Die raaiselagtige oorsaak van slegte gesondheid
KLEIN OWMADJI IS SIEK AAN DIARREE. Hawa, haar moeder, is bekommerd dat sy gaan ontwater; sy het gehoor dat haar niggie op die platteland onlangs haar baba so verloor het. Owmadji se ouma, Hawa se skoonmoeder, wil Owmadji na een van die stam se toordokters neem. “’n Bose gees maak die kind siek”, sê sy. “Jy wou haar nie ’n gelukbringertjie gee om vir beskerming te dra nie, en nou begin die probleme!”
HIERDIE situasie kom algemeen voor in baie wêrelddele. Honderdmiljoene mense glo dat bose geeste die geheime oorsaak van siekte is. Is dit waar?
Die oorsprong van die raaisel
Jy glo persoonlik dalk nie dat onsigbare geeste siekte kan veroorsaak nie. Trouens, jy wonder moontlik waarom enigiemand so kan dink, want wetenskaplikes het bewys dat die meeste siektes deur virusse of bakterieë veroorsaak word. Maar onthou dat die mensdom nie altyd van hierdie piepklein patogene geweet het nie. Eers met die ontwikkeling van die mikroskoop deur Antonie van Leeuwenhoek in die 17de eeu het die mikroskopiese wêreld vir die menslike oog sigbaar geword. Dit was in elk geval alleenlik danksy Louis Pasteur se ontdekkings in die 19de eeu dat die wetenskap die verband tussen patogene en siekte begin verstaan het.
Aangesien die oorsake van siekte gedurende die grootste gedeelte van die mensegeskiedenis onbekend was, het baie bygelowige idees ontwikkel, wat die teorie insluit dat alle kwale deur bose geeste veroorsaak word. The New Encyclopædia Britannica gee een manier aan waarop dit kon ontwikkel het. Dit sê dat vroeë genesers die siekes met verskillende soorte wortels, blare en wat ook al tot hulle beskikking was probeer behandel het. Soms het iets gewerk. Dan het die geneser baie bygelowige rites en gebruike by die genesende behandeling gevoeg, wat dit onmoontlik gemaak het om te weet wat die werklike geneesmiddel was. Die geneser het dus seker gemaak dat mense sou voortgaan om van sy dienste gebruik te maak. Op hierdie manier is geneeskunde in geheimsinnigheid gehul, en mense is aangemoedig om op die bonatuurlike staat te maak vir hulp.
Hierdie tradisionele genesingsmetodes word nog in ’n hele paar lande gebruik. Baie sê dat siekte deur die geeste van afgestorwe voorouers veroorsaak word. Ander sê dat God ons laat siek word en dat siekte ’n straf vir ons sondes is. Selfs wanneer ingeligte mense die biologiese oorsaak van siekte verstaan, vrees hulle moontlik nog steeds bonatuurlike invloede.
Towenaars en tradisionele genesers gebruik hierdie vrees om mense uit te buit. Wat moet ons dan glo? Help dit om op die geeste staat te maak vir gesondheidsorg? Wat sê die Bybel?