Silas—’n bron van aanmoediging
VAN vroeg in die Christelike geskiedenis was die werk van getroue reisende opsieners noodsaaklik om die gemeentes van God se volk aan te moedig sowel as om die goeie nuus tot in die mees afgeleë dele van die aarde bekend te maak. Een van die eerste opsieners wat aangestel is, was Silas, ’n profeet en ’n vername lid van die gemeente in Jerusalem. Hy het ’n sleutelrol gespeel in belangrike ontwikkelings in die predikingswerk en was een van die eerste sendelinge wat die evangelie in die Europese gebied verkondig het. Wat het Silas veral bekwaam gemaak om dit alles te doen? En watter navolgenswaardige karaktertrekke het hy gehad?
Die besnydenisgeskil
Toe die kwessie oor die besnydenis, wat moontlik onenigheid kon veroorsaak, ongeveer 49 G.J. ontstaan het, moes die bestuursliggaam in Jerusalem duidelike riglyne aan die Christene stuur om die geskil by te lê. Dit is in hierdie omstandighede wat Silas, wat ook Silvanus genoem is, in die Bybelverslag verskyn. Hy was moontlik een van die besluitnemers wat destyds as ’n gesant van “die apostels en die ouer manne” gekies is, om hulle besluit aan die “broers in Antiogië en Sirië en Silisië” oor te dra. In Antiogië het Silas en Judas (Barsabbas), saam met Barnabas en Paulus, die boodskap oorgedra deur klaarblyklik mondeling te vertel van die gebeure by die vergadering in Jerusalem, die gevolgtrekkings wat gemaak is en die inhoud van die brief. Hulle het “die broers [ook] met baie toesprake aangemoedig en hulle versterk”. Die gelukkige uitkoms was dat die Christene in Antiogië hulle “verheug” het.—Handelinge 15:1-32.
Silas het dus ’n betekenisvolle rol daarin gespeel om hierdie belangrike geskil by te lê. Maar hy het nie ’n maklike toewysing gehad nie. Hulle het nie geweet hoe die gemeente in Antiogië sou reageer op wat daar besluit is nie. “Iemand met baie wysheid en takt was [dus] nodig om te verduidelik wat die apostels in hulle brief geskryf het”, sê een kommentator. Die feit dat Silas vir hierdie moeilike toewysing gekies is, sê vir ons iets omtrent die soort mens wat hy was. Daar kon op hom vertrou word om die bestuursliggaam se riglyne getrou weer te gee. Hy moes ook ’n wyse opsiener gewees het wat ’n versoenende invloed kon uitoefen toe die gemeente deur onenigheid bedreig is.
Reise saam met Paulus
Ons weet nie of Silas ná daardie sending na Jerusalem teruggekeer het nie. In elk geval, nadat daar onenigheid tussen Barnabas en Paulus ontstaan het oor Johannes Markus het Paulus vir Silas, wat toe in Antiogië was, gekies om saam met hom op ’n nuwe reis te gaan wat aanvanklik aangepak is met die doel om die stede te besoek waar Paulus die predikingswerk gedurende sy eerste sendingreis gedoen het.—Handelinge 15:36-41.
Silas is moontlik gekies weens sy positiewe gesindheid teenoor die sending na die nie-Jode en omdat hy as ’n profeet en ’n woordvoerder van die bestuursliggaam deur sy teenwoordigheid gesag sou verleen wanneer hulle die besluite van die bestuursliggaam aan die gelowiges in Sirië en Silisië oorgedra het. Die resultate was uitstekend. Die boek Handelinge sê: “En terwyl hulle deur die stede voortgereis het, het hulle aan diegene wat daar was die verordeninge waartoe die apostels en ouer manne in Jerusalem besluit het, oorgedra om te onderhou. Daarom is die gemeentes inderdaad voortdurend standvastig gemaak in die geloof en het hulle van dag tot dag in getal bly toeneem.”—Handelinge 16:4, 5.
Terwyl die sendelinge hulle reis voortgesit het, het die heilige gees hulle twee keer van hulle voorgenome roete laat afwyk (Handelinge 16:6, 7). Toe hulle in Listra was, het Timoteus by hulle aangesluit, nadat daar onvermelde “voorspellings” oor hom was (1 Timoteus 1:18; 4:14). Deur middel van ’n visioen aan Paulus, wat ook die gawe van profesie gehad het, is die reisgenote opdrag gegee om na Masedonië, in Europa, te seil.—Handelinge 16:9, 10.
Geslaan en opgesluit
In Filippi, “die vernaamste stad van die gebied”, het Silas ’n ontbering deurgemaak wat hom altyd sou bybly. Nadat Paulus ’n waarsêende gees uit ’n diensmeisie gedryf het, het haar eienaars, wat gesien het dat hulle ’n bron van inkomste verloor het, Silas en Paulus voor die stad se magistrate gesleep. Gevolglik is hierdie twee verneder toe hulle in die openbaar as kwaaddoeners voorgestel is en hulle boklere van hulle afgeskeur en hulle in die markplein met stokke geslaan is.—Handelinge 16:12, 16-22.
Sulke slae was nie net ’n verskriklike straf wat die mens se uithouvermoë tot die uiterste getoets het nie, maar in die geval van Paulus en Silas was dit ook onwettig. Waarom? Volgens die Romeinse wet kon geen Romeinse burger geslaan word nie. Paulus was ’n Romeinse burger, en Silas was waarskynlik ook. Nadat hulle “baie slae” toegedien is, is Paulus en Silas in die gevangenis gegooi waar hulle voete in die blok vasgemaak is. Dit was “’n verskriklike instrument”, verduidelik Gustav Stählin, “waarin die gevangenes se bene so wyd as wat verlang is uitmekaar gestrek kon word, en dit is op so ’n manier gedoen dat die gevangene nie kon slaap nie”. En tog “was Paulus en Silas” in die middel van die nag “besig om te bid en God met sang te loof”, hoewel hulle rûe ongetwyfeld vol pynlike wonde was.—Handelinge 16:23-25.
Dit sê vir ons nog iets omtrent Silas se persoonlikheid. Hy was vreugdevol omdat hulle ter wille van Christus se naam gely het (Matteus 5:11, 12; 24:9). Dit was klaarblyklik dieselfde gees wat Silas en sy metgeselle gedurende die vorige sending na Antiogië in staat gestel het om die gemeente met welslae aan te moedig en te versterk, sodat hulle mede-Christene hulle verheug het. Paulus en Silas het hulle ongetwyfeld verder verheug toe hulle wonderdadig deur middel van ’n aardbewing uit die tronk vrygestel is en hulle die tronkbewaarder wat selfmoord wou pleeg, sowel as sy gesin, kon help om geloof in God te beoefen.—Handelinge 16:26-34.
Nie Paulus of Silas is deur die slae en tronkstraf geïntimideer nie. Toe die boodskap ontvang is dat hulle vrygelaat moes word, het hulle geweier om beskaamd uit Filippi te sluip, soos die magistrate verwag het. Hulle het hulle man gestaan teen hierdie arrogante en eiemagtige amptenare en die bordjies verhang. “Hulle het ons onveroordeeld in die openbaar geslaan, manne wat Romeine is, en ons in die gevangenis gegooi; en gooi hulle ons nou in die geheim uit?” het Paulus gevra. “Volstrek nie! maar laat hulle self kom en ons uitbring.” Omdat die magistrate die gevolge van hulle optrede gevrees het, het hulle verplig gevoel om die twee te soebat om uit die stad weg te gaan.—Handelinge 16:35-39.
Nadat hulle sodoende hulle regte as Romeine by die owerheid tuisgebring het, het Paulus en Silas gehoor gegee aan die magistrate se versoek—maar nie voordat hulle van hulle vriende afskeid geneem het nie. In ooreenstemming met wat teen dié tyd ’n kenmerk van die hele predikingsreis was, het Silas en sy metgesel die broers weer eens “aangemoedig” en toe vertrek.—Handelinge 16:40.
Van Masedonië na Babilon
Paulus, Silas en hulle metgeselle is nie ontmoedig deur wat andersins ’n negatiewe ondervinding kon gewees het nie en het verder gegaan na nuwe sendingvelde. In Tessalonika het hulle weer voor moeilikhede te staan gekom. As gevolg van Paulus se sukses in sy bediening gedurende drie Sabbatte het jaloerse teenstanders ’n oproerige skare aangestook, sodat die sendelinge die stad vir hulle eie beswil gedurende die nag moes verlaat. Hulle het toe na Berea gegaan. Toe die teenstanders verneem dat Paulus en sy metgeselle in daardie stad baie sukses behaal, het hulle die hele ent pad van Tessalonika af gekom. Paulus het alleen verder gegaan, terwyl Silas en Timoteus in Berea gebly het om na die groep nuwe belangstellendes om te sien (Handelinge 17:1-15). Silas en Timoteus het in Korinte weer by Paulus aangesluit en goeie nuus en moontlik ’n geskenk van getroue vriende in Masedonië gebring. Dit het die behoeftige apostel ongetwyfeld in staat gestel om op te hou met die sekulêre werk wat hy intussen begin doen het en ywerig die predikingswerk weer voltyds te doen (Handelinge 18:1-5; 2 Korintiërs 11:9). In Korinte word daar ook na Silas en Timoteus verwys as evangeliedienaars en as Paulus se metgeselle. Dit is dus duidelik dat hulle bedrywighede ook nie in daardie stad afgeneem het nie.—2 Korintiërs 1:19.
Daar word aanvaar dat die gebruik van die voornaamwoord “ons” regdeur die briewe aan die Tessalonisense—wat albei gedurende hierdie tydperk in Korinte geskryf is—beteken dat Silas en Timoteus gehelp het om die briewe te skryf. Die idee dat Silas skryfwerk gedoen het, word egter hoofsaaklik gebaseer op wat Petrus oor een van sy eie briewe sê. Petrus sê dat hy sy eerste brief in Babilon “deur Silvanus, ’n getroue broer,” geskryf het (1 Petrus 5:12, 13). Hoewel dit bloot kan beteken dat Silvanus die draer van die brief was, toon die verskil in styl tussen Petrus se twee briewe moontlik dat hy Silas gebruik het om die eerste brief te skryf, maar nie die tweede een nie. Dalk was nog een van Silas se verskeie talente en teokratiese voorregte dus dié van sekretaris.
’n Voorbeeld wat nagevolg kan word
Wanneer ons nadink oor wat ons omtrent Silas weet, is die verslag oor hom indrukwekkend. Hy is ’n uitstekende voorbeeld vir hedendaagse sendelinge en reisende opsieners. Hy het onselfsugtig en ondanks geweldige opofferinge groot afstande afgelê, nie vir materiële gewin of aansien nie, maar om ander te help. Sy doel was om hulle aan te moedig met wyse en taktvolle raad, goed voorbereide en hartlike toesprake sowel as sy ywer in die veldbediening. Ongeag wat jou rol in Jehovah se georganiseerde volk is, as jy eweneens daarna streef om positief te wees—selfs in tye van teëspoed—sal jy ook vir jou medegelowiges ’n bron van aanmoediging wees.
[Kaart op bladsy 29]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Paulus se Tweede Sendingreis
Die Groot See
Antiogië
Derbe
Listra
Ikonium
Troas
Filippi
Amfipolis
Tessalonika
Berea
Atene
Korinte
Efese
Jerusalem
Sesarea
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.