Vandalisme—Waarom?
“EK HET niks om te sê nie.” Hierdie woorde is in groot letters op ’n pas geverfde muur geskryf in ’n aangename buurt in Sao Paulo. Vandalisme, dink jy dalk. En graffiti is net een soort vandalisme.
Stel jou voor dat onverantwoordelike vandale jou nuwe motor beskadig het. Of jy sien dalk dat openbare eiendom—wat baie mense gebruik—deur vandale beskadig of vernietig is. Waarom? Ja, waarom? Het jy al ooit gewonder waarom daar soveel vandalisme is? Op baie plekke lyk dit of vandale dit geniet om telefoonhokkies te ontsier of te verniel. Openbare vervoer, soos treine of busse, is dikwels ’n teiken. Dit wil voorkom of vandale vir niks omgee nie. Maar wat sit agter baie van die vandalisme wat ons sien of waaronder ons ly?
Marco,a ’n jeugdige van Rio de Janeiro, het gefrustreerd geraak nadat sy span ’n sokkerwedstryd verloor het—so gefrustreerd dat hy die bus waarin die wenspan se aanhangers was met klippe begin gooi het. Of neem Claus se geval. Toe hy nie goed gevaar het op skool nie, het hy so kwaad geword dat hy vensters met klippe stukkend gegooi het. Maar dit was nie meer “pret” toe sy vader gevra is om vir die skade te betaal nie. ’n Ander jeugdige, Erwin, het skoolgegaan en gewerk. Hy en sy maats is as ordentlike jongmense beskou. Maar in hulle vrye tyd het hulle in die buurt vandalisme gepleeg. Erwin se ouers het glad nie daarvan geweet nie. Valter was ’n weeskind wat geen ander keuse gehad het as om die strate van Sao Paulo sy tuiste te maak nie. Sy beste vriende was ’n bende wat vandalisme gepleeg het, en hy het dieselfde gedoen en ook die verweerkuns geleer. Sulke voorbeelde toon dat vandale ook mense is, en dat die oorsake van vandalisme of die emosies wat daartoe aanleiding gee uiteenlopend is.
“Vandalisme kan ’n manier wees om wraak te neem of om ’n politieke mening uit te spreek. Jongmense sowel as volwassenes pleeg soms die misdaad net vir die ‘pret’”, sê The World Book Encyclopedia. Vandalisme is egter nie net jeugdige pret nie; dit kan uiters verwoestend, selfs dodelik wees. ’n Groep jongmense wou “’n bietjie pret hê”, en toe hulle ’n man sien wat slaap, het hulle ’n vlambare vloeistof op hom uitgegooi en hom aan die brand gesteek. Die slagoffer, ’n Indiaan, het later in die hospitaal gesterf. Volgens ’n berig “het die jong mans na bewering gesê dat hulle nie gedink het dat enigiemand sou omgee nie, aangesien verskeie boemelaars op straat gebrand is en niks daaromtrent gedoen is nie”. Hetsy vandalisme skynbaar sonder slagoffers is of nie, die finansiële en emosionele skade is onberekenbaar. Hoe kan vandalisme dus bekamp of beëindig word?
Wie kan ’n einde maak aan vandalisme?
Kan die polisie en die skole vandalisme keer? Een probleem is dat die owerheid eerder besig is met ernstiger misdade, soos dwelmhandel en moordsake, as met oortredings “sonder slagoffers”. Wanneer ’n jongmens in die moeilikheid kom, “blameer [die ouers dikwels] sy vriende of die skool of die polisie omdat hulle hom gevang het”, sê een polisiebeampte. Opvoeding en wetstoepassing kan vandalisme verminder; maar gestel ouers se gesindhede verander nie? ’n Proefbeampte vir jeugdiges sê: “Hulle is verveeld en hulle het die geleentheid. [Die kinders bly] laat uit, en hulle het niks om te doen nie. En waarskynlik hou niemand oor hulle toesig nie—anders sou hulle nie op straat gewees het nie.”
Kom ons kyk hoe vandalisme reggestel kan word, al is dit ’n ernstige probleem op baie plekke. Die jong vandale wat in die begin genoem is, het verander; nou vermy hulle alle antisosiale gedrag. Wat het hierdie voormalige misdadigers hulle lewenswyse laat verander? En sou jy verbaas wees as vandalisme nie net verminder word nie, maar uit die weg geruim word? Lees gerus die volgende artikel.
[Voetnoot]
a Die name is verander.