Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 12/1 bl. 8-13
  • Gehaat weens hulle geloof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gehaat weens hulle geloof
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die “koste” van dissipelskap
  • Haatdraend en gehaat
  • Die vroeë Christene—Deur wie gehaat?
  • Die vroeë Christene—Waarom in die Romeinse wêreld gehaat?
  • ’n Kompromis was eenvoudig ondenkbaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Christene en die hedendaagse mensegemeenskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Die verdediging van ons geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die vroeë Christene en die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 12/1 bl. 8-13

Gehaat weens hulle geloof

“Julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees.”—MATTEUS 10:22.

1, 2. Kan jy werklike ondervindinge vertel wat Jehovah se Getuies deurgemaak het omdat hulle in ooreenstemming met hulle godsdiensoortuiging opgetree het?

’NEERLIKE winkelier van die eiland Kreta word tientalle kere in hegtenis geneem en word herhaaldelik voor Griekse howe gedaag. Hy bring altesaam meer as ses jaar in die tronk deur, weg van sy vrou en vyf kinders af. In Japan word ’n 17-jarige leerling uit die skool gesit, hoewel hy goed gemanierd is en eerste in sy klas van 42 leerlinge staan. In Frankryk word ’n hele aantal mense summier afgedank, al het hulle ’n goeie reputasie as harde en pligsgetroue werkers. Wat het hierdie werklike ondervindinge in gemeen?

2 Al hierdie mense is Jehovah se Getuies. Hulle “misdaad”? Kortom, hulle het in ooreenstemming met hulle godsdiensoortuiging opgetree. In gehoorsaamheid aan die leringe van Jesus Christus het die winkelier vir ander van sy geloof vertel (Matteus 28:19, 20). Hy is hoofsaaklik kragtens ’n verouderde Griekse wet skuldig bevind waarvolgens proselitisme ’n misdaad is. Die leerling is uit die skool gesit omdat sy Bybelopgeleide gewete hom nie toegelaat het om aan verpligte kendo-oefeninge (Japannese skermkuns) deel te neem nie (Jesaja 2:4). En diegene wat in Frankryk afgedank is, is meegedeel dat hulle ontslaan is bloot omdat hulle hulle as Jehovah se Getuies geïdentifiseer het.

3. Waarom is vervolging deur ander mense nie iets algemeens vir die meeste van Jehovah se Getuies nie?

3 Sulke beproewinge is kenmerkend van wat Jehovah se Getuies onlangs in sommige lande verduur het. Maar vir die meeste Getuies van Jehovah is vervolging deur ander mense nie iets algemeens nie. Jehovah se volk is wêreldwyd bekend vir hulle goeie gedrag—’n reputasie wat niemand enige geldige rede gee om hulle kwaad aan te doen nie (1 Petrus 2:11, 12). Hulle is nie samesweerders nie en maak hulle ook nie aan skadelike gedrag skuldig nie (1 Petrus 4:15). Inteendeel, hulle probeer volgens die Bybel se raad lewe om eers aan God en dan aan sekulêre regerings onderdanig te wees. Hulle betaal die belastings wat die wet vereis en probeer “vreedsaam teenoor alle mense” wees (Romeine 12:18; 13:6, 7; 1 Petrus 2:13-17). In hulle Bybelonderrigtingswerk bevorder hulle respek vir die wet, gesinswaardes en sedelikheid. Baie regerings het hulle al geprys omdat hulle wetsgehoorsame burgers is (Romeine 13:3). Maar, soos die inleidingsparagraaf toon, is hulle soms die skyf van teenstand—en in sommige lande selfs van regeringsverbooie. Moet dit ons verbaas?

Die “koste” van dissipelskap

4. Wat kan ’n mens, volgens Jesus, te wagte wees wanneer jy een van sy dissipels geword het?

4 Jesus Christus het geen twyfel gelaat oor wat dit sou behels om sy dissipel te wees nie. “’n Slaaf is nie groter as sy heer nie”, het hy vir sy volgelinge gesê. “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg.” Jesus is “sonder oorsaak” gehaat (Johannes 15:18-20, 25; Psalm 69:5; Lukas 23:22). Sy dissipels kon dieselfde te wagte wees—teenstand sonder geregverdigde rede. By meer as een geleentheid het hy hulle gewaarsku: ‘Julle sal voorwerpe van haat wees.’—Matteus 10:22; 24:9.

5, 6. (a) Waarom het Jesus voornemende volgelinge aangespoor om ‘die koste te bereken’? (b) Waarom moet ons dus nie verbaas wees wanneer ons teëgestaan word nie?

5 Jesus het voornemende volgelinge gevolglik aangespoor om die ‘koste van dissipelskap te bereken’ (Lukas 14:28). Waarom? Nie om te besluit of hulle sy volgelinge moet word of nie, maar sodat hulle vasbeslote sou wees om te doen wat dissipelskap van hulle sou vereis. Ons moet bereid wees om enige beproewinge of ontberinge te verduur wat met die voorreg gepaardgaan (Lukas 14:27). Niemand dwing ons om Jehovah as ’n volgeling van Christus te dien nie. Dit is ’n vrywillige besluit; dit is ook ’n ingeligte besluit. Ons weet vooraf dat ons, benewens die seëninge wat ons sal geniet omdat ons in ’n toegewyde verhouding met God getree het, ook “voorwerpe van haat” sal wees. Ons is dus nie verbaas wanneer ons teëgestaan word nie. Ons het “die koste bereken”, en ons is heeltemal bereid om dit te betaal.—1 Petrus 4:12-14.

6 Waarom staan sommige mense, met inbegrip van sekere regeringsowerhede, ware Christene teë? Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nuttig om twee godsdiensgroepe van die eerste eeu G.J. te ondersoek. Albei is gehaat—maar om heeltemal verskillende redes.

Haatdraend en gehaat

7, 8. Watter leringe het minagting vir nie-Jode weerspieël, en watter gesindheid het gevolglik onder die Jode ontwikkel?

7 Teen die eerste eeu G.J. was Israel onder die Romeinse bewind, en Judaïsme, die Joodse godsdiensstelsel, was grotendeels in die onderdrukkende greep van leiers soos die skrifgeleerdes en Fariseërs (Matteus 23:2-4). Hierdie fanatiese leiers het die voorskrifte van die Mosaïese Wet dat die Jode hulle afgeskeie van die nasies moes hou só verdraai dat dit veragting vir nie-Jode vereis het. Hulle het sodoende ’n godsdiens voortgebring wat haat teen nie-Jode verwek het en terselfdertyd die haat van nie-Jode uitgelok het.

8 Dit was nie moeilik vir die Joodse leiers om te verkondig dat nie-Jode met minagting behandel moes word nie, aangesien die Jode destyds die nie-Jode as veragtelik beskou het. Die godsdiensleiers het geleer dat ’n Joodse vrou nooit alleen saam met nie-Jode moet wees nie, want hulle “word van wellustigheid verdink”. ’n Joodse man moet nie “alleen saam met hulle wees nie, want hulle word van bloedvergieting verdink”. As ’n nie-Jood ’n dier gemelk het, kon die melk nie gebruik word nie, tensy ’n Jood daar was om te sien hoe dit gedoen is. As gevolg van die invloed van hulle leiers het die Jode ’n afsydigheid en streng afsonderlikheid ontwikkel.—Vergelyk Johannes 4:9.

9. Wat was die uitwerking van wat die Joodse leiers mense oor nie-Jode geleer het?

9 Sulke leringe in verband met nie-Jode het glad nie goeie betrekkinge tussen Jode en nie-Jode bevorder nie. Nie-Jode het Jode as haters van die hele mensdom begin beskou. Die Romeinse geskiedskrywer Tacitus (wat omstreeks 56 G.J. gebore is) het gesê dat die Jode “die res van die mensdom net so haat as wat hulle hulle vyande haat”. Tacitus het ook beweer dat nie-Jode wat Joodse proseliete geword het, geleer is om hulle land te verloën en hulle familie en vriende te verag. Oor die algemeen het die Romeine die Jode geduld, wat talryk genoeg was om ’n gedugte vyand te wees. Maar ’n Joodse opstand in 66 G.J. het wrede Romeinse vergeldingsmaatreëls tot gevolg gehad, wat in 70 G.J. tot die vernietiging van Jerusalem gelei het.

10, 11. (a) Hoe moes vreemdelinge volgens die Mosaïese Wet behandel word? (b) Watter les leer ons uit wat met Judaïsme gebeur het?

10 Hoe het hierdie beskouing van vreemdelinge met die vorm van aanbidding vergelyk wat in die Mosaïese Wet uiteengesit is? Die Wet het afgeskeidenheid van die nasies bevorder, maar dit was om die Israeliete te beskerm, veral hulle rein aanbidding (Josua 23:6-8). Tog het die Wet vereis dat vreemdelinge regverdig en billik behandel word en dat hulle gasvry ontvang word—solank hulle Israel se wette nie op flagrante wyse verontagsaam het nie (Levitikus 24:22). Omdat die Joodse godsdiensleiers van Jesus se dag afgewyk het van die redelike gees wat duidelik in die Wet aangaande vreemdelinge na vore gekom het, het hulle ’n vorm van aanbidding voortgebring wat haat verwek het en self gehaat is. Op die ou end het die eerste-eeuse Joodse nasie Jehovah se guns verloor.—Matteus 23:38.

11 Kan ons iets hieruit leer? Ja, ons kan! ’n Eiegeregtige, meerderwaardige gesindheid wat ons laat neersien op diegene wat nie ons godsdiensoortuiging deel nie, is nie ’n getroue weerspieëling van die rein aanbidding van Jehovah nie, en dit behaag hom ook nie. Dink aan die getroue Christene in die eerste eeu. Hulle het nie mense gehaat wat nie Christene was nie, en hulle het ook nie teen Rome in opstand gekom nie. Tog was hulle “voorwerpe van haat”. Waarom? En deur wie?

Die vroeë Christene—Deur wie gehaat?

12. Hoe is dit duidelik uit die Skrif dat Jesus wil hê sy volgelinge ’n gebalanseerde beskouing van nie-Christene moet hê?

12 Uit wat Jesus geleer het, is dit duidelik dat hy wou hê sy dissipels ’n gebalanseerde beskouing van nie-Christene moet hê. Aan die een kant het hy gesê dat sy volgelinge afgeskeie van die wêreld sou wees—dit wil sê, hulle sou gesindhede en gedrag vermy wat met Jehovah se regverdige weë gebots het. Hulle sou neutraal bly wat oorloë en die politiek betref (Johannes 17:14, 16). Aan die ander kant het Jesus nie verkondig dat daar op nie-Christene neergesien moes word nie, inteendeel, hy het vir sy volgelinge gesê om ‘hulle vyande lief te hê’ (Matteus 5:44). Die apostel Paulus het Christene aangespoor: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink” (Romeine 12:20). Hy het ook vir Christene gesê om “aan almal goed [te] doen”.—Galasiërs 6:10.

13. Waarom was die Joodse godsdiensleiers so gekant teen Christus se dissipels?

13 Maar dit was nie lank voor Christus se dissipels “voorwerpe van haat” vir drie groepe geword het nie. Eerstens was daar die Joodse godsdiensleiers. Dit verbaas ons nie dat die Christene gou hulle aandag getrek het nie! Die Christene het hoë beginsels van sedelikheid en onkreukbaarheid gehad, en hulle het ’n hoopinboesemende boodskap met vurige ywer verkondig. Duisende het Judaïsme verlaat en die Christelike godsdiens aangeneem (Handelinge 2:41; 4:4; 6:7). Vir die Joodse godsdiensleiers was Jesus se Joodse dissipels niks meer as afvalliges nie! (Vergelyk Handelinge 13:45.) Hierdie woedende leiers het gemeen dat die Christelike godsdiens hulle tradisies ondermyn het. Dit het selfs hulle beskouing van nie-Jode verwerp! Van 36 G.J. af kon nie-Jode Christene word en dieselfde geloof beoefen en dieselfde voorregte as Joodse Christene geniet.—Handelinge 10:34, 35.

14, 15. (a) Waarom is Christene deur heidense aanbidders gehaat? Gee ’n voorbeeld. (b) Die vroeë Christene is deur watter derde groep as “voorwerpe van haat” beskou?

14 Tweedens is Christene deur heidense aanbidders gehaat. In eertydse Efese was die vervaardiging van silwertempeltjies van die godin Artemis byvoorbeeld ’n winsgewende bedryf. Maar toe Paulus daar gepreek het, het ’n aansienlike aantal Efesiërs sy boodskap aangeneem en opgehou om Artemis te aanbid. Omdat hulle bedryf in gevaar was, het die silwersmede in oproer gekom (Handelinge 19:24-41). Nadat die Christelike godsdiens na Bitinië (nou die noordwestelike deel van Turkye) versprei het, het iets soortgelyks gebeur. Nie lank nadat die Christelike Griekse Geskrifte voltooi is nie, het die goewerneur van Bitinië, Plinius die Jongere, berig dat heidense tempels verlate was en dat die verkope van voer vir offerdiere baie afgeneem het. Christene is die skuld hiervoor gegee—en is vervolg—aangesien hulle aanbidding nie diereofferandes en afgode toegelaat het nie (Hebreërs 10:1-9; 1 Johannes 5:21). Dit is duidelik dat die verspreiding van die Christelike godsdiens sekere gevestigde belange wat met heidense aanbidding verband gehou het, benadeel het, en diegene wat handel en geld verloor het, was baie ontevrede daaroor.

15 Derdens het Christene “voorwerpe van haat” vir die nasionalistiese Romeine geword. Aan die begin het die Romeine die Christene as ’n klein en moontlik fanatiese godsdiensgroep gesien. Maar mettertyd het dit ’n halsmisdaad geword om bloot te bely dat jy ’n Christen is. Waarom sou eerlike burgers wat ’n Christelike lewe lei as mense gesien word wat vervolging en die dood verdien?

Die vroeë Christene—Waarom in die Romeinse wêreld gehaat?

16. In watter opsigte het Christene afgeskeie van die wêreld gebly, en waarom het dit hulle ongewild in die Romeinse wêreld gemaak?

16 Christene is in die Romeinse wêreld gehaat hoofsaaklik omdat hulle volgens hulle godsdiensoortuiging gelewe het. Hulle het byvoorbeeld afgeskeie van die wêreld gebly (Johannes 15:19). Hulle het derhalwe nie politieke ampte beklee nie, en hulle het geweier om militêre diens te doen. As gevolg hiervan is hulle “voorgestel as dood vir die wêreld en nutteloos wat al die aangeleenthede van die lewe betref”, sê die geskiedskrywer Augustus Neander. Om geen deel van die wêreld te wees nie, het ook beteken dat hulle die goddelose weë van die verdorwe Romeinse wêreld moes vermy. “Die klein Christengemeenskappe met hulle vroomheid en hulle welvoeglikheid het die genotsugtige heidense wêreld gekwel”, verduidelik die geskiedskrywer Will Durant (1 Petrus 4:3, 4). Die Romeine het moontlik die kwellende stem van hulle gewete probeer stil deur Christene te vervolg en tereg te stel.

17. Wat toon dat die predikingswerk van die eerste-eeuse Christene doeltreffend was?

17 Die eerste-eeuse Christene het met onvermoeide ywer die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig (Matteus 24:14). Teen omstreeks 60 G.J. kon Paulus sê dat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:23). Teen die einde van die eerste eeu het Jesus se volgelinge dissipels regdeur die Romeinse Ryk gemaak—in Asië, Europa en Afrika! Selfs lede van “die huis van Caesar” het Christene geword (Filippense 4:22).a Hierdie ywerige predikingswerk het wrewel veroorsaak. Neander sê: “Die Christelike godsdiens het geleidelik onder mense van elke stand grond gewen en het gedreig om die staatsgodsdiens te laat verbrokkel.”

18. Hoe het die feit dat Christene uitsluitlik toegewyd was aan Jehovah hulle met die Romeinse regering laat bots?

18 Jesus se volgelinge was uitsluitlik toegewyd aan Jehovah (Matteus 4:8-10). Miskien was dit hierdie aspek van hulle aanbidding meer as enigiets anders wat hulle met Rome laat bots het. Die Romeine het ander godsdienste geduld, so lank as wat hulle lede ook aan keiseraanbidding deelgeneem het. Die vroeë Christene kon eenvoudig nie aan sulke aanbidding deelneem nie. Hulle het hulleself aanspreeklik geag teenoor ’n gesag wat hoër was as dié van die Romeinse Staat, naamlik Jehovah God (Handelinge 5:29). ’n Christen is gevolglik as ’n vyand van die Staat beskou, ongeag hoe voorbeeldig hy in alle ander opsigte as ’n burger was.

19, 20. (a) Wie was hoofsaaklik verantwoordelik vir die boosaardige laster wat teen getroue Christene versprei is? (b) Watter valse aantygings is teen Christene ingebring?

19 Daar was nog ’n rede waarom getroue Christene “voorwerpe van haat” in die Romeinse wêreld geword het: Boosaardige laster teen hulle is maklik geglo, en die Joodse godsdiensleiers was hoofsaaklik verantwoordelik vir sulke aantygings (Handelinge 17:5-8). Omstreeks 60 of 61 G.J., toe Paulus in Rome gewag het om deur keiser Nero verhoor te word, het vooraanstaande Jode van die Christene gesê: “Waarlik, wat hierdie sekte betref, is dit aan ons bekend dat daar oral daarteen gespreek word” (Handelinge 28:22). Nero moes beslis sommige van die lasterlike gerugte aangaande hulle gehoor het. Toe Nero in 64 G.J. die skuld gegee is vir die verwoestende brand in Rome, het hy volgens berig die Christene, wat reeds beswadder was, die sondebokke gemaak. Dit het blykbaar ’n golf van gewelddadige vervolging ontketen wat daarop gerig was om die Christene uit te wis.

20 Die valse aantygings teen die Christene was dikwels ’n mengsel van blatante leuens en ’n verdraaiing van hulle opvattings. Omdat hulle monoteïsties was en nie die keiser aanbid het nie, is hulle as ateïste bestempel. Aangesien sommige nie-Christelike gesinslede hulle Christengesinslede teëgestaan het, is Christene daarvan beskuldig dat hulle gesinne opbreek (Matteus 10:21). Hulle is as kannibale gebrandmerk, ’n aantyging wat, volgens sommige bronne, gebaseer was op ’n verdraaiing van Jesus se woorde tydens die Here se Aandmaal.—Matteus 26:26-28.

21. Om watter twee redes was Christene “voorwerpe van haat”?

21 Getroue Christene was dus om twee basiese redes “voorwerpe van haat” vir die Romeine: (1) hulle Bybelse opvattings en gebruike en (2) die valse aantygings teen hulle. Ongeag die rede, hulle teenstanders het maar een oogmerk gehad—die onderdrukking van die Christelike godsdiens. Die ware aanstigters van die vervolging van Christene was natuurlik bomenslike teenstanders, onsigbare bose geesmagte.—Efesiërs 6:12.

22. (a) Watter voorbeeld toon dat Jehovah se Getuies probeer om ‘aan almal goed te doen’? (Sien venster op bladsy 11.) (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

22 Soos die vroeë Christene was die hedendaagse Getuies van Jehovah ook al “voorwerpe van haat” in verskillende lande. Tog haat hulle nie mense wat nie Getuies is nie; en hulle was nog nooit ’n broeines van opstand teen regerings nie. Inteendeel, hulle is wêreldwyd daarvoor bekend dat hulle ware liefde beoefen wat alle sosiale, rasse- en etniese hindernisse oorkom. Waarom word hulle dan vervolg? En hoe reageer hulle op teenstand? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Die uitdrukking “huis van Caesar” verwys nie noodwendig na Nero, wat toe geheers het, se onmiddellike gesin nie. Moontlik verwys dit eerder na huishulpe en ondergeskikte beamptes wat, ten behoewe van die keiserlike gesin en personeel, huiswerk gedoen het soos om te kook en skoon te maak.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Waarom het Jesus voornemende volgelinge aangespoor om die koste van dissipelskap te bereken?

◻ Watter uitwerking het die Jode se beskouing van nie-Jode op Judaïsme gehad, en wat leer ons hieruit?

◻ Deur watter drie groepe is getroue vroeë Christene teëgestaan?

◻ Om watter basiese redes was die vroeë Christene “voorwerpe van haat” vir die Romeine?

[Venster op bladsy 11]

‘Doen goed aan almal’

Jehovah se Getuies probeer die Bybel se raad volg om ‘aan almal goed te doen’ (Galasiërs 6:10). In tye van nood beweeg hulle liefde vir hulle naaste hulle om diegene te help wat nie hulle godsdiensopvattings deel nie. Tydens die rampspoedige situasie in 1994 in Rwanda het Getuies van Europa hulle byvoorbeeld vrywillig aangebied om na Afrika te gaan om met noodleningspogings te help. Goed georganiseerde kampe en veldhospitale is gou opgerig om hulp te verleen. Baie voedsel, klere en komberse is per vliegtuig ingebring. Die aantal vlugtelinge wat by hierdie noodlenigingspoging baat gevind het, was meer as drie keer soveel as die Getuies in die gebied.

[Prent op bladsy 9]

Die eerste-eeuse Christene het die goeie nuus met onvermoeide ywer verkondig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel