Koninkryksverkondigers berig
Predikingswerk ‘in gunstige tye en in moeilike tye’
TOE oorlog in Bosnië en Herzegowina gewoed het, het duisende mense verskriklike ontberinge verduur. Gedurende daardie moeilike tyd het Jehovah se Getuies alles in hulle vermoë gedoen om die mense aan te moedig en hoop te gee. Hier volg uittreksels uit ’n brief wat geskryf is deur ’n Getuie wat ’n tyd lank in Sarajevo gedien het.
“Die lewe hier is moeilik, maar mense is baie ontvanklik vir Bybelwaarheid. Die plaaslike Getuies is ’n wonderlike voorbeeld van volharding. Hulle het materieel baie min, maar hulle het ’n uitstekende gees. Byna al die jongmense in die gemeente is in die voltydse bediening. Nuwe verkondigers word deur hierdie ywer aangemoedig, en dit is nie ongewoon as hulle van hulle heel eerste maand af in die bediening 60 uur of meer per maand aan die predikingswerk bestee nie.
“Buiten die predikingswerk van huis tot huis het ons mense op verskeie ander maniere probeer bereik. Ons kry byvoorbeeld goeie resultate wanneer ons Bybelpublikasies vir mense in die baie begraafplase in die stad aanbied.
“Ons het ook al vir mense in hospitale getuig. In die Kardiologie-afdeling van ’n hospitaal in Sarajevo het die hoofgeneesheer die Ontwaak! van 8 Desember 1996 geneem met die voorbladreeks ‘Hartaanvalle—Wat kan gedoen word?’ Hy het vir nog eksemplare gevra sodat hy dit vir ander dokters kon gee. Die Getuies is toe toestemming gegee om al die pasiënte in sy afdeling te besoek. Gevolglik is meer as 100 tydskrifte in net meer as ’n uur van bed tot bed versprei. Baie pasiënte het gesê dat dit die eerste keer was dat enigiemand hulle in die hospitaal besoek het om hulle aan te moedig en hoop te gee.
“By ’n ander geleentheid is die Pediatriese afdeling besoek met tydskrifartikels wat gepas is vir kinders. Die hoofgeneesheer het ook ’n paar eksemplare van My boek met Bybelverhale vir die leeskamer geneem. Nou lees moeders wat hulle kinders by die hospitaal besoek elke dag vir hulle Bybelverhale. Reëlings is ook getref om hierdie dokter by haar huis te besoek.
“In Sarajevo is daar duisende soldate van NAVO [Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie] van verskillende nasionaliteite. Daar is ook deeglik vir hulle getuig. Partykeer gaan ons van gepantserde voertuig tot gepantserde voertuig en gebruik die boekie Good News for All Nations saam met Die Wagtoring en Ontwaak! in verskillende tale. Meer as 200 tydskrifte is in die barakke van die Italiaanse troepe versprei. Vreemd genoeg, baie Italiaanse soldate het gesê dat hulle nog nooit voorheen met Jehovah se Getuies gepraat het nie. Wel, ons het uiteindelik in Sarajevo vir hulle getuig.
“Eendag het ’n gepantserde voertuig langs die pad gestaan. Ek het met my sambreel op die voertuig geklop, en ’n soldaat het uitgekom. Ek het hom ’n Wagtoring aangebied met die voorbladtitel: ‘Boodskappers van vrede—Wie is hulle?’ Die soldaat het na my gekyk en gevra: ‘Jy is nie een van Jehovah se Getuies nie, is jy?’ Nadat hy uitgevind het dat ek ’n Getuie is, het hy gesê: ‘Ek glo dit nie; julle is ook hier! Is daar enige plek op aarde waar daar nie Getuies is nie?’”
Die apostel Paulus het ons aangespoor: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig in gunstige tye, in moeilike tye” (2 Timoteus 4:2). Soos hulle medegelowiges regoor die wêreld is dít wat Jehovah se Getuies in Sarajevo doen, selfs van bed tot bed en van gepantserde voertuig tot gepantserde voertuig!