Die mondelinge wet—Waarom is dit op skrif gestel?
WAAROM het baie eerste-eeuse Jode Jesus nie as die Messias aanvaar nie? Een ooggetuie berig: “Nadat [Jesus] in die tempel ingegaan het, het die hoofpriesters en die ouer manne van die volk na hom toe gekom terwyl hy geleer het en gesê: ‘Deur watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het jou hierdie gesag gegee?’” (Matteus 21:23). In hulle oë het die Almagtige die Tora (Wet) vir die Joodse nasie gegee, en dit het sekere manne godgegewe gesag gegee. Het Jesus sulke gesag gehad?
Jesus het die grootste respek getoon vir die Tora en ook vir diegene vir wie dit werklik gesag gegee het (Matteus 5:17-20; Lukas 5:14; 17:14). Maar hy het dikwels diegene veroordeel wat die gebooie van God oortree het (Matteus 15:3-9; 23:2-28). Sulke manne het tradisies gevolg wat later as die mondelinge wet bekend gestaan het. Jesus het die gesag daarvan verwerp. Gevolglik het baie hom as die Messias verwerp. Hulle het geglo dat ’n mens slegs God se steun kon geniet as jy die tradisies van diegene in gesagsposisies onder hulle onderhou het.
Waar het hierdie mondelinge wet ontstaan? Hoe het die Jode dit as iets begin beskou wat dieselfde gesag het as die geskrewe Wet wat in die Skrif opgeteken is? En as dit bedoel was om ’n mondelinge tradisie te wees, waarom is dit uiteindelik op skrif gestel?
Waar het die tradisies ontstaan?
Die Israeliete het in 1513 v.G.J. by die berg Sinai in ’n verbondsverhouding met Jehovah God getree. Hulle het deur Moses die verordeninge van daardie verbond ontvang (Exodus 24:3). As hulle hierdie voorskrifte gevolg het, sou dit hulle in staat stel om te ‘toon dat hulle heilig is soos Jehovah hulle God heilig is’ (Levitikus 11:44). Onder die Wetsverbond het die aanbidding van Jehovah offerandes ingesluit wat deur ’n aangewese priesterdom geoffer is. Daar moes ’n sentrale plek van aanbidding wees—wat uiteindelik die tempel in Jerusalem was.—Deuteronomium 12:5-7; 2 Kronieke 6:4-6.
Die Mosaïese Wet het die algemene raamwerk voorsien waarvolgens Israel Jehovah as ’n nasie moes aanbid. Maar party besonderhede is nie duidelik uiteengesit nie. Die Wet het byvoorbeeld werk op die Sabbat verbied, maar dit het nie ’n duidelike onderskeid tussen werk en ander bedrywighede getref nie.—Exodus 20:10.
As Jehovah dit raadsaam geag het om dit te doen, kon hy breedvoerige voorskrifte voorsien het wat elke denkbare kwessie sou dek. Maar hy het mense met ’n gewete geskep, en hy het hulle toegelaat om hom met ’n mate van vryheid binne die raamwerk van sy verordeninge te dien. Die Wet het daarvoor voorsiening gemaak dat regterlike sake deur priesters, Leviete en regters behartig kon word (Deuteronomium 17:8-11). Toe meer sake hanteer is, is sekere presedente geskep, en party van hulle is ongetwyfeld van geslag tot geslag oorgedra. Die maniere waarop daar na priesterlike pligte by Jehovah se tempel omgesien moes word, is ook van vader na seun oorgedra. Namate die nasie se gesamentlike ondervinding vermeerder het, het hulle tradisies ook vermeerder.
Die geskrewe Wet wat vir Moses gegee is, het egter die middelpunt van Israel se aanbidding gebly. Exodus 24:3, 4 sê: “Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe.” (Ons kursiveer.) Dit was ooreenkomstig hierdie geskrewe gebooie wat God sy verbond met die Israeliete gesluit het (Exodus 34:27). Trouens, die Skrif meld nêrens dat ’n mondelinge wet bestaan nie.
“Wie het jou hierdie gesag gegee?”
Dit is duidelik dat die Mosaïese Wet godsdienstige gesag en onderrigting hoofsaaklik aan die priesters, die afstammelinge van Aäron, oorgelaat het (Levitikus 10:8-11; Deuteronomium 24:8; 2 Kronieke 26:16-20; Maleagi 2:7). Maar deur die eeue heen het party priesters ontrou en korrup geword (1 Samuel 2:12-17, 22-29; Jeremia 5:31; Maleagi 2:8, 9). Gedurende die era van Griekse oorheersing het baie priesters ’n kompromis aangegaan wat godsdienskwessies betref. In die tweede eeu v.G.J. het die Fariseërs—’n nuwe groep in Judaïsme wat die priesterdom gewantrou het—tradisies begin instel waarvolgens die gewone mens homself net so heilig soos die priesters kon beskou. Hierdie tradisies het by baie byval gevind, maar dit was ’n onaanvaarbare toevoeging tot die Wet.—Deuteronomium 4:2; 12:32 (13:1 in Joodse uitgawes).
Die Fariseërs het die nuwe kenners van die Wet geword en die werk gedoen wat hulle gemeen het die priesters nie doen nie. Aangesien die Mosaïese Wet nie vir hulle gesag voorsiening gemaak het nie, het hulle nuwe metodes ontwikkel om die Skrif uit te lê deur middel van raaiselagtige sinspelings en deur ander metodes wat hulle beskouings skynbaar gesteun het.a As die hoofbewaarders en -voorstanders van hierdie tradisies het hulle ’n nuwe grondslag vir gesag in Israel geskep. Teen die eerste eeu G.J. het die Fariseërs ’n oorheersende mag in Judaïsme geword.
Terwyl die Fariseërs bestaande mondelinge tradisies bymekaargemaak het en na Skrifverwysings gesoek het wat hulle eie tradisies sou bevestig, het hulle gesien dat dit nodig was om bykomende gesag aan hulle bedrywighede te gee. ’n Nuwe konsep in verband met die oorsprong van hierdie tradisies het ontstaan. Die rabbi’s het die mense begin leer: “Moses het die Tora by Sinai ontvang en dit aan Josua oorgedra, Josua aan die oudstes en die oudstes aan die profete. En die profete het dit aan die manne van die groot byeenkoms oorgedra.”—Avot 1:1, die Misjna.
Met die woorde ‘Moses het die Tora ontvang’, het die rabbi’s nie net na die geskrewe wette verwys nie, maar ook na al hulle mondelinge tradisies. Hulle het beweer dat hierdie tradisies—wat deur mense uitgedink en ontwikkel is—deur God by Sinai aan Moses gegee is. En hulle het geleer dat God dit nie aan mense oorgelaat het om die leemtes te vul nie, maar dat hy dít wat die geskrewe Wet nie gesê het nie mondeling uiteengesit het. Volgens hulle het Moses hierdie mondelinge wet aan die latere geslagte oorgedra, en nie aan die priesters nie, maar aan ander leiers. Die Fariseërs self het beweer dat hulle die natuurlike erfgename van hierdie “ongebroke” ketting van gesag is.
Die Wet beleef ’n krisis—’n nuwe oplossing
Jesus, wie se godgegewe gesag deur die Joodse godsdiensleiers bevraagteken is, het die vernietiging van die tempel voorspel (Matteus 23:37–24:2). Nadat die Romeine die tempel in 70 G.J. vernietig het, kon daar nie meer aan die vereistes van die Mosaïese Wet met betrekking tot offerandes en priesterlike diens voldoen word nie. God het ’n nuwe verbond op grond van Jesus se losprysofferande opgerig (Lukas 22:20). Die Mosaïese Wetsverbond is beëindig.—Hebreërs 8:7-13.
Pleks dat die Fariseërs hierdie gebeure as ’n bewys daarvan beskou het dat Jesus die Messias is, het hulle ’n ander oplossing gevind. Hulle het hulle reeds baie van die gesag van die priesterdom wederregtelik toegeëien. Nadat die tempel vernietig is, kon hulle een stap verder gaan. Die rabbynse akademie by Jawne het die sentrum geword vir ’n gereorganiseerde Sanhedrin—die Joodse hoër hof. Onder die leierskap van Johanan ben Zakkai en Gamaliël II by Jawne, is Judaïsme weer opnuut saamgestel. Die dienste by die sinagoge, wat deur die rabbi’s gelei is, het aanbidding by die tempel waaroor die priesters toesig gehou het, vervang. Gebede, veral dié op die Versoendag, het offerandes vervang. Die Fariseërs het geredeneer dat die mondelinge wet wat by Sinai aan Moses gegee is dit reeds voorspel het en daarvoor voorsiening gemaak het.
Rabbynse akademies het ’n vernamer rol begin speel. Hulle hoofleerplan was intense bespreking, memorisering en toepassing van die mondelinge wet. Voorheen het die grondslag van die mondelinge wet verband gehou met Skrifuitlegging—Midrasj. Nou het hulle die immertoenemende tradisies wat besig was om op te hoop apart begin leer en organiseer. Elke bepaling van die mondelinge wet is verkort tot frases wat maklik gememoriseer kon word en dikwels getoonset is.
Waarom ’n mondelinge wet neerskryf?
Die menigte rabbynse akademies en toenemende rabbynse bepalings het ’n nuwe probleem geskep. Rabbynse geleerde Adin Steinsaltz verduidelik: “Elke onderrigter het sy eie metode gehad en het sy mondelinge bepalings op sy eie manier uitgedruk. . . . Dit was nie meer genoeg om die leringe van ’n mens se eie mentor te ken nie, en die student was verplig om hom op die hoogte te stel van die werk van ander geleerdes . . . Studente was dus verplig om baie inligting te memoriseer weens die geweldige toename in kennis.” Te midde van ’n see van ongeordende inligting is daar hoë eise aan die student se geheue gestel sodat dit tot die uiterste ingespan is.
In die tweede eeu G.J. het die Joodse opstand teen Rome, wat deur Bar Kokhba aangevoer is, tot hewige vervolging van rabbynse geleerdes gelei. Akiba—die vernaamste rabbi, wat Bar Kokhba gesteun het—sowel as baie vooraanstaande geleerdes is doodgemaak. Die rabbi’s het gevrees dat hernieude vervolging die bestaan van hulle mondelinge wet in gevaar kon stel. Hulle het geglo dat dit beter was om tradisies mondeling van meester na dissipel oor te dra, maar hierdie veranderende omstandighede het gelei tot ’n groter poging om ’n georganiseerde struktuur te skep om die leringe van die wysgere te bewaar, uit vrees dat dit dalk vir ewig vergete sou raak.
Gedurende ’n latere tydperk van relatiewe vrede met Rome het Juda Ha-Nasi, die vernaamste rabbi van die laat tweede en vroeë derde eeu G.J., talle geleerdes bymekaargebring en ’n groot aantal mondelinge tradisies geredigeer en ’n georganiseerde stelsel opgestel wat bestaan uit ses Ordes, elk onderverdeel in kleiner verhandelinge—altesaam 63. Hierdie werk het as die Misjna bekend geword. Ephraim Urbach, ’n gesaghebbende op die gebied van die mondelinge wet, sê: “Die Misjna . . . is goedkeuring en gesag verleen soos daar nog nooit aan enige boek behalwe die Tora self verleen is nie.” Die Messias is verwerp, die tempel is vernietig, maar met die mondelinge wet wat op skrif in die vorm van die Misjna bewaar is, het daar ’n nuwe tydperk in Judaïsme begin.
[Voetnote]
a Hierdie styl van Skrifuitlegging word midrasj genoem.
[Prent op bladsy 26]
Waarom het baie Jode Jesus se gesag verwerp?