardie liefde—nie ons vorige lewe, nie ons aangeleerde foute, nie ons oorgeërfde neiging om verkeerd te doen nie—is die sleutel tot ons toekoms. Liefde vir Jehovah God is wat Adam en Eva nodig gehad het om in Eden getrou te bly. Sulke liefde is wat elkeen van ons nodig het om Armageddon te oorleef en die finale toets aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy te deurstaan (Openbaring 7:14; 20:5, 7-10). Elkeen van ons, ongeag ons omstandighede, kan sulke liefde aankweek (Matteus 22:37; 1 Korintiërs 13:13). Laat ons vasbeslote wees om Jehovah lief te hê en tot in ewigheid op daardie liefde voort te bou.

Wat dink jy?

◻ Watter gewilde idees weerspreek die Bybel se positiewe lering met betrekking tot individuele aanspreeklikheid?

◻ Watter bouwerk moet elke Christen in homself doen?

◻ Hoe toon die voorbeelde van Juda se konings dat elke individu sy eie keuse maak?

◻ Hoe verseker Jehovah ons dat ons ten spyte van negatiewe invloede die regte keuses in die lewe kan maak?

[Prent op bladsy 15]

Is jou toekoms deur jou gene bepaal?

[Prent op bladsy 17]

Ondanks die slegte voorbeeld van sy vader het koning Josia besluit om God te dien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel