Ware hulp vir die gesin
“Dit is redelik om te sê dat daar ’n gesinskrisis in Amerika is. Dit is onmoontlik om enige ander gevolgtrekking te maak uit die egskeidingsyfers, statistiek van buite-egtelike geboortes [en] gevalle van kindermishandeling en huweliksgeweld.”
HIERDIE woorde van die Amerikaanse televisie-uitsaaier Tom Brokaw geld in die meeste lande. Wat beteken hierdie krisis?
Die gesin is in baie opsigte die basiese bousteen van die samelewing. As die gesin probleme ondervind, ondervind die samelewing ook probleme. Daarbenewens is die gesin die bron van emosionele en finansiële ondersteuning vir die kinders. Dit is waar hulle die eerste en die belangrikste lewenslesse leer. Wat leer die kinders as die gesin probleme ondervind? Waar is hulle sekuriteit? Watter soort volwassenes sal hulle word?
Is daar enige hulp vir die gesin in hierdie krisistyd? Ja. Die gesin is ’n instelling wat deur God self begin is (Genesis 1:27, 28). En hy het onontbeerlike raad vir die gesin in sy Woord, die Bybel, gegee (Kolossense 3:18-21). Ons kan weliswaar nie die samelewing in sy geheel verander nie, maar ons kan die Bybel se raad in ons eie gesin toepas. Ons wil jou graag vertel van mense wat dit gedoen het en die goeie resultate wat hulle gehad het.
Voorkom egskeiding
In baie lande loop sowat 50 persent van alle huwelike op ’n egskeiding uit. Dit is ’n grootskaalse mislukking in menseverhoudinge! ’n Mens moet toegee dat baie wat om hierdie rede enkelouers word hulle ongelooflik goed van hulle taak kwyt wat die grootmaak van hulle kinders betref.” Maar die meeste mense sal ongetwyfeld saamstem dat dit beter is as ’n egpaar hulle probleme kan oplos en bymekaar kan bly.
Die huwelik van ’n egpaar in die Salomon-eilande was besig om te verbrokkel. Die man, die seun van ’n hoofman, was gewelddadig en het talle slegte gewoontes gehad. Die lewe was so moeilik vir sy vrou dat sy selfs selfmoord probeer pleeg het. Toe het die man ingestem om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Hy het geleer dat enigiemand wat God wil behaag nie net moet weet wat verkeerd is nie, maar ook ‘die kwaad moet haat’ (Psalm 97:10). Dit sluit in dat ons dinge soos leuens, diefstal, geweld en dronkenskap haat. Hy het dit ter harte geneem, en dit was nie lank nie of hy het hierdie slegte gewoontes en sy verskriklike humeur oorwin. Sy vrou was verstom oor die verandering, en hulle huwelik het baie verbeter danksy die invloed van God se Woord.
In Suid-Afrika het ’n vrou wat een van Jehovah se Getuies is, gehoor dat haar werkgewer en haar man dit oorweeg om te skei. Die Getuie het met haar werkgewer oor God se beskouing van die huwelik gepraat en vir haar die boek met die titel Die geheim van gesinsgeluk gewys. Hierdie boek wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, beklemtoon die Bybelbeginsels wat op die huwelik van toepassing is en lê veral nadruk op hoe die Bybel egpare help om hulle probleme op te los. Die werkgewer en haar man het albei die boek gelees en opreg probeer om die Bybelraad daarin toe te pas. Gevolglik het hulle besluit om nie te skei nie—nog ’n huwelik wat deur die toepassing van Bybelbeginsels gered is.
Verskillende godsdienste
Maar sê nou die huweliksmaats se godsdiens verskil? Die Bybel is realisties wanneer dit Christene maan om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39). Maar soms verander ’n huweliksmaat sy godsdiens. Beteken dit noodwendig dat die huwelik beëindig moet word? Hoegenaamd nie.
In Botswana is ’n vrou wat onlangs een van Jehovah se Getuies geword het, gevra hoe haar nuwe geloof haar verander het. Sy het haar man gevra om namens haar te antwoord, en dit is wat hy gesê het: “Vandat my vrou een van Jehovah se Getuies geword het, het ek baie positiewe veranderinge in haar waargeneem. Sy het nou ’n stille, wyse krag wat sy nie voorheen gehad het nie. Sy het die krag en oortuiging gehad om op te hou rook, ’n swakheid wat ek nog steeds nie kan oorkom nie. My vrou het liefdevoller en vriendeliker teenoor my en my kinders geword, asook teenoor ander. Sy is verdraagsamer, veral teenoor die kinders. Ek sien dat sy tyd in die bediening deurbring, waar sy ander probeer help om hulle lewe te verbeter. Ek het ook positiewe veranderinge in myself gesien. Ek glo dit is geheel en al as gevolg van haar voorbeeld.” Wat ’n goeie uitwerking het Bybelbeginsels tog op hierdie huwelik gehad! Baie wat nie Getuies is nie, het soortgelyke opmerkings oor hulle Getuiehuweliksmaats gemaak.
Wanneer die vader sy verantwoordelikhede verwaarloos
Die verhouding tussen ’n vader en sy kinders is ’n sleutelfaktor om sterk gesinne op te bou. Die apostel Paulus het gemaan: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Geen wonder nie dat ’n artikel in The Wilson Quarterly vaders wat nie hulle rol vervul nie die skuld vir baie maatskaplike probleme gegee het. Die artikel het gesê: “Tussen 1960 en 1990 het die persentasie kinders wat nie by hulle biologiese vaders woon nie meer as verdubbel . . . Die feit dat vaders ’n kleiner rol speel, is ’n vername rede vir baie van die ontstellendste probleme wat die Amerikaanse gemeenskap teister.”
Beteken dit dat kinders wie se vaders hulle nie leiding gee nie tot mislukking gedoem is? Nee. Die psalmis van die ou tyd het gesê: “My vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem” (Psalm 27:10). ’n Negejarige seuntjie in Thailand het die waarheid hiervan ondervind. Sy ma is dood toe hy ’n baba was, en sy pa, wat hom nie wou hê nie, het hom by sy ouma gelos. Omdat hy gevoel het dat niemand hom wil hê nie en niemand hom liefhet nie, was die seuntjie opstandig en het hy ’n reputasie opgebou as ’n bullebak. Hy het selfs sy ouma gedreig. Twee voltydse evangeliedienaars van Jehovah se Getuies wat opgelet het dat hy dikwels buite die plaaslike Koninkryksaal staan, het hom eendag na hulle huis genooi.
Hulle het hom vertel van God—dat Hy sy kinders soos ’n vader liefhet. Hulle het ook oor die aardse Paradys gepraat wat God getroue mense beloof het (Openbaring 21:3, 4). Die seun het gehou van alles wat hy gehoor het, en hy het elke dag teruggekom om meer te leer. Die Getuies het vir hom gesê dat hy moet ophou om ’n bullebak te wees as hy werklik wil hê dat God sy Vader moet wees. Dit was in ooreenstemming met Paulus se woorde aan die Romeine: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Romeine 12:18). Hy sou ook sy ouma op ’n vriendelike manier moes behandel (1 Timoteus 5:1, 2). Kort voor lank het hy Bybelbeginsels begin toepas—en ongetwyfeld sy gesinslewe met sy ouma baie verbeter (Galasiërs 5:22, 23). Die bure was so beïndruk deur die veranderinge wat hulle in hom opgemerk het dat hulle wou hê dat hulle eie kinders ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies moet studeer!
’n Vreedsame gesindheid
Die apostel Paulus het aan die Kolossense geskryf: “Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid. En laat die vrede van die Christus in julle harte heers” (Kolossense 3:14, 15). ’n Vreedsame gesindheid en opregte liefde sal ongetwyfeld ’n gesin heg saambind. En dit kan ou verdeeldhede in gesinne oorbrug. Rukia, wat in Albanië woon, het vanweë onenigheid in die gesin meer as 17 jaar lank nie met haar broer gepraat nie. Toe sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het sy geleer dat elke kneg van God aangespoor word om vreedsame verhoudinge met ander op te bou. “Laat hom vrede soek en dit nastreef.”—1 Petrus 3:11.
Rukia het besef dat sy vrede met haar broer moes soek. Sy het die hele nag gebid, en die volgende oggend het sy, met ’n bonsende hart, na haar broer se huis geloop. Rukia se niggie het die deur oopgemaak en verbaas gevra: “Wat soek jy hier?” Rukia het kalm gevra om haar broer te sien en verduidelik dat sy vrede met hom wou maak. Waarom? Omdat sy nou besef het dat dit God se wil is. Haar broer het dit aanvaar, en hulle is met omhelsings en vreugdetrane herenig—’n gesin wat herenig is omdat hulle Bybelbeginsels toegepas het.
Slegte omgang
“Vandag kyk die gemiddelde kind sewe uur per dag televisie. Teen die tyd wat hy klaar is met laerskool het hy al meer as agtduisend moorde en honderdduisend gewelddade gesien”, aldus die boek The 7 Habits of Highly Effective Families. Watter uitwerking het sulke blootstelling op ’n kind? “Deskundiges” stem nie daaroor saam nie, maar die Bybel gee ’n ernstige waarskuwing teen slegte omgang. Dit sê byvoorbeeld: “Hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Dit sê ook: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Ons gesinslewe kan verbeter as ons wyslik die waarheid van hierdie beginsel erken, hetsy die slegte omgang met werklike mense of met karakters in ’n televisieprogram is.
’n Ma in Luxemburg het die Bybel saam met een van Jehovah se Getuies gestudeer. Eendag het sy vir die Getuie gesê dat haar twee dogtertjies wat sewe en agt jaar oud is in die aand baie bakleierig en aggressief is. Die Getuie het gevra wat die dogtertjies in die aand doen. Die ma het gesê dat hulle televisie kyk terwyl sy die kombuis skoonmaak. Watter programme? “O, net tekenprente”, het die ma geantwoord. Toe haar besoeker sê dat sulke programme dikwels gewelddadig is, het die dogtertjies se ma beloof om die programme te monitor.
Net die volgende dag het die ma gesê dat sy geskok was oor die tekenprente waarna haar dogtertjies gekyk het. Dit het gehandel oor denkbeeldige monsters uit die buitenste ruimte wat alles in hulle pad wreedaardig vernietig het. Sy het aan haar dogtertjies verduidelik dat Jehovah geweld haat en nie gelukkig is wanneer ons na sulke wreedhede kyk nie (Psalm 11:5). Die dogtertjies wat Jehovah wou behaag, het ingestem om eerder te teken en te verf as om televisie te kyk. Hulle aggressiewe gedrag het onmiddellik opgehou, en die atmosfeer in die gesin het verbeter.
Dit is net ’n paar voorbeelde wat toon dat die toepassing van Bybelbeginsels die gesinslewe verbeter. Die Bybel se raad dek allerhande situasies. Dit is betroubaar en het ’n kragtige, positiewe uitwerking op ons (Hebreërs 4:12). Wanneer mense die Bybel bestudeer en opreg probeer toepas wat dit sê, word gesinne versterk, persoonlikhede verbeter en foute vermy. Selfs as net een gesinslid God se raad volg, word dinge beter. Trouens, in alle gebiede van die lewe moet ons God se Woord beskou soos die psalmis wat geskryf het: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—Psalm 119:105.
[Prent op bladsy 5]
Gesinsprobleme is opgelos deur die toepassing van Bybelbeginsels