Waarom is daar so min tyd?
TYD. Ons vind dit dalk moeilik om die woord presies te definieer, maar ons weet beslis dat dit lyk asof ons nooit genoeg tyd het nie. Ons weet ook dat dit vinnig verbygaan. Trouens, ons sug dikwels: “Die tyd vlieg eenvoudig verby.”
Maar die Engelse digter Austin Dobson het blykbaar ’n akkurater stelling gemaak toe hy in 1877 gesê het: “Tyd gaan verby, sê jy? O nee! Helaas, tyd bly, ons gaan.” Sedert sy dood in 1921 is Dobson al byna 80 jaar weg; tyd is nog hier.
Volop tyd
Van die mens se Skepper vertel die Bybel ons: “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God” (Psalm 90:2). Tyd sal dus bestaan so lank as wat God self bestaan—vir ewig!
In skerp teenstelling met God, wat eindelose tyd tot sy beskikking het, lees ons van mense: “Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ’n gedagte. Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”—Psalm 90:9, 10.
Waarom is die lewe vandag so kort, aangesien die Bybel duidelik toon dat dit God se voorneme vir die mens was om vir ewig te lewe? (Genesis 1:27, 28; Psalm 37:29). Waarom het mense oor die algemeen hoogstens 30 000 dae om te lewe in plaas van die onbeperkte lewensduur wat God in gedagte gehad het? Waarom het mense so min tyd? Wie of wat is vir hierdie droewige situasie verantwoordelik? Die Bybel gee duidelike en bevredigende antwoorde.a
Al hoe minder tyd
Ouer mense sal bevestig dat die lewenstempo in onlangse dekades versnel het. Een joernalis, dr. Sybille Fritsch, het gesê dat die werkweek gedurende die afgelope 200 jaar van 80 tot 38 uur verminder het, “maar tog het dit nie ’n einde aan ons klaery gemaak nie”. Sy het verduidelik: “Geen tyd nie; tyd is geld; smag na tyd soos ’n mens na asem snak; ’n gejaagde lewe.”
Nuwe uitvindings het geleenthede en moontlikhede geskep waarvan vroeëre geslagte nie eers gedroom het nie. Maar hoe groter die moontlikheid om aan ’n verskeidenheid bedrywighede deel te neem, hoe groter die frustrasie omdat ’n mens te min tyd het om wel daaraan deel te neem. In baie dele van die wêreld lewe mense deesdae volgens die horlosie en jaag hulle van een afspraak na die ander. Pa moet om 7:00 vm. werk toe gaan, ma moet die kinders om 8:30 vm. by die skool kry, oupa het ’n doktersafspraak om 9:40 vm., en ons almal moet gereed wees vir ’n belangrike vergadering om 7:30 nm. Omdat dit ’n gejaag is om alles gedoen te kry wat ’n mens moet, is daar beswaarlik tyd oor vir enige ontspanning. En ons kla oor die daaglikse geswoeg, oor die dolle gejaag.
Ons is nie die enigstes wat min tyd het nie
God se Teenstander, Satan die Duiwel, wie se slinksheid tot die mens se beperkte lewensduur gelei het, het nou ’n slagoffer van sy eie goddeloosheid geword. (Vergelyk Galasiërs 6:7, 8.) Openbaring 12:12 gee ons rede tot hoop waar dit die geboorte van die Messiaanse Koninkryk in die hemel bespreek en sê: “Wees om dié rede bly, o hemele en julle wat daarin woon! Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het.”
Volgens betroubare Bybelchronologie en die vervulling van Bybelprofesieë lewe ons nou aan die einde van daardie “kort tydperk”. Hoe verheug is ons tog om te weet dat die tyd waarin Satan nog vry kan rondloop byna vir goed verstreke is! Wanneer hy eers uit die weg geruim is, sal gehoorsame mense tot volmaaktheid herstel word en kan hulle die ewige lewe verkry wat Jehovah aan die begin van voorneme was om aan hulle te gee (Openbaring 21:1-4). Mense sal nooit weer die probleem van te min tyd hê nie.
Kan jy jou voorstel wat dit sal beteken om ewige lewe te hê—om vir ewig te lewe? Daar sal nooit weer dinge wees wat jy ongedaan moes laat nie. As jy meer tyd nodig het, is daar môre, of volgende week of volgende jaar—trouens, ’n ewigheid wat voor jou uitstrek!
Gebruik die tyd wat ons nou het wyslik
Omdat Satan besef dat sy tyd om die mensdom te beïnvloed beperk is, probeer hy mense so besig hou dat hulle geen tyd het om na die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk te luister nie. Daarom sal dit goed wees as ons op hierdie Goddelike raad ag gee: “Let dus voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae goddeloos is. Hou om dié rede op om onredelik te word, maar gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is.”—Efesiërs 5:15-17.
Hoe belangrik is dit tog dat ons ons tyd wyslik bestee aan die belangrikste dinge en dit nie vermors op nuttelose strewes wat geen blywende voordele inhou nie! Ons moet dieselfde gesindheid aankweek wat Moses gehad het toe hy Jehovah met hierdie opregte woorde gesmeek het: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!”—Psalm 90:12.
In vandag se wêreld is almal weliswaar besig. Maar Jehovah se Getuies spoor jou aan om van jou kosbare tyd te gebruik om te leer wat God van jou vereis om die ewige lewe onder die heerskappy van sy Koninkryk te verkry. As jy op ’n gereelde basis ’n uur per week gebruik om die Bybel te bestudeer, “om te begryp wat die wil van Jehovah is”, sal dit jou dalk die geleentheid bied om self die vervulling van hierdie woorde te ondervind: “Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:27, 29.
[Voetnoot]
a Sien die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, hoofstuk 6, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.