Hulle het Jehovah se wil gedoen
Paulus seëvier oor teëspoed
PAULUS is in ’n wanhopige situasie. Hy en 275 ander is aan boord van ’n vaartuig wat vasgevang is in Eurakilon—die sterkste stormwind op die Middellandse See. Die storm is so erg dat die son bedags nie gesien kan word nie en snags ook nie die sterre nie. Dit is verstaanbaar dat die passasiers vrees vir hulle lewe. Maar Paulus vertroos hulle deur vir hulle te vertel wat God in ’n droom aan hom geopenbaar het: “Geen siel van julle sal verlore gaan nie, net die boot.”—Handelinge 27:14, 20-22.
Op die 14de nag van die storm ontdek die matrose iets verbasends—die water is net 20 vaam diep.a Ná ’n kort afstand meet hulle weer die diepte. Hierdie keer is die water 15 vaam diep. Land is naby! Maar hierdie goeie nuus het ’n ontstellende implikasie. Omdat die skip in die nag heen en weer geslinger word in die vlak water, kan dit teen rotse stukkend geslaan en vernietig word. Die matrose laat die ankers wyslik sak. Party van hulle wil die sloep laat sak en daarop klim om dit op see te waag.b Maar Paulus keer hulle. Hy sê vir die leëroffisier en die soldate: “As hierdie manne nie in die boot bly nie, kan julle nie gered word nie.” Die offisier luister na Paulus, en nou wag al 276 passasiers angstig vir dagbreek.—Handelinge 27:27-32.
Hulle ly skipbreuk
Die volgende oggend sien die skip se passasiers ’n baai met ’n strand. Met hernieude hoop kap die matrose die ankers los en hys die voorseil voor die wind. Die skip begin na die strand toe beweeg—ongetwyfeld te midde van uitroepe van vreugde.—Handelinge 27:39, 40.
Maar skielik sit die skip op ’n sandbank vas. En nog erger, hewige golwe slaan teen die skip se agterstewe en slaan dit uitmekaar. Alle passasiers sal die skip moet verlaat! (Handelinge 27:41). Maar dit skep ’n probleem. Baie van diegene aan boord—waaronder Paulus—is gevangenes. Onder die Romeinse wet moet ’n wag wat toelaat dat sy gevangene ontsnap die straf ondergaan wat sy gevangene sou gekry het. As ’n moordenaar byvoorbeeld ontsnap het, moes die nalatige wag met sy lewe boet.
Die soldate vrees sulke gevolge en besluit om al die gevangenes dood te maak. Die leëroffisier, wat Paulus goedgesind is, tree egter tussenbeide. Hy beveel almal wat kan swem om in die water te spring en na die land te swem. Diegene wat nie kan swem nie, moet aan planke en ander voorwerpe van die boot vashou. Een vir een kruip die passasiers van die gedoemde skip op die strand uit. Net soos Paulus gesê het, het nie een van hulle hulle lewe verloor nie!—Handelinge 27:42-44.
Wonderwerk op Malta
Die uitgeputte groep vind skuiling op ’n eiland wat Malta genoem word. Die inwoners is “vreemdtalige mense”, letterlik “barbare” (Grieks, barʹba·ros).c Maar die Maltese mense is nie wreedaards nie. Daarenteen berig Lukas, ’n reisgenoot van Paulus, dat hulle “buitengewone mensliewendheid aan ons betoon [het], want hulle het ’n vuur aangesteek en ons almal op hulpvaardige wyse ontvang weens die reën wat geval het en weens die koue”. Paulus self sluit by die inboorlinge van Malta aan om hout te versamel en op die vuur te sit.—Handelinge 28:1-3, voetnoot in naslaanuitgawe.
Skielik het ’n adder aan Paulus se hand vasgebyt! Die eilanders neem aan dat Paulus ’n moordenaar moet wees. Hulle dink waarskynlik dat God sondaars straf deur die deel van hulle liggaam aan te val waarmee die sonde gepleeg is. Maar kyk! Tot die inboorlinge se groot verbasing skud Paulus die adder in die vuur af. Soos Lukas se ooggetuieverslag sê: “Hulle het verwag dat [Paulus] sou opswel weens ontsteking of skielik dood sou neerval.” Die eilanders verander van mening en begin sê dat Paulus ’n god moet wees.—Handelinge 28:3-6.
Paulus bring die volgende drie maande in Malta deur, waartydens hy die vader van Publius, die vernaamste man van die eiland, wat Paulus gasvry ontvang het, en ander wat aan siektes gely het, gesond maak. Daarbenewens saai Paulus saadjies van waarheid, wat tot baie seëninge vir die gasvrye bewoners van Malta lei.—Handelinge 28:7-11.
’n Les vir ons
Gedurende Paulus se bediening het hy voor baie uitdagings te staan gekom (2 Korintiërs 11:23-27). In die bogenoemde verslag was hy ’n gevangene ter wille van die goeie nuus. Toe moes hy onverwagse ontberinge deurmaak: ’n kwaai storm en gevolglike skipbreuk. Deur dit alles heen het Paulus altyd vasberade gebly om ’n ywerige prediker van die goeie nuus te wees. Uit ondervinding het hy geskryf: “In alle omstandighede het ek die geheim geleer van wat dit is om versadig te wees sowel as wat dit is om honger te wees, wat dit is om oorvloed te hê sowel as wat dit is om gebrek te ly. Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:12, 13.
Die lewe se probleme moet nooit ons besluit ondermyn om ywerige bedienaars van die ware God te wees nie! Wanneer ’n onverwagte beproewing ontstaan, werp ons ons sorg op Jehovah (Psalm 55:23). Dan wag ons geduldig om te sien hoe hy dit vir ons moontlik maak om die toets te verduur. Intussen hou ons aan om hom getrou te dien, vol vertroue dat hy besorg is oor ons (1 Korintiërs 10:13; 1 Petrus 5:7). Deur standvastig te bly, ongeag wat gebeur, kan ons—soos Paulus—oor teëspoed seëvier.
[Voetnote]
a Daar word oor die algemeen gemeen dat ’n vaam vier el, of ongeveer 1,8 meter, is.
b Die sloep was ’n klein bootjie wat gebruik is om by die strand te kom wanneer ’n skip naby ’n kus geanker is. Blykbaar wou die matrose hulle eie lewe probeer red ten koste van diegene wat agtergebly het, wat glad nie daarin bedrewe was om ’n skip te beheer nie.
c Wilfred Funk se Word Origins sê: “Die Grieke het ander tale geminag en gesê dat dit soos ‘bar-bar’ klink, en hulle het enigiemand wat dit gepraat het barbaros genoem.”