Aanvaar ander jou raad?
GOEIE raad wat reg gegee word, lewer altyd goeie resultate. Reg? Nee, verkeerd! Selfs uitstekende raad wat deur bekwame raadgewers gegee word, word dikwels geïgnoreer of verwerp.—Spreuke 29:19.
Dit is wat gebeur het toe Jehovah vir Kain, wat sy broer, Abel, begin haat het, raad gegee het (Genesis 4:3-5). Omdat God geweet het watter gevaar dit vir Kain inhou, het hy vir hom gesê: “Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers.”—Genesis 4:6, 7.
Jehovah het sonde dus met ’n roofdier vergelyk wat gewag het om Kain te bespring as hy aangehou het om ’n wrok teen sy broer te koester. (Vergelyk Jakobus 1:14, 15.) Daar was nog tyd vir Kain om sy gesindheid te verander, om ‘goed te doen’ in plaas van ’n rampspoedige weg te volg. Ongelukkig het Kain nie geluister nie. Hy het Jehovah se raad in die wind geslaan en die wrange vrugte van sy dade gepluk.
Sommige mense voel gekrenk oor enige vorm van raad en verwerp dit (Spreuke 1:22-30). Is dit moontlik dat dit die raadgewer se skuld is dat die raad verwerp word? (Job 38:2). Maak jy as raadgewer dit vir ander moeilik om dit te aanvaar? Menslike onvolmaaktheid maak dit ’n wesenlike gevaar. Maar jy kan die moontlikheid dat dit sal gebeur tot ’n minimum beperk as jy Bybelbeginsels noukeurig volg. Kom ons kyk na ’n paar van hierdie beginsels.
‘Help mense reg in ’n gees van sagmoedigheid’
“Broers, selfs al begaan iemand die een of ander misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelike bekwaamhede het so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp, terwyl jy op jouself let, uit vrees dat jy ook versoek kan word” (Galasiërs 6:1). Die apostel Paulus het dus daarop gewys dat diegene met “geestelike bekwaamhede” ’n Christen wat “die een of ander misstap [begaan] voordat hy daarvan bewus is”, moet probeer reghelp. Soms lyk dit of diegene wat die minste bekwaam is om raad te gee dit die graagste doen. Moet derhalwe nie oorhaastig wees om ander raad te gee nie (Spreuke 10:19; Jakobus 1:19; 3:1). Dit is hoofsaaklik die gemeentelike ouer manne wat geestelik bekwaam is om dit te doen. Enige ryp Christen moet ’n broer natuurlik waarsku as hy sien dat hy op gevaar afstuur.
As jy iemand wel raad gee, moet jy seker maak dat wat jy sê op Goddelike wysheid en nie op menslike teorieë en filosofieë gegrond is nie (Kolossense 2:8). Jy moet soos die versigtige kok wees wat seker maak dat enige bestanddele wat hy gebruik gesond en vry van gifstowwe is. Maak seker dat jou raad stewig op God se Woord gegrond is en nie bloot jou persoonlike opinie is nie (2 Timoteus 3:16, 17). As jy dit doen, kan jy seker wees dat jou raad niemand sal benadeel nie.
Die doel van die raad is om die een wat die fout begaan het ‘reg te help’, nie om hom te dwing om te verander nie. Die Griekse woord wat met “reghelp” vertaal word, hou verband met ’n woord wat betrekking het op die spalking van ’n verstuite been om verdere skade te voorkom. Volgens die leksikograaf W. E. Vine dui dit ook op “die noodsaaklikheid van geduld en volharding in die proses”. Stel jou die sorg en vaardigheid voor wat nodig is sodat onnodige fisiese pyn nie veroorsaak word nie. ’n Raadgewer moet eweneens groot sorg aan die dag lê sodat hy nie die een seermaak wat die raad ontvang nie. Dit is moeilik genoeg wanneer iemand raad vra. Wanneer jou raad nie gevra word nie, is selfs groter vaardigheid en takt nodig.
Jy sal beslis niemand “reghelp” as jy hom van jou vervreem nie. As jy dit wil voorkom, moet jy onthou om “die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” te openbaar (Kolossense 3:12). As ’n dokter ongeduldig en onnodig hardhandig is, sal die pasiënt dalk sy raad ignoreer en nooit vir die nodige behandeling terugkom nie.
Dit beteken nie dat raad nie ferm moet wees nie. Jesus Christus was ferm toe hy die sewe gemeentes in die landstreek Asië raad gegee het (Openbaring 1:4; 3:1-22). Hy het hulle uiters reguit raad gegee wat hulle nodig gehad het en moes toepas. Maar Jesus het die liefdevolle gees van sy hemelse Vader weerspieël, en gevolglik was sy fermheid altyd in ewewig met eienskappe soos medelye en goedhartigheid.—Psalm 23:1-6; Johannes 10:7-15.
Aangename raad
“Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen ’n antwoord behoort te gee” (Kolossense 4:6). Sout kan die smaak van kos verbeter, sodat dit lekker proe. As jy wil hê dat jou raad maklik moet wees om te aanvaar, moet dit “aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout”. Maar selfs met die beste bestanddele kan kos onsmaaklik voorberei word of in ’n onaantreklike hoop op ’n bord gegooi word. Dit wek niemand se aptyt nie. Trouens, dit kan moeilik wees om selfs een onsmaaklike mondvol te sluk.
Wanneer ons raad gee, is dit belangrik om die regte woorde te kies. Die wyse man Salomo het gesê: “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek” (Spreuke 25:11). Hy het heel waarskynlik ’n pragtig gegraveerde silwer houer met fyn uitgekerfde goue appels in gedagte gehad. Hoe sal dit die oog tog bekoor, en hoe sal jy dit tog waardeer om dit as ’n geskenk te ontvang! Goedgekose, aangename woorde kan eweneens sterk weerklank vind by iemand wat jy probeer help.—Prediker 12:9, 10.
In teenstelling hiermee ‘laat ’n krenkende woord die toorn opkom’ (Spreuke 15:1). Ondeurdagte woorde kan maklik tot pyn en woede in plaas van dankbaarheid lei. Trouens, dit is nie net ondeurdagte woorde wat kan veroorsaak dat iemand raad verwerp wat op sigself goed is nie, maar ook die verkeerde stemtoon. Wanneer raad op ’n taktlose, ongevoelige manier gegee word, kan dit net so skadelik wees as om iemand met ’n wapen aan te val. “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke”, sê Spreuke 12:18. Waarom dan onverskillige woorde uitspreek en dit vir iemand moeilik maak om na raad te luister?—Spreuke 12:15.
Soos Salomo gesê het, moet raad “op sy tyd” gegee word. Dit is van die allergrootste belang dat raad op die regte tyd gegee moet word as dit sy doel gaan bereik! Dit is voor die hand liggend dat iemand wat sy aptyt verloor het miskien nie kos wil hê nie. Miskien het hy pas tevore ’n groot maaltyd gehad of moontlik is hy siek. Dit is nie verstandig of aanvaarbaar om iemand wat nie wil eet te dwing om te eet nie.
Wees ’n ootmoedige raadgewer
‘Maak dan my vreugde volkome deur niks uit twisgierigheid of uit egotisme te doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself te ag, en nie in persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake te hou nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander’ (Filippense 2:2-4). As jy ’n goeie raadgewer is, sal jy deur “persoonlike belangstelling” in die welsyn van ander beweeg word. Jy sal ook “ootmoed” openbaar wanneer jy met jou geestelike broers en susters te doen kry en hulle hoër as jouself ag. Wat beteken dit?
Ootmoed sal keer dat jy ’n hoë dunk van jouself kry of so ’n gesindheid weerspieël. Geeneen van ons het rede om te dink dat ons beter as ons medegelowiges is nie. Elkeen van ons skiet van tyd tot tyd te kort. Aangesien jy nie die hart kan lees nie, is dit veral belangrik om nie slegte motiewe toe te skryf aan die een vir wie jy raad gee nie. Hy het miskien nie enige verkeerde motiewe nie of is dalk onbewus van enige verkeerde gesindheid of optrede. Selfs as hy tot ’n mate bewus is daarvan dat hy nie God se vereistes nakom nie, sal hy dit ongetwyfeld baie makliker vind om raad te aanvaar as dit in nederigheid en met ’n opregte belangstelling in sy geestelike welsyn gegee word.
Dink net hoe jy sou voel as jy vir ete genooi is, maar jou gasheer behandel jou kil en minagtend! Jy sal die ete beslis nie geniet nie. Ja, “liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby” (Spreuke 15:17). Selfs die beste raad kan eweneens moeilik wees om te aanvaar as dit duidelik is dat die raadgewer nie hou van die een vir wie hy raad gee nie of hom verkleineer en in die verleentheid stel. Maar liefde, wedersydse respek en vertroue sal dit makliker maak om raad te gee en te aanvaar.—Kolossense 3:14.
Raad wat aanvaar is
Die profeet Natan het ootmoed geopenbaar toe hy vir koning Dawid raad gegee het. Liefde en respek vir Dawid was duidelik te bespeur in wat Natan gesê en gedoen het. Natan het met ’n illustrasie begin wat die feit in aanmerking geneem het dat dit moontlik vir Dawid moeilik sou wees om na raad te luister (2 Samuel 12:1-4). Die profeet het ’n beroep gedoen op Dawid se liefde vir geregtigheid en regverdigheid, al het hy dit nie in die voorval met Batseba aan die dag gelê nie (2 Samuel 11:2-27). Toe die punt van die illustrasie duidelik geword het, was Dawid se opregte reaksie: “Ek het gesondig teen die HERE!” (2 Samuel 12:7-13). Anders as Kain wat nie na Jehovah geluister het nie, het Dawid die teregwysing nederig aanvaar.
Jehovah het Natan ongetwyfeld gerig en Dawid se onvolmaaktheid en die feit dat hy moontlik ongunstig kon reageer in ag geneem. Natan het met groot takt te werk gegaan, en dit is duidelik dat hy Dawid as sy meerdere beskou het weens Dawid se posisie as Jehovah se aangestelde koning. As jy in ’n gesagsposisie is, gee jy ander dalk gepaste raad, maar dit kan moeilik wees om dit te aanvaar as jy nie ootmoedig is nie.
Natan het Dawid in ’n gees van sagmoedigheid reggehelp. Die profeet het aangename, weldeurdagte woorde gebruik sodat Dawid op ’n manier kon reageer wat tot sy eie beswil sou wees. Natan is nie deur selfsugtige redes beweeg nie, en hy het ook nie gemaak asof hy sedelik of geestelik beter as Dawid was nie. Wat ’n goeie voorbeeld tog van iemand wat die regte woorde op ’n gepaste wyse gesê het! As jy ’n soortgelyke gees openbaar, is die kanse baie beter dat ander jou raad sal aanvaar.
[Prent op bladsy 22]
Jou raad moet heilsaam wees, soos voedsame kos
[Prent op bladsy 23]
Maak jy jou raad so aantreklik soos goue appels op versierde silwerborde?
[Prent op bladsy 24]
Die profeet Natan het ’n nederige beroep op Dawid se liefde vir geregtigheid en regverdigheid gedoen