Jehovah vervul sy beloftes aan getroues
“Hy wat beloof het, is getrou.”—HEBREËRS 10:23.
1, 2. Waarom kan ons volkome op Jehovah se beloftes vertrou?
JEHOVAH verwag dat sy knegte sterk geloof in hom en sy beloftes moet aankweek en handhaaf. Met sulke geloof kan ’n mens volkome op Jehovah vertrou om te doen wat hy belowe het. Sy geïnspireerde Woord sê: “Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand.”—Jesaja 14:24.
2 Die verklaring: “Die HERE van die leërskare het gesweer”, toon dat hy ’n plegtige eed aflê om sy beloftes te vervul. Dit is waarom sy Woord kan sê: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5, 6). Wanneer ons op Jehovah vertrou en toelaat dat ons deur sy wysheid gelei word, sal ons paaie beslis tot die ewige lewe lei, want God se wysheid is “’n lewensboom vir die wat dit aangryp”.—Spreuke 3:18; Johannes 17:3.
Ware geloof in die ou tyd
3. Hoe het Noag geloof in Jehovah gestel?
3 Die verslag van Jehovah se handelinge met diegene wat ware geloof het, getuig van sy betroubaarheid. Meer as 4400 jaar gelede het God byvoorbeeld vir Noag gesê dat die wêreld van sy dag deur ’n wêreldvloed vernietig sou word. Hy het Noag beveel om ’n groot ark te bou vir die behoud van mense- en dierelewe. Wat het Noag gedoen? Hebreërs 11:7 sê vir ons: “Deur geloof het Noag, nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie, godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou tot redding van sy huisgesin.” Waarom het Noag geloof in iets gestel wat nooit vantevore gebeur het nie, iets “wat nog nie gesien is nie”? Omdat hy genoeg geweet het van God se vroeëre handelinge met die mensdom om te besef dat God se woord altyd bewaarheid word. Noag was derhalwe seker dat die Vloed ook sou plaasvind.—Genesis 6:9-22.
4, 5. Waarom het Abraham Jehovah ten volle vertrou?
4 Nog ’n voorbeeld van ware geloof is dié van Abraham. Bykans 3900 jaar gelede het God vir hom gesê om Isak, sy enigste seun by sy vrou, Sara, te offer (Genesis 22:1-10). Hoe het Abraham hierop gereageer? Hebreërs 11:17 sê: “Deur geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak so goed as geoffer.” Jehovah se engel het Abraham egter op die laaste oomblik gekeer (Genesis 22:11, 12). Maar waarom sou Abraham selfs so iets oorweeg? Omdat hy, soos Hebreërs 11:19 sê, “gereken [het] dat God [Isak] selfs uit die dode kon opwek”. Maar hoe kon Abraham geloof in ’n opstanding gehad het as hy nog nooit een gesien het en daar geen verslag van een in die verlede was nie?
5 Onthou dat Sara 89 was toe God hulle ’n seun belowe het. Sara kon nie meer kinders baar nie—haar moederskoot was as ’t ware dood (Genesis 18:9-14). God het Sara se moederskoot lewend gemaak, en sy het aan Isak geboorte geskenk (Genesis 21:1-3). Abraham het geweet dat God ook vir Isak lewend sou kon maak as hy moes, aangesien Hy Sara se dooie moederskoot lewend kon maak. Romeine 4:20, 21 sê aangaande Abraham: “Weens die belofte van God het hy nie in ongeloof gewankel nie, maar kragtig geword deur sy geloof, terwyl hy God die heerlikheid gegee het en heeltemal daarvan oortuig was dat hy ook kon doen wat hy beloof het.”
6. Hoe toon Josua se woorde dat hy op Jehovah vertrou het?
6 Meer as 3400 jaar gelede toe Josua meer as honderd jaar oud was, en nadat hy sy hele lewe lank ondervind het hoe betroubaar God is, het hy hierdie rede vir sy vertroue gegee: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Josua 23:14.
7, 8. Watter lewensreddende stappe het getroue Christene in die eerste eeu gedoen, en waarom?
7 Ongeveer 1900 jaar gelede het talle nederige mense ware geloof aan die dag gelê. Hulle het uit die vervulling van Bybelprofesieë besef dat Jesus die Messias is en sy leringe aangeneem. Omdat hulle die feite en die Hebreeuse Geskrifte goed geken het, het hulle geloof gestel in wat Jesus hulle geleer het. Toe Jesus dus gesê het dat God oordeel aan Judea en Jerusalem sou voltrek weens die ontrouheid daarvan, het hulle hom geglo. En toe hy vir hulle gesê het wat hulle moes doen om hulle lewe te red, het hulle dit gedoen.
8 Jesus het vir gelowiges gesê dat hulle moes vlug wanneer Jerusalem deur leërs omsingel word. Romeinse leërs hét in die jaar 66 G.J. teen Jerusalem opgetrek. Maar toe het die Romeine om die een of ander onverklaarbare rede teruggetrek. Dit was die teken vir die Christene om die stad te verlaat, want Jesus het gesê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die midde van die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is nie daar ingaan nie” (Lukas 21:20, 21). Dié met ware geloof het Jerusalem en die omliggende gebied verlaat en na veiligheid gevlug.
Gevolge van ’n gebrek aan geloof
9, 10. (a) Hoe het die godsdiensleiers hulle gebrek aan geloof in Jesus geopenbaar? (b) Wat was die gevolge van daardie gebrek aan geloof?
9 Wat het diegene gedoen wat nie ware geloof gehad het nie? Hulle het nie gevlug toe hulle die geleentheid gehad het nie. Hulle het gedink dat hulle leiers hulle kon red. Maar daardie leiers en hulle aanhangers het ook die bewyse van Jesus se Messiasskap gehad. Waarom het hulle dan nie aanvaar wat hy gesê het nie? Weens hulle goddelose hartstoestand. Dit is vroeër aan die kaak gestel toe hulle gesien het hoe baie van die gewone mense na Jesus stroom nadat hy Lasarus opgewek het. Johannes 11:47, 48 vertel: “Die hoofpriesters en die Fariseërs [het] die Sanhedrin [die Joodse hoër hof] bymekaargeroep en begin sê: ‘Wat moet ons doen, want hierdie man [Jesus] doen baie tekens? As ons hom so laat begaan, sal hulle almal geloof in hom stel, en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem.’” Vers 53 sê: “Daarom het hulle van daardie dag af beraadslaag om hom dood te maak.”
10 Wat ’n besonderse wonderwerk was dit tog—om Lasarus uit die dode op te wek! Maar die godsdiensleiers wou Jesus doodmaak omdat hy dit gedoen het. Hulle growwe goddeloosheid is verder aan die kaak gestel toe “die hoofpriesters . . . beraadslaag [het] om ook Lasarus dood te maak, want weens hom het baie van die Jode daarheen gegaan en geloof in Jesus gestel” (Johannes 12:10, 11). Lasarus is pas tevore uit die dode opgewek, en daardie priesters wou hom weer dood sien! Hulle was nie besorg oor God se wil of oor die welsyn van die volk nie. Hulle was selfsugtig en net besorg oor hulle eie posisie en hulle eie belange. “Hulle het die heerlikheid van mense meer liefgehad as selfs die heerlikheid van God” (Johannes 12:43). Maar hulle het geboet vir hulle gebrek aan geloof. In die jaar 70 G.J. het die Romeinse leërs teruggekom en hulle plek en hulle nasie vernietig, asook baie van hulle doodgemaak.
Hoe geloof in ons tyd geopenbaar is
11. Hoe is ware geloof vroeg in hierdie eeu geopenbaar?
11 In hierdie eeu was daar ook al baie manne en vroue van ware geloof. Vroeg in die 20ste eeu het mense oor die algemeen byvoorbeeld ’n vreedsame, voorspoedige toekoms verwag. In daardie selfde tyd het diegene wat geloof in Jehovah gestel het, verkondig dat die mensdom op die punt gestaan het om ’n tyd van ongekende moeilikheid in te gaan. Dit is wat God se Woord in Matteus hoofstuk 24, 2 Timoteus hoofstuk 3 en elders voorspel het. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het die dinge wat daardie mense van geloof gesê het net so begin plaasvind. Die wêreld het inderdaad die voorspelde “laaste dae” ingegaan, met ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Hoe kon Jehovah se knegte destyds die waarheid omtrent wêreldtoestande weet terwyl ander dit nie geweet het nie? Omdat hulle, soos Josua, geloof gehad het dat nie een van Jehovah se woorde onvervuld sou bly nie.
12. Op watter belofte van Jehovah vertrou sy knegte ten volle vandag?
12 Vandag is daar regoor die wêreld byna sesmiljoen knegte van Jehovah wat op hom vertrou. Hulle weet uit die bewyse ter vervulling van God se profetiese woord dat hy binnekort hierdie gewelddadige, onsedelike stelsel van dinge tot ’n einde gaan bring. Hulle is dus vol vertroue dat die tyd op hande is wanneer hulle die verwesenliking sal sien van 1 Johannes 2:17, wat sê: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Sy knegte het volle vertroue dat Jehovah sy belofte sal vervul.
13. Tot watter mate kan jy Jehovah vertrou?
13 Tot watter mate kan jy Jehovah vertrou? Jy kan jou lewe in sy hande plaas! Selfs al verloor jy nou jou lewe omdat jy hom dien, sal hy vir jou ’n veel beter lewe in die opstanding teruggee. Jesus verseker ons: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte [dit wil sê in God se geheue] is sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Weet jy van enige dokter, politieke leier, wetenskaplike, sakeman of enige ander mens wat dit kan doen? Hulle geskiedenis toon dat hulle nie kan nie. Jehovah kan, en hy sal ook!
’n Wonderlike toekoms vir getroues
14. Watter wonderlike toekoms belowe God se Woord aan getroues?
14 Jesus het getoon hoe gewis ’n nuwe wêreld onder God se hemelse Koninkryk is toe hy gesê het: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Dit het God se belofte in Psalm 37:29 opnuut bevestig: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” En net voor Jesus se dood, toe ’n kwaaddoener geloof in hom uitgespreek het, het Jesus vir daardie man gesê: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Ja, as Koning van God se Koninkryk sal Jesus toesien dat hierdie man tot lewe op die aarde opgewek word met die geleentheid om vir ewig in daardie Paradys te lewe. Vandag kan diegene wat geloof in Jehovah se Koninkryk stel ook daarna uitsien om in die Paradys te lewe wanneer ‘God elke traan van hulle oë sal afvee, en die dood nie meer daar sal wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn nie meer daar sal wees nie’.—Openbaring 21:4.
15, 16. Waarom sal die lewe in die nuwe wêreld so vreedsaam wees?
15 Kom ons stel ons voor hoe dit in daardie nuwe wêreld sal wees. Verbeel jou dat ons reeds daar lewe. Ons kan nie anders nie as om onmiddellik die gelukkige mense te sien wat oral in volkome vrede saamlewe. Hulle geniet toestande soos dié wat in Jesaja 14:7 beskryf word: “Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel.” Waarom voel hulle so? In die eerste plek merk jy op dat die huise se deure geen slotte het nie. Dit is nie nodig nie, want daar is geen misdaad of geweld nie. Dit is net soos God se Woord gesê het dit sou wees: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik.”—Miga 4:4.
16 Daar is ook geen oorlog meer nie, want in hierdie wêreld is oorlog onwettig verklaar. Alle wapens is in werktuie verander wat vir vreedsame doeleindes gebruik word. Jesaja 2:4 is in die volste sin vervul: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Maar dít is per slot van rekening wat ons verwag het! Waarom? Omdat baie bewoners van die nuwe wêreld dit leer doen het terwyl hulle God in die ou wêreld gedien het.
17. Watter lewensomstandighede sal onder God se Koninkryk heers?
17 Jy merk ook op dat daar geen armoede is nie. Niemand woon in ’n smerige krot of dra flenterklere of is haweloos nie. Almal het ’n gerieflike huis en ’n netjiese werf met pragtige bome en blomme (Jesaja 35:1, 2; 65:21, 22; Esegiël 34:27). En daar is geen honger nie, want God het sy belofte vervul dat daar ’n oorvloed voedsel vir almal sal wees: “Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge” (Psalm 72:16). Ja, onder die leiding van God se Koninkryk word ’n glorieryke paradys oor die hele aarde uitgebrei, net soos God hom destyds in Eden voorgeneem het.—Genesis 2:8.
18. Watter dinge sal in die nuwe wêreld nie meer vir mense ’n bedreiging wees nie?
18 Jy verwonder jou ook aan al die energie wat almal het. Dit is omdat hulle nou ’n volmaakte liggaam en verstand het. Daar is geen siekte, pyn of dood meer nie. Niemand is in ’n rystoel of in ’n hospitaalbed nie. Dit alles is vir ewig uit die weg geruim (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Ook is nie een van die diere ’n bedreiging nie, want hulle is deur God se krag vreedsaam gemaak!—Jesaja 11:6-8; 65:25; Esegiël 34:25.
19. Waarom sal elke dag in die nuwe wêreld ’n dag wees waarin ons ons kan “verlustig”?
19 Wat ’n wonderlike beskawing word tog deur die getroue bewoners van hierdie nuwe wêreld tot stand gebring! Hulle energie en vaardighede en die rykdom van die aarde word aan positiewe strewes gewy, nie aan wat skadelik is nie; aan samewerking met mekaar en nie aan onderlinge mededinging nie. En almal wat jy ontmoet, is mense wat jy kan vertrou, want almal is, soos God belowe het, ‘mense wat deur Jehovah geleer word’ (Jesaja 54:13, NW). Aangesien almal deur God se wette gerig word, is die aarde ‘vol van die kennis van Jehovah soos die waters die seebodem oordek’ (Jesaja 11:9). Elke dag in hierdie nuwe wêreld is voorwaar soos Psalm 37:11 gesê het dit sou wees, ’n dag om jou in te “verlustig”.
’n Gelukkige toekoms is seker
20. Wat moet ons doen om ’n vreedsame toekoms te geniet?
20 Wat moet ons doen om deel te hê aan daardie gelukkige toekoms? Jesaja 55:6 sê vir ons: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” En in ons soeke moet ons die gesindheid hê wat in Psalm 143:10 (NW) beskryf word: “Leer my om u wil te doen, want u is my God.” Diegene wat dit doen, kan deur hierdie laaste dae heen onberispelik voor Jehovah wandel en kan na ’n wonderlike toekoms uitsien. “Let op die vrome [“onberispelike”, NW] en kyk na die opregte, want daar is ’n toekoms vir die man van vrede. Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.”—Psalm 37:37, 38.
21, 22. Wat bring God vandag tot stand, en hoe word die opleiding gedoen?
21 Jehovah roep nóú diegene uit elke nasie wat sy wil wil doen. Hy vorm hulle tot die fondament van sy nuwe aardse gemeenskap, soos ’n Bybelprofesie voorspel het: “Aan die einde van die dae [die tyd waarin ons nou lewe] sal . . . baie volke . . . heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE [sy verhewe ware aanbidding], . . . dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.”—Jesaja 2:2, 3.
22 Openbaring 7:9 beskryf hulle as “’n groot skare . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Vers 14 sê: “Hulle is dié wat uit die groot verdrukking kom”, wat die huidige stelsel se einde oorleef. Hierdie fondament vir die nuwe wêreld is nou bykans sesmiljoen sterk, met talle nuwes wat jaarliks ’n deel daarvan word. Al hierdie getroue knegte van Jehovah word vir die lewe in sy nuwe wêreld opgelei. Hulle leer die geestelike en ander vaardighede wat nodig is om hierdie aarde in ’n paradys te omskep. En hulle is vol vertroue dat daardie Paradys ’n werklikheid sal word, want “hy wat beloof het, is getrou”.—Hebreërs 10:23.
Punte ter hersiening
◻ Wat was die gevolge van ’n gebrek aan geloof in die eerste eeu?
◻ Tot watter mate kan God se knegte hom vertrou?
◻ Watter toekoms kan getroues te wagte wees?
◻ Wat moet ons doen om ’n gelukkige toekoms vir onsself in God se nuwe wêreld te verseker?
[Prent op bladsy 18]
Jehovah lê nóú die fondament van ’n nuwe aardse gemeenskap