Vandalisme kan uit die weg geruim word
“VANDALISME deur tieners is nog altyd beskou as ’n blyk van oneerbiedigheid en vyandigheid teenoor volwassenes en hulle standaarde”, verduidelik die skrywers Jane Norman en Myron W. Harris. Hoewel baie jongmense glo dat niks gedoen kan word om die situasie te verander nie, “meen een uit 3 dat tienervandalisme beperk kan word as ouers meer aandag aan hulle kinders skenk en as tieners nie so verveeld is nie”, het die skrywers gesê. Hoewel vandalisme verminder kan word as jongmense besig gehou word en beter ouerlike toesig het, sal dít op sigself tot die grondoorsake daarvan deurdring?
Wanneer hulle alleen is, is baie jongmense nie moeilikheidmakers nie, maar in ’n groep of in pare probeer hulle dalk aandag kry en doen hulle dwase en lelike dinge. Dit was die geval met Nelson, wat dikwels deur middel van vandalisme aan sy woede en ontevredenheid uiting gegee het wanneer hy onder die invloed van dwelms of alkohol was. José, wat aangehits is deur preke in die Katolieke Kerk oor grondhervorming en arbeidsregte, het gemeen dat hy aan stakings en georganiseerde vandalisme moet deelneem as ’n manier om protes aan te teken. Maar Nelson sowel as José het iets veel beters as betogings of vandalisme gevind.
Party dieper oorsake van vandalisme
Kom ons ondersoek van naderby waarom party jongmense aan vandalisme deelneem. Baie adolessente is verward en “beskryf die wêreld as ’n deurmekaar, mal plek vol mal mense”. Nietemin, en in teenstelling met wat party glo, het een berig gesê: “Tieners is wel bekommerd oor hulle toekoms. Hulle gee meer om as wat volwassenes dink.” ’n Jeugdige wat by vandalisme betrokke is, gee moontlik, wetend of onwetend, op hierdie manier uiting aan sy diepgewortelde frustrasies, onopgeloste probleme of onbevredigde behoeftes. Volgens die studie wat aan die begin gemeld is, “het nie een van [die] respondente vandalisme goedgepraat of geregverdig nie, selfs nie eers diegene wat daaraan deelgeneem het nie”.
’n Jeugdige hoor dalk selde ’n woordjie van waardering of aanmoediging. Aangesien geleerdheid al hoe belangriker word en al hoe meer betrekkings ’n hoër vlak van gespesialiseerde kennis of tegniese vaardigheid verg, voel hy of sy dalk geïntimideer. Daarbenewens is ouers, onderwysers of vriende dalk baie krities en veeleisend en lê hulle klem op wat die jeugdige bereik en nie op wat hy of sy as mens is nie. Baie rebelleer of neem aan vandalisme deel bloot omdat hulle in hulleself teleurgesteld is. Sou die liefde en aandag van ouers nie sulke kwellinge grootliks verminder nie?
Hoewel sekere owerhede skynbaar moed opgegee het om graffiti en ander soorte misdaad onder beheer te probeer bring, het jy dalk al gesien dat besorgde burgers oor die algemeen nog van onderwysers en skoolpersoneel verwag om vandalisme onder beheer te bring. The World Book Encyclopedia sê aangaande wetstoepassing: “Vandalisme is strafbaar met ’n boete of tronkstraf. Party plaaslike regerings het wette wat ouers verantwoordelik hou vir die vandalisme wat deur hulle kinders gepleeg word. Maar die meeste gevalle van vandalisme word nie gestraf nie. Dit is moeilik om die wet in sulke gevalle toe te pas, en die koste van die meeste individuele gevalle van skade is nie groot genoeg om geregtelike stappe die moeite werd te maak nie.” Een berig het getoon dat net 3 persent van die oortreders ooit gevang is.
Jy sal waarskynlik saamstem dat toereikende ouerlike sorg moontlik die beste manier is om ’n grondoorsaak van misdadigheid teë te werk. Maar wanneer gesinslewe agteruitgaan, ly gemeenskappe. Professor Ana Luisa Vieira de Mattos, van die Universiteit van Sao Paulo, Brasilië, sê dat party van die redes vir probleme met jongmense “swak ouerlike toesig, ’n gebrek aan reëls, ’n gebrek aan kommunikasie, verwaarlosing, ’n gebrek aan belangstelling of onverskilligheid” is.
In ons tyd het ons beslis die vervulling gesien van Jesus se woorde: “Weens die toename in wetteloosheid sal die liefde van die meeste verkoel” (Matteus 24:12). En wie sal ontken dat die woorde in 2 Timoteus 3:1-4 bewaarheid word? Die apostel Paulus het geskryf: “Weet dít, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God.” Die blote feit dat ’n mens tussen mense met sulke karaktertrekke lewe, dra in werklikheid tot misdadigheid by. Ons hoef egter nie moed op te gee nie. Gemeenskappe oor die algemeen het nie daarin geslaag om vandalisme uit die weg te ruim nie, maar daar is mense wat daarin geslaag het om hulle eie lewenswyse te verander en nie meer ongemanierd of roekeloos is nie. In hulle geval is daar ’n einde gemaak aan vandalisme.
Betroubare leiding vir jongmense
Wat het vandale en ander gehelp om hulle persoonlikheid te verander? Hoewel party opvoeders en ouers miskien nie dink dat dit moontlik is nie, voorsien die Bybel uitstekende leiding wat prakties is vir ons tyd. Omdat voormalige vandale daarop ag geslaan het, is hulle beweeg om God se uitdruklike wet te gehoorsaam: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie” (Exodus 23:2). Baie is aangetrek tot die waarheid uit God se Woord oor opvattings en leerstellings wat hulle nooit vantevore verstaan het nie, en wat hulle geleer het, het hulle ten goede beïnvloed. Beskou die ondervinding van José, ’n jeugdige in Sao Paulo. Hy is grootgemaak met die oortuiging dat beelde in aanbidding gebruik moet word. Toe hy leer dat God ’n naam, Jehovah, het en dat Hy nie die aanbidding van beelde goedkeur nie, het José veranderinge aangebring sodat hy kon doen wat God behaag.—Exodus 20:4, 5; Psalm 83:18, NW; 1 Johannes 5:21; Openbaring 4:11.
Nelson het nie meer een frustrerende ondervinding na die ander in gewelddadige bendes en stakings gehad nie, maar eerder ’n ware hoop vir die toekoms gevind, en dit het hom geweldige verligting gebring. Hy sê: “Ek word nie meer deur my gesin verwerp weens slegte geselskap en ’n lewe as ’n dwelmverslaafde nie, maar nou is ek die een wat die meeste gerespekteer word by die huis. My vader vra my dikwels om my ouer broers raad te gee. Vandat ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, is ek gelukkig omdat ek nou ’n doel in die lewe het.” En vir ’n stadskind soos Marco—wat daaraan gewoond is om in ’n gewelddadige omgewing te woon—was dit hartverblydend om te leer dat God se Koninkryk die aarde in ’n paradys gaan omskep.—Openbaring 21:3, 4.
Beskou ook die geval van ’n voormalige bendelid, straatbakleier en vandaal. Aangesien Valter ’n weeskind was wat as kind ’n baie hartseer lewe gehad het, is hy beïndruk deur die feit dat God te midde van ’n korrupte, goddelose stelsel ’n volk het. Hulle probeer opreg om Bybelbeginsels in hulle lewe toe te pas en toon medelye, bedagsaamheid en goedhartigheid. Valter verduidelik: “Net soos Jesus belowe het, het ek nou ’n ontsaglike gesin, ‘broers en susters en moeders en vaders’. Wat die toekoms betref, sien ek uit na die tyd wanneer mense in geluk en eenheid onder God se regverdige regering sal lewe.”—Markus 10:29, 30; Psalm 37:10, 11, 29.
Iets beters as om protes aan te teken
Hierdie voormalige vandale het nie net geleer om bedagsaamheid en liefde teenoor hulle medemens te betoon nie, maar hulle het ook geleer om ‘die kwaad te haat’ (Psalm 97:10; Matteus 7:12). Wat van jou? Selfs al is jy net iemand wat ly weens die gevolge van vandalisme wat oral voorkom, kan ’n studie van God se Woord Jehovah vir jou ’n werklikheid maak as ’n liefdevolle hemelse Vader wat vir jou wil sorg (1 Petrus 5:6, 7). God kan jou help om geestelik te groei, ondanks persoonlike swakhede of armoede. Dit is op sigself ’n wonderlike ondervinding!
Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, wil waarlik hê dat allerhande mense die geleentheid moet kry om Bybelwaarheid te leer. God se Woord kan meer doen as om mense te help om nou op te hou om vandale te wees. Dit kan hulle motiveer om verdere vooruitgang te maak in die toepassing van Goddelike beginsels. Gevolglik word hulle lede van ’n internasionale broederskap wat bekend is vir reinheid en goeie maniere, die wêreldwye gemeente van Jehovah se Getuies. In ooreenstemming met Efesiërs 4:24 het hierdie opregte Christene hulle “met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is”. Binnekort gaan die wêreld gevul wees met sulke mense omdat hulle die enigstes gaan wees wat behoue gaan bly en vir ewig gaan lewe.—Vergelyk Lukas 23:43.
’n Nuwe wêreld vry van vandalisme is moontlik
Glo jy dat vandalisme werklik uitgeroei kan word? Indien wel, hoe sal so ’n ingrypende verandering plaasvind? God se Koninkryk sal hierdie goddelose stelsel binnekort uit die weg ruim. Diegene wat die aarde bewoon, sal aanspreeklik gehou word vir enige doelbewuste verbreking van God se regverdige wette. (Vergelyk Jesaja 24:5, 6.) Terwyl ‘oortreders tesame verdelg sal word’, sal diegene wat regverdigheid liefhet, verlos word. “Die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.”—Psalm 37:38-40.
Die oorsake van vandalisme sal inderdaad heeltemal uit die weg geruim word. En alle misdaad, verdrukking, lyding en goddeloosheid sal ook uit die weg geruim word. Vrede, ware regverdigheid, vreedsaamheid en veiligheid sal eerder die lewe in die nuwe wêreld kenmerk. Jesaja 32:18 beskryf wat letterlik gaan gebeur: “My volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.” Ja, ’n pragtige, aardwye paradys sal bewoon word deur mense wat liefde en bedagsaamheid teenoor ander betoon.
Voormalige vandale geniet reeds saam met miljoene ander ’n intieme verhouding met Jehovah God. Hulle neem glad nie meer deel aan enige vandalisme nie. Sal jy ook toelaat dat God se Woord jou lei na lewe in sy nuwe wêreld? Volg gerus die psalmis van die ou tyd na wat Jehovah se verklaring neergeskryf het: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.”—Psalm 32:8.
[Prent op bladsy 7]
Aandag en liefde van ouers beskerm jongmense