Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 5/15 bl. 10-15
  • Ons is verheug dat Jehovah ons sy weg wys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons is verheug dat Jehovah ons sy weg wys
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah wys ons die weg
  • Party het in Jehovah se weg gewandel
  • Waarom party Jehovah se weg verlaat het
  • Agas se slegte voorbeeld
  • Die Jode wat saam met Jeremia in Egipte was
  • Jehovah seën diegene wat in sy weg wandel
  • Vertrou op Jehovah tydens teenstand
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Die universele hofsaak waarby jy betrokke is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Getuies teen die valse gode
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Jehovah se besluite teen die nasies
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 5/15 bl. 10-15

Ons is verheug dat Jehovah ons sy weg wys

“Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter.”—2 SAMUEL 22:31.

1, 2. (a) Waaraan het alle mense ’n inherente behoefte? (b) Wie se voorbeeld kan ons gerus navolg?

ALLE mense het ’n inherente behoefte aan leiding. Trouens, ons het hulp nodig om ons weg deur die lewe te baan. Jehovah het ons weliswaar ’n mate van intelligensie en ’n gewete gegee om ons te help sodat ons tussen reg en verkeerd kan onderskei. Maar ons gewete moet opgelei word om ’n betroubare gids te wees (Hebreërs 5:14). En ons verstand het juiste inligting nodig—sowel as opleiding om daardie inligting reg te beoordeel—as ons goeie besluite wil neem (Spreuke 2:1-5). Selfs dan werk ons besluite dalk nie uit soos ons wou hê nie omdat die lewe so onseker is (Prediker 9:11). Ons het in onsself geen betroubare manier om vas te stel wat die toekoms inhou nie.

2 Om hierdie en baie ander redes het die profeet Jeremia geskryf: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Jesus Christus, die grootste mens wat nog geleef het, het leiding aanvaar. Hy het gesê: “Die Seun kan nie ’n enkele ding op eie inisiatief doen nie, maar net wat hy die Vader sien doen. Want alles wat daardie Een doen, dít doen die Seun ook net so” (Johannes 5:19). Hoe wys is dit tog om Jesus na te volg en op Jehovah te vertrou vir hulp om ons voetstappe te rig! Koning Dawid het gesing: “Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is ’n skild vir almal wat by Hom skuil” (2 Samuel 22:31). As ons in Jehovah se weg probeer wandel en nie ons eie wysheid volg nie, sal ons volmaakte leiding hê. As ons God se weg verwerp, het dit rampspoedige gevolge.

Jehovah wys ons die weg

3. Hoe het Jehovah Adam en Eva gelei, en watter vooruitsigte het hy hulle gebied?

3 Beskou die geval van Adam en Eva. Al was hulle sonder sonde, het hulle leiding nodig gehad. Jehovah het Adam nie aan homself oorgelaat om alles in die pragtige tuin van Eden self te beplan nie. God het hom eerder werk gegee om te doen. Eerstens moes Adam die diere name gee. Toe het Jehovah aan Adam en Eva langtermyndoelwitte gegee. Hulle moes die aarde onderwerp, dit met hulle nakomelinge vul en na die aarde se diere omsien (Genesis 1:28). Dit sou ’n reusetaak wees, maar die eindresultaat sou ’n wêreldwye paradys wees, gevul met ’n volmaakte mensegesin wat in eenheid met die diereskepping leef. Wat ’n wonderlike vooruitsig tog! En terwyl Adam en Eva getrou in Jehovah se weg gewandel het, sou hulle met hom kon kommunikeer. (Vergelyk Genesis 3:8.) Wat ’n wonderlike voorreg—om ’n blywende, persoonlike verhouding met die Skepper te hê!

4. Hoe het Adam en Eva ’n gebrek aan vertroue en lojaliteit getoon, en met watter rampspoedige gevolge?

4 Jehovah het die eerste mensepaar verbied om van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet wat in Eden was, en dit het hulle onmiddellik die geleentheid gegee om hulle gehoorsaamheid—hulle begeerte om in Jehovah se weg te wandel—te betoon (Genesis 2:17). Hulle gehoorsaamheid is egter kort voor lank op die proef gestel. Toe Satan hulle met sy bedrieglike woorde genader het, moes Adam en Eva lojaliteit teenoor Jehovah en vertroue in Sy beloftes getoon het om gehoorsaam aan hom te bly. Ongelukkig het hulle ’n gebrek aan lojaliteit en vertroue gehad. Toe Satan Eva onafhanklikheid aangebied en Jehovah valslik van leuens beskuldig het, is sy bedrieg en was sy ongehoorsaam aan God. Adam het daarna saam met haar gesondig (Genesis 3:1-6; 1 Timoteus 2:14). Hulle het sodoende ontsaglik baie verbeur. As hulle in Jehovah se weg bly wandel het, sou hulle vreugde toegeneem het namate hulle sy wil progressief volbring het. In plaas daarvan was hulle lewe gevul met teleurstelling en pyn totdat hulle uiteindelik gesterf het.—Genesis 3:16-19; 5:1-5.

5. Wat is Jehovah se voorneme vir die toekoms, en hoe help hy getroue mense om die vervulling daarvan te sien?

5 Maar Jehovah het nie sy voorneme verander dat die aarde eendag ’n paradystuiste vir volmaakte, sondelose mense sal wees nie (Psalm 37:11, 29). En hy het nog nooit nagelaat om volmaakte leiding te gee aan diegene wat in sy weg wandel en na die vervulling van daardie belofte uitsien nie. Vir dié van ons wat ore het om te hoor, sê Jehovah se stem agter ons: “Dit is die weg, wandel daarop!”—Jesaja 30:21.

Party het in Jehovah se weg gewandel

6. Watter twee manne van die ou tyd het in Jehovah se weg gewandel, en met watter resultaat?

6 Volgens die Bybelverslag het slegs ’n minderheid van Adam en Eva se nageslag in Jehovah se weg gewandel. Abel was die eerste een. Hoewel hy ’n ontydige dood gesterf het, het hy in Jehovah se guns gesterf en het hy gevolglik die gewisse hoop om die “opstanding van die regverdiges” op God se bestemde tyd te ontvang (Handelinge 24:15). Hy sal die uiteindelike vervulling van Jehovah se grootse voorneme met die aarde en die mensdom sien (Hebreërs 11:4). Nóg iemand wat in Jehovah se weg gewandel het, was Henog, wie se profesie oor die finale einde van hierdie stelsel van dinge in die boek Judas bewaar is (Judas 14, 15). Henog het ook ’n vroeë dood gesterf (Genesis 5:21-24). Nogtans “het hy die getuienis gehad dat hy vir God welbehaaglik was” (Hebreërs 11:5). Toe hy die aardse toneel verlaat het, het hy, soos Abel, die vaste hoop op ’n opstanding gehad, en hy sal onder diegene wees wat Jehovah se voornemens vervul sal sien.

7. Hoe het Noag en sy gesin lojaliteit teenoor Jehovah en vertroue in hom getoon?

7 Namate die wêreld voor die Vloed al hoe goddeloser geword het, het gehoorsaamheid aan Jehovah al hoe meer ’n toets van lojaliteit geword. Teen die einde van daardie wêreld was daar net een groepie wat in Jehovah se weg gewandel het. Noag en sy gesin het na God geluister en vertroue gestel in wat hy gesê het. Hulle het die take wat aan hulle opgedra is getrou uitgevoer en geweier om deel te word van die bose gebruike van die wêreld van daardie tyd (Genesis 6:5-7, 13-16; Hebreërs 11:7; 2 Petrus 2:5). Ons kan dankbaar wees vir hulle lojaliteit, vertroue en gehoorsaamheid. Sodoende het hulle die Vloed oorleef en ons voorouers geword.—Genesis 6:22; 1 Petrus 3:20.

8. Wat moes die nasie Israel doen om in God se weg te wandel?

8 Mettertyd het Jehovah ’n verbond met die afstammelinge van die getroue Jakob gesluit, en hulle het sy spesiale volk geword (Exodus 19:5, 6). Jehovah het sy verbondsvolk deur middel van ’n geskrewe Wet, ’n priesterdom en voortdurende profetiese riglyne gelei. Maar dit het van die Israeliete afgehang of hulle daardie leiding sou volg of nie. Jehovah het deur sy profeet vir die Israeliete gesê: “Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor—die seën as julle luister na die gebooie van die HERE julle God wat ek julle vandag beveel; en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die HERE julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie.”—Deuteronomium 11:26-28.

Waarom party Jehovah se weg verlaat het

9, 10. Weens watter situasie moes die Israeliete op Jehovah vertrou en lojaliteit teenoor hom beoefen?

9 Soos met Adam en Eva die geval was, moes die Israeliete op Jehovah vertrou en lojaal aan hom wees as hulle gehoorsaam wou bly. Israel was ’n klein nasie wat deur strydlustige buurnasies omring is. In die suidweste was Egipte en Etiopië. In die noordooste was Sirië en Assirië. Reg langs Israel was Filistea, Ammon, Moab en Edom. Hulle almal was op die een of ander stadium vyande van Israel. Daarbenewens het hulle almal valse godsdiens beoefen, wat gekenmerk is deur die aanbidding van afgode, sterrewiggelary en in sommige gevalle afstootlike seksuele ritusse en wrede kinderofferandes. Israel se buurnasies het op hulle gode vertrou vir groot gesinne, goeie oeste en oorwinning in oorloë.

10 Net Israel het een God, Jehovah, aanbid. Hy het beloof om hulle met groot gesinne, ryk oeste en beskerming teen hulle vyande te seën mits hulle sy wette gehoorsaam (Deuteronomium 28:1-14). Ongelukkig het baie in Israel dit nie gedoen nie. Onder dié wat wel in Jehovah se weg gewandel het, was daar baie wat weens hulle lojaliteit gely het. Party is selfs gemartel, bespot, gegesel, in gevangenisse gesit, gestenig en deur mede-Israeliete doodgemaak (Handelinge 7:51, 52; Hebreërs 11:35-38). Wat ’n toets moes dit tog vir die getroues gewees het! Maar waarom het soveel van Jehovah se weg afgedwaal? Twee voorbeelde uit Israel se geskiedenis help ons om hulle verkeerde denke te sien.

Agas se slegte voorbeeld

11, 12. (a) Wat het Agas geweier om te doen toe hy deur Sirië bedreig is? (b) Tot watter twee bronne het Agas hom vir beskerming gewend?

11 Agas het in die agtste eeu v.G.J. oor die suidelike koninkryk van Juda geheers. Sy heerskappy was nie vreedsaam nie. By een geleentheid het Sirië en die noordelike koninkryk van Israel oorlog teen hom verklaar en “sy hart en die hart van sy volk [het] gebewe” (Jesaja 7:1, 2). Maar toe Jehovah aangebied het om Agas te help en hom genooi het om hom op die proef te stel, het Agas botweg geweier! (Jesaja 7:10-12). Gevolglik het Juda die oorlog verloor, en baie het gesneuwel.—2 Kronieke 28:1-8.

12 Hoewel Agas geweier het om Jehovah op die proef te stel, het hy nie geskroom om die hulp van die koning van Assirië in te roep nie. Maar Juda is nog steeds deur sy buurnasies oorwin. Toe Assirië ook teen Agas gedraai het en “hom in benoudheid gebring” het, het die koning begin offer “aan die gode van Damaskus wat hom verslaan het; en hy het gedink: Die gode van die konings van Aram [Sirië] help hulle; ek sal aan húlle offer, dat hulle my kan help!”—2 Kronieke 28:20, 23.

13. Wat het Agas getoon toe hy hom tot Sirië se gode gewend het?

13 Op ’n later stadium het Jehovah aan Israel gesê: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan. Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see” (Jesaja 48:17, 18). Toe Agas hom tot die gode van Sirië gewend het, het hy getoon hoe ver hy afgewyk het van ‘die weg wat hy moes gaan’. Hy is heeltemal mislei deur die denke van die nasies en het op hulle valse bronne van beskerming vertrou in plaas van op Jehovah.

14. Waarom het Agas geen verskoning gehad toe hy hom tot valse gode gewend het nie?

14 Die gode van die nasies, dié van Sirië inkluis, is lank reeds as “waardelose gode” aan die kaak gestel (Jesaja 2:8, NW). Vroeër, tydens die heerskappy van koning Dawid, is Jehovah se verhewenheid bo Sirië se gode duidelik gesien toe die Siriërs Dawid se knegte geword het (1 Kronieke 18:5, 6). Slegs Jehovah, “die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God”, kan ware beskerming bied (Deuteronomium 10:17). Agas het egter sy rug na Jehovah gekeer en hom tot die gode van die nasies gewend vir beskerming. Die gevolg was rampspoedig vir Juda.—2 Kronieke 28:24, 25.

Die Jode wat saam met Jeremia in Egipte was

15. Hoe het die Jode in Egipte in Jeremia se dag gesondig?

15 Omdat sy volk so uiters dislojaal was, het Jehovah die Babiloniërs toegelaat om Jerusalem en sy tempel in 607 v.G.J. te vernietig. Byna die hele volk is in ballingskap na Babilon weggevoer. Maar sommige is agtergelaat, onder andere die profeet Jeremia. Toe goewerneur Gedalja vermoor is, het hierdie groep na Egipte gevlug en Jeremia saam met hulle geneem (2 Konings 25:22-26; Jeremia 43:5-7). Daar het hulle offerandes aan valse gode begin bring. Jeremia het die ontroue Jode streng berispe, maar hulle was hardkoppig. Hulle het geweier om hulle tot Jehovah te wend en nadruklik verklaar dat hulle sou voortgaan om rook vir die “hemelkoningin” te laat opgaan. Waarom? Omdat hulle en hulle voorvaders dit gedoen het ‘in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem toe hulle met brood versadig is en gelukkig was, en hulle geen onheil gesien het nie’ (Jeremia 44:16, 17). Die Jode het ook beweer: “Vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en die hongersnood omgekom.”—Jeremia 44:18.

16. Waarom was die denkwyse van die Jode in Egipte heeltemal verkeerd?

16 Hoe maklik kan die geheue ’n mens tog in die steek laat! Wat was die ware toedrag van sake? Die Jode het inderdaad offerandes aan valse gode gebring in die land wat Jehovah hulle gegee het. Soms, soos in die tyd van Agas, het hulle weens daardie afvalligheid gely. Maar Jehovah was “lankmoedig” met sy verbondsvolk (Exodus 34:6; Psalm 86:15). Hy het sy profete gestuur om hulle tot berou aan te spoor. By tye, wanneer die koning getrou was, het Jehovah hom geseën, en die volk het by daardie seëning baat gevind, al was die meeste van hulle ontrou (2 Kronieke 20:29-33; 27:1-6). Hoe verkeerd was daardie Jode in Egipte tog wat beweer het dat die voorspoed wat hulle in hulle vaderland geniet het aan hulle valse gode te danke was!

17. Waarom het Juda hulle land en tempel verloor?

17 Voor 607 v.G.J. het Jehovah die volk Juda aangespoor: “Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan” (Jeremia 7:23). Die Jode het hulle tempel en hulle land verloor juis omdat hulle geweier het om te wandel ‘in die weg wat Jehovah hulle beveel het’. Laat ons daardie rampspoedige fout vermy.

Jehovah seën diegene wat in sy weg wandel

18. Wat moet diegene doen wat in Jehovah se weg wandel?

18 Om in Jehovah se weg te wandel, vereis vandag, soos in die verlede, lojaliteit—’n vasbeslotenheid om hom alleen te dien. Dit vereis vertroue—onwrikbare geloof dat Jehovah se beloftes betroubaar is en vervul sal word. Om in Jehovah se weg te wandel, vereis gehoorsaamheid—dat ons nie van sy wette afwyk nie en dat ons sy hoë standaarde handhaaf. “Die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief.”—Psalm 11:7.

19. Watter gode aanbid baie mense vandag, en met watter gevolge?

19 Agas het op die gode van Sirië vertrou vir beskerming. Die Israeliete in Egipte het gehoop dat die “hemelkoningin”, ’n godin wat oor die algemeen in die eertydse Midde-Ooste aanbid is, vir hulle materiële voorspoed sou gee. Vandag is baie van die gode nie letterlike afgode nie. Jesus het gewaarsku teen die gevaar om “Rykdom” in plaas van Jehovah te dien (Matteus 6:24). Die apostel Paulus het gepraat van “hebsug, wat afgodery is” (Kolossense 3:5). Hy het ook gepraat van diegene wie se ‘god hulle buik is’ (Filippense 3:19). Ja, geld en materiële dinge is van die vernaamste gode wat vandag aanbid word. In werklikheid vestig die meeste mense—waaronder baie wat wel ’n godsdiens het—‘hulle hoop op onsekere rykdom’ (1 Timoteus 6:17). Talle werk baie hard om hierdie gode te dien, en party word beloon—hulle woon in pragtige huise, besit duur artikels en geniet heerlike etes. Maar nie almal geniet hierdie weelde nie. En selfs dié wat dit geniet, vind uiteindelik dat hierdie dinge op sigself nie bevredigend is nie. Dit is onbetroubaar, tydelik en voorsien nie in ’n mens se geestelike behoeftes nie.—Matteus 5:3.

20. Watter balans moet ons handhaaf?

20 Ons moet weliswaar prakties wees terwyl ons deur die laaste dae van hierdie stelsel van dinge lewe. Ons moet redelike maatreëls tref om op materiële gebied vir ons gesin te sorg. Maar as ons groter waarde heg aan ’n hoë lewenstandaard, die najaging van geld of soortgelyke dinge as aan ons diens aan God, het ons in ’n vorm van afgodediens verval en wandel ons nie meer in Jehovah se weg nie (1 Timoteus 6:9, 10). Maar sê nou ons kom voor gesondheids-, geldelike of ander probleme te staan? Laat ons nie soos daardie Jode in Egipte wees wat hulle probleme toegeskryf het aan die feit dat hulle God dien nie. Laat ons Jehovah eerder op die proef stel, iets wat Agas nie gedoen het nie. Laat ons ons lojaal tot Jehovah God wend vir leiding. Volg sy leiding met vertroue en bid om krag en wysheid om elke situasie die hoof te bied. Wag dan vol vertroue op Jehovah se seën.

21. Watter seëninge ontvang diegene wat in Jehovah se weg wandel?

21 Deur Israel se hele geskiedenis heen het Jehovah diegene wat in sy weg gewandel het ryklik geseën. Koning Dawid het gesing: “HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil” (Psalm 5:9). Jehovah het hom militêre oorwinnings gegee oor sy buurlande, en later het hulle Agas geteister. Onder Salomo was Israel geseën met die vrede en voorspoed waarna die Jode in Egipte later gesmag het. Aan Agas se seun Hiskia het Jehovah selfs oorwinning oor die magtige Assirië gegee (Jesaja 59:1). Ja, Jehovah se hand was nie kort om sy lojale knegte te help wat nie “op die weg van die sondaars” gestaan het nie, maar wie se behae in die wet van God was (Psalm 1:1, 2). Dieselfde is nog altyd waar. Maar hoe kan ons vandag daarvan seker wees dat ons in Jehovah se weg wandel? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

Onthou jy?

◻ Watter eienskappe is noodsaaklik as ons in Jehovah se weg wil wandel?

◻ Waarom was Agas se denke verkeerd?

◻ Wat was fout met die denkwyse van die Jode in Egipte?

◻ Hoe kan ons ons vasbeslotenheid versterk om in Jehovah se weg te wandel?

[Prent op bladsy 13]

Agas het op Sirië se gode vertrou in plaas van op Jehovah

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel