Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 9/1 bl. 4-7
  • Laat die Duiwel ons siek word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Laat die Duiwel ons siek word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Satan se rol
  • Hoe gaan Satan te werk?
  • Verskeie oorsake van siekte
  • Die langtermynoplossing
  • Die raaiselagtige oorsaak van slegte gesondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Wanneer ’n gesinslid siek is
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Job is getrou aan God
    My boek met Bybelverhale
  • Lewe op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 9/1 bl. 4-7

Laat die Duiwel ons siek word?

SIEKTE MOES NOOIT BESTAAN HET NIE. God het ons geskep om vir ewig in volmaakte gesondheid te lewe. Dit was ’n geesskepsel, Satan, wat veroorsaak het dat siekte, pyn en die dood die mensdom teister toe hy ons eerste ouers, Adam en Eva, laat sondig het.—GENESIS 3:1-5, 17-19; ROMEINE 5:12.

BETEKEN dit dat die geestewêreld direk verantwoordelik is vir elke siekte? Soos daar in die vorige artikel genoem is, dink baie vandag so. Klein Owmadji se ouma het. Maar is Owmadji se diarree—wat soms vir jong kinders in die trope ’n dodelike siekte is—werklik deur onsigbare geeste veroorsaak?

Satan se rol

Die Bybel beantwoord hierdie vraag baie duidelik. Ten eerste toon dit dat die geeste van ons voorouers nie die lewendes iets kan aandoen nie. Wanneer mense sterf, “weet [hulle] glad niks nie”. Hulle het nie geeste wat ná die dood voortleef nie. Hulle slaap in die graf, waar daar “geen werk of oorleg of kennis of wysheid” is nie (Prediker 9:5, 10). Dit is onmoontlik vir die dooies om die lewendes siek te laat word!

Maar die Bybel toon dat bose geeste wel bestaan. Die eerste rebel in die ganse heelal was die geesskepsel wat nou as Satan bekend staan. Ander het by hom aangesluit en is demone genoem. Kan Satan en die demone siekte veroorsaak? Dit hét al gebeur. Met party van Jesus se wonderdadige genesings het hy demone uitgedryf (Lukas 9:37-43; 13:10-16). Die meeste siektes wat Jesus genees het, is egter nie direk deur die demone veroorsaak nie (Matteus 12:15; 14:14; 19:2). Siekte is eweneens vandag gewoonlik die gevolg van natuurlike oorsake, nie bonatuurlike oorsake nie.

Wat van toordery? Spreuke 18:10 (NW) verseker ons: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.” Jakobus 4:7 sê: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle wegvlug.” Ja, God kan sy getroue knegte teen toordery en enige ander geheimsinnige mag beskerm. Dit is een van die dinge wat deur hierdie woorde van Jesus geïmpliseer word: “Die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32.

‘Wat van Job?’ vra party dalk. ‘Het ’n bose gees hom dan nie siek gemaak nie?’ Ja, die Bybel sê dat Job se siekte deur Satan veroorsaak is. Maar Job se geval was buitengewoon. Job is lank deur God teen direkte demoonaanvalle beskerm. Toe het Satan Jehovah uitgedaag om Job kwaad aan te doen, en omdat groot geskille betrokke was, het Jehovah in hierdie een geval sy beskerming gedeeltelik van sy aanbidder onttrek.

Maar God het perke gestel. Toe hy Satan toegelaat het om Job te teister, kon Satan Job ’n tyd lank laat siek word, maar hy kon nie sy lewe neem nie (Job 2:5, 6). Uiteindelik het Job se lyding geëindig, en Jehovah het hom ryklik beloon vir sy onkreukbaarheid (Job 42:10-17). Die beginsels wat deur Job se onkreukbaarheid bewys is, is lank gelede reeds in die Bybel opgeteken en almal kan dit duidelik sien. Nog so ’n toetssaak is nie nodig nie.

Hoe gaan Satan te werk?

In byna elke geval is die enigste verband tussen Satan en mense se siekte die feit dat Satan die eerste mensepaar in die versoeking gebring het en dat hulle in sonde verval het. Hy en sy demone is nie die direkte oorsaak van elke kwaal nie. Maar Satan sal ons wel probeer beïnvloed om onverstandige besluite te neem en ons geloof prys te gee, wat nadelig vir ons gesondheid kan wees. Hy het Adam en Eva nie getoor, vermoor of met siekte getref nie. Hy het Eva oorgehaal om aan God ongehoorsaam te wees, en Adam het haar weg van ongehoorsaamheid gevolg. Siekte en die dood was ’n deel van die uiteinde.—Romeine 5:19.

’n Ontroue profeet met die naam Bileam is eenkeer deur die koning van Moab gehuur om die nasie Israel te vervloek, wat reg langs Moab se grense kamp opgeslaan het en ’n bedreiging vir hulle was. Bileam het Israel probeer vervloek, maar hy het nie daarin geslaag nie omdat die nasie Jehovah se beskerming geniet het. Die Moabiete het Israel toe probeer verlok om hulle aan afgodediens en geslagsonsedelikheid skuldig te maak. Hierdie taktiek het geslaag, en Israel het Jehovah se beskerming verloor.—Numeri 22:5, 6, 12, 35; 24:10; 25:1-9; Openbaring 2:14.

Ons kan ’n belangrike les uit hierdie eertydse gebeurtenis leer. God help sy getroue aanbidders deur hulle te beskerm teen direkte aanvalle van bose geeste. Maar Satan kan mense probeer oorhaal om hulle geloof prys te gee. Hy kan hulle probeer verlok om hulle aan onsedelikheid skuldig te maak. Of hy kan, soos ’n brullende leeu, hulle probeer bangmaak sodat hulle iets doen waardeur hulle God se beskerming verloor (1 Petrus 5:8). Daarom sê die apostel Paulus dat Satan “die vermoë het om die dood te veroorsaak”.—Hebreërs 2:14.

Owmadji se ouma het Hawa probeer oorreed om gelukbringers en fetisje as ’n beskerming teen siekte te gebruik. Wat sou gebeur het as Hawa toegegee het? Sy sou getoon het dat sy nie volle vertroue in Jehovah God stel nie, en sy sou nie meer verseker kon wees van sy beskerming nie.—Exodus 20:5; Matteus 4:10; 1 Korintiërs 10:21.

Satan het ook oorreding in Job se geval probeer gebruik. Dit was nie genoeg om hom van sy gesin, sy rykdom en sy gesondheid te beroof nie. Job se vrou het hom ook baie slegte raad gegee deur te sê: “Vervloek God en sterf!” (Job 2:9, NW). Toe het drie “vriende” hom besoek wat hard probeer het om hom te oortuig dat hy die skuld dra vir sy siekte (Job 19:1-3). Op dié manier het Satan Job se verswakte toestand uitgebuit om hom te probeer ontmoedig en om sy vertroue in Jehovah se regverdigheid te probeer skok. Maar Job het voortgegaan om op Jehovah te steun as sy enigste hoop.—Vergelyk Psalm 55:23.

Wanneer ons siek is, sal ons dalk ook terneergedruk voel. In so ’n situasie laat Satan nie op hom wag om ons iets te laat doen waardeur ons ons geloof sal versaak nie. Wanneer ons siek word, is dit derhalwe belangrik om in gedagte te hou dat die basiese oorsaak van ons lyding waarskynlik eerder oorgeërfde onvolmaaktheid is as die een of ander geheimsinnige invloed. Onthou, die getroue man Isak het ’n aantal jare voor sy dood blind geword (Genesis 27:1). Die oorsaak was nie bose geeste nie, maar bejaardheid. Ragel het gesterf terwyl sy geboorte gegee het, nie weens Satan nie, maar weens menslike swakheid (Genesis 35:17-19). Uiteindelik het al die getroues van die ou tyd gesterf—nie weens toordery of vervloekinge nie, maar weens oorgeërfde onvolmaaktheid.

Dit is vir ons ’n strik as ons dink dat onsigbare geeste ’n direkte invloed het op elke siekte wat ons tref. Dit kan ’n morbiede vrees vir die geeste laat ontstaan. Wanneer ons dan siek word, kan ons in die versoeking kom om die demone te probeer paai pleks van ver van hulle af weg te bly. As Satan ons so bevrees kan kry dat ons ons tot spiritistiese gebruike wend, sal dit ’n verloëning van die ware God, Jehovah, wees (2 Korintiërs 6:15). Ons moet deur ’n eerbiedige vrees van God gerig word, nie deur ’n bygelowige vrees van sy Teenstander nie.—Openbaring 14:7.

Klein Owmadji het reeds die beste beskerming moontlik teen bose geeste. Volgens die apostel Paulus beskou God haar as “heilig” omdat sy ’n gelowige moeder het, en haar moeder kan bid dat God haar dogter deur middel van sy heilige gees moet bystaan (1 Korintiërs 7:14). Omdat Hawa met sulke juiste kennis geseën is, kon sy doeltreffende behandeling vir Owmadji kry pleks van op gelukbringers te vertrou.

Verskeie oorsake van siekte

Die meeste mense glo nie aan die geeste nie. Wanneer hulle siek word, gaan hulle na ’n dokter toe—as hulle dit kan bekostig. ’n Siek persoon kan natuurlik na ’n dokter toe gaan en nog steeds nie genees word nie. Dokters kan nie wonderwerke verrig nie. Maar talle bygelowige mense wat genees kon geword het, gaan eers na ’n mediese dokter toe wanneer dit te laat is. Hulle probeer eers die spiritistiese genesingsmetodes, en wanneer dit nie werk nie, gaan hulle as ’n laaste uitweg na ’n dokter toe. Baie gaan onnodig dood.

Ander gaan moontlik ontydig dood weens onkunde. Hulle herken nie die simptome nie en weet nie watter praktiese stappe om te doen om die siekte te voorkom nie. Kennis help om onnodige lyding te voorkom. Dit is opmerkenswaardig dat geletterde moeders minder kinders weens siekte verloor as ongeletterde moeders. Ja, onkunde kan dodelik wees.

Nalatigheid is nog ’n oorsaak van siekte. Baie word byvoorbeeld siek omdat hulle toelaat dat insekte oor hulle kos loop voordat hulle dit eet of omdat diegene wat die kos voorberei nie hulle hande voor die tyd gewas het nie. Dit is ook gevaarlik om in malariastreke sonder ’n muskietnet te slaap.a Wat gesondheidsake betref, is dit dikwels waar dat “’n bietjie voorsorg beter is as baie nasorg”.

’n Onverstandige lewenswyse het veroorsaak dat miljoene siek word en ontydig sterf. Dronkenskap, geslagsonsedelikheid, dwelmmisbruik en tabakgebruik het die gesondheid van baie verwoes. Kan iemand wat hom aan hierdie verdorwe gebruike oorgee en dan siek word, sê dat hy getoor is of dat ’n gees hom aangeval het? Nee. Hy dra die skuld vir sy siekte. As ’n mens die geeste die skuld gee, sou dit toon dat jy weier om die verantwoordelikheid vir ’n onverstandige lewenswyse te aanvaar.

Daar is natuurlik party dinge wat ons nie kan beheer nie. Ons kan byvoorbeeld aan mikrobes wat siektes veroorsaak of aan besoedeling blootgestel word. Dit is wat met Owmadji gebeur het. Haar moeder het nie geweet wat die diarree veroorsaak nie. Haar kinders word nie so gereeld siek soos ander kinders nie omdat sy haar huis en werf skoon hou en altyd haar hande was voordat sy kos maak. Maar alle kinders word af en toe siek. Ongeveer 25 verskillende organiese infeksies kan diarree veroorsaak. Heel waarskynlik sal niemand ooit weet watter een Owmadji se probleem veroorsaak het nie.

Die langtermynoplossing

Siekte is nie God se skuld nie. “Met bose dinge kan God nie beproef word nie en beproef hy self ook niemand nie” (Jakobus 1:13). As een van sy aanbidders siek word, onderskraag Jehovah hom geestelik. “Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is” (Psalm 41:4). Ja, God het medelye. Hy wil ons help, nie seermaak nie.

Trouens, Jehovah het ’n langtermynoplossing vir siekte—Jesus se dood en opstanding. Deur middel van Jesus se losprysofferande word regskapenes van hulle sondige toestand losgekoop en sal hulle uiteindelik volmaakte gesondheid en die ewige lewe op ’n paradysaarde kan geniet (Matteus 5:5; Johannes 3:16). Jesus se wonderwerke was ’n voorskou van die ware genesing wat God se Koninkryk teweeg gaan bring. God sal ook Satan en sy demone verwyder (Romeine 16:20). Jehovah het inderdaad wonderlike dinge in die vooruitsig gestel vir diegene wat geloof in hom beoefen. Ons moet net geduldig wees en volhard.

Intussen gee God praktiese wysheid en geestelike leiding deur middel van die Bybel en die wêreldwye broederskap van getroue aanbidders. Hy wys ons hoe ons die verdorwe gebruike kan vermy wat gesondheidsprobleme veroorsaak. En hy voorsien ons van ware vriende wat sal help wanneer probleme ontstaan.

Dink weer aan Job. Die ergste ding wat Job sou kon gedoen het, was om na ’n toordokter te gaan! Dit sou hom God se beskerming laat verloor het, en hy sou al die seëninge verbeur het wat ná sy ontbering op hom gewag het. God het Job nie vergeet nie, en hy sal ons ook nie vergeet nie. “Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het”, sê die dissipel Jakobus (Jakobus 5:11). As ons nooit moed opgee nie, sal ons ook op God se bestemde tyd wonderlike seëninge ontvang.

Wat het met klein Owmadji gebeur? Haar moeder het onthou dat daar ’n artikel in Die Wagtoring se medetydskrif, Ontwaak!, was oor mondelikse rehidrasieterapie.b Sy het die instruksies daarin gevolg en die oplossing aangemaak sodat Owmadji dit kon drink. Nou gaan dit goed met die dogtertjie, en sy is gesond.

[Voetnote]

a Byna 500 miljoen mense is met malaria besmet. Elke jaar sterf ongeveer tweemiljoen aan die siekte, die meeste in Afrika.

b Sien die Ontwaak! van 22 September 1985, bladsye 24-5, “’n Soutdrankie wat lewens red!”

[Prente op bladsy 7]

Jehovah het ’n permanente oplossing vir die probleem van siekte moontlik gemaak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel