Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 4/15 bl. 4-9
  • Is dit werklik moontlik om vir ewig te lewe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit werklik moontlik om vir ewig te lewe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gemaak om vir ewig te lewe
  • Die begeerte om vir ewig te lewe
  • Wie moet ons vertrou?
  • Is dit werklik God se voorneme?
  • God se voorneme onveranderd
  • Ons kan vir ewig lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Hoe jy vir ewig kan lewe
    Ontwaak!—1995
  • Lewe anderkant die graf—Dit is moontlik!
    Ontwaak!—2008
  • Hoe kan jy vir ewig lewe?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 4/15 bl. 4-9

Is dit werklik moontlik om vir ewig te lewe?

“Leermeester, wat moet ek doen wat goed is om die ewige lewe te kry?”—MATTEUS 19:16.

1. Wat kan van die mens se lewensduur gesê word?

DIE Persiese koning Xerxes I, wat in die Bybel as Ahasveros bekend staan, het voor ’n veldslag in 480 v.G.J. sy troepe geïnspekteer (Ester 1:1, 2). Volgens die Griekse geskiedskrywer Herodotus het die koning gehuil terwyl hy na sy manskappe gekyk het. Waarom? “Dit maak my bedroef”, het Xerxes gesê, “wanneer ek oor die kortstondigheid van die mens se lewe nadink. Want van al hierdie manne sal daar honderd jaar van nou af nie een meer lewe nie.” Jy het waarskynlik ook al opgemerk dat die lewe ontsettend kort is en dat niemand oud en siek wil word en wil sterf nie. Ag, as ons maar net die lewe in ’n toestand van jeugdige gesondheid en geluk kon geniet!—Job 14:1, 2.

2. Watter hoop koester baie mense, en waarom?

2 The New York Times Magazine van 28 September 1997 het interessant genoeg die artikel “Hulle wil lewe” bevat. Dit het ’n navorser aangehaal wat gesê het: “Ek glo werklik dat ons die eerste geslag kan wees wat vir ewig sal lewe”! Jy glo ook miskien dat ewige lewe moontlik is. Jy dink dalk so omdat die Bybel beloof dat ons vir ewig hier op die aarde kan lewe (Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4). Sommige mense glo dat ewige lewe moontlik is, maar om ander redes as wat in die Bybel gevind word. ’n Bespreking van sommige van hierdie redes sal ons help om te besef dat ewige lewe werklik moontlik is.

Gemaak om vir ewig te lewe

3, 4. (a) Waarom glo party dat ons vir ewig behoort te kan lewe? (b) Wat het Dawid gesê oor hoe hy gemaak is?

3 Een rede waarom baie glo dat die mens vir ewig behoort te kan lewe, hou verband met die wonderlike manier waarop ons gemaak is. Ons is byvoorbeeld werklik op ’n wonderbaarlike wyse in ons moeder se baarmoeder gevorm. ’n Vername gesaghebbende op die gebied van veroudering het geskryf: “Nadat die natuur die wonderwerke verrig het wat ons van bevrugting tot geboorte neem en daarna tot geslagsrypheid en volwassenheid, het die natuur verkies om nie die skynbaar eenvoudiger meganisme te ontwerp wat daardie wonderwerke eenvoudig vir ewig kan onderhou nie.” Ja, wanneer ons kyk na die wonderlike manier waarop ons gemaak is, bly die vraag: Waarom moet ons sterf?

4 Die Bybelskrywer Dawid het millenniums gelede oor hierdie einste wonderwerke nagedink, hoewel hy nie in die baarmoeder kon sien soos wetenskaplikes vandag kan doen nie. Dawid het nagedink oor hoe hy gemaak is toe hy, soos hy geskryf het, “in [sy] moeder se skoot geweef” is. Op daardie stadium, sê hy, is ‘sy niere gevorm’. Hy het ook van die vorming van sy “gebeente” vertel toe hy, soos hy gesê het, “in die geheim gemaak is”. Dawid het toe gepraat van “die embrio van my” en oor daardie embrio in sy moeder se baarmoeder gesê: ‘Hulle is almal opgeskrywe.’—Psalm 139:13-16, vgl. NW.

5. Watter wonderwerke vind plaas tydens ons vorming in die baarmoeder?

5 Daar was natuurlik nie ’n letterlike handgeskrewe bloudruk waarvolgens Dawid in sy moeder se baarmoeder gemaak is nie. Maar toe Dawid nagedink het oor hoe sy “niere”, sy “gebeente” en sy ander liggaamsdele gemaak is, het dit vir hom gelyk of hulle volgens ’n plan ontwikkel het—dat alles as ’t ware “opgeskrywe” was. Dit was asof die bevrugte sel in sy moeder ’n groot kamer vol boeke gehad het met uitvoerige instruksies oor hoe om ’n baba te vorm en hierdie ingewikkelde instruksies na elke nuwe sel oorgedra is. Die tydskrif Science World sê derhalwe dit is asof ‘elke sel in ’n ontwikkelende embrio ’n volledige kabinet met bloudrukke het’.

6. Watter bewys is daar dat ons, soos Dawid geskryf het, “wonderbaar gemaak” is?

6 Het jy al ooit nagedink oor hoe wonderlik ons liggaam werk? Die bioloog Jared Diamond het gesê: “Ons vervang die selle wat ons ingewande uitvoer een keer elke paar dae, dié wat die blaas uitvoer een keer elke twee maande en ons rooi bloedselle een keer elke vier maande.” Hy het tot die slotsom gekom: “Die natuur is besig om ons elke dag uitmekaar te haal en weer aanmekaar te sit.” Wat beteken dit nou eintlik? Dit beteken dat ons fisiese liggaam baie jonk bly, ongeag hoeveel jaar ons lewe—of dit nou 8, 80 of selfs 800 is. ’n Wetenskaplike het eenkeer geskat: “Binne ’n jaar sal ongeveer 98 persent van die atome wat nou in ons is deur ander atome vervang wees wat ons deur die lug, voedsel en vloeistowwe inneem.” Ons is inderdaad, soos Dawid gesê het, “wonderbaar gemaak”.—Psalm 139:14, NW.

7. Tot watter slotsom het party gekom na aanleiding van die ontwerp van ons fisiese liggaam?

7 Na aanleiding van die ontwerp van ons fisiese liggaam het ’n gesaghebbende op die gebied van veroudering gesê: “Dit is nie duidelik waarom veroudering plaasvind nie.” Dit lyk werklik asof ons vir ewig behoort te lewe. En dit is waarom mense hierdie doel deur middel van hulle tegnologie probeer bereik. Nie te lank gelede nie het dr. Alvin Silverstein met oortuiging in sy boek Conquest of Death geskryf: “Ons sal die geheim van die lewe ontrafel. Ons sal verstaan . . . hoe ’n mens verouder.” Wat sal die gevolg wees? Hy het voorspel: “Daar sal nie meer ‘ou’ mense wees nie, want die kennis wat dit moontlik sal maak om die dood te oorwin, sal ook ewige jeug meebring.” Klink die gedagte aan ewige lewe so vergesog wanneer ons die moderne wetenskap se ondersoek van die menslike samestelling in ag neem? Daar is ’n ander selfs dwingender rede om te glo dat ewige lewe moontlik is.

Die begeerte om vir ewig te lewe

8, 9. Watter natuurlike begeerte het mense deur die geskiedenis heen gekoester?

8 Het jy al ooit opgemerk dat dit ’n natuurlike menslike begeerte is om vir ewig te wil lewe? ’n Dokter het in ’n Duitse tydskrif geskryf: “Die droom om vir ewig te lewe, is waarskynlik net so oud soos die mens self.” The New Encyclopædia Britannica beskryf die opvattings van sekere eertydse Europeërs en sê: “Waardige mense sal vir ewig in ’n glinsterende kasteel met ’n goue dak woon.” En watter moeite het mense tog al gedoen om daardie inherente begeerte na ewige lewe te bevredig!

9 Meer as 2 000 jaar gelede in China, sê die Encyclopedia Americana, het “keisers sowel as [gewone] mense, onder leiding van Taoïstiese priesters, hulle werk verwaarloos om na die lewenselikser te soek”—’n sogenaamde fontein van jeug. Trouens, mense het deur die geskiedenis heen geglo dat hulle jonk kan bly deur verskillende brousels of selfs sekere water te drink.

10. Wat het mense in hedendaagse tye gedoen om verlengde lewe moontlik te maak?

10 Hedendaagse pogings om die mens se inherente begeerte na ewige lewe te probeer bevredig, is net so merkwaardig. ’n Treffende voorbeeld is die gebruik om iemand wat aan ’n siekte gesterf het te vries. Dit word gedoen in die hoop dat hy êrens in die toekoms weer lewend gemaak sal word wanneer ’n geneesmiddel vir die siekte ontwikkel is. ’n Voorstander van hierdie gebruik, wat krionika genoem word, het geskryf: “As ons optimisme gegrond is en daar uitgevind word hoe om alle skade te genees of te herstel—onder andere die kwale van die ouderdom—sal diegene wat nou ‘sterf’ ’n eindeloos verlengde lewe in die toekoms hê.”

11. Waarom wil mense vir ewig lewe?

11 Waarom, vra jy dalk, is hierdie begeerte na ewige lewe so ’n deel van ons denke? Is dit omdat “[God] die ewigheid in die mens se verstand geplaas” het? (Prediker 3:11, Revised Standard Version). Dit is ’n saak waaroor ons ernstig moet nadink! Dink net: Waarom het ons die inherente begeerte om vir ewig te lewe as dit nie ons Skepper se voorneme is dat hierdie begeerte bevredig moet word nie? En sou dit liefdevol van hom wees om ons met die begeerte te skep om vir ewig te lewe en ons dan te frustreer deur ons nooit toe te laat om daardie begeerte te verwesenlik nie?—Psalm 145:16.

Wie moet ons vertrou?

12. Watter vertroue het sommige mense, maar dink jy dit is gegrond?

12 Waar, of waarin, moet ons ons vertroue stel om ewige lewe te verkry? In die mens se tegnologie van die 20ste of 21ste eeu? Die artikel “Hulle wil lewe” in The New York Times Magazine het gepraat van die “godheid: tegnologie” en van die “geesdrif vir die potensiaal van die tegnologie”. Daar is selfs van een navorser gesê dat hy “houtgerus is in sy vertroue . . . dat genetiese versterkingstegnieke betyds beskikbaar sal word om [ons] te red deur veroudering te stuit of dit dalk om te keer”. Maar die mens se pogings om veroudering te keer of die dood te oorwin, het in werklikheid heeltemal misluk.

13. Hoe toon die ontwerp van ons brein dat ons veronderstel was om vir ewig te lewe?

13 Beteken dit dat daar geen manier is om ewige lewe te verkry nie? Beslis nie! Daar is ’n manier! Die ontwerp van ons wonderlike brein, wat feitlik onbeperkte leervermoë het, behoort ons hiervan te oortuig. Die molekulêre bioloog James Watson het ons brein beskryf as “die ingewikkeldste ding wat ons nog in ons heelal ontdek het”. En die neuroloog Richard Restak het gesê: “Nêrens in die bekende heelal is daar enigiets wat selfs in die minste daarmee ooreenkom nie.” Waarom het ons ’n brein met die vermoë om ’n feitlik onbeperkte hoeveelheid inligting te stoor en te verwerk en ’n liggaam wat ontwerp is om vir ewig te lewe as ons nie veronderstel is om ewige lewe te geniet nie?

14. (a) Tot watter slotsom omtrent menselewe kom ons na aanleiding van wat Bybelskrywers gesê het? (b) Waarom moet ons op God vertrou en nie op mense nie?

14 Wat is dan die enigste redelike, feitelike gevolgtrekking waartoe ons kan kom? Is dit nie dat ons deur ’n almagtige, intelligente Maker ontwerp en geskep is sodat ons vir ewig kan lewe nie? (Job 10:8; Psalm 36:10; 100:3; Maleagi 2:10; Handelinge 17:24, 25). Sal dit dan nie verstandig wees om op die geïnspireerde bevel van die Bybelpsalmis ag te slaan nie: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie”? Waarom moet ons nie op mense vertrou nie? Want dit is soos die psalmis geskryf het: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” Ja, ondanks die mens se potensiaal om vir ewig te lewe, is hulle magteloos wanneer hulle voor die dood te staan kom. Die psalmis kom tot die slotsom: “Welgeluksalig is hy . . . wie se hoop is op die HERE sy God.”—Psalm 146:3-5.

Is dit werklik God se voorneme?

15. Wat toon dat dit God se voorneme is dat ons vir ewig lewe?

15 Maar jy vra dalk: Is dit werklik Jehovah se voorneme dat ons ewige lewe geniet? Ja, dit is! Hierdie belofte word tientalle kere in sy Woord gemaak. “Die gawe wat God gee, is die ewige lewe”, verseker die Bybel ons. God se kneg Johannes het geskryf: “Dít is die belofte wat [God] self aan ons beloof het: die ewige lewe.” Geen wonder nie dat ’n jong man Jesus gevra het: “Leermeester, wat moet ek doen wat goed is om die ewige lewe te kry?” (Romeine 6:23; 1 Johannes 2:25; Matteus 19:16). Trouens, die apostel Paulus het geskryf oor “’n hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, voor langdurige tye beloof het”.—Titus 1:2.

16. In watter sin kon God ewige lewe “voor langdurige tye” beloof het?

16 Wat beteken dit dat God ewige lewe “voor langdurige tye” beloof het? Volgens sommige het die apostel Paulus bedoel dat God besluit het dat mense vir ewig moet lewe nog voordat hy die eerste mensepaar, Adam en Eva, geskep het. Maar as Paulus na ’n tyd verwys het nadat Jehovah mense geskep het en toe hy sy voorneme uitgespreek het, is dit nog steeds duidelik dat God se wil ewige lewe vir mense insluit.

17. Waarom is Adam en Eva uit die tuin van Eden gesit, en waarom is gerubs by die ingang daarvan geplaas?

17 Die Bybel sê dat ‘Jehovah God die boom van die lewe in die tuin van Eden uit die grond laat uitspruit het’. Die rede wat gegee is waarom Adam uit die tuin gesit is, was sodat hy “nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe”—ja, vir ewig lewe nie! Nadat Jehovah Adam en Eva uit die tuin van Eden gesit het, het hy “die gerubs en die vlammende lem van ’n immer draaiende swaard geplaas om die weg na die boom van die lewe te bewaak”.—Genesis 2:9; 3:22-24, vgl. NW.

18. (a) Wat sou dit vir Adam en Eva beteken het as hulle van die boom van die lewe geëet het? (b) Wat het dit voorgestel om van daardie boom te eet?

18 Wat sou dit vir Adam en Eva beteken het as hulle toegelaat is om van daardie boom van die lewe te eet? Die voorreg om vir ewig in die Paradys te lewe! Een Bybelkommentator het gespekuleer: “Die boom van die lewe moes een of ander krag gehad het waardeur die menseliggaam gevrywaar sou word teen die verval wat met die ouderdom gepaardgaan of die agteruitgang wat in die dood eindig.” Hy het selfs beweer dat “daar kruie in die paradys was wat die gevolge [van veroudering] kon teëwerk”. Maar die Bybel sê nie dat die boom van die lewe op sigself lewegewende eienskappe gehad het nie. Nee, daardie boom het eenvoudig God se waarborg van ewige lewe voorgestel aan die een wat toegelaat sou word om die vrugte daarvan te eet.—Openbaring 2:7.

God se voorneme onveranderd

19. Waarom het Adam gesterf, en waarom sterf ons, sy nakomelinge, ook?

19 Toe Adam gesondig het, het hy die reg op ewige lewe vir homself en vir al sy ongebore nakomelinge verloor (Genesis 2:17). Toe hy as gevolg van sy ongehoorsaamheid ’n sondaar geword het, het hy onvolmaak geword. Van daardie tyd af was Adam se liggaam as ’t ware geprogrammeer om te sterf. Soos die Bybel sê: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Romeine 6:23). Daarbenewens was die onvolmaakte nakomelinge van Adam ook geprogrammeer om te sterf, nie om vir ewig te lewe nie. Die Bybel verduidelik: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het.’—Romeine 5:12.

20. Wat toon dat mense veronderstel was om vir ewig op aarde te lewe?

20 Maar sê nou Adam het nie gesondig nie? Sê nou hy was nie ongehoorsaam aan God nie en hy is toestemming gegee om van die boom van die lewe te eet? Waar sou hy God se gawe van ewige lewe geniet het? In die hemel? Nee! God het niks gesê wat aandui dat Adam hemel toe geneem sou word nie. Sy werkstoewysing was hier op aarde. Die Bybel verduidelik dat “die HERE God . . . allerhande bome uit die grond laat uitspruit [het], begeerlik om te sien en goed om van te eet”, en dit sê: “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak” (Genesis 2:9, 15). Nadat Eva as ’n metgesel vir Adam geskep is, is hulle twee bykomende werkstoewysings hier op die aarde gegee. God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”—Genesis 1:28.

21. Watter wonderlike vooruitsigte het die eerste mense gehad?

21 Dink aan die wonderlike aardse vooruitsigte wat daardie instruksies van God vir Adam en Eva moontlik gemaak het! Hulle moes seuns en dogters met volmaakte gesondheid in die aardse Paradys grootmaak. Namate hulle geliefde kinders ouer geword het, sou hulle ook vrugbaar gewees het en die aangename taak gehad het om daardie Paradys in stand te hou. Aangesien hulle oor al die diere sou heers, sou hulle lewe baie bevredigend gewees het. Dink aan die vreugde wat hulle daaruit sou put om die tuin van Eden uit te brei sodat die hele aarde uiteindelik ’n paradys sou wees! Sou jy die lewe met volmaakte kinders in so ’n pragtige aardse tuiste geniet, sonder enige bekommernis oor veroudering en die dood? Laat die natuurlike impulse van jou hart daardie vraag beantwoord.

22. Waarom kan ons seker wees dat God nie sy voorneme met die aarde verander het nie?

22 Wel, het God sy voorneme dat die mens vir ewig in die Paradys op aarde moet lewe, verander toe Adam en Eva ongehoorsaam was en uit die tuin van Eden gesit is? Hoegenaamd nie! As God dit gedoen het, sou hy in werklikheid erken het dat hy nie die vermoë het om sy oorspronklike voorneme uit te voer nie. Ons kan seker wees dat God wel doen wat hy beloof, soos hy self verklaar: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jesaja 55:11.

23. (a) Wat herbevestig dat dit God se voorneme is dat regverdiggesinde mense vir ewig op die aarde lewe? (b) Wat sal ons volgende bespreek?

23 Dat God se voorneme met die aarde nie verander het nie, kan duidelik in die Bybel gesien word, waar God beloof: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Selfs Jesus Christus het in sy Bergpredikasie gesê dat die saggeaardes die aarde sal beërf (Psalm 37:29; Matteus 5:5). Maar hoe kan ons ewige lewe verkry, en wat moet ons doen om sulke lewe te geniet? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Waarom glo baie dat ewige lewe moontlik is?

◻ Wat behoort ons daarvan te oortuig dat ons veronderstel is om vir ewig te lewe?

◻ Wat was God se oorspronklike voorneme met die mens en die aarde?

◻ Waarom kan ons seker wees dat God sy oorspronklike voorneme sal vervul?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel