Geniet “die werklike lewe”
JEHOVAH GOD het die mens die besef van ewigheid gegee (Prediker 3:11). Dit laat mense magteloos voel wat die dood betref, maar wek terselfdertyd in hulle ’n sterk begeerte om aan te hou lewe.
Die Heilige Bybel, God se geïnspireerde Woord, gee ons baie hoop (2 Timoteus 3:16). Jehovah, wat die beliggaming van liefde is, sou tog nie die mens gemaak het met die vermoë om die konsep van ewigheid te begryp en hom dan veroordeel het om net ’n paar jaar te lewe nie. Dit is heeltemal strydig met God se persoonlikheid om ons te skep sodat ons ons oor ons lot kan kwel. Ons is nie geskep soos “redelose diere wat van nature gebore word om gevang en vernietig te word” nie.—2 Petrus 2:12.
Toe Jehovah God Adam en Eva met ’n inherente ewigheidsbesef geskep het, het hy iets gemaak wat “baie goed” was; hy het hulle gemaak met die vermoë om vir ewig te lewe (Genesis 1:31). Maar ongelukkig het die eerste mensepaar hulle wilsvryheid misbruik deur aan ’n uitdruklike verbod van die Skepper ongehoorsaam te wees en het hulle hulle oorspronklike volmaaktheid verloor. Gevolglik het hulle gesterf nadat hulle onvolmaaktheid en die dood aan hulle nakomelinge oorgedra het.—Genesis 2:17; 3:1-24; Romeine 5:12.
In die Bybel is daar geen geheimsinnigheid oor die doel van die lewe en wat die dood beteken nie. Dit sê dat daar in die dood “geen werk of oorleg of kennis of wysheid” is nie en dat die dooies ‘glad niks weet nie’ (Prediker 9:5, 10). Met ander woorde, die dooies is dood. Die leerstelling oor die onsterflike siel is nie op die Bybel gegrond nie, en daar is dus geen diep raaisel oor die toestand van die dooies wat opgelos moet word nie.—Genesis 3:19; Psalm 146:4; Prediker 3:19, 20; Esegiël 18:4.a
God het ’n voorneme met die aarde gehad; hy het dit nie geskep “om woes te wees nie”. Hy het dit geformeer om deur volmaakte mense “bewoon te word” in paradystoestande, en God het nie sy voorneme verander nie (Jesaja 45:18; Maleagi 3:6). Hy het sy Seun na die aarde toe gestuur om dit te volbring. Deur tot die dood getrou te bly, het Jesus Christus die middel voorsien om die mensdom van sonde en die dood los te koop. Trouens, Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
Lank gelede het God belowe dat hy “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” gaan skep (Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13). Dit sou behels dat hy ’n beperkte getal getroue Christene vir lewe in die hemel kies. Saam met Jesus Christus vorm hulle ’n sentrale regerende liggaam. Die Bybel verwys hierna as “die koninkryk van die hemele” of die “koninkryk van God” wat “die dinge op die aarde” sal bestuur (Matteus 4:17; 12:28; Efesiërs 1:10; Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3). Nadat God alle goddeloosheid op ons aarde uit die weg geruim en dit gereinig het, sal hy ’n regverdige nuwe mensegemeenskap, oftewel “nuwe aarde”, inlui. Dit sal mense insluit wat God gedurende die naderende vernietiging van hierdie goddelose stelsel van dinge gaan beskerm (Matteus 24:3, 7-14, 21; Openbaring 7:9, 13, 14). Saam met hulle sal diegene wees wat deur middel van die beloofde opstanding weer lewend gemaak word.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.
“Die werklike lewe”
Ter bevestiging van die opwindende beskrywing van die lewe op die toekomstige Paradysaarde sê God: “Kyk! Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5). Dit is vir die menseverstand onmoontlik om die wonderlike werke wat God vir die mensdom gaan verrig ten volle te begryp. God sal ’n wêreldwye paradys skep, wat met die een in Eden sal ooreenstem (Lukas 23:43). Soos in Eden sal daar ’n oorvloed pragtige en aangename kleure, klanke en smake wees. Daar sal nie meer armoede en voedseltekorte wees nie, want die Bybel sê aangaande daardie tyd: “Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4; Psalm 72:16). Niemand sal meer sê: “Ek is siek” nie, aangesien siekte vir ewig uitgewis sal word (Jesaja 33:24). Ja, alle oorsake van pyn sal verdwyn, met inbegrip van die mensdom se ou vyand, die dood (1 Korintiërs 15:26). In ’n aangrypende visioen van die “nuwe aarde”, die nuwe mensegemeenskap onder Christus se heerskappy, het die apostel Johannes ’n stem hoor sê: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie.” Wat kan groter vertroosting en vreugde bring as die vervulling van hierdie Goddelike belofte?
Wanneer die Bybel die toekomstige lewe beskryf, vestig dit veral die aandag op toestande wat die mens se begeertes op sedelike en geestelike gebied sal bevredig. Al die eerbare ideale waarna die mensdom tot nou toe tevergeefs gestreef het, sal ten volle verwesenlik word (Matteus 6:10). Hieronder is die begeerte na geregtigheid, wat onvervuld gebly het omdat die mens dikwels verdruk is deur wrede onderdrukkers wat die swakkes oorheers het (Prediker 8:9). Die psalmis het profeties aangaande toestande onder Christus se heerskappy geskryf: “In sy dae sal opregtheid floreer, en vrede in oorvloed wees.”—Psalm 72:7, The New Jerusalem Bible.
Gelykheid is nog ’n strewe waarvoor talle mense opofferings gemaak het. In die “herskepping” sal God ’n einde maak aan diskriminasie (Matteus 19:28). Almal sal dieselfde waardigheid geniet. Dit sal nie gelykheid wees wat deur die een of ander wrede regime voorgeskryf word nie. Inteendeel, die oorsake van diskriminasie sal verwyder word, waaronder die hebsug en trots wat veroorsaak dat mense oor ander wil heers of ontsaglike hoeveelhede goedere bymekaar probeer maak. Jesaja het geprofeteer: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie.”—Jesaja 65:21, 22.
Hoe het die mensdom tog nie gely weens die bloedvergieting in konflikte tussen individue sowel as nasies nie! Dit het van die moord op Abel af tot die oorloë van die huidige tyd toe voortgeduur. Hoe lank hoop en wag mense nie al, skynbaar tevergeefs, dat vrede tot stand gebring moet word nie! In die herstelde Paradys sal alle mense vreedsaam en sagmoedig wees; hulle sal “hulle verlustig oor groot vrede”.—Psalm 37:11.
Jesaja 11:9 sê: “Die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Weens dinge soos oorgeërfde onvolmaaktheid is dit nie vir ons vandag moontlik om die volle betekenis van hierdie woorde te verstaan nie. Ons sal dalk nog moet leer hoe volmaakte kennis van God ons met hom gaan verenig en hoe dit algehele vreugde tot gevolg gaan hê. Maar aangesien die Skrif vir ons sê dat Jehovah ’n God met ontsaglike krag, wysheid, geregtigheid en liefde is, kan ons seker wees dat hy alle gebede van die inwoners van die “nuwe aarde” sal verhoor.
“Die werklike lewe” is ’n sekerheid—Gryp dit aan!
Vir baie mense is ewige lewe in ’n beter wêreld net ’n droom of ’n illusie. Maar vir diegene wat werklik geloof in die Bybel se belofte beoefen, is hierdie hoop ’n sekerheid. Dit is soos ’n anker vir hulle lewe (Hebreërs 6:19). Net soos ’n anker ’n skip vaslê en keer dat dit wegdryf, gee die hoop op ewige lewe aan mense stabiliteit en vertroue, en dit stel hulle in staat om werk te maak van die ernstige probleme in die lewe en om dit selfs te oorkom.
Ons kan seker wees dat God sy beloftes gaan vervul. Hy het selfs ’n waarborg voorsien deur ’n eed, ’n onherroeplike verbintenis, af te lê. Die apostel Paulus het geskryf: “God [het], toe hy hom voorgeneem het om die onveranderlikheid van sy raad in oorvloediger mate aan die erfgename van die belofte te toon, met ’n eed ingetree, sodat ons . . . , deur middel van twee onveranderlike dinge waarin dit onmoontlik is vir God om te lieg, kragtige aanmoediging kan hê om die hoop vas te gryp wat vir ons in die vooruitsig gestel is” (Hebreërs 6:17, 18). Die “twee onveranderlike dinge” wat God nooit tot niet kan maak nie, is sy belofte en sy eed, waarop ons ons verwagtinge vestig.
Geloof in God se beloftes verskaf groot vertroosting en geestelike krag. Josua, ’n leier van die volk Israel, het sulke geloof gehad. Toe Josua sy afskeidstoespraak aan die Israeliete gelewer het, was hy oud en het hy geweet dat hy gaan sterf. En tog het hy krag en onwrikbare lojaliteit geopenbaar, wat voortgespruit het uit volkome vertroue in God se beloftes. Nadat Josua gesê het dat hy “die weg van die ganse aarde” gaan, die pad wat die hele mensdom na die dood toe lei, het hy gesê: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.” Ja, Josua het drie keer herhaal dat God altyd al sy beloftes nakom.—Josua 23:14.
Jy kan ook dieselfde geloof openbaar in God se belofte van ’n nuwe wêreld wat binnekort tot stand gebring gaan word. Deur die Bybel ywerig te bestudeer, sal jy verstaan wie Jehovah is en waarom hy jou volle vertroue verdien (Openbaring 4:11). Abraham, Sara, Isak, Jakob en ander getroues van die ou tyd het onwrikbare geloof gehad, wat gegrond was op hulle intieme kennis van die ware God, Jehovah. Hulle hoop het sterk gebly, ondanks die feit dat hulle “nie die vervulling van die beloftes verkry het” terwyl hulle nog gelewe het nie. Hulle het dit nogtans “van ver gesien en dit verwelkom”.—Hebreërs 11:13.
Aangesien ons Bybelprofesieë verstaan, sien ons nou dat “die groot dag van God die Almagtige” nader kom, waartydens die aarde van alle goddeloosheid gereinig sal word (Openbaring 16:14, 16). Soos die getroue manne van die ou tyd moet ons vol vertroue in afwagting bly van toekomstige gebeure, voortgedryf deur geloof sowel as deur liefde vir God en vir “die werklike lewe”. Die nabyheid van die nuwe wêreld voorsien ’n kragtige aansporing vir diegene wat geloof in Jehovah beoefen en wat hom liefhet. Ons moet sulke geloof en liefde aankweek as ons God se guns wil verkry en sy beskerming wil geniet gedurende sy groot dag wat op hande is.—Sefanja 2:3; 2 Tessalonisense 1:3; Hebreërs 10:37-39.
Het jy dus die lewe lief? En smag jy selfs meer na “die werklike lewe”—lewe as ’n goedgekeurde kneg van God, met die hoop op ’n gelukkige toekoms, ja, met die ewige lewe in die vooruitsig? As dit is wat jy wil hê, moet jy ag slaan op die vermaning van die apostel Paulus, wat geskryf het dat ons ‘ons hoop nie op onsekere rykdom moet vestig nie, maar op God’. Paulus het verder gesê: “Wees [ryk] in voortreflike werke”, wat God eer, sodat ons “’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry”.—1 Timoteus 6:17-19.
Deur die aanbod van ’n Bybelstudie saam met Jehovah se Getuies te aanvaar, kan jy kennis opdoen wat ‘die ewige lewe beteken’ (Johannes 17:3). In die Bybel is hierdie vaderlike uitnodiging opgeteken wat op liefdevolle wyse aan almal gerig word: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.”—Spreuke 3:1, 2.
[Voetnoot]
a Sien die brosjure Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir ’n breedvoerige bespreking van die onderwerp.