Die universele hofsaak waarby jy betrokke is
“Bring julle regsaak voor, sê die HERE; bring julle bewysgronde aan.”—JESAJA 41:21.
1, 2. (a) Wie is betrokke by die belangrikste hofsaak wat nog ooit beredeneer is? (b) Wat is die geskilpunt?
DAAR was deur die geskiedenis heen tallose hofsake. In hierdie hofsake is getuies opgeroep en getuienis voorgelê om vir die een of die ander kant te stry. Individue was by baie van hierdie sake betrokke, terwyl meer mense deur ander geraak is. Maar al sulke sake is onbeduidend in vergelyking met die universele hofsaak wat nou beredeneer word. Dit is verreweg die belangrikste hofsaak in die geskiedenis. Die gevolge daarvan sal elke persoon op aarde raak, hetsy hy betrokke wil wees of nie.
2 Die hooffiguur in hierdie saak is die hoogste persoon in die heelal, Jehovah God, “wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee” (Jesaja 42:5). Wat is die geskilpunt? Sy godheid is die geskilpunt—die regverdigheid van sy heerskappy oor die ganse heelal, met inbegrip van die aarde en sy bewoners. Dit kan die geskil ten opsigte van universele soewereiniteit genoem word.
3. Watter vrae vorm die grondslag van die geskilpunt ten opsigte van universele soewereiniteit?
3 Hierdie vrae vorm die grondslag van die geskil: Watter van al die gode wat aanbid word, het bewys dat hulle so betroubaar is dat jy jou lewe en jou toekoms aan hulle kan waag? Watter het werklik bestaan, en watter was bloot menslike versinsels? Is daar ’n ware, lewende, oppermagtige God wat die mensdom uit sy huidige, wanhopige toestand kan verlos en die regte soort regering tot stand kan bring wat ware vrede, veiligheid, voorspoed en gesondheid sal verseker?
4. Wat kan gesê word van diegene wat meen dat daar geen geskil is nie aangesien hulle sê dat hulle reeds aan God glo?
4 Baie mense meen dat daar vir hulle geen geskil is nie, want hulle sê dat hulle reeds aan God glo. Maar kan hulle getuienis voorlê dat die godheid wat hulle aanbid werklik die ware God is, dat sy beloftes betroubaar is en dat sy voornemens en wette hulle lewe rig? As sulke mense ja antwoord, moet hulle ook hierdie vrae kan beantwoord: Wat is die getuienis presies dat daar ’n ware God is wie se beloftes betroubaar is? Wat is God se voorneme met die mensdom en die aarde? Waar bevind ons ons in God se tydrooster, en wat hou die naaste toekoms in? Wat wil hy hê dat ons as individue moet doen om hom te ondersteun?
5. Met wie kan mense vergelyk word wanneer hulle nie getuienis voorlê om hulle geloof in God te staaf nie?
5 Die meeste mense wat sê dat hulle aan God glo, kan nie hierdie vrae met gesag antwoord nie. Sulke mense kan vergelyk word met diegene wat in die eerste eeu beweer het dat hulle aan God glo, maar wie se werke hulle bewering geloënstraf het. God se Woord sê van hulle: “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke.” Ja, “geloof sonder die werke [is] dood” (Titus 1:16; Jakobus 2:26). Diegene wat sê dat hulle aan God glo, maar wat nie gegronde getuienis kan voorlê om dit te staaf nie, is dus geensins anders as mense in vervloë eeue wat aan valse gode geglo het wat al lank gelede as voorwerpe van aanbidding verdwyn het nie.
Toetssake
6, 7. (a) Beskryf die godsdiens van die eertydse Egiptenaars. (b) Hoe was die Israeliete betrokke by die geskil tussen Jehovah en Egipte se gode?
6 ’n Voorbeeld hiervan was die saak wat ongeveer 1 500 jaar voor ons Gewone Jaartelling teen die gode van eertydse Egipte gemaak is. Die Egiptenaars het ’n menigte gode aanbid, waaronder diere soos die bul, die kat, die koei, die krokodil, die valk, die padda, die jakkals, die leeu, die slang, die aasvoël en die wolf. Baie van hierdie diere is as die inkarnasie van ’n god of godin beskou, en iemand wat een van hierdie diere opsetlik doodgemaak het, is die doodstraf opgelê. Heilige diere is gemummifiseer en op oordadige wyse begrawe.
7 Teenoor al daardie gode was daar die God wat deur eertydse Israel aanbid is, Jehovah. Sy verteenwoordiger, Moses, is gestuur om Farao te vra om Jehovah se volk, wat toe slawe was, vry te laat, aangesien Jehovah hulle hul vryheid beloof het (Exodus 3:6-10). Maar Farao het gesê: “Wie is [Jehovah] na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken [Jehovah] nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie” (Exodus 5:2, vgl. NW). Farao was vol vertroue dat Egipte se gode Jehovah se meerderes was.
8, 9. (a) Hoe het Jehovah sy meerderheid oor Egipte se gode bewys? (b) Wat moet, met die oog op wat gebeur het, van Egipte se gode gesê word?
8 Wie sou bewys dat hy die ware God is wat sy beloftes kan nakom en sy volk kan beskerm? Die antwoord sou weldra gegee word. Jehovah het voorspel: “Aan al die gode van Egipte sal ek oordeel voltrek” (Exodus 12:12, NW). Het hy daardie profesie vervul? Ja! Jehovah het tien verwoestende plae oor Egipte gebring om hulle gode te verneder. Geeneen van hierdie gode kon die Egiptenaars beskerm nie. En die tiende plaag was veral betekenisvol, want dit het die Egiptiese eersgeborenes, waaronder Farao se eersgeborene, doodgemaak. Dit was ’n direkte slag vir hulle hoofgod Ra (Amon-Ra), aangesien die heersers van Egipte hulself as gode, die seuns van Ra, beskou het. Vir die Egiptenaars het die dood van Farao se eersgeborene die dood van ’n god beteken.
9 Maar geen Israelitiese eergeborene is doodgemaak nie, want hulle het Jehovah se beskerming gehad. God het sy volk ook die vryheid gegee wat hy hulle beloof het. En as ’n laaste slag vir Egipte se valse gode is Farao en sy leër—’n ieder en ’n elk—in die Rooi See vernietig. Sodoende het Jehovah bewys dat hy die ware God is. Sý beloftes is vervul, en sý aanbidders is beskerm (Exodus 14:21-31). Daarenteen was Egipte se gode magteloos om hulle aanbidders te help. Daardie gode het nie werklik bestaan nie, maar was die versinsels van mense.
10. Voor watter geskil het Jehovah se aanbidders en Assirië te staan gekom?
10 Nog ’n saak in verband met godheid het sowat agt eeue later, in die tyd van koning Hiskia, na vore gekom.a Jehovah se aanbidders is bedreig deur die wrede Assiriese Wêreldmoondheid wat alle nasies in sy pad verslaan het. Nou het dit die oorgawe van Jerusalem, die stad waar “Jehovah se troon” was en wat sy aanbidding op aarde verteenwoordig het, geëis (1 Kronieke 29:23, NW). Juda se koning, Hiskia, het erken dat die Assiriërs ‘al daardie ander lande verwoes en die gode van daardie lande in die vuur gegooi het, want dit was nie gode nie, maar die werk van mensehande’.—Jesaja 37:18, 19.
11. Hoe het Jehovah sy aanbidders gered, en wat het dit getoon?
11 Getroue Hiskia het toe tot Jehovah gebid en om sy beskerming gevra. Jehovah het beloof dat geen Assiriese wapen Jerusalem sou tref nie (Jesaja 37:33). In ooreenstemming met daardie profesie het geen wapen die stad getref nie. In plaas daarvan “het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van Assirië honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan”. Na daardie verpletterende nederlaag het die koning van Assirië, Sanherib, teruggetrek. Later, terwyl hy sy god Nisrog aanbid het, het sy seuns hom vermoor (Jesaja 37:36-38). Jehovah het dus weer bewys dat hy die God van ware profesie is wat sy aanbidders kan verlos. Die gode van Assirië en die omliggende nasies was vals, het nie bestaan nie en kon hulle aanhangers nie beskerm nie.
12. Hoe het Belsasar Jehovah uitgetart?
12 God het ongeveer twee eeue later toegelaat dat sy volk, wat ontrou was, deur die volgende wêreldmoondheid, Babilon, gevange geneem word. Babilon se hoofkenmerk was sy menigte gode, godinne en tempels van aanbidding. Maar die Babiloniese koning Belsasar het Jehovah in ’n grootpraterige roes van egoïsme uitgetart. Hy het by ’n groot fees bevel gegee dat die heilige voorwerpe wat uit Jerusalem se tempel geroof is, ingebring word. “Die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue het daaruit gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.”—Daniël 5:1-4.
13. Wat het Daniël onder Jehovah se leiding vir Belsasar gesê?
13 Dit was ’n regstreekse belediging vir Jehovah, ’n uitdaging aan hom in naam van Babilon se gode. Jehovah het sy profeet Daniël met vrymoedigheid vir koning Belsasar en al die aanwesiges by die fees laat getuig. Daniël het Jehovah se godheid verdedig en het vir koning Belsasar gesê: “U . . . het u hart nie verneder nie, . . . maar u het u verhef teen die Here van die hemel, . . . en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie.”—Daniël 5:22, 23.
14. Hoe het Jehovah getoon dat hy die ware God is?
14 Toe het Daniël hierdie boodskap van Jehovah oorgedra: Hooghartige koning Belsasar en Babilon sou daardie selfde nag deur die Meders en die Perse verslaan word! (Daniël 5:24-27). Is hierdie profesie bewaarheid? Ja. “In dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. En Darius, die Meder, . . . [het] die koningskap ontvang” (Daniël 5:30; 6:1). Jehovah het weer eens, soos in die geval van Egipte en Assirië, bewys dat hy die ware God is, die God wat sy beloftes nakom. God se knegte het daarby baat gevind, want hulle is uit gevangenskap vrygelaat en het na hulle vaderland teruggekeer. Vir diegene wat aangehou het om valse gode aan te hang, was die gevolge rampspoedig.
Profesieë vir ons tyd
15. (a) Wat is ’n kenmerk van baie Bybelprofesieë? (b) Wat bedoel ons ook wanneer ons die woord “god” gebruik?
15 Die profeet Jesaja is geïnspireer om profesieë op te teken wat in die ou tyd vervul is. Maar daar is dikwels in Bybelprofesie ’n ander, groter vervulling wat met ons tyd verband hou. Dit geld vir baie dinge wat Jesaja geskryf het. ’n Deel van sy boodskap het profesieë aangaande Jehovah se hedendaagse uitdaging aan al die nasies en hulle gode bevat. En met die woord “gode” bedoel ons nie net die gode wat regstreeks deur mense in alle wêrelddele, met inbegrip van sogenaamd heidense nasies vandag, aanbid word nie, maar ook die dinge wat by die definisie van daardie woord pas. Een woordeboekdefinisie van die woord “god” is: “Iemand wat beheer het oor ’n besondere aspek of deel van die werklikheid; ’n persoon of ding van allergrootste waarde.”
16. Watter gode word vandag deur mense van die nasies, met inbegrip van die Christendom, aanbid?
16 Dié wat vandag as gode beskou word, sluit die miljoene gode in wat deur Hindoes aanbid word, asook dié wat deur Boeddhiste, Sjintoïste, animiste en ander godsdiensyweraars aanbid word. Dit sluit ook die god van materialisme in wat vir die meeste mense op aarde die allerwaardevolste ding, die hoofbeweegrede in hulle lewe, is. Dit sluit ook die gode van militêre mag en die wetenskap in waarop die nasies vir veiligheid en redding vertrou. En die meeste mense, selfs dié in die Christendom wat sê dat hulle aan God glo, vertrou nie werklik op hom of dien hom nie lojaal nie, maar hulle vertrou eerder op mense of dinge, dien hulle en is allereers aan hulle lojaal.
17. Waarop is die groter vervulling van Jesaja se boodskap van toepassing?
17 Die groter vervulling van Jesaja se boodskap is op al sulke “gode” in ons tyd van toepassing. Jehovah beveel nasionale groepe om te vergader en te “spreek”. Hy daag hulle uit: “Laat ons saam vir die oordeel nader” (Jesaja 41:1, NW). Ons lewe vandag in die ‘oordeelstyd’ van hierdie wêreld. Die wêreld is in sy “laaste dae” soos in 2 Timotheüs 3:1-5 en Mattheüs 24:1-14 voorspel is. Nou daag Jehovah die gode van die nasies uit om die toekoms akkuraat te voorspel en sodoende te bewys dat hulle gode is. Hy daag hulle ook uit om hulle aanhangers te beskerm as hulle kan. “Bring julle regsaak voor”, sê hy. “Bring julle bewysgronde aan . . . en [gee] ons te kenne . . . wat gaan gebeur!”—Jesaja 41:21, 22.
18. Hoe identifiseer die almagtige God homself, en wat beloof hy sy aanbidders?
18 Die almagtige God identifiseer homself: “Ek is [Jehovah], dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie” (Jesaja 42:8, vgl. NW). En hy sê vir diegene wat hom ondersteun: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou.” Hy beloof hulle: “Hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig is; hulle sal word soos niks, en jou teëparty sal omkom.” “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie . . . Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE.”—Jesaja 41:10, 11; 54:17.
19, 20. (a) Hoe toon Jesaja dat daar ’n vasgestelde tyd is wanneer Jehovah sake sal regstel? (b) Wie bring Jehovah in hierdie “laaste dae” voort, en hoe verteenwoordig hulle hom?
19 Jehovah het die nasies eeue lank hul eie gang laat gaan. Maar sy vasgestelde tyd om sake op aarde reg te stel, het aangebreek. Hy sê dus: “Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing.” Maar nou “sal [Jehovah] uittrek soos ’n held; Hy sal die ywer opwek soos ’n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as [magtiger] openbaar” (Jesaja 42:13, 14, vgl. NW). In die profesieë van Jesaja en ander Bybelskrywers, sowel as dié van Jesus, het Jehovah voorspel dat hy in hierdie “laaste dae” ’n volk tot stand sou bring om ywerig vir hom te getuig, asof hulle getuies in ’n hofsaak is.
20 Die volk wat Jehovah voortbring om hom te dien, lê getuienis voor dat hy die ware God is, die Redder van sy aanbidders en die Vernietiger van valse gode en hulle aanhangers. Jehovah se volk ‘sing vandag sy lof van die einde van die aarde, van al die nasies en eilande, van die top van die berge af’ (Jesaja 42:10-12). Dit vervul nog ’n profesie van Jesaja, wat voorspel het: “En aan die einde van die dae [in ons tyd] sal die berg van die huis van die HERE [sy ware aanbidding] vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels [bo alle ander soorte aanbidding], en [mense uit] al die nasies sal daarheen toestroom.” En wat spoor hulle ander aan om te doen? Hulle smeek regskapenes: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, . . . dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.”—Jesaja 2:2-4.
21. Watter vrae ontstaan na aanleiding van Jehovah se uitdaging aan die gode van die nasies?
21 Asof hy ’n hof toespreek, sê Jehovah dus: “Laat die nasies almal op een plek byeengebring word en laat nasionale groepe vergader word. . . . Laat hulle hulle getuies bring, sodat hulle regverdig verklaar kan word, of laat hulle hoor en sê: ‘Dit is die waarheid!’” (Jesaja 43:9, NW). Dit is ’n regstreekse uitdaging aan die gode van die nasies. Kan enige van hulle die toekoms voorspel? Kon hulle dit in die verlede doen? Kan hulle enigiemand vind wat gegronde bewyse kan aanvoer dat sulke gode wel waaragtig is en ons lojaliteit verdien? Watter reputasie het die gode van die nasies, en hulle aanhangers, in ons tyd verkry? Was dit enigsins beter as dié wat die gode van die eertydse Egiptenaars, Assiriërs en Babiloniërs verkry het? Het diegene wat vir Jehovah getuig daarenteen gegronde bewyse gelewer dat Jehovah die ware God is, die enigste Een wat ons aanbidding verdien? Die volgende artikel sal hierdie saak bespreek.
[Voetnoot]
a Die Wagtoring van 15 Januarie het bespreek hoe Jehovah Hiskia se vertroue in Hom beloon het. Daardie dramatiese gebeure het ook met godheid verband gehou.
Hersieningsvrae
◻ Wat is die geskil ten opsigte van universele soewereiniteit?
◻ Watter gode van die nasies is vandag by die geskil betrokke?
◻ Watter resultaat van drie toetssake toon Jehovah se meerderheid oor valse gode?
◻ Hoe toon Jesaja dat Jehovah sake in ons dag sal regstel?
◻ Watter vrae aangaande die hedendaagse aanhangers van alle godsdiens moet beantwoord word?
[Prent op bladsy 11]
Egipte se gode was magteloos voor die ware god, Jehovah
[Prent op bladsy 12]
Die ware God het Assirië se gode en hulle aanhangers ’n verpletterende slag toegedien
[Prent op bladsy 13]
Daniël het Jehovah se bood-skap aan die aanbidders van Babilon se valse gode oorgedra